Lolla se Nuwejaargoete

Laasjaar was my skryfjaar maar

ook nie want my skryf het halfjaar

begin stotter en

laatjaar opgedroog

soos ‘n erg verwaardlose vetplant

of verdorde rankplant

Het ek vir myself weer heelemal

ge-té-leef en ge-te-béleef en

myself in ‘n kakkenspul van eie-drama ingeweef…. want dis wat ek doen en al sukkel ek dikwels om myself met hierdie wêreld te versoen is daar steeds, altyd onderliggend die opregte wens om beter te doen

Nou is dit nuwejaar en as ek die beste wil maak van my gegewe lewensaar moet ek bedaar, ophou vergaar, in my foon se skerm instaar – ek moet myself bymekaartrek in een sentrale ek-hoofkantoor (lees ‘bubble’) waar ek soms kan bymekaarkom om al die geraas buite te laat, om al my verdwaalde ekke bymekaar te trek in een gemeensame kopvertrek …. my veilige plek 🙃

Ek moet dóén en ophou visioen en met die onveranderlike en onvermydelike versoen ….. oor doen wat ek moet terwyl ek minder oordóén …. vasbyt … beplan, uitvoer en rus. Dis ‘n goeie afskopplan vir tWintigdRie&TwintiG, beslis.

LollaseGoete-groete

Manjifieke Mooiste Maandag

Onthou dit né
‘Het jy die geel roos gesien’, vra sy my toe ons by die tafel in die eetplek kom. Ek sien die bos geel rose in ‘n blompot op ‘n kassie so entjie weg. ‘Daai?’ vra ek en wink met my oë in die kassie se rigting. Met ‘n ‘Nee, kom kyk’ is ek agter haar aan en hierdie kiekie en ‘n paar ander verewig die oomblik.

Stop and smell the roses 🌹/ flowers.

Hierdie Maandag is gepak vol moontlikhede en kanse. Grip joune.

Haar tyd is beperk, om haar is hordes mede-daisies al uitgedroog en bruin die ewigheid in en steeds pronk sy trots en adelik-mooi. Maak die heel beste van elke oomblik!

Lollaliefde xx

Moment in Time Snapshot …. Lolla’s Right Here Right Now

Crazy-ass workspace. Dream journal …. crochet flower turtle …the moon 🌙 🌚 🌔 …. wool ….. reading glasses 👓….. bunny ….. reindeer …. shoes that need a wash ….. diary …. laptop with open spreadsheet …. drinking water …..

Vrydag-Ode


Vrydag sit so lekker op my tong laat my voel soos boerepap met bruingebraaide velletjie en goudgeel stroop

Vrydag is vir my nog alletyd 'n blydag, my-dag, lag-en-skoffeldag.
Tiekiedraai, grootlawaai, skoppelmaai lagdag.

Vrydag sit so lekker op my heup, ek begin hom so met n swaai en 'n skud.
Vrydag is sy dag, haar dag, hulle en julle dag, my dag, jou dag.

V-v-v-rryyyyyddaaaaaag!!!!!

Mag genade, lekker-lag, geluk en blessings jou vandag pootjie en toevou.

Vrolike Vrydag Lolla Groete ♡♡♡

‘n Vinnige Oggend Enetjie

Hiehiehie ek wonder wie gaan hierdie opskrif reg interpreter.

Goeiemore al julle mooi bloggers. 😊

Splinternuwe dag met splinternuwe kanse. Mag ons elkeen vandag ‘n stukkie miracles & magic raakleef.

Júlle!!!!! Aletta!! Kyk net hier!!!
Beeldskoon

Daarsy …. dit was toe wel ‘n vinnige enetjie.

Een Hele WP Jaar

WP stuur vroeer vandag vir my ‘n ‘Achievement’ boodskappie. Baie Geluk, dis vandag ‘n jaar terug wat LollaseGoete hier geskep is.

Wat ‘n jaar. Propvol. Op en af, goed en minder goed. Baie WOW-oomblikke.

Ek het ‘n klompie Volgers en ek volg ‘n hele klompie. Dis ‘n lekker spasie hierdie, ons blogland.

Skryf en dink en deel neem tyd. Al is dit hóé lekker is daar soms netnie genoeg tyd om voor te bly nie. Maar as dinge in ‘die regte lewe’ woesdol gaan, kan ek altyd vir ‘n rukkie hier by julle kom wegkruip.

Ek is ‘n Goue Vrou met ‘n sagte, dankbare hart wat soos almal anders elke dag skaaf en bou en pleister aan my plekkie onder die son.

Dankie vir ‘n gemaklike, veilige spasie waar ek my Lolla-kruiwatjie kan kom omtiep nou-en-dan.

Dit hoef nie perfek te wees nie, maar dit moet samblief tog eerlik en opreg wees.

Lolla-Groete 🌸🌸🌸

Ja Lucas, kiekies vertel ‘n Storie

Klein swerm Rooikop vinkies maak nes in ‘n boom agter ons huis.
Vroegoggend-groete hier van Lolla se kant af. Ek speel te lekker met hierdie Bitmoji ‘stickers’
Dis Jakarandatyd en die Oosrand stel nie teleur nie. Dis ‘n pers skouspel. 💜
My ‘hydrangea’ begin pronk
Beginstadium van my eie klein besigheidtjie. kLeurvoLKriatief laat my nuut dink, myself uitdaag. Nog baie werk om te doen. Ek glo !!!
Vroegoggend sonsopkoms oor die lughawe, oppad kantoor toe.
Een van die vele hoede beskikbaar in my katalogus. Self het ek nou al ‘n paar oulike hoede bymekaar, elkeen met haar eie persoonlikheid. Hoekom hoede…. ek vertel later.
Geduld!!!! Als gebeur soos bestem.
Kleinsus se bêlle. Ek is reg vir Kersfees.
Spookboom ….. boee
Ek moet julle nog van hierdie vier vertel …. die poppe wat rondrits

Hoop julle geniet my kiekies net soos ek geniet om dit te neem en te deel.

Lollagroete, tot later xx

Hand-aan-hand saam met Asma

Jy voel dit aankom ….. vroegmiddag verander die blou lug na donker vuilpers. Die humiditeit se kloue vat-vat aan jou keel. Soos die hittige, swaar kombers al warmer om jou toevou en die donderweer nader kruip glip die benoudheid van jou keel tot in jou bors. Jy weet: hier kom moeilikheid. Jy maak die glasdeur van jou kantoor oop (vroeer was dit net die 2 vensters wat onsuksesvol probeer lug sirkuleer het).

Photo by Andrew Beatson on Pexels.com

Deur die oop deur dwarrel die soetste blommegeure tot in jou neusgate. Vir ‘n oomblik wonder jy benoud, gaan my bors protesteer, en jy wag vir ‘n wyle om te voel of die benoudheid erger raak. Die pers accuhaler lê gereed hier langs jou. Die briese koel af en die donderweer brom swaarder. Jy gaan staan in die oop deur en kyk hoe die groot reendruppels begin neerplons. Salig! Heerlike reen.

Teen huistoegaan tyd is jy op high alert. Asma kan so maklik onderskat word. Jy weet, want jy doen dit soms self. Dis nou al 3 weke wat jy behoorlik siek is. Die ding in jou bors laat los nie. Maar jy gaan aan – jy leef – want platlê is nie in jou gene nie. Vandag is daar egter ‘n ekstra krieweling.

By die huis word die langer werksklere vir koeler, korter gemaklike huisklere geruil. Jou tuin roep en terwyl die donderweer saggies begin roer gryp jy jou snoeiskêr en krap-krap, knip-knip tussen die daisies. Dis bedompig en jy voel klein druppeltjies saggies op jou rug val. Dan kriewel iets weer in jou keer, die keer met mening. Jy kug oor die blomme en staan regop. Trek jou skouers terug en probeer lug verby die kriewel trek. Dan verander die kriewel in ‘n duisend lieweheersbesies wat hardloop en spring en vladder in jou keel, al langs jou lugweg af tot in jou longe. Jy besef dis ‘n asma-aanval – die hoes begin deur jou lyf ruk en jy mik vir die skuifdeur. Jy moet in die huis kom.

Deur die deur, twee meter tot by die trappe waar jy gryp en aan die hout reeling vasklou om te probeer regop bly. Die hoes laat nie los nie, jou lyf is nie meer in jou beheer nie. Die bekende naalde-en-spelde gevoel om jou kakebeen vat vas. Ingelsman staan nou langs jou en vra benoud Hey Luv what can I do? terwyl jy hyg en hyg en voel hoe jou waardigheid in die teels in wegsypel. Jou longe is leeg en jou krag is min. Maar jy beur verby jou Ingelsman want jy weet…. ek moet in die badkamer kom.

Maar tyd is nie jou maat nie en al probeer jy hoe hard, jy is nie betyds nie. Skielik, vir ‘n oomblik, werk niks in jou lyf nie. Jy lê net op die vloer, wanneer die hoes ophou is dit net jou brein wat nog werk. Wat jou herinner: net een oomblik, alles kan in net een oomblik verander. Jy weet dat hierdie ‘n noue ontkoming was. Ingelsman vra deur die deur: please can I help you. Tell me what can I do?

Dit vat elke greintjie krag uit jou lyf uit. Dis ‘n skêl herinnering van hoe vlietend en fragiel ons werklik is. Jy staan op, maak skoon, gaan staan in die Ingelsman se arms met jou kop op sy skouer. Julle gaan deur die stappe van wat om te doen as dit weer gebeur. Waar is die ekstra asma-pompie. Jy bid saggies: Asseblief liewe Heer, spaar my daarvan om ooit fisies van iemand anders afhanklik te wees. Asseblief Jesus. Amen.

Dit neem ure, dae, om te herstel van hierdie tipe trauma. Jy voel of jy in ‘n botsing was – jou hele lyf voel pimpelpers. Gedaan! Absoluut gedrein.

En dan staan jy op, jy rus bietjies-bietjies. Wanneer jy weer fisies instaat is haal jy diep asem. Jy maak jou longe propvol. Jy jubel oor nog ‘n asemteug, nog ‘n oomblik en maak die beste van elke liewe nuwe sekonde.

Sommer net Tjoklits

‘n Kartondosie propvol vreugde. Ai ou Forrest, as jou ‘momma’ my darm vandag kon sien….. Pure soete geluk.

So saam met die goue boksie vol tjoklits trek die Oosrand vroeer vandag ook ‘n grys-donker jassie aan. En daar val ons heel eerste behoorlike reenbui van lente 2022, saam met donderweer en blitse. Die sambrele word uitgehaal en vir ‘n rukkie is die wereld so reg soos ‘n roer.

Dit was ‘n goeie, produktiewe Dinsdag die. Bietjie geskryf, bietjie gespeel, baie gewerk en lekker geeet. Mag ons more weer so maak.

Drie Plus Een maak Ons

Julle DRIE is die room in my koffie
Die ys in my coke (lees 'gin')
Die sout-en-asyn op my slapchips
Die sjerrie in my koekstruif

Julle DRIE is my duwweltjiepad maats
Julle is my Everedy bapperye
Julle is die strepie in my 't' en die www in my 'w'

Julle is die tierlantyntjies op n dor dag
Julle is die sprakel in my stoutste lag
Julle is klitsgras, boombas, fondasie en lug
.... om te rym of nie te rym nie ....

Dis lekker om deel van ons ons te wees. Tydmaak vir saamwees kom nie altyd seepglad nie maar elke keer weet ek, my lewe het vandag net so bietjie ryker geword.

Dankie Liewe Jesus vir my hartsmaats. 💝