Lolla’s Blog

Ons Lensiesopvakansie

Photo by Alex Bayev on Pexels.com

Destyds, ongeveer 1985, word ek en Annapat en haar een maatjie, plaastoe gestuur vir die winter vakansie. Dis die eerste vakansie na Pa Chaka se dood – daai Sondag toe Liewe Jesus hom kom haal het. Na sy eerste hartaanval (moes 1981 gewees het) was hy nooit weer dieselfde nie.

So begin ma na baie lank by die huis weer werk. En ons word Groot Marico toe gestuur. Vir twee weke. Om by Oupa Piet te gaan kuier. Ouma Anna is ‘n jaar voor Pa oorlede en so eindig drie tienerdogters saam met kwaai Oupa Piet op ‘n bosveldplaas.

Ma en Ousus het deurgery om ons drietjies af te laai. Ek was skuitbang vir Oupa, ‘n groot man met ‘n groot stem en nog groter hande. As ek nou terugdink weet ek nie hoekom ek so rerig-bang vir hom was nie. Hy was eintlik maar ‘n stil man wat hard gewerk het. Maar streng was hy beslis. Ek self het nooit ‘n naby band met Oupa gehad nie. Het maar meestal uit sy pad uit probeer bly. Maar die vakansies en kuiers daar op Modderfontein was goed. Lekker herinneringe wat my altyd sal bybly. Ek het nog altyd gedink Annapat (Kleinsus) was Oupa se oogappel.

So word ons afgelaai op die plaas, die boks kruideniersware uitgepak en gebere in die lang kas in die hoek van die eet-/leefvertrek. Daar was burgerpatties in ‘n blik (onthou julle daai?), ander geblikte kos, ‘n boks sjokoladestafies en dies meer. Ook ontbytpap. Oupa het gesnork en laat weet dis dorpskos – hier in sy huis eet ons plaaskos. En so, nadat Ma en Ous terug is dorp toe aan die Weste van Johannesburg, kry ons ons eerste plaas aandete. ‘n Sopbord vol lensiesop. Waterrige lensiesop ….. en ek bedoel: water, lensies en dalk ‘n bietjie sout. Ek sal daai sop in my lewe nie vergeet nie.

Dit was ons eerste aand op die plaas. En ook die eerste aand wat ons gewag het om Oupa in sy kamer te hoor rustig raak met die radio wat stories vertel …… want ons wou dorpskos gaan ‘steel’. As my onthou reg is, het ons beurte gemaak om die skrikwekkende kans te vat om in die pikgietdonkerte uit te sluip, deur die sitkamer, deur die eet-/leefkamer tot by daai lang kas. So het ons nagtelike kosekspidiesies begin. Ons drie sou dan agter die toe kamerdeur, wat reg oorkant Oupa se kamerdeur was, onder die komberse met ‘n flitslig sit en smul aan ons dorpskos.

Die volgende dag het ons weer lensiesop gekry (daai pot was enorm, en propvol). En so vir die volgende twee weke het Oupa elke aand iets anders by die lensiesop gegooi om ons te voer. Ek onthou groot stukke beesvleis met lensiesopsous op witbrood. En ek dink die Sondag was daar selfs aartappel en groente bygevoeg. Ek onthou ook dat daar, vir die hele twee weke, elke aand lensies in ons kos was.

Vir my was dit op ‘n manier ‘n bangmaak twee weke. Pa was weg. My hart was stukkend vir Ma wat ‘n hele nuwe lewe moes begin. Ous het ook al begin werk en kon nie meer vakansies saam met ons wees nie. En hier is ons drie meisiekinders alleen saam met Oupa. Tog was dit ook ‘n wonderlike vakansie propvol pret, ontdekking en lekkerte. Amper 37 jaar later onthou ek hoe ons in die groot boom langs die huis geklouter het, lang ente in die bos en grondpad af gestap het. Ons het op en langs die treinspoor gespeel en opgewonde vir die treinoom gewaai elke keer as daar ‘n trein verbygekom het.

Al het ons vir twee weke lank lensiekos geeet, was daar ander lekkertes ook. Ons is saam met Oupa se buurman, Oom Flip, dorptoe. Agterop sy bakkie met die wind wat ons hare omkrap. Oom Flip het langs die pad gestop by ‘n groentestalletjie en ons kon kies wat ons wou eet. Ek het ‘n groot sak groen ertjies (nog in die dop) gekies en ek onthou tot vandag toe nog hoe daardie vars groen lekkerte in my mond gekraak het.

Dit was ons lensiesop wintervakansie. Lensies was redelik taboe vir my vir die res van my lewe (tot ek onlangs geleer het van hul voordele en nou self sop maak met lensies). Ek dink dit was dalk ook ons heel laaste vakansie saam met Oupa op die plaas. Goeie tye. Harde tye. Tye propvol genade.

(Byvoorbaat Verskoning) Lolla en die groot Snotsiekte

Photo by Rebecca Diack on Pexels.com

Dis Maandag. Dis koud. Ek is pens en pote in die kooi. Nog vrot van die verkoue, so saam met ‘n klomp familiemense. Voel goor, die dik goete in my keel en neus vermenigvuldig sonder ophou en die lee toiletpapierrolletjies langs die bed word al meer. Dit voel of daar ‘n boksgeveg in my binnegoete was en my stem klink krakerig en koddig. Dis goor om so te voel.

MAAR, dis Maandag. Dis ‘n nuwe week. Nuwe dinge. Dis nou al amper halfpad deur die dag en ek sit nog net en bolle rol van vroegoggend af. Die plan was al van gisteraand af dat ek vandag absoluut net gaan rus en beter word. So hou ek myself besig met dinge wat in die besigheidswereld as absolute snert aangesien sal word, maar wat my siel goed doen. Ek speel, teken, surf soos ‘n gouemedalje-mededinger op die web. Klik op skakels, lees en leer. Droom. Ek is dankbaar vir hierdie oomblik, vir hierdie Maandag.

Wie sal saamry, en waar sal ons gaan draai? Dalk kuier by die Gouevroue op Rebusfontein?

Wanneer jy hoes terwyl jy die glas skuifdeur oopmaak en die hele buurt se honne begin vir jou blaf.

LollaPenaries

Ek probeer nog aanleer hoe om net te “wees”. Hoe om te ontspan, om net asem te haal. Dis ‘n gesukkel. Vandat ek einde-Maart by my ou werkgewer klaargemaak het is ek oral aan die krap om my “behoort-plekkie” te kry. En dit terwyl ek myself (en dies naaste aan my) belowe het dat ek vir ‘n rukkie net gaan wees. Ek besluit nog self hoe suksesvol ek is, met hierdie net wees besigheid. Dis asof ek myself jaag, asof daar altyd iets is om aan myself en die wereld te bewys.

Vandag is ek dankbaar vir my humorsin. Veral omdat ek so ‘n ekstra super-sensitiewe dramavraat is (ek sê dit tong-in-die-kies) is. Dankbaar ek kan vir myself lag. En vir die lewe. Veral vir die lewe. En vir mense. Wie wil dan nou (en ek gebruik hier ‘n hartsvriendin en blogmaat se gesegde) met ‘n permanente drol in jou hart rondloop? Huh?

Hierdie allerverskriklikste ontblotende onge-edit’te selfie is 100% ek. ‘n Gogga-maak-vir-baba-bang-kiekie om julle lagspiere te kielie.

Ek lyk oes. Kan deurgaan vir ‘n vêrlangse verwantskap van die Uniondale spook. My groot, kenmerkende neus is rooier as gewoonlik. Vandag het ek ‘n NEUS, nie net ‘n neus nie. Rou geblaas. Pure ek. ‘n Kussing-piramide agter my rug gepak (ek slaap snags penregop sodat ek kan asem kry en nie in al die gogga-gevulde-voggies versuie nie). Het ek al genoem hoe erg dankbaar ek vandag is vir my huis, my kamer, my bed, warm komberse, kussings en al die ontelbare blessings wat ek uit Die Groot Hand ontvang.

Dis dalk juis omdat ek ekstra vaal en verwaarloos lyk en voel, dat ek vanoggend met my siek lyf en al ‘n guur in my gaai het. Ek is lus (heelemal buite karakter) om op te dress. Die wat my ken ken my tipe opdress. Ek is nie rerig die opdress-tipe nie. Vanoggend lus ek grimering, mooi aantrek met ‘n paar parmantige bootse. Dalk ‘n paar los krulle in my (dan, hopelik, skoongewaste, koorslose hare). So dis deel van my gesondwordplan – sodra ek behoorlik op die been is gaan die tweezer nader gehark word, my grimering bietjie gesorteer en ingespan word en ek gaan myself optooi. Lolla-styl natuurlik. Aangesien dit nie gereeld gebeur nie (ek is maar ‘n gemaklike hippie-tipe, effens slonserige nes-ek-is low maintenance meisie) sal ek vir julle ‘n fototjie of twee hier plaas. Maar vir nou (danksy Snapchat) ….. …..

Oooh alla toggie lieve genade

En saam met die ander (klomp) dankbaarhede, is ek ook dankbaar vir hierdie blog. En vir elkeen wat hier saam met my gesels. Veral vir die wat my omarm en welkom laat voel. Dis so al asof hierdie blogspasie ‘n stukkie “ek hoort hier” plekkie is.

Waardeer elkeen se saamgesels


Vragie: Julle, wat maak mens vir aandete vir twee wanneer mens “af” is?

Laat ek groet. My hande vries en ek dink dis tyd vir ‘n koppie tee. En dan slaap. Helende, genesende slaap. Liefde en Lolla-groete vir eers…….

Want, soos Leen sê, Liefde-Kosmos-Niks



Daar is vir my min dinge so mooi soos ‘n kosmosblom. Wat baie mense (selfs boere) as ‘n indringer of onkruid sien, ervaar ek as een van Moeder Natuur se mooiste musieknote.

Kosmostyd in Suid-Afrika is mos maar die herfs-en-winterklok. Dit vertel vir ons sonskynkinners dat die koue dae oppad is. Is dit net ek, of voel jy ook dat die kosmosse die laaste paar jaar gedy het? Ek self het nie ervaring van kosmos oor die Kaap provinsies en/of Natal nie. Maar die Vrystaat en selfs Gauteng verander in die mooiste sprokieswereld wanneer die kosmosse hulle opwagting maak. (Is daar dalk van julle wat meer kan vertel oor kosmos in ander dele van SA?)

Hierdie kleurryke, delikate blomme is oorspronklik afkomstig van Sentrale- en Suid Amerika, Mexiko, en die Wes Indiese Eilande. Daar word gereken dat die plant sy weg na Suid-Afrika gevind het in perdevoer tydens die Anglo-Boereoorlog. Ek is dankbaar. Die blommetjies is jaarliks ‘n natuurlike anti-depressant. Watwou, hulle maak my so opgewonde dat ek selfs in die ry begin hol – gewapen met my selfoon of kamera – nog voor die tjor behoorlik stilgehou het. Saam met vriendinne het ons al op ons ruê en pense tussen die kosmosse gelê. Elkeen het haar gunsteling. Daai diep persrooi skaarser ene sal my vir ewig aan Rach laat dink. En die spierwittes is soos blaartjieprinsesse.

Ek het hier bo net ‘n handjievol van my fotos gedeel. Hierdie tyd van die jaar is mense seker al kosmosvoos want danksy sosiale media en ywerige reisigers is daar nie ‘n tekort aan die mooiste kosmosfotos nie. Maar hierdie is myne. Geneem met my snapper, my hande en my oë. Al lankal tred verloor met die moontlike hoeveelheid kosmoskiekies, ek reken net mens kan nooit ooit teveel kosmos fotos hê nie.

‘n Paar jaar terug stuur ‘n hartsvriendin vir my ‘n kosmosfoto uit Engeland – die gesig seker so groot soos my handpalm. En hier dog ek dat net ons hier in SA hierdie blomme huisves. Terwyl ek bietjie op die web rondkrap vir prente en inligting oor die besonderse gunstelingblom, leer ek ook dat daar verskeie variante van kosmos is. En veel meer kleure, nie net die pienk en wit skakerings wat aan ons bekend is nie. Volgens https://gardenia.net is daar sjokolade kosmos (cosmos astrosanguineus), die cosmos bipinnatus of Mexikaanse Aster en ook die geel en oranje cosmos sulphureus.

Een nadeel van speel (of vry) in die kosmosplate is daai geniepsige vasklouers – die knapsekêrel. In Engels bekend as black-jacks of hitch hickers, klou hulle verbete aan jou klere (of jou vel), in jou ore en jou hare, aan jou skoenveters. En net wanneer jy dink jy het die laaste ene raakgevat kry jy nog ‘n laaste, onverwagste steek om jou te herinner aan al die kosmos pret en plesier.

Vir nou eers oor-en-uit
Lolla-groete

NS: ek noem weer dat ek glo soos wat my blog groei daar nog vele meer kiekies van kosmosse sal wees, nes sonneblomme, wolke en bome (onder andere). Dankie dat jy hier saam op my blad kuier.

Dis ‘n Kleinsus-verjaarsdag tipe bloginskrywing …. Gizzie: vir jou xx

Gedeelde belangstellings


So rukkie terug skryf ek oor my twee sussies. Een so agt haar ouer as ek (middelsus) en die ander so bietjie meer as twee jaar jonger. En dis vandag juis hierdie einste jonger sus aka Kleinsus, Giz, Anapat, wat verjaar. Kort op my hakke nader sy ook nou die groot VYFTIG! So hier, skryf ek dan vandag ‘n storie oor Kleinsus.

Gizmo is ‘n ystervrou. Ek sê nie sommer net so nie. Nie net is sy staalsterk van inbors nie, maar sy kan kil wees, soos ‘n stuk yster wat jy onder ‘n hoop sneeu uitgetrek het. Ferm. As jy die dag aan haar “verkeerde kant” te staan kom sal jy dit wéét. Sy kan met woorde ‘n sweepslag oor jou afvuur wat jou vir minute, ure of selfs dae kan laat stuier. Toe Gizzie jonger was was ek met tye half bang vir haar. Ek, die sussie wat eerder vlug as veg – die propperse Waterdraer. En as jy in ‘n vertrek is waar iemand anders die ontvanger van haar ysige mening is en jy is die toeskouer, sal die kleinste haartjies in jou nek, ore en neus sommer vanself op aandag staan. Dis dán wanneer jy die atmosfeer met die spreekwoordelike mes kan sny, en dit sonder ‘n mes …….. (Let wel: die kleinbrilletjie foto hier bo hou geen verband of verwysing na, kom ons sê, enigiemand spesifieks nie, soos dalk ‘n mmmmhhhhh dikt…… – julle weet wat ek bedoel.)

Die Giz – Kaptein van ons span

In ons jonger dae was Anapat – so oulik soos sy was – soms genadeloos en ekke dalk soms effe slapruggraat. Kleinsus sou nooit weghardloop vir ‘n nodige baklei nie. Sy sou selfs op ‘n stadium die bakleie loop haal. En nog nooit was sy juis een vir verloor nie. Sy is die ene in ons familielyn wat na hartelus mag sing: Anything you can do I can do better, I can do anything better than you….. tralalalieeee. Uitblinker atleet. ‘n Natuurlike leier. Akademiese en sportprestasies, almal welverdiend. Maar ja, kort van draad beslis. Ons twee was soos olie en vuur toe ons jonger was. Al wil ek graag onthou dat ons maats was en mekaar soms roekeloos opgepas het en trots was op mekaar, onthou ek vele stywe, “jou ou koei” oomblikke. Maande en eenmaal selfs ‘n jaar (as ek dit nie mis het nie) waar ons nie met mekaar gepraat het nie. Daar was selfs ‘n keer of wat bolle gerol ……

Maar soos met alle goeie dinge het die jare ook ons verhouding sterker gemaak. Ek reken nogal ons mag selfs aanspraak maak op so ‘n titseltjie wysheid tussen die twee van ons. Want op ‘n dag, besef ek, hierdie is nie net bloed van my bloed nie, hierdie is een van my heel beste vriendinne. Nou kan ons dinge uitgesels. Ek het nie ‘n groot liefde vir telefoonpraat nie, maar ek en Kleinsus vang onsself al meer gereeld dat ons amper ‘n uur of meer babbel. En wat ‘n pure lekkerte en blessing is video-chats nie. Al sien ons mekaar in persoon net dan en wan, is ons daagliks deel van mekaar se lewens. Met die ouderdom saam eindig meeste van ons baie lang aanlyn gesprekke met iets soos… “ons het wraggies weer amper ‘n uur gepraat – dit was nou lekker – ek wou jou nog van ‘xxxxxxxxxxx’ vertel maar as ek nie nou hol nie pieps ek in my broek”.

Verken Londen – dit was ‘n koue Desember in 2006
Oorkant Buckinghampaleis – 2006
Saam op die Rialto Brug – Venesie, Italie – 2006

Kleinsus Giz is ‘n baie trotse ma van twee prag jong manne (wat ook al half lank in die tand raak). Sy sal alles gee vir haar seuns en net soos wat sy nie een is om kompromieë aan te gaan as dit by haar geliefdes kom nie, is sy net so ‘n toegewyde skoonma vir twee pragtige skoondogters. Oor ‘n paar maande word Ouma Giz haar eerste kleinkind ryker, saam met Oupa Herms. My sus glinster van geluk en uitsien, en ek weet sonder enige twyfel sy sal ‘n beste-este Ouma wees vir hierdie bondeltjie liefde en ook ander kleinkinders.

Nou een ding wat ek van myself weet, is dat ek nie ‘n kleinbietjies mens is nie. Ek is oordadig. ‘n “Te” mens. En al doen ons twee sussies dinge baie verskillend, is die sussie van my ook nie een om net effentjies te doen as sy doen nie. Sy kan brei en mooi goete maak – beslis kreatief, soos Ma was. En sonder om op enige tone trap, net ‘n eerlike opinie (dalk effens subjektief maar waarder as waar) – jy gaan min mense kry wat haar tipe gehalte werk doen, oor en oor en oor.

Vir lank saamgewerk – Kleinsus was selfs my baas op ‘n slag
Mooi vrou, die sussie van my (die anner ene ook)
Gedeelde oomblikke, vieringe, afsluitings en nuwe-beginne
Hegte maats, langpad, saamstap
Op ‘n duin erens in Namibie – die kniee het gesukkel
Ons twee sussies saam met toervriende – ‘n Kanadees en Australianer, by die Trevi-fontein in Rome
Maats
My Kleinsus
Ons twee doen verseker van die lelikste ugly-laughs en ugly-cries
Diep, Kosbare Vriendskappe
– Pinks, Giz, Lolla –
Drie Susters (Ama-swessies)
Lin middelkind – Ous, die Ousus – Anapat Kleinsus
Ja ……. ek moes ……. ons het ons oomblikke
Een van my ‘vir-ewig-en-altyd’ gunstelingfotos van Kleinsus


Toe Gizzie my nou-die-dag antwoord oor hoe dit by die dok gegaan het, met ‘n “ons praat nie nou nie” en ek videocall en aan die ander kant is my kleinsus se gesig vol skrik en bang en seer en sy ugly-cry en ek unglier-cry en ons praat so tussen die snot en die trane deur totdat ons altwee half uitgehuil maar rustig groet, het ek net weer besef hoe ‘n absolute sterk konneksie daar tussen ons twee is. Sy was daar in van my donkerste, swaarste tye. En ek in hare. Dikwels plan gemaak om by mekaar uit te kom. Sien mekaar vir lang rukke nie. Baie lang rukke soms. Maar hoor gereeld van mekaar. Ons is oud genoeg om te weet, ek kan nie haar pakkie vir haar dra nie, maar ek kan tog help waar ek kan. Terwyl ons mekaar die spasie gee om ons eie lewens so goed ons kan te leef, besef ons ook dat al maak dis soms hoe seer, ons kan dit nie vir mekaar leef nie.

Ons is okay, ek en jy!

Vandag skryf ek hierdie spesiaal vir jou – die wereld moet hoor hoe lief ek jou het. Hoe trots ek op jou is. Hoe baie jy my inspireer. Ek hou jou dop en sien jou klein oorwinnings en suksesse en dit laat my tone omkrul van lekkerkry. En, in daai oomblikke wanneer dinge donker en swaar raak, sal ek saam met jou sit en jy saam met my – in stilte, of nie. Nes dit nodig is. Ons dna is nie al wat ons vir ewig aanmekaar bind nie. Die feit dat ons twee eintlik tweelingsiele is, dat ons beste vriendinne is, en dat ons vir mekaar lief is ten spyte van en juis oor ons verskille en foute en flaters, beteken ons is ‘n span, vir altyd.

Ek vier JOU vandag Gizmo.
Ek wens jou baie suksesse en avonture vir die dae wat voorle.
Dont stop dreaming.
Lief vir jou van nou tot in ewigheid.
Sien jou by die boom.

Ousus voor – Lolla in die middel – Giz agter