My Ontdekkingsreis

(Oorspronklike geplaas op FB 19 Mei 2019, effens aangepas 27 Mei 2026)

Nooit te oud om te leer nie,
Selfs nie eers oor jouself nie
Juís oor jouself

Sy is lug
Sy is lag
Sy is laf
Sy is water
Sy is ritme
Sy is loskop
Sy is ‘n rare avontuur
Sy is hardkoppig
Sy is Wind
Sy is ‘n sagte geritsel
Sy is ‘n bries
Sy is ‘n brose dog Babelse kakofonie
Sy is oopkop
Sy is liefde
Sy is arms-vol drukkies
Sy is kleurvol en vol kreukels
Sy is dikwels vol brandnetels
Sy is ‘n sonneblom
Sy is ‘n plaasdam
Sy is ‘n tiekiedraai

Sy is ook Winter
Sy is Genesing
Sy is Donker
Sy is Gekneus en Gekraak
Sy is Deurleefd en 'n titseltjie
minder beleefd
Sy is Ooptes, met Grense
Sy is Sag
Sy is Broos
Sy is Woorde en Verlange
Sy is Geloof
én Hoop
én Liefde
Sy is nog nie klaar nie

Sy is …. Ek

LvS (2026)

Eerlik Praat

KAKSTRAAT!

Self-verraad
Waarin het jy jouself ingelaat
Jý! Nie-so-onskuldige Jy!
Jý - is ek
Ons sal ieder eerder vrek
van verleentheid en skeintrots
voor ons (ek) erken en ons (my)
juk optel
Dat jyself 'n voorloper was
tydens die bytel en bou van
Kakstraat

LvS (Mei 2026)
@LollaseGoete

LollaseStorie 14 Mei 2026

Mag die winter in jou hart soveel warm vrugte dra dat die koudste bibber-oggende sal ophou probeer om jou keer op keer te pootjie.

Die plaaslike grootbek-eend het sy plek op die straat se langboom ingeneem en gilkwaak nou vir die buurt sy opstaantyd gera…. …deuntjie.

Ysige winterkoel groet my toe ek die venster wyd oopgooi om vir die bakkiesmaan te glimlag.

Ek hoop die Wind waai vandag vir ons bietjie ekstra blessings nader.  En dat die son al die nodige plekkies sal opwarm. En siekmaak goggas wegbrand.

Terwyl ek voorleef hier in my selfopgelegde kluisenaarsklooster wuif ek vir jou wat hier lees.  Dankie vir die inloer. 👋

LollaseGeroesdeGroete

LollaseKosmos-Uitdaging

Waar is al my kosmosmaats? Julle, mens sien hulle alreeds langs die paaie, op die plase, en teen Maart 2026 gaan hulle weer ‘n feestelike show vir ons bring.

Dalk is daar 1, dalk is daar 10, wat hierdie jaar saam met my gaan kyk hoeveel kosmosfotos ons hier op sosiale media met mekaar kan deel? (Let wel, wees veilig daar waar jy jou fotos neem.) Staan vir ‘n oomblik stil en bekyk hierdie pragtige verskynsels.

Tag my gerus in enige van jou kosmos-fotos en as jy aan die uitdaging wil deelneem (bloot net vir die pret en om hierdie blommetjies te vier), hier, op Facebook, Instagram, Whatsapp, Tik-Tok of waar ookal, gebruik die hutsmerk: #lollasekosmosuitdaging

Ek sien uit na jou kiekies xx

As straatligte kon praat 👀

Sou daar ‘n Straatlig Konglommerasie wees. ‘n Gemeenskap van straatligte.

Wat dink jy sou hierdie straatlig sê as hy kon praat? En sou dit ‘n hy of ‘n sy wees? Of net Dít?

Laasweek, êrens in die Kaap, het hierdie Straatlig my dopgehou. Daai straatlig-oë het my oral in skoonpa se tuin gevolg. Vroegoggend en laataand. Ek kon eenvoudig nie die gevoel afskud dat ek ge-stalk word nie.

As ou grootoog straalig ‘n mond gehad het, sou hy my dalk ‘n paar stories kon vertel oor sy straat en haar mense.  En as hy ore het, het hy seker gehoor toe ek een oggend, met ‘n koffie in my linkerhand en my kamera in my regter ✋️, saggies oor die muur vir hom geskreeu het: “Voertsêk, los my uit!!”

LollaseStraatligStories

Rustige, salige rus

Slegs vir ‘n splinter-stukkie tyd, kry ons ‘n wonderlike geleentheid om vinnig asem te skep

Weg van die rep-en-roer rumoer, weg van moerige kruitjie-roer-my-moerasmeter tot in die rooi

Daar waar die Groot Water en lang stroke wit sand mekaar soos eeu-oue minnaars begroet, sagkuns omhels, male sonder end

Kortstondig, maar intens gewaardeer, in-hierdie-einste- oomblik …. waar siele verweerd, reg maak vir oor-en-oor weer probeer

Salige rus, dankbare hart …. hopend en dromend vir sukses en veel-minder smart

Die oseaan-lug se sagkuns kus is deels te danke vir ons oomblik se rus

Groenigheid & Vele Vetties 🦋🪴

Hoe gereeld maak jy behoorlik tuin skoon?  Is dit ‘n gereelde, gedisiplineerde taak of los jy dit tot jy met ‘n saag en snoeisker by jou voordeur moet uitstoei.

En meer spesifiek – hoe hou jy jou vinnig-vermenigvuldigende vetties in toom?

Ek het die laaste twee dae behoorlik ingeklim. Potte skoongemaak, onkruid verwyder, die vetties opgebreek en uitgeplant.  Sommiges is in ‘n boks bymekaar gesit vir weggee.

En al voel my lyf anibrand-seer, is my hart veertjie-lig.  Ek self oorweeg nou ‘n meer gereelde, in kleiner mate, instandhoudingsplan vir my plante. 🪴🪰🌳🍁🍃🌿🌱🐌

Lolla-se-Groenvinger-Groete

Uitnodiging: Kom sit hier by My

Kom sit vir ‘n rukkie hier by my

Hier langs my

Jy mag maar vir ‘n wyle by my kom sit

Ons kan saam bid

Gesels

Ons kan ponder en wonder

Ons kan planne beraam

Dalk droom oor daai man op die maan

Kan hý ons hoor roep

Kan hý ons red

Erkenning & Dankie vir hierdie prent, AI

As jy saam met my sit, stil

Kan ons gesels oor ons vrouwees, ons

yster-wil

Ons kan lofliedere sing en planne beding

Ons kan ook lafgiggel oor daai man op die maan

want al sou die bliksemse Wêreld ons hoop soms laat taan

Weet ons, ek en jy, verseker-beslis

Dat ons saligheid, genade, ons toekoms net in die

Groot Hand rus

Thanks & Acknowledgement to AI for this picture

Kom hier. 

Hier by my.

Al is dit net vir ‘n oomblik,

voor ons weet is dit verby.

~LollaseGroete~

Lolla se Maandagstories 050126

Maandagoggend, 05 Januarie 2026 – die oggend voel vars na die willewind storm gistermiddag. Vol belofte dat vrede my sal vind vandag.

Ons huidige woning bederf ons daagliks met die mooiste voëltjie simfonie. Dis kwetterend besig hier buite ons slaapkamer-huisie.

Ek besef weer: alles is tydelik, níks is vir altyd nie.

Voor ek weereens vasgevang word in die urelange sosiale media breingaps roetine,  beweeg ek vlugtig oor tot aksie. Ek skryf hierdie stukkie om met julle te deel. Dan, koffietyd ☕️, stort en wegval met ons amptelike Dag 1 werk vir 2026.  (Gaan loer gerus na ons splinternuwe klein besigheid @ouhande.oldhands)

Vandag kies ek Vrede ten spyte van, ter wille van en veral, doelbewus, ten bate van!

Ek wens vir jou ook ‘n vrede en vreugdevolle dag, wat gaan oorborrel en uitvloei in die res van on 2026 in.  Vir almal wat vandag terug is in die tuig – maak dit mooi en lekker.

LollaseGroete ♡