Geskryf deur Lindie Koekemoer (‘n nooi Van Staden), êrens in 2022 ….
“Oupa?”
“Ja Annapat?”
Oupa Henk kyk op van waar hy besig is om sy skoene aan te trek op die riempies houtstoel langs die koolstoof. Dis donkeroggend buite en Oupa begin soos gewoonlik sy dag vroeg by die klip beeskraal so entjie van die huis af.
“Oupa, is daar nog van gister se fyngekapte biltong oor?” vra Antjie met groot uitsien in haar oë.
“En Oupa, mag ek asseblief saamkom kraal toe? Ek het reeds my tekkies en warm baatjie aan.” Die tienerogies wag gretig maar ook effens skrikkerig vir Oupa se antwoord.
Henk tuur fronsend na sy jongste kleindogter wat nou vol uitsien vir hom kyk, wagtend om te hoor wat sy antwoord gaan wees. Hy dink, hoe onskuldig nog is sy, skaars bewus van hoe die lewe soms curveballs gooi, veral wanneer jy dit die minste verwag.
“Reg so Nooi, jy kan saamstap maar jy bly aan die buitekant, ek soek jou nie binne die kraal nie. Daai bul is nou al ‘n paar dae knorrig en ek wil nie hê jy moet seerkry nie. Jy kan buite staan en kyk.”
Ou hande skuif ‘n blikhouer en koffiebekers oor die kombuisblad, vir later. “O ja – ons sal biltong kry as ons terug is. Dis te vroeg om nou te eet, jy sal wurms kry.”
Antjie hop van blygeit en skreeu-sê: “Dankieeeeeeee Oupie!”
Die twee loop stil-stil langs mekaar in die oggendstilte in die rigting van die kraal, ongeveer 600 meter weg van die plaashuis. Oupa dra ‘n paar melkemmers en Antjie loop en mik-en-skop na die groter klippies op die grond, terwyl sy ook soos gewoonlik loer vir enige beweging. Van kleintyd af is sy geleer om haar oë oop te hou vir slange. Voor Ouma Mien se dood twee jaar gelede was daar twee keer groot slange in die huis wat Ouma flink en vinnig uitsorteer het. Sy self is maar erg skrikkerig vir dié bangmaak gediertes. Eerder ekstra versigtig.
By die kraal het Frans en Sollie, Oupa se jarelange plaashulp, reeds begin regmaak vir die vroegoggend melkery. ‘n Vinnige, vriendelike “Oggend Manne” van Oupa af en dan draai hy na Antjie, sy oë skrefies van erns.
“Luister nou mooi, Nooi. Jy gaan duskant van die klipmuur staan. Kyk, hier is ‘n lekker kliphopie waarop jy kan klim om oor die muur te kyk.” Nou loer Oupa na waar die groot, swart bul met sy voet staan en kap-stamp in die grond. “Jy bly net hier, waar ek jou ook sal kan sien. Daai bul is bedonnerd so ek stel voor ons bly vêr uit sy pad uit. Hoor jy?”
“Jaaaa Oupa. Ek gaan net hier staan en kyk totdat julle klaar is. En dan gaan Oupa vir my van die warm melk en gekapte biltong gee as ons terug is by die huis, ne?”
Oupa Henk lag – “Ja jong, ou leegpens. Reg so laat ek loop begin. Doer begin die son al loer. Jy bly hier. En kyk vir slange tussen die klippe.”
Henk stap deur die hekkie na waar die klein houtstoeltjie langs ‘n koei staan. Die melkery begin soos elke ander oggend. Flink geoefende hande maak eers een emmer amper vol, en begin met die volgende een.
Teen die tyd het Antjie se aandag begin afdwaal. Sy krap rond in die grond en voel aan ‘n paar bome se blare. Haar mond water vir vars plaasmelk. Dit vat nou te lank, dink sy en beweeg weer tot by die muur waar sy oorloer in Oupa se rigting. “Wag,” dink sy ….. “dalk kan ek hier op die muur klim en bo-op sit terwyl ek vir Oupa wag”. Sy klim rats tot bo-op die klipstapel.
Die beweging op die muur trek die bul se aandag. Oombliklik ruk sy kop in Antjie se rigting. Hy snork vererg en kyk heen en weer tussen Antjie en die houthekkie so 2 meter weg vanwaar sy op die muur verstar het. Oupa dink nog aan opstaan maar die bul begin hol, storm met ‘n spoed met sy groot gespierde lyf in die rigting van die houthekkie wat effens laer as die muur is. In ‘n oogwink is die groot lyf oor die muur terwyl ‘n paar los klippe grond toe val. Antjie sit verskrik en kyk na die bul wat nou effens oor sy skouer na haar loer. “Wat gaan hy nou doen?” wonder sy.
Oupa, Sollie en Frans kom aldrie met waaiende arms, al skreeuend aangehardloop. Almal lam geskrik. Bul-se-kind besef waar hy is begin eers draf maar toe vinnig weghardloop van die kraal af. In die rigting van die plaashuis.
Die manne is bleek geskrik. Sollie en Frans hardloop agter die hollende bul aan terwyl Oupa vir Antjie van die muur afhelp en haar styf teen hom vasdruk. “Liewe donnertog Nooi ek het nou my gat afgeskrik! Donnerse lawwe Bul!”
Terwyl Oupa en Antjie hulle asems terugkry kom die ander twee manne fluitend en roepend met die bul op ‘n rustige drafstap ‘n entjie voor hulle aangestap. Die gedierte heel in sy noppies oor die opwinding vanoggend. Die enigste skade die omgestampte emmertjie melk langs die hout melkstoeltjie.
“Oupa, kan ons groot seblief nou ietsie gaan eet?” ….

Lolla!! Dis nou wraggies n lekker lees!❤️
LikeLiked by 1 person
Dankie liewe Woordnoot. So bly jy het dit geniet. En dankie vir jou inloer hier. LollaseGroete 🌺
LikeLiked by 1 person