Ek skryf oor seerkry, oor hoop, oor genade en geloof. Ek vertel stories van wat was, van drome en oor dit wat die toekoms mag inhou. Van vriende en liefde, kos, lekker eet. Van foute gemaak en lesse geleer.
Eie belewenisse, gedeelde oomblikke, dinge gelees en gesien vorm deel van wat ek weer op my eie manier skep en uitsit vir die wêreld daarbuite. Algemene kennis help asook ‘n bewustheid van en aanvoeling vir dié dinge wat minder tasbaar is.
Sommige dae kom die skryf sommer soos asemhaal vanself. Moeiteloos, maklik. Soms vloei dit soos ‘n propperse spuitpoep en daars geen keer nie. Maar dan, soms, loop sit die skryf vas, soos ‘n gekrapte langspeelplaat. En maak nie saak wat jy doen, dink of voel nie, daai skryfstilte klou soos ‘n brandnetel.
Maar ek twyfel nie dat, as jy met ‘n liefde vir skryf gebore is, jy altyd weer jou skryfritme sal terugvind nie. 2022 is my skryfjaar. Hou my dop.
Geskryf deur Lindie Koekemoer (‘n nooi Van Staden), êrens in 2022 ….
“Oupa?”
“Ja Annapat?”
Oupa Henk kyk op van waar hy besig is om sy skoene aan te trek op die riempies houtstoel langs die koolstoof. Dis donkeroggend buite en Oupa begin soos gewoonlik sy dag vroeg by die klip beeskraal so entjie van die huis af.
“Oupa, is daar nog van gister se fyngekapte biltong oor?” vra Antjie met groot uitsien in haar oë.
“En Oupa, mag ek asseblief saamkom kraal toe? Ek het reeds my tekkies en warm baatjie aan.” Die tienerogies wag gretig maar ook effens skrikkerig vir Oupa se antwoord.
Henk tuur fronsend na sy jongste kleindogter wat nou vol uitsien vir hom kyk, wagtend om te hoor wat sy antwoord gaan wees. Hy dink, hoe onskuldig nog is sy, skaars bewus van hoe die lewe soms curveballs gooi, veral wanneer jy dit die minste verwag.
“Reg so Nooi, jy kan saamstap maar jy bly aan die buitekant, ek soek jou nie binne die kraal nie. Daai bul is nou al ‘n paar dae knorrig en ek wil nie hê jy moet seerkry nie. Jy kan buite staan en kyk.”
Ou hande skuif ‘n blikhouer en koffiebekers oor die kombuisblad, vir later. “O ja – ons sal biltong kry as ons terug is. Dis te vroeg om nou te eet, jy sal wurms kry.”
Antjie hop van blygeit en skreeu-sê: “Dankieeeeeeee Oupie!”
Die twee loop stil-stil langs mekaar in die oggendstilte in die rigting van die kraal, ongeveer 600 meter weg van die plaashuis. Oupa dra ‘n paar melkemmers en Antjie loop en mik-en-skop na die groter klippies op die grond, terwyl sy ook soos gewoonlik loer vir enige beweging. Van kleintyd af is sy geleer om haar oë oop te hou vir slange. Voor Ouma Mien se dood twee jaar gelede was daar twee keer groot slange in die huis wat Ouma flink en vinnig uitsorteer het. Sy self is maar erg skrikkerig vir dié bangmaak gediertes. Eerder ekstra versigtig.
By die kraal het Frans en Sollie, Oupa se jarelange plaashulp, reeds begin regmaak vir die vroegoggend melkery. ‘n Vinnige, vriendelike “Oggend Manne” van Oupa af en dan draai hy na Antjie, sy oë skrefies van erns.
“Luister nou mooi, Nooi. Jy gaan duskant van die klipmuur staan. Kyk, hier is ‘n lekker kliphopie waarop jy kan klim om oor die muur te kyk.” Nou loer Oupa na waar die groot, swart bul met sy voet staan en kap-stamp in die grond. “Jy bly net hier, waar ek jou ook sal kan sien. Daai bul is bedonnerd so ek stel voor ons bly vêr uit sy pad uit. Hoor jy?”
“Jaaaa Oupa. Ek gaan net hier staan en kyk totdat julle klaar is. En dan gaan Oupa vir my van die warm melk en gekapte biltong gee as ons terug is by die huis, ne?”
Oupa Henk lag – “Ja jong, ou leegpens. Reg so laat ek loop begin. Doer begin die son al loer. Jy bly hier. En kyk vir slange tussen die klippe.”
Henk stap deur die hekkie na waar die klein houtstoeltjie langs ‘n koei staan. Die melkery begin soos elke ander oggend. Flink geoefende hande maak eers een emmer amper vol, en begin met die volgende een.
Teen die tyd het Antjie se aandag begin afdwaal. Sy krap rond in die grond en voel aan ‘n paar bome se blare. Haar mond water vir vars plaasmelk. Dit vat nou te lank, dink sy en beweeg weer tot by die muur waar sy oorloer in Oupa se rigting. “Wag,” dink sy ….. “dalk kan ek hier op die muur klim en bo-op sit terwyl ek vir Oupa wag”. Sy klim rats tot bo-op die klipstapel.
Die beweging op die muur trek die bul se aandag. Oombliklik ruk sy kop in Antjie se rigting. Hy snork vererg en kyk heen en weer tussen Antjie en die houthekkie so 2 meter weg vanwaar sy op die muur verstar het. Oupa dink nog aan opstaan maar die bul begin hol, storm met ‘n spoed met sy groot gespierde lyf in die rigting van die houthekkie wat effens laer as die muur is. In ‘n oogwink is die groot lyf oor die muur terwyl ‘n paar los klippe grond toe val. Antjie sit verskrik en kyk na die bul wat nou effens oor sy skouer na haar loer. “Wat gaan hy nou doen?” wonder sy.
Oupa, Sollie en Frans kom aldrie met waaiende arms, al skreeuend aangehardloop. Almal lam geskrik. Bul-se-kind besef waar hy is begin eers draf maar toe vinnig weghardloop van die kraal af. In die rigting van die plaashuis.
Die manne is bleek geskrik. Sollie en Frans hardloop agter die hollende bul aan terwyl Oupa vir Antjie van die muur afhelp en haar styf teen hom vasdruk. “Liewe donnertog Nooi ek het nou my gat afgeskrik! Donnerse lawwe Bul!”
Terwyl Oupa en Antjie hulle asems terugkry kom die ander twee manne fluitend en roepend met die bul op ‘n rustige drafstap ‘n entjie voor hulle aangestap. Die gedierte heel in sy noppies oor die opwinding vanoggend. Die enigste skade die omgestampte emmertjie melk langs die hout melkstoeltjie.
“Oupa, kan ons groot seblief nou ietsie gaan eet?” ….
My foon se vanilla weertoep laat weet my dat die luggehalte nie tans goed is vir hardloop nie. So ook nie fietsry of tuinmaak nie. Ek laat my maklik oortuig en besluit ek lê dus nog ‘n rukkie tussen die berse. Aangesien die volmaan reeds wegkruip-laag teen die Westelike horison klou het ek nie veel om nou buite te gaan bekyk nie. Ek prut dus vir nog ‘n wyle.
Ek sal wel nou-nou opstaan om twee koppies tee (cuppas) te maak; sterk vyf-rose tee vir Ingelsman en ‘n vinnige geweekte rooibos vir my. Dan bou en pak ek sommer toebroodjies met kaassmeer en marmalade vir sy skaftin, en gooi ‘n piesang by vir ‘n fruity-touch.
Dis Maandag. Vandag pak ons weer die blou bul (g’n verwysing na rugby nie) by die gevoellige horings. More se beplande landswye ‘shutdown’ dreig tans so effens die week uit sy normale wentelbaan uit. En vandag mik ek om weer na maande ‘n paar aanlyn Engelse klasse te kan aftick ✔️.
Na ons eerste week in ons nuwe (nuutste) blyplekkie is die kantoor-kamer besig om bruikbaar te raak. Daar is nog ‘n handjievol bokse om uit te pak, maar ek het genoeg tafel spasie om hopelik produktief aan ‘n inkomste te kan werk.
Die siek lyf is stadig maar seker besig om sterker te word. Ek hoes nog vir die A-span maar daar is langer hoeslose rukkies tussen-in. Slowly does it….
Dit is stil hier by ons nuwe woning. Salig-stil. Behalwe as die ganse keelskoonmaak. (En asof hulle my kon hoor skryf, begin hulle doer in een hoek van die eiendom gaggel.)
Wat is jou planne vir vandag? Hou jy van Maandae? En begin jy ook jou dag met tee?
(Oorspronklike geplaas op FB 19 Mei 2019, effens aangepas 27 Mei 2026)
Nooit te oud om te leer nie, Selfs nie eers oor jouself nie Juís oor jouself
Sy is lug Sy is lag Sy is laf Sy is water Sy is ritme Sy is loskop Sy is ‘n rare avontuur Sy is hardkoppig Sy is Wind Sy is ‘n sagte geritsel Sy is ‘n bries Sy is ‘n brose dog Babelse kakofonie Sy is oopkop Sy is liefde Sy is arms-vol drukkies Sy is kleurvol en vol kreukels Sy is dikwels vol brandnetels Sy is ‘n sonneblom Sy is ‘n plaasdam Sy is ‘n tiekiedraai
Sy is ook Winter Sy is Genesing Sy is Donker Sy is Gekneus en Gekraak Sy is Deurleefd en 'n titseltjie minder beleefd Sy is Ooptes, met Grense Sy is Sag Sy is Broos Sy is Woorde en Verlange Sy is Geloof én Hoop én Liefde Sy is nog nie klaar nie
Self-verraad Waarin het jy jouself ingelaat Jý! Nie-so-onskuldige Jy! Jý - is ek Ons sal ieder eerder vrek van verleentheid en skeintrots voor ons (ek) erken en ons (my) juk optel Dat jyself 'n voorloper was tydens die bytel en bou van Kakstraat
Waar is al my kosmosmaats? Julle, mens sien hulle alreeds langs die paaie, op die plase, en teen Maart 2026 gaan hulle weer ‘n feestelike show vir ons bring.
Dalk is daar 1, dalk is daar 10, wat hierdie jaar saam met my gaan kyk hoeveel kosmosfotos ons hier op sosiale media met mekaar kan deel? (Let wel, wees veilig daar waar jy jou fotos neem.) Staan vir ‘n oomblik stil en bekyk hierdie pragtige verskynsels.
Tag my gerus in enige van jou kosmos-fotos en as jy aan die uitdaging wil deelneem (bloot net vir die pret en om hierdie blommetjies te vier), hier, op Facebook, Instagram, Whatsapp, Tik-Tok of waar ookal, gebruik die hutsmerk: #lollasekosmosuitdaging
Sou daar ‘n Straatlig Konglommerasie wees. ‘n Gemeenskap van straatligte.
Wat dink jy sou hierdie straatlig sê as hy kon praat? En sou dit ‘n hy of ‘n sy wees? Of net Dít?
Laasweek, êrens in die Kaap, het hierdie Straatlig my dopgehou. Daai straatlig-oë het my oral in skoonpa se tuin gevolg. Vroegoggend en laataand. Ek kon eenvoudig nie die gevoel afskud dat ek ge-stalk word nie.
As ou grootoog straalig ‘n mond gehad het, sou hy my dalk ‘n paar stories kon vertel oor sy straat en haar mense. En as hy ore het, het hy seker gehoor toe ek een oggend, met ‘n koffie in my linkerhand en my kamera in my regter ✋️, saggies oor die muur vir hom geskreeu het: “Voertsêk, los my uit!!”
Hoe gereeld maak jy behoorlik tuin skoon? Is dit ‘n gereelde, gedisiplineerde taak of los jy dit tot jy met ‘n saag en snoeisker by jou voordeur moet uitstoei.
En meer spesifiek – hoe hou jy jou vinnig-vermenigvuldigende vetties in toom?
Ek het die laaste twee dae behoorlik ingeklim. Potte skoongemaak, onkruid verwyder, die vetties opgebreek en uitgeplant. Sommiges is in ‘n boks bymekaar gesit vir weggee.
En al voel my lyf anibrand-seer, is my hart veertjie-lig. Ek self oorweeg nou ‘n meer gereelde, in kleiner mate, instandhoudingsplan vir my plante. 🪴🪰🌳🍁🍃🌿🌱🐌