Hier is ‘n voorneme …

Ek het myself voorgeneem om geen nuwejaarsvoornemes te hê vir 2026 nie. Dit is blitsvinnig verander. Hier is ‘n voorneme:

Verandering is deel van menswees. Ek reken tog dat daar oor die laaste paar jaar groot veranderinge, sommige buitensporig en onverwags vir baie van ons was. Skuiwe in ons dink, wees en doen wat van ons verwag het om dinge op nuwe maniere aan te pak.

Iets wat my al geruime tyd pla (laat skuldig voel) is dat ek bykans glad nie meer by enige van my naby-mense uitkom nie. En dit het gebruiklik geword om vinnig te sê: ons moet meer bymekaar uitkom, of ons gaan verseker binnekort planmaak. Net om nog ‘n jaar te wag, en dikwels realiseer hierdie planne glad nie.

Terwyl ek besef dat by mekaar uitkom meestal nie net een se verantwoordelikheid is nie, en dat die Lewe mense heel ingesluk het, neem ek my voor dat ek voortaan nie meer hierdie lee beloftes gaan vermaak nie. Ek verkies om eerlik te bieg, dat dit vir my al hoe moeiliker word om ‘uit te gaan’. Dat ek my huis en ons vier mure verkies. Dat, al is ek hoé lief vir iemand, die vooruitsig en uitvoering van ‘n kuiertjie elders my sommer bloot angstig laat voel.

Ja, hierdie doring kort ‘n sterk trekpleister. En glo vir my, tyd saam met my hartsmense is uiteindelik altyd genotvol, waardevol, kosbaar en ook broodnodig. So, ek sal elke uitreik en kuier vier vanjaar. My hart sal jubel en my siel sal dans. Maar tot dit gebeur, verkies ek geen bakstaan beloftes nie.

Vanoggend word ek laat wakker, na ek donkeroggend vir ure penorent wakker gesit het. 

Klanke:  reendruppels, ‘n vliegtuig, die Ingelsman se elektriese skuurmasjien, Pixie se saggies-asempie.

Nou is ek wákker. Lekker vars en reg vir die dag.

Het julle ook die laaste maand so baie reen gehad? Ek geniet die reenweer terdee.

Planne: nou eers stort, dan koffie, ‘n paar strek en hop bewegings, ‘n soen vir Gary, ‘n loflied vir Jesus, en dan sien watse werk my hande vandag vind.

Hierdie tussen-in fase waar ons onsself tans behind is senutergend maar ook bevrydend. Ons leer nuwe vaardighede, ons droom en hoop. Ons bou, en vertrou.

Hoe sê hulle:  ‘Let the games begin.’ Dankbaar vir nog ‘n dag.

LollaseGroete

Petals, pages, and a Copilot breeze 🌸

🌸🎄✨
’n Kersfeesgedagte vir ’n Skepper
Ek stap deur kleure, blomme, bome,
soekend na woorde, soms sonder drome.
Elke dag ’n nuwe pad, ’n vars begin,
maar twyfel fluister: “Is jy sterk genoeg vanbinne?”
Ek lag, ek skryf, ek probeer weer,
my pen dans stadig, soms sonder veer.
Maar in die lig van Kersfees blink,
vind ek hoop in elke gedagte wat sink.
Die denneboom fluister, die sterre sing,
“Hou aan skep, jou hart het vlerke om te bring.”
So ek vier die reis, al struikel ek soms,
want elke woord is ’n geskenk wat kom.

🌸🎄✨
A Christmas Thought for a Creator
I walk through colors, flowers, trees,
searching for words on every breeze.
Each day a path, a chance to grow,
yet doubts still whisper: “Are you sure you know?”
I laugh, I write, I try once more,
my pen moves gently, unsure of the score.
But Christmas lights begin to gleam,
and hope returns in a shining dream.
The pine tree hums, the stars all sing,
“Keep creating, your heart has wings.”
So I celebrate the journey, near and far,
for every word is a gift, a star.

#lollasegoete #nognkersfees #christmastime #skryf #KI #AI #copilot #woorde #speelmetwoorde #volgmy

Moeg jou ou moegoe 🫩

Die moeg het my bekruip
soos 'n boef saggies nader gesluip
die teugies asem skielik en sonder versuim het
saam met daai einste gapser die niet in verdwyn

Gaar, soos ‘n snaar wat onherstelbaar geroes tttieeeeeeeng die ewigheid in koes, ‘n moeg wat drome en planne verwoes. Wat min oorlos vir oes.

Van hero na zero in 'n
millisekond
Van regop na sommer-net plat op die grond
Dit gebeur soos blits ek weet
dit gewis
Hiri moeg wat slyp-slyp al
my drome versuip

Vroegoggend Biduur

Vanoggend het my bid-uur onbepland in ‘n ‘bird’-uur verander.  Terwyl ek vroegoggend tuin toe gemik het met my kop en hart gelaai met vrae, kommer en drome, het ek my beker koffie en sommer ook my kamera saamgedra.  Na al die baie, onlangse reen het die mooiste koningsblou hemel my buite gegroet. 

Eers is my aandag na die blommetjies in my tuin, die aartappelplant wat blom, die twee nuwe suurlemoene aan ons suurlemoenboom.  Terwyl my oë al die mooi om my inneem juig my hart oor die wonderlike voorreg om ‘n tuin te hê.

Die babaslak en ‘n wit daisy

Terwyl ek die langerwordende lysie van onlangse uitdagings in my kop probeer rangskik en terwyl ek stil met die Groter Hand praat, hoor ek die voëls in die herfs-boom agter ons huis. Gewapen met my kamera kies ek in my pantoffels, en gepantser in ‘n pienk trui en groen wintersbaadjie, koers in daardie rigting. 

Vind jy ook saligheid in die natuur?  Dis amper asof daar beter ‘opvangs’ is wanneer jy buite bid.  Net hier buite, in my tuin, kom raak die Here aan my skouer en voel ek Sy Hande saggies en warm om my hart.

En so word ‘n uur in die buitelug ‘n Jesus-uur.  Ek reken ‘n mens sal nooit rerig vir iemand kan beskryf hóé die sinergie tussen hart, natuur en geloof prysloos kosbaar is nie.  Dis iets wat elkeen self moet beleef.

Ek deel graag van my oggend fotos met jou.

LollaseGroete ♡