Oujaar & Nuwejaar

Tyd om nuwe drome op te gaar
Om in waterstrome en onder bome te baljaar
Tyd vir ballonne, musiek en drome
Tyd vir liefhe, gesond wees en nuwe patrone

Twintig-Een-en-Twintig was ‘n vol jaar. ‘n Vinnige 12 maande. Daar is geen manier om die suksesse en die seer van ‘n spesifieke periode te meet nie. Maar ek dink dis veilig om te konkludeer dat 2021 ‘n emosionele, grootliks gagga en mega-moeilike tyd vir baie mense was. Natuurlik is daar altyd sonskynoomblikke, maar ek lei af van vele gedeelde gevoellens op sosiale media en gesprekke dat ons 2021 in die vullisdrom kan wegbere.

Die jaar wat was, was vir my gevul met gevoellens en belewenisse wat sekerlik die hele spektrum van emosies kan dek. Tuinwerk, my eie kompos maak, meer blomme in my huis en tuin as ooit tevore. Pure lekkerte. Te midde van versigtigheid oor hoe om die “groot gogga” te navigeer en te onduik was daar steeds ‘n paar spesiale girls oomblikke. Kuiers saam met vriendinne op ‘n Vrystaatplaas waar van ons in ‘n watervalpoel geswem het. Hier het ‘n maat se mooi sonhoed wat met 2 botteltjies gin ewe gaaf van bo-af vir ons gegooi is soos mis voor die son onder die water verdwyn, vir ewig en altyd. Vroeg in die jaar het my gesondheid begin skewe draaie draai toe ek ‘n moontlike kwaadaardige groeisel moes laat uitsny. Als het tog mooi uitgewerk.

20-1-en-20 was gepak met kosmosse (velde en velde vol), tuisgemaakte bierbrousels, wolke (‘n persoonlike passie waaroor ek nog gereeld sal blog), reenboeĆ«, ‘n bibberkoue winter, vals naels en vals hare (ek sit nooit weer tape extensions in my hare nie!) Ek en Ingelsman was twee maal Kaap toe, wat ‘n blessing. Besoeke aan natuurreservate met wonderlike sightings van diere and plante – Moeder Natuur op haar heel beste. Daar was ook baie trane en hart-seer oomblikke. Verliese. Maats wat nie meer saam ons hier op aarde is nie. Afskeid van ‘n hartsvriendin. Te min tyd saam my twee hartskinners. ‘n Sus se seer. Vriende en vriendinne wat swaar trek. Teveel aanlyn vaarwels. 2-0-2-1 was ‘n eina jaar!

‘n Reenboog van ons stoep af geneem in Oktober 2021 na ‘n propperse hoĆ«veld donderstorm.
Rus sag my Sonneblom-maat

En so is dit 2022 – ‘n wonderlike nuwe vooruitsig. Eintlik maar net nog ‘n dag. En tog ook nie. Want elke nuwe dag is ‘n nuwe kans. Verseker nie altyd maklik nie, maar sekerlik tog ‘n seening. Nuwe Hoop. Nuwe Kanse.

Ek is propvol planne en drome vir die volgende 12 maande (en dan nog so bietjie !knipoog!) Een daarvan is om aan te hou skryf, meer te skryf – om hierdie passie van my te laat werk, te laat groei. Om dit te geniet en hopelik dalk selfs te floreer. Dalk kan ek tog daai boek klaarmaak. Daar is soveel om te doen. Soveel om te leef. Tans werk ek aan ‘n blog inskrywing oor ‘n ander passie, een wat my nou besig het met navorsing, oplees, leer. Bome. Hou die spasie dop!

Mooiste Wilgerboom langs ‘n Rietvlei waterstoom.
Ek het ‘n intense passie vir die natuur – bome hou soveel geheime.
My hart kry doepa in die natuur.


Mag ons elkeen ons eie plekkie in die son vind
Mag ons bly drome droom soos ‘n kind
Mag ons dae lig wees en ons paaie sonder teveel slaggate
Mag ons liefde vind al is liefde soms blind
Mag ons elke dag vier, op jou eie manier
Mag ons nie die belangrike kanse miskyk
en teveel verkeerde keuses maak nie
Mag ons opstaan wanneer ons val en
ander optel in die oomblikke wanneer hulle nie self kan nie
Mag ons minder van ons wees en meer van Jesus
Mag ons nie ons uniekheid en andersgeit prysgee ter wille
van ander se giere en geite nie
En mag ons aan die einde van die volgende 365 dae vir mekaar
knipoog en saam die volgende nuwe-hoop-siklus aanpak.

Voorspoedige Nuwe Jaar
Met Lollabolla-liefde