































#wordlesswednesday #Photochallenge #blogging #pictures
#wordlesswednesday #photography #photochallenge
Trees are sanctuaries. Whoever knows how to speak to them, whoever knows how to listen to them, can learn the truth.
Herman Hesse
Ek het so rukkie terug geskryf oor my liefde vir bome, sien skakel hier onder:
https://lollasegoete.com/2022/01/02/sonder-begin-of-einde-my-liefde-vir-bome/
Ons was die afgelope naweek na die Hasiepark toe hier naby ons. Iemand by die Saterdag mark gaan ondersteun en toe ‘n entjie gaan stap. Ek kan myself verloor so tussen bome. Dis kiekies en nog kiekies, ooeeee aaahhh en nog ‘n kiekie, bietjie vat-vat en boomdrukkies uitdeel. Pure lekkerte. Die Ingelsman het half iesiegrimmig maar ooh so geduldig saamgestap. Wat ‘n heerlike oggend!
In die koelte van 'n groot ou boom
wil ek vir oulaas stilraak, wegraak
tussen verstrengelde takke vol blaarbehangsels,
vertakkings van gister se gisters.
Lig, soos 'n veer.
Stof.
Net stof.
Onder 'n groot stokou boom.
LollaseGoete
#lollasekiekies #lollaseboomstories #lollasegoete
#wordlesswednesday #photosonly #photography #photographs #nature #kleurvolkreatief #KLeurvoLKriatief #spider #clouds #flowers
Passie (volgens die HAT 4de weergawe 2000, 3de druk, 2003): “… hartstogtelike liefde…”
Vir so lank ek kan onthou het ek ‘n intense, innerlike passie vir bome. Dis nie net bloot ‘n ‘ek hou van bome nie’. Dis meer. Net soos die wind my hart ‘n bietjie vinniger laat gallop, so ook vul bome my hart en my wese met ‘n onpeilbare, onbeskryflike warmte.
Bome is vir my groots. Sterk dog broos. Ek glo daar is meer boomsoorte as wat daar menslike persoonlikhede op aarde is. Hierdie subjektiewe teorie word gesubstansieer deur die wetenskaplike beraming dat daar ongeveer 3 triljoen bome op aarde is; by verre meer as die sterre in ons Melkweg sterrestelsel. Ook meer as al die selle in die menslike brein. (Verwys Internet: usatoday.com – 30/12/2021). Nog ‘n verwysing word gevind in ‘n National Geographic tweet (@NatGeo) gedateer 14 Maart 2016: “There are more trees on earth than there are stars in the Milky Way – and what they do for the planet is amazing.”
Bome het ‘n energie van hulle eie. En hulle deel dit mildelik met enigeen wat belangstel. Met my hand op ‘n boom se bas kan ek my half verbeel ek voel sy hartklop. Dikwels hoor ek bome fluister. Aan die sy van ‘n groot boom is daar ‘n saligheid wat nerens anders bekombaar is nie. Bome is vir my ‘n veilige plek. Mistieke, fabelagtige, statige reuse wat min praat maar baie luister. En so, dus, sal daar gereeld in my skryfwerk of in gesprekke bome opduik – en hordes fotos van bome in all shapes & sizes. Hierdie formidabelle natuurwonders is diep in my siel ingeweef en –wortel.
Ek sal vorentoe vertel van die boomryke area waar ek tans woon. My tone trek vuisies van pure lekkerkry as ek hier rondry en tot my verwondering keer op keer nuwe bome raaksien. En ek gaan nie voorbarig wees en my onkunde oor bome, boomname en boomfeite probeer verdoesel nie – ek hoop om saam met jou en julle te kan leer. Het jy al ‘n boom omhels?
As ek mag, sal ek wens dat my takke vele mede-dendrofiele raakgroei hier tussen my woorde. Wat is jou gunsteling boom, laat weet bietjie? Ek is lief vir ‘n Frangipanie maar Limpopo se Kremetart-bome verdien hul eie “Wowzers!”. Volgens die boek Remarkable Trees of South Africa (2nd editions, 1st impression 2016) – Esterhuyse, Van Breitenbach, Söhnge, Van der Merwe – is Suid Afrika se Groot Vyf Bome: die Kremetart; Wonderboom Vy; Outeniqua Geelhout; Mingerhout (Matumi) en Apiesdoring.
Vir nou is dit eers genoeg gebabbel oor bome – ek glo daar gaan nog vele kanse wees om te hervat. Maar vir nou eers:
mag jy eendag onder 'n groom boom lê en sterre kyk, mag die dag se hitte onder die koelte van ‘n blarereus wyk, mag jy met jou wang teen ‘n koel boombas nuwe asem vind wanneer die donker van die lewe jou wil-wil verblind. mag die geritsel van die wind deur die blare en die gekwetter-skerts van voëltjies tussen takke jou grootste vrese begrawe.
Lolla-liefde
NS: het jy al na Judy Dench se 2017 film “My Passion for Trees” gekyk? As jy lief is vir bome (en/of vir Shakespear) kan jy gerus ‘n uur hieraan afstaan.