Die Goue Vroue Hou Vakansie

Photo by Francesco Ungaro on Pexels.com

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

Sonell se gille weergalm deur die lug terwyl Ursula haar heen-en-weer swaai.  Die Goue Vroue staan verstar die petalje en dophou.  Una en Camilla klou aan mekaar vas terwyl hulle oë vasgenael bly waar Sonell woes rondgeswaai word. Appeltjie het weer flou geval en lê in ‘n bondeltjie langs Aalsie se voete.

“Woordnoot, gooi vir my nog ‘n paar broodjies” skree Aalsie na waar Woordnoot op die boonste dek met haar arms om die mandjie met Frannie se broodjies staan.  En dan, in Sonell se rigting:  “Hou net vas sussa, hou net vaaaaaas.”.

Nadat Aalsie ‘n klomp broodjies vol slaappille gepak het, gooi sy dit in die rigting van die groot seekat se oop mond.  Ursula begin smul aan die mondvol broodjies en toe sy hulle sluk en die bitter van die pille proe, vertrek haar gesig in ‘n gruwelike uitdrukking.  Sonell word sonder meer laat los en val met ‘n harde doef op die dek neer.  Frannie en Seegogga begin in Sonell se rigting hardloop om te gaan help maar die volgende oomblik deins die seiljag skerp na links en die passasiers rol almal tot teenaan die kant van die boot.  Ursula het woedend met een reuse tentakel op die water geslaan en amper die jag omgegooi.  Die vaartuig dobber heen en weer in die golwe wat die seekat veroorsaak het.  Almal aan boord probeer nog tot verhaal kom toe daar ‘n oorverdowende trompetter geskal oor die water weerklink.  In ‘n oogwink verdwyn die seeheks in die donker water.

Die Goue Vroue beweeg vinnig na die kant van die seiljag en sien in die verte hoe Athena se dolfyne aangeswem kom.  Dis ‘n aanskoulike prentjie wat voor die skare op die boot afspeel.  Heel voor swem twee enorme Orkas, gevleuel aan beide kante deur ‘n skool van om-en-by twaalf spierwit Beluga walvisse.  Laasgenoemde is beter bekend as die see-kanarie aangesien hulle ‘n wye reeks geluide vokaliseer, onder andere ‘n vrolike gekwetter wat soos ‘n kanarie klink.  Agter die groter walvisreuse swem ‘n silwer skool bottelneus dolfyne.

Lorenzo uiter ‘n verbaasde “MAMMA MIA” en skielik is almal se aandag weer by wat sopas op die dek afgespeel het.  Ursula is nou spoorloos.  Lorenzo staan besorgd met sy arms om Camilla wat asvaal  geskrik is.  Toortsie fynkam die boot opsoek na Athena.  Sy merk haar ‘n entjie verder weg op waar sy op ‘n bankie sit.  Langs haar die jong, aantreklike skeepskaptein. 

“Julle, kyk daar!” beduie Toortsie vir die res.  “Die man lyk dan heeltemal verlief.”  Lolla gee ‘n proes soos sy probeer om nie te giggel nie.  “Skies, maar jinne julle die man lyk dan skoon simpel, sy oë gaan uitval as hy nie passop nie.”  Maar voor enigeen hierop kan reageer, dawer die diep trompetklank weer en die Goue Vroue draai blitsig in die rigting waar die walvisse nou ‘n pad oopmaak vir Triton wat blitsig in die rigting van die seiljag swem.  Om hom is die water helder verlig, asof hy sy aankoms in die kollig wil aankondig.

Christa besef wat besig is om te gebeur en gaan oor in aksie.

“Reg so dames – daar is nie nou tyd vir skanier of laat spaander nie.  Ons plan kort ‘n kinkeltjie aangesien Lorenzo nou op sy geliefde Camilla fokus en Kaptein Jakob Spreeu net oë het vir Athena.  Perfek, eintlik.  Kom ons kyk hoe Triton gaan reageer.”

Frannie loer in Appeltjie se rigting wat darm nou weer bietjie kleur op haar wange het.  “Appeltjie, waar’s jou kamera?  Hier kom ‘n ding.”

Ekmyself stamp aan Lolla en met ogies wat glinster beduie sy:  “Die manvis is darm mooi, of hoe Lolla?  Kyk net sy goudbruin bolyf!”  Lolla staar met groot oë na Triton wat nou halflyf bo die water tot stilstand gekom het terwyl hy na die klomp of die Golden Dream kyk met ‘n groot frons tussen sy sjokoladebruin kykers.  Om sy gespierde brons borskas hang ‘n seewiertou waaraan die groot geraasskulp hang.

In ‘n diep, suiwer stem vra Triton:  “Waar is Athena.”  Trommeltjie wys eerste na die bankie waar die seekaptein nou sy hande om Athena se hande gevou het.  Hy spring egter gou regop toe hy oogkontak maak met Triton.  Athena kyk oor haar skouer en spring opgewonde regop – “Ooh, Triton, dankie tog jy is hier” roep sy uit terwyl sy in sy rigting hardloop.  VirgoC en Kameel probeer nog keer maar met een groot sprong spring Athena rats oorboord, reg in Triton se arms in.  Die twee kyk na mekaar en dis asof hulle mekaar vir die heel eerste keer sien.  Triton se oë rus nou liefdevol in Athena se blou oë en hy trek haar nog ‘n bietjie stywer teen hom vas.  Die groep walvisse sing in hul verskillende dialekte en sonder meer breek daar luide applous uit van die seiljag se kant af.

Lorenzo neurie in sy gebroke Engels –

Feela de beat from de tambourine, oh yeah
You can dance
You can jive
Having de time of your life
Ooh, see dat girl
Watch dat scene
Digging de dancing queen

Seegogga klink misterieus toe sy iets mompel van ‘n plot op ‘n plaas.  Lolla, die nuutste Gouevrou en die enigste een sonder ‘n buffie om haar nek, stamp liggies met haar elmboog teen Toortsie, knik in haar rigting en vra:  “Toortsie, hoe lyk dit, kan ek ook nou ‘n buffie kry, hhm?” 

Weer word die passasiers tot stilstand gebring deur ‘n donderende geruis.  Op die horison verskyn daar ‘n skrikwekkende, groot tsunami-golf.  Die watermassa kom teen ‘n spoed in die rigting van die Golden Dream aangedruis.  Poseidon se baritonstem stuig bo die vloedgolf se geraas uit – “Gevaar!  Triton, jy moet help Seun!”

Una sal vir ons verder skryf –