Rebus, hier kom ons weer #6

Die Goue Vroue is ‘n paar besonderse vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer  van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur  in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!

Hierdie is Hoofstuk Ses van ons nuwe avontuur. As jy hierna verder wil lees, klik hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

Photo by Pixabay on Pexels.com


Die sirkuslorrie kom met skreeuwende bande om die laaste draai waar Seegogga en Scrapy vroeër die inhoud van beide waens (behalwe natuurlik vir Wolfhond) onder die Bergies uitgedeel het.  Lolla en Seegogga kyk in die rigting waar Seegogga nou beduie, maar hier is geen teken van die Bergies nie.   Hulle spring uit die lorrie uit net om te hoor hoe ‘n man verbaas uitroep:  “Não acredito!”  I don’t believe it!  You came back.

Huh?  Lolla staan met een geligte wenkbrou en staar na die groot figuur maar Seegogga is vinnig by hom.  “Hoekom klink jy so verbaas … have you seen the Bergies who took our stuff?”.  Die man lyk nou geamuseerd en grinnik half toe hy antwoord:  “Dey found da moneys and left.  You will not find dem, dey gone.”  Seegogga ril soos ‘n kouete teen haar ruggraat afgly.  Wat nou!!!

Die man voel hy moet verder vertel en is min geskeel met die twee vroue wat nou half verslae voor hom staan.  “Go look round da corner, dey dumped all the junk and animals dere and they left.  Dey are rich now with da funny money.”

Kom Lolla.  Seegogga gryp Lolla aan die arm en sonder ‘n verdere woord draf hulle tot by die hoek waar die man beduie het.  Hulle hoor die hommeltuig bo hulle sweef met die res van die Goue Vroue in.  Net om die draai kom hulle tot stilstand voor die inhoud van die waens wat vroeer onder die Bergies uitgedeel is.  Nadere ondersoek bevestig dat die Russiese roepels spoorloos weg is. 

Nou gaan ons soos blits moet werk.  Lolla loop haal daai trok ….. Seegogga beduie woes met albei arms in die rigting van die hommeltuig.  Die Goue Vroue se vele hande gaan vandag rats moet werk.  Vinnig staan die groepie vroue langs mekaar.  Lolla het die lorrie behendig ingereverse en almal fokus op Seegogga se instrukies.  Julle, ons het 40 sekondes….. Toorts gaan loer jy en Ekmyself of julle die opsporingstelsel kan deaktiveer terwyl die res van ons soveel as moontlik van hierdie goete teruglaai.  Scrapy, Wolfhond het so mooi geluister na jou vroeer – gaan haal hom en kyk of jy hom rustig kan kry in die hommeltuig. 

Seepglad word die plan van aksie uitgevoer.  Kort voor lank is die hommeltuig en sirkuslorrie weer oppad, in die rigting van die plaas.  Ons het mos nou heel onskuldig hier in die middel van ‘n lelike storie beland, of hoe Lolla, sê-vra SeegoggaLolla loer in Seegogga se rigting en weet sommer, hier kom ‘n ding.  Dis ook nie lank nie, of daar word afgedraai op ‘n verlate grondpadjie.  Seegogga mompel ….. as Elon Musk se vuurpyl kan brand, kan hierdie verdagte trokkie ook maar vlammeland toe gestuur word. 

Toortsie en Aalsie sit koppe bymekaar waar al die vroue nou langs die trok staan.  Una, kom help my gou, ons moet die gedoente se olie laat uitlek, terwyl Trommeltjie vir ons ‘n boks of twee van die klappers – wat vir ons Rebusfontein partytjie aangeskaf is – uit die muskiettuig gaan haal.  Vinnig julle, ons het min tyd.    Aalsie en Positief vang van die druppende olie op en gaan smeer dit op die gestopte dierekoppe in die agter-wa.  Tannie Frannie staan met ‘n frons die gedoente en dophou terwyl Scrapy en VirgoC vir Wolfhond kalm hou.

Die getchweee-tchweeeee-klap-brrrtttttt-tchweeee van die vuurwerke weergalm die vlaktes in en kort voor lank staan die sirkustrok in ligte laaie.  Vir oulaas kyk die vroue in die rigting van die groot oranje vlamme voor die hommeltuig in die rigting van Rebusfontein gestuur word.

Christa voer hul bestemming op die raakskerm beheerpaneel van die hommeltuig in.  Vir ‘n oomblik kan die groepie vroue rustig sit en asemskep.  Seegogga lê-sit half uitgeput op een van die swewende ergonomiese stoele.  Skielik snorklag VirgoC waar sy nou sit en ‘n rustiger Wolfhond streel.  Julle, ons is ook maar lekker dof.  Die woef is nie ‘n hy nie, dis ‘n sy.  Nou lag sy lekker en Scrapy gryp vir hondekind om die nek en gee haar ‘n stywe druk.  Van die vreesaanjaende gedierte is daar nou niks te bespeur nie.  Haar blou oë trek skrefies soos sy die aandag geniet.

Gaan ons haar saamvat Rebus toe?  Ag toe julle?  En ons moet vir haar ‘n naam gee.  Woordnoot babbel opgewonde en die ander sit nou ook aandagtig en luister.  ‘n Wolfhond vir Rebusfontein.  Wat gaan die ander diere dink?  En ‘n naam ….. wat gaan ons haar noem?  Idees word heen en weer geroep – sommiges word met ‘n “Ooh nee” begroet en ander laat die groepie skaterlag.

Die gesellige oomblik word egter onderbreek toe die waarskuwingsligte begin flikker en die geoutomatiseerde beheerstem uitbasyn:  “Gevaar voor!!!”  Met gerekte oë en ingehoude asems storm die Goues na die venster toe, net betyds om te sien hoe die hommeltuig binne-in ‘n onheilspellende, donkerpers rookwolk inbeweeg.  Die waarskuwingsligte flikker nou met meer dringendheid en daar kan niks, behalwe ‘n donker wolkkombers, buite die tuig gesien word nie. 

Julle!!! roep Sonell benoud uit.  Tannie Frannie en Toortsie deel ‘n bekommerde kyk en Appeltjie gryp Positief se arm styf vas.  Voor iemand iets kan sê vul ‘n aaklige reuk die tuig se binneruim.  Suurstofmaskers, gou julle, roep Christa maar almal staar nou na waar Ekmyself, Scrapy en Una een vir een in bondeltjies teen die vloer neersuig.  Binne sekondes lê die hele groepie vroue bewusteloos in die skreeuende hommeltuig wat al dieper in die pimpelpers rookwolk wegraak.

Lolla-se-Goete

ooOoo  Trommeltjie, kan jy oorvat asseblief.  ooOoo



(NS:  Liefste Kameel, ek het jou nie die keer hier ingeskryf nie.  Weet asb my hart gaan uit na jou en jou mense in hierdie moeilike tyd.  Ek vertrou dat die res van die groepie sal weet hoe en waar, maar vir nou stuur ek liefde en innige meegevoel.)

NNS:  Hierdie woorde – ek ken nie die oorsprong nie – het my al ‘n hele paar keer in my lewe deur swaar tye gehelp, ek hoop dit kan dieselfde doen vir iemand anders:

HIS strength is perfect when
my strength is gone
HE carries me when
I can’t carry one

-unknown-

Die Goue Vroue Hou Vakansie

Photo by Francesco Ungaro on Pexels.com

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

Sonell se gille weergalm deur die lug terwyl Ursula haar heen-en-weer swaai.  Die Goue Vroue staan verstar die petalje en dophou.  Una en Camilla klou aan mekaar vas terwyl hulle oë vasgenael bly waar Sonell woes rondgeswaai word. Appeltjie het weer flou geval en lê in ‘n bondeltjie langs Aalsie se voete.

“Woordnoot, gooi vir my nog ‘n paar broodjies” skree Aalsie na waar Woordnoot op die boonste dek met haar arms om die mandjie met Frannie se broodjies staan.  En dan, in Sonell se rigting:  “Hou net vas sussa, hou net vaaaaaas.”.

Nadat Aalsie ‘n klomp broodjies vol slaappille gepak het, gooi sy dit in die rigting van die groot seekat se oop mond.  Ursula begin smul aan die mondvol broodjies en toe sy hulle sluk en die bitter van die pille proe, vertrek haar gesig in ‘n gruwelike uitdrukking.  Sonell word sonder meer laat los en val met ‘n harde doef op die dek neer.  Frannie en Seegogga begin in Sonell se rigting hardloop om te gaan help maar die volgende oomblik deins die seiljag skerp na links en die passasiers rol almal tot teenaan die kant van die boot.  Ursula het woedend met een reuse tentakel op die water geslaan en amper die jag omgegooi.  Die vaartuig dobber heen en weer in die golwe wat die seekat veroorsaak het.  Almal aan boord probeer nog tot verhaal kom toe daar ‘n oorverdowende trompetter geskal oor die water weerklink.  In ‘n oogwink verdwyn die seeheks in die donker water.

Die Goue Vroue beweeg vinnig na die kant van die seiljag en sien in die verte hoe Athena se dolfyne aangeswem kom.  Dis ‘n aanskoulike prentjie wat voor die skare op die boot afspeel.  Heel voor swem twee enorme Orkas, gevleuel aan beide kante deur ‘n skool van om-en-by twaalf spierwit Beluga walvisse.  Laasgenoemde is beter bekend as die see-kanarie aangesien hulle ‘n wye reeks geluide vokaliseer, onder andere ‘n vrolike gekwetter wat soos ‘n kanarie klink.  Agter die groter walvisreuse swem ‘n silwer skool bottelneus dolfyne.

Lorenzo uiter ‘n verbaasde “MAMMA MIA” en skielik is almal se aandag weer by wat sopas op die dek afgespeel het.  Ursula is nou spoorloos.  Lorenzo staan besorgd met sy arms om Camilla wat asvaal  geskrik is.  Toortsie fynkam die boot opsoek na Athena.  Sy merk haar ‘n entjie verder weg op waar sy op ‘n bankie sit.  Langs haar die jong, aantreklike skeepskaptein. 

“Julle, kyk daar!” beduie Toortsie vir die res.  “Die man lyk dan heeltemal verlief.”  Lolla gee ‘n proes soos sy probeer om nie te giggel nie.  “Skies, maar jinne julle die man lyk dan skoon simpel, sy oë gaan uitval as hy nie passop nie.”  Maar voor enigeen hierop kan reageer, dawer die diep trompetklank weer en die Goue Vroue draai blitsig in die rigting waar die walvisse nou ‘n pad oopmaak vir Triton wat blitsig in die rigting van die seiljag swem.  Om hom is die water helder verlig, asof hy sy aankoms in die kollig wil aankondig.

Christa besef wat besig is om te gebeur en gaan oor in aksie.

“Reg so dames – daar is nie nou tyd vir skanier of laat spaander nie.  Ons plan kort ‘n kinkeltjie aangesien Lorenzo nou op sy geliefde Camilla fokus en Kaptein Jakob Spreeu net oë het vir Athena.  Perfek, eintlik.  Kom ons kyk hoe Triton gaan reageer.”

Frannie loer in Appeltjie se rigting wat darm nou weer bietjie kleur op haar wange het.  “Appeltjie, waar’s jou kamera?  Hier kom ‘n ding.”

Ekmyself stamp aan Lolla en met ogies wat glinster beduie sy:  “Die manvis is darm mooi, of hoe Lolla?  Kyk net sy goudbruin bolyf!”  Lolla staar met groot oë na Triton wat nou halflyf bo die water tot stilstand gekom het terwyl hy na die klomp of die Golden Dream kyk met ‘n groot frons tussen sy sjokoladebruin kykers.  Om sy gespierde brons borskas hang ‘n seewiertou waaraan die groot geraasskulp hang.

In ‘n diep, suiwer stem vra Triton:  “Waar is Athena.”  Trommeltjie wys eerste na die bankie waar die seekaptein nou sy hande om Athena se hande gevou het.  Hy spring egter gou regop toe hy oogkontak maak met Triton.  Athena kyk oor haar skouer en spring opgewonde regop – “Ooh, Triton, dankie tog jy is hier” roep sy uit terwyl sy in sy rigting hardloop.  VirgoC en Kameel probeer nog keer maar met een groot sprong spring Athena rats oorboord, reg in Triton se arms in.  Die twee kyk na mekaar en dis asof hulle mekaar vir die heel eerste keer sien.  Triton se oë rus nou liefdevol in Athena se blou oë en hy trek haar nog ‘n bietjie stywer teen hom vas.  Die groep walvisse sing in hul verskillende dialekte en sonder meer breek daar luide applous uit van die seiljag se kant af.

Lorenzo neurie in sy gebroke Engels –

Feela de beat from de tambourine, oh yeah
You can dance
You can jive
Having de time of your life
Ooh, see dat girl
Watch dat scene
Digging de dancing queen

Seegogga klink misterieus toe sy iets mompel van ‘n plot op ‘n plaas.  Lolla, die nuutste Gouevrou en die enigste een sonder ‘n buffie om haar nek, stamp liggies met haar elmboog teen Toortsie, knik in haar rigting en vra:  “Toortsie, hoe lyk dit, kan ek ook nou ‘n buffie kry, hhm?” 

Weer word die passasiers tot stilstand gebring deur ‘n donderende geruis.  Op die horison verskyn daar ‘n skrikwekkende, groot tsunami-golf.  Die watermassa kom teen ‘n spoed in die rigting van die Golden Dream aangedruis.  Poseidon se baritonstem stuig bo die vloedgolf se geraas uit – “Gevaar!  Triton, jy moet help Seun!”

Una sal vir ons verder skryf –