Toe die Kaap nog Hollands was

‘n Goue 1652 – Deel 3

Die Goue Vroue is ñ groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Kliek op die volgende link as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…

https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711

KI prent geskep dmv ‘Imagine’ toep – voorstelling van Tafelberg en -baai in 1652

Kameel bloos toe haar en Renier Boom se skouers vlugtig aanmekaar raak waar hy haar ‘n ‘toer’ deur sy ouers Hendrik en Annetjie Boom se nederige, netjiese eenvertrek huisie gee.  Die jong man wat net soos sy pa ‘n flinke tuinier is, is nuuskierig oor Kameel en haar vreemde groepie vriendinne wat ‘n paar weke gelede saam met hulle hier in die Kaap aant wal gestap het.  Hy het, soos Kommandeur Jan, gewonder waar die dames skielik vandaan gekom het.  Dit was maar ‘n bedremmelde hopie vroumense wat ingespring het om te help voorraad en water van die Dromedaris aan land te bring.  Tog het daar in die eerste paar dae hier aan die Tafelberg se voetsole soveel dinge gebeur dat die vroue gou vergete was.

Dis nou te sê, totdat hierdie statige dame wat haarself vreemd genoeg ‘Kameel’ noem, begin praatjies aanknoop het.  Sy het tot nou toe nog al die vrae gevra, veral oor hulle woning en spesifiek die paar goedjies wat hulle uit Nederland kon saambring.  Maar, neem hy hom voor, dit is nou sy beurt om haar met vrae te bestook.  Die vreemde aksent het hom nou eers aan die wonder.

Dalk sal ‘n glasie uit sy pa se gesogde wynkrat die gesels nog beter laat vloei, reken Renier.  Hy sien nie hoe Kameel se blik nou stewig gefokus is op die twee vuurwapens in ‘n glaskas in die verste donker hoek van die vertrek nie.  Met ‘n vinnige “Verskoon my asseblief ‘n oomblik” verdwyn hy by die houtdeur uit.  Kameel se hande sluit ferm om die pangeweer maar voor sy haar uit die voete kan maak verskyn Annetjie in die deur.  “Ag jinne tog, vergewe my” roep Kameel toe sy ‘n stewige skeut verdowingsprei in ‘n verstarde Annetjie se neusgaaie opspuit.  Met ‘n sagte plofgeluid suig die klein vroutjie op die vloer neer, vas aan die slaap.

Soos blits is Kameel by Tannie Frannie wat die paar tree tot by EkMyselff vinnig kafdraf.  EkMyselff beweeg geruisloos agter die wagte verby tot waar Positief tjoepstil agter die klipmuur staan en wag.  Positief laat spaander in die rigting van die rivier waar ‘n baie trotse Christa en Sonell met roosrooi wange en hygende asems regstaan met die 4 gesmokkelde perde.


Dit is alreeds laatoggend en ‘n ligte sproeireen het nou oor die Kaap en Tafelbaai uitgesak.  Terwyl die verskeie Goue Vroue van oral hulle weg na die begraafplaas toe maak, gallop vier pikswart perde in ‘n algemene Noord-westelike rigting.  Toortsie hou die swaar pangeweer behendig met haar linkerhand vas terwyl Positief, Scrapy en Appeltjie hulself regmaak om wild te soek wat hopelik binnekort vir ‘n groot klomp mense noodsaaklike voeding gaan verskaf.

Oorspronklike foto geneem deur Lindie Koekemoer, Maart 2023


In die begraafplaas waar die groepie Goue Vroue nou saggies sit en die oggend se gebeure opsom wonder Aalsie hardop oor die rede vir hul reis hierheen.  Juis terug na 1652.  Hier sit hulle – elkeen haarself nes hulle mekaar ken.  Asof hulle saam in Rebusfontein op Seegogga se stoep sit en kuier.  Maar ook nie. “Una, Tannie Frannie, wat reken julle?  Wat het ons hier kom maak?”  Aalsie se frons verdiep toe sy verder praat:  “ek voel eienaardig ongemaklik met hierdie hele affêre.”

Gggmpfff, kom dit van Lolla se kant af waar sy verergd probeer om een van die onderrokke los te torring.  In haar dag des lewens sou sy nooit so ‘n gedoente aantrek nie.  En kyk nou net, hier sit sy met ‘n aardige laphoed op haar kop en wat vir haar soos ‘n enorme valskerm vol frille en valle voel.  Sy hoor nie ‘n woord wat daar hier onder die groot Witpeer gesels word nie.  Ook maar goed sy moes haar kamera by die huis los (al voel dit of sy ‘n arm in 2023 agtergelaat het) ….. sy sou in hierdie uitrusting nooit op enigiets kon konsentreer nie.  Darm sal Seegogga vir die nageslag ‘n paar skilderye van hul nuutste avontuur skep.

‘n Omgesukkelde Lolla mis haar jeans en tekkies

Woordnoot en Virgo sit die gesprek voort terwyl hulle bespiegel hoe suksesvol die Goue Vroue sal wees om te help met onderhandelinge tussen die Vereenigde Oos Indiese Komanje en die plaaslike Khoi bevolking.  Die Khoi is gevestigde beestelers en kan ‘n kern-aar word vir die verskaffing van vleis, sowel as vars water.

“Ek kan nogal doen met ‘n lekker stukkie vleis, of hoe Trommeltjie?  Ek is al effens uitgeeet aan die hardebrood.”  Seegogga lek haar lippe terwyl sy dink aan die tafels vol eetgoed by die laaste Rebus partytjie.  Tannie Frannie se broodjies word gespaar vir wanneer daar ‘n krisis opduik waaruit die groepie hulself moet kry.

Maar my!! Julle!!
Ekmyselff staan op haar tone soos sy stip na iets kyk in die rigting van die Fort, ‘n hele afstand weg.  Is dit nie …..  ja wraggies kyk, daar hang Tannie Frannie se bloomer aan die Fort se vlagpaal.  Kan ju………….

Amper onmiddellik is die wapperende bloomer vergete. Die groepie vroue staan in die koel herfs-laatmiddag en luister hoe nog ‘n geweerskoot oor die vlakte weergalm en dan is alles doodstil.

Verwerkte weergawe van oorspronklike foto geneem deur Lindie Koekemoer, Maart 2023



Seegogga, skryf asb vir ons verder.

Die Goue Vroue hou partytjie op Rebus

Die Goue Vroue is ‘n groepie verbeeldingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Hulle het al met ‘n vlieënde tent om die wereld getoer, met ‘n luukse strykyster plesierboot die oseane verken, Jumanji in Afrika gespeel, deur die ruimte getoer, partytjie gehou saam met ABBA en nog baie ander avonture beleef. Hulle woon op hulle eie dorpie, Rebusfontein, waar dit altyd mooiweer is.

Nou gaan hulle partytjie hou op Rebus en wie weet wat gaan gebeur? Ons sal moet wag en sien!

Om nog te lees, klik gerus hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5330572ab12247dfafd5de0b9c14dd82



Lolla sit met stokstywe oë kruisbeen op die grond die geselligheid voor haar en dophou.  Haar kaalvoete wat onder haar dik bobene ingevou is tik-tik saam op die ritme van Jerry Lee Lewis se Chantilly Lace wat nou deur die luidsprekers hier uit Rebus se eie teater stroom.  Seegogga gooi ‘n lekker draai oor die dansvloer en Kameel, wat nou Camilla se paar rooi stilletos aanhet, volg saam terwyl sy haar kop agtertoe gooi en plesierig lag.  Appeltjie hou haar seer rug skelm vas sodat niemand sien hoe vanmiddag se rondhardlopery tussen haar huisie en die krater waar Una se garnale die ewigheid ingeblaas is, haar nou skoon ongemaklik het nie.  Sy neurie saam:

Chantilly lace and a pretty face
And a ponytail hangin’ down
A wiggle in her walk and a giggle in her talk
Make the world go ‘ro-o-ound

Appeltjie loer agterdogtig in Lolla se rigting.  Die girl lyk half vaal en haar oge is so groot soos pierings.  Kan dit dalk iets te doen hê met die laaste helfte van haar spinasietert (wat sy per abuis met die “spesiale groen olie” gemaak het) wat verdwyn het nadat sy vroeer die drakie gevoer het?

Una het intussen, na die petalje met die drakie en die krater, weer ‘n stewige porsie garnale met knoffel en botter gaargemaak, so onder Toortsie se wakende oog.  Lolla wat self nie ‘n bakster is nie het ‘n bak tuisgemaakte malvalekkers en kondensmelk gebring vir die met soet tande.

Daar is ‘n heerlike atmosfeer op die dorpsmeent.  Almal is ontspanne en ‘n ligte, selfs effens lawwe luim heers.  Christa, Kameel en Trommeltjie is besig om ‘n skinkbord met die allermooiste kristalglasies vol Frangelico te pak om met hulle Goue Vriendinne te deel.  Appeltjie en VirgoC vis by Lolla uit of sy die ander helfte van die gedokterde spinasietert geeet het.  Lolla knik stadig haar kop op-en-af terwyl haar oë glinster soos sy giggel. 

“Water, jy kort water”!  VirgoC gooi sommer ook net daar en dan ‘n yslike glas propvol vars bergrivierwater en gee dit vir Lolla aan.  Met haar ander hand beduie sy: “drink”.  Lolla sluk die water weg want sy voel juis se effe dorser as normaal.  “Kom” wys Appeltjie en trek vir Lolla van die vloer af op.  “Beweeg bietjie dan voel jy sommer gou beter.”

Die Goue Vroue staan nou in ‘n sirkel en wikkelrittel saam met Good Golly Miss Molly.  Christa gryp vir Trommeltjie en draai haar in die rondte.  Toortsie, Frannie en Seegogga maak wafferse ruk-en-rol passies en Ekmyself speel lugkitaar terwyl sy luid saamsing.

Skielik is daar ‘n yslike groot, helder kollig op die groepie.  Half verblind, met hande voor hulle oë kyk die groep in die rigting vanwaar die lig skyn.  Danie het so vinnig opgespring dat sy pruik nou oor sy oë hang – hy uiter net een lui maar klipharde “Woef”.

Die groen drakie wat na die spinasietert van vroeer nog heeltyd geslaap het is nou wakker.  Uit die gediertetjie se oë skyn twee helder kolligte.  Vir ‘n oomblik is die vroue sprakeloos en nie een beweeg nie, maar dan gee Kameel ‘n paar tree in daardie rigting en sit haar linkerhand gerusstellend op drakie se blad, daar waar die vlerkies bymekaarkom.  Dit het duidelik ‘n kalmerende uitwerking en die ligte verdof, en gaan dan af.

My maggies julle, ons het dan sowaar ons eie beligtingsingenieur hier op Rebus, skerts Woordnoot.  Die drakie vlap en vladder sy vlerke en gaan sit bo-op Kameel se kop.  Na ‘n paar oomblikke bars die hele klomp uit van die lag.  Die draak lyk vreeslik gemaklik hier tussen die Goues op Rebusfontein.  En so stem almal in, hierdie drakie moet ‘n naam kry.  Dis ook nie lank nie of die groepie vroue het ooreengestem dat Knersis voortaan so sal heet. 

Una stap na die groot tafel propvol feetjieliggies wat eenkant staan en pak ‘n klomp uitgeholde klapperdoppe al die pad van Mosambiek af op die tafel uit.  Sy kry so halwe rilling toe sy dink watter petalje die geplukkery van die klappers afgegee het, maar vir nou is dit gedane sake.  Sy skink die een na die ander vol met ‘n mengsel van Tipo Tinto, Klappermelk, fyngemaalde pynappel en ys.  Elke drankie kry ‘n reenbooggekleurde glasstrooitjie en kort voor lank staan die vroue elkeen met ‘n eilanddrankie in die hand.

Die volgende liedjie begin speel en selfs die Italianer staan nader terwyl Lolla kliphard saamsing Ooh-ooh-hoo as jy langs my staaaan ……… as die hippies begin dans, vat jy my terug na ……  Scrapy hak nou by Lolla in en knipoog in haar rigting.  Hulle altwee weet – dis lekkerder as toffieappellekker hier op Rebus.

Kom ons kyk wie skryf volgende…

Rebus, hier kom ons weer #6

Die Goue Vroue is ‘n paar besonderse vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer  van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur  in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!

Hierdie is Hoofstuk Ses van ons nuwe avontuur. As jy hierna verder wil lees, klik hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

Photo by Pixabay on Pexels.com


Die sirkuslorrie kom met skreeuwende bande om die laaste draai waar Seegogga en Scrapy vroeër die inhoud van beide waens (behalwe natuurlik vir Wolfhond) onder die Bergies uitgedeel het.  Lolla en Seegogga kyk in die rigting waar Seegogga nou beduie, maar hier is geen teken van die Bergies nie.   Hulle spring uit die lorrie uit net om te hoor hoe ‘n man verbaas uitroep:  “Não acredito!”  I don’t believe it!  You came back.

Huh?  Lolla staan met een geligte wenkbrou en staar na die groot figuur maar Seegogga is vinnig by hom.  “Hoekom klink jy so verbaas … have you seen the Bergies who took our stuff?”.  Die man lyk nou geamuseerd en grinnik half toe hy antwoord:  “Dey found da moneys and left.  You will not find dem, dey gone.”  Seegogga ril soos ‘n kouete teen haar ruggraat afgly.  Wat nou!!!

Die man voel hy moet verder vertel en is min geskeel met die twee vroue wat nou half verslae voor hom staan.  “Go look round da corner, dey dumped all the junk and animals dere and they left.  Dey are rich now with da funny money.”

Kom Lolla.  Seegogga gryp Lolla aan die arm en sonder ‘n verdere woord draf hulle tot by die hoek waar die man beduie het.  Hulle hoor die hommeltuig bo hulle sweef met die res van die Goue Vroue in.  Net om die draai kom hulle tot stilstand voor die inhoud van die waens wat vroeer onder die Bergies uitgedeel is.  Nadere ondersoek bevestig dat die Russiese roepels spoorloos weg is. 

Nou gaan ons soos blits moet werk.  Lolla loop haal daai trok ….. Seegogga beduie woes met albei arms in die rigting van die hommeltuig.  Die Goue Vroue se vele hande gaan vandag rats moet werk.  Vinnig staan die groepie vroue langs mekaar.  Lolla het die lorrie behendig ingereverse en almal fokus op Seegogga se instrukies.  Julle, ons het 40 sekondes….. Toorts gaan loer jy en Ekmyself of julle die opsporingstelsel kan deaktiveer terwyl die res van ons soveel as moontlik van hierdie goete teruglaai.  Scrapy, Wolfhond het so mooi geluister na jou vroeer – gaan haal hom en kyk of jy hom rustig kan kry in die hommeltuig. 

Seepglad word die plan van aksie uitgevoer.  Kort voor lank is die hommeltuig en sirkuslorrie weer oppad, in die rigting van die plaas.  Ons het mos nou heel onskuldig hier in die middel van ‘n lelike storie beland, of hoe Lolla, sê-vra SeegoggaLolla loer in Seegogga se rigting en weet sommer, hier kom ‘n ding.  Dis ook nie lank nie, of daar word afgedraai op ‘n verlate grondpadjie.  Seegogga mompel ….. as Elon Musk se vuurpyl kan brand, kan hierdie verdagte trokkie ook maar vlammeland toe gestuur word. 

Toortsie en Aalsie sit koppe bymekaar waar al die vroue nou langs die trok staan.  Una, kom help my gou, ons moet die gedoente se olie laat uitlek, terwyl Trommeltjie vir ons ‘n boks of twee van die klappers – wat vir ons Rebusfontein partytjie aangeskaf is – uit die muskiettuig gaan haal.  Vinnig julle, ons het min tyd.    Aalsie en Positief vang van die druppende olie op en gaan smeer dit op die gestopte dierekoppe in die agter-wa.  Tannie Frannie staan met ‘n frons die gedoente en dophou terwyl Scrapy en VirgoC vir Wolfhond kalm hou.

Die getchweee-tchweeeee-klap-brrrtttttt-tchweeee van die vuurwerke weergalm die vlaktes in en kort voor lank staan die sirkustrok in ligte laaie.  Vir oulaas kyk die vroue in die rigting van die groot oranje vlamme voor die hommeltuig in die rigting van Rebusfontein gestuur word.

Christa voer hul bestemming op die raakskerm beheerpaneel van die hommeltuig in.  Vir ‘n oomblik kan die groepie vroue rustig sit en asemskep.  Seegogga lê-sit half uitgeput op een van die swewende ergonomiese stoele.  Skielik snorklag VirgoC waar sy nou sit en ‘n rustiger Wolfhond streel.  Julle, ons is ook maar lekker dof.  Die woef is nie ‘n hy nie, dis ‘n sy.  Nou lag sy lekker en Scrapy gryp vir hondekind om die nek en gee haar ‘n stywe druk.  Van die vreesaanjaende gedierte is daar nou niks te bespeur nie.  Haar blou oë trek skrefies soos sy die aandag geniet.

Gaan ons haar saamvat Rebus toe?  Ag toe julle?  En ons moet vir haar ‘n naam gee.  Woordnoot babbel opgewonde en die ander sit nou ook aandagtig en luister.  ‘n Wolfhond vir Rebusfontein.  Wat gaan die ander diere dink?  En ‘n naam ….. wat gaan ons haar noem?  Idees word heen en weer geroep – sommiges word met ‘n “Ooh nee” begroet en ander laat die groepie skaterlag.

Die gesellige oomblik word egter onderbreek toe die waarskuwingsligte begin flikker en die geoutomatiseerde beheerstem uitbasyn:  “Gevaar voor!!!”  Met gerekte oë en ingehoude asems storm die Goues na die venster toe, net betyds om te sien hoe die hommeltuig binne-in ‘n onheilspellende, donkerpers rookwolk inbeweeg.  Die waarskuwingsligte flikker nou met meer dringendheid en daar kan niks, behalwe ‘n donker wolkkombers, buite die tuig gesien word nie. 

Julle!!! roep Sonell benoud uit.  Tannie Frannie en Toortsie deel ‘n bekommerde kyk en Appeltjie gryp Positief se arm styf vas.  Voor iemand iets kan sê vul ‘n aaklige reuk die tuig se binneruim.  Suurstofmaskers, gou julle, roep Christa maar almal staar nou na waar Ekmyself, Scrapy en Una een vir een in bondeltjies teen die vloer neersuig.  Binne sekondes lê die hele groepie vroue bewusteloos in die skreeuende hommeltuig wat al dieper in die pimpelpers rookwolk wegraak.

Lolla-se-Goete

ooOoo  Trommeltjie, kan jy oorvat asseblief.  ooOoo



(NS:  Liefste Kameel, ek het jou nie die keer hier ingeskryf nie.  Weet asb my hart gaan uit na jou en jou mense in hierdie moeilike tyd.  Ek vertrou dat die res van die groepie sal weet hoe en waar, maar vir nou stuur ek liefde en innige meegevoel.)

NNS:  Hierdie woorde – ek ken nie die oorsprong nie – het my al ‘n hele paar keer in my lewe deur swaar tye gehelp, ek hoop dit kan dieselfde doen vir iemand anders:

HIS strength is perfect when
my strength is gone
HE carries me when
I can’t carry one

-unknown-