Toe die Kaap nog Hollands was

‘n Goue 1652 – Deel 3

Die Goue Vroue is ñ groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Kliek op die volgende link as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…

https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711

KI prent geskep dmv ‘Imagine’ toep – voorstelling van Tafelberg en -baai in 1652

Kameel bloos toe haar en Renier Boom se skouers vlugtig aanmekaar raak waar hy haar ‘n ‘toer’ deur sy ouers Hendrik en Annetjie Boom se nederige, netjiese eenvertrek huisie gee.  Die jong man wat net soos sy pa ‘n flinke tuinier is, is nuuskierig oor Kameel en haar vreemde groepie vriendinne wat ‘n paar weke gelede saam met hulle hier in die Kaap aant wal gestap het.  Hy het, soos Kommandeur Jan, gewonder waar die dames skielik vandaan gekom het.  Dit was maar ‘n bedremmelde hopie vroumense wat ingespring het om te help voorraad en water van die Dromedaris aan land te bring.  Tog het daar in die eerste paar dae hier aan die Tafelberg se voetsole soveel dinge gebeur dat die vroue gou vergete was.

Dis nou te sê, totdat hierdie statige dame wat haarself vreemd genoeg ‘Kameel’ noem, begin praatjies aanknoop het.  Sy het tot nou toe nog al die vrae gevra, veral oor hulle woning en spesifiek die paar goedjies wat hulle uit Nederland kon saambring.  Maar, neem hy hom voor, dit is nou sy beurt om haar met vrae te bestook.  Die vreemde aksent het hom nou eers aan die wonder.

Dalk sal ‘n glasie uit sy pa se gesogde wynkrat die gesels nog beter laat vloei, reken Renier.  Hy sien nie hoe Kameel se blik nou stewig gefokus is op die twee vuurwapens in ‘n glaskas in die verste donker hoek van die vertrek nie.  Met ‘n vinnige “Verskoon my asseblief ‘n oomblik” verdwyn hy by die houtdeur uit.  Kameel se hande sluit ferm om die pangeweer maar voor sy haar uit die voete kan maak verskyn Annetjie in die deur.  “Ag jinne tog, vergewe my” roep Kameel toe sy ‘n stewige skeut verdowingsprei in ‘n verstarde Annetjie se neusgaaie opspuit.  Met ‘n sagte plofgeluid suig die klein vroutjie op die vloer neer, vas aan die slaap.

Soos blits is Kameel by Tannie Frannie wat die paar tree tot by EkMyselff vinnig kafdraf.  EkMyselff beweeg geruisloos agter die wagte verby tot waar Positief tjoepstil agter die klipmuur staan en wag.  Positief laat spaander in die rigting van die rivier waar ‘n baie trotse Christa en Sonell met roosrooi wange en hygende asems regstaan met die 4 gesmokkelde perde.


Dit is alreeds laatoggend en ‘n ligte sproeireen het nou oor die Kaap en Tafelbaai uitgesak.  Terwyl die verskeie Goue Vroue van oral hulle weg na die begraafplaas toe maak, gallop vier pikswart perde in ‘n algemene Noord-westelike rigting.  Toortsie hou die swaar pangeweer behendig met haar linkerhand vas terwyl Positief, Scrapy en Appeltjie hulself regmaak om wild te soek wat hopelik binnekort vir ‘n groot klomp mense noodsaaklike voeding gaan verskaf.

Oorspronklike foto geneem deur Lindie Koekemoer, Maart 2023


In die begraafplaas waar die groepie Goue Vroue nou saggies sit en die oggend se gebeure opsom wonder Aalsie hardop oor die rede vir hul reis hierheen.  Juis terug na 1652.  Hier sit hulle – elkeen haarself nes hulle mekaar ken.  Asof hulle saam in Rebusfontein op Seegogga se stoep sit en kuier.  Maar ook nie. “Una, Tannie Frannie, wat reken julle?  Wat het ons hier kom maak?”  Aalsie se frons verdiep toe sy verder praat:  “ek voel eienaardig ongemaklik met hierdie hele affêre.”

Gggmpfff, kom dit van Lolla se kant af waar sy verergd probeer om een van die onderrokke los te torring.  In haar dag des lewens sou sy nooit so ‘n gedoente aantrek nie.  En kyk nou net, hier sit sy met ‘n aardige laphoed op haar kop en wat vir haar soos ‘n enorme valskerm vol frille en valle voel.  Sy hoor nie ‘n woord wat daar hier onder die groot Witpeer gesels word nie.  Ook maar goed sy moes haar kamera by die huis los (al voel dit of sy ‘n arm in 2023 agtergelaat het) ….. sy sou in hierdie uitrusting nooit op enigiets kon konsentreer nie.  Darm sal Seegogga vir die nageslag ‘n paar skilderye van hul nuutste avontuur skep.

‘n Omgesukkelde Lolla mis haar jeans en tekkies

Woordnoot en Virgo sit die gesprek voort terwyl hulle bespiegel hoe suksesvol die Goue Vroue sal wees om te help met onderhandelinge tussen die Vereenigde Oos Indiese Komanje en die plaaslike Khoi bevolking.  Die Khoi is gevestigde beestelers en kan ‘n kern-aar word vir die verskaffing van vleis, sowel as vars water.

“Ek kan nogal doen met ‘n lekker stukkie vleis, of hoe Trommeltjie?  Ek is al effens uitgeeet aan die hardebrood.”  Seegogga lek haar lippe terwyl sy dink aan die tafels vol eetgoed by die laaste Rebus partytjie.  Tannie Frannie se broodjies word gespaar vir wanneer daar ‘n krisis opduik waaruit die groepie hulself moet kry.

Maar my!! Julle!!
Ekmyselff staan op haar tone soos sy stip na iets kyk in die rigting van die Fort, ‘n hele afstand weg.  Is dit nie …..  ja wraggies kyk, daar hang Tannie Frannie se bloomer aan die Fort se vlagpaal.  Kan ju………….

Amper onmiddellik is die wapperende bloomer vergete. Die groepie vroue staan in die koel herfs-laatmiddag en luister hoe nog ‘n geweerskoot oor die vlakte weergalm en dan is alles doodstil.

Verwerkte weergawe van oorspronklike foto geneem deur Lindie Koekemoer, Maart 2023



Seegogga, skryf asb vir ons verder.

36 thoughts on “Toe die Kaap nog Hollands was”

  1. Eers wil ek jou gelukwens met jou voorstelling van 1652. Dis goed gedoen, Lolla. Jou selfie is besonders uitstekend gedoen! Ek wil ook so lyk!!! En dan jou vertelling, jy het nou maar eenmaal ñ wonderlike talent met woorde. Jy hou ons storie pragtig bymekaar en het ñ paar goeie los drade gelos. Baie, baie goed geskryf, jong

    Liked by 3 people

  2. Lindie, dis heerlik geskryf, ek lag so oor die bloomer… Kyk, ek hou van die geskiedenis boek en mal oor hoe jy dit en Rebus inbring. Het heerlik gelees aan jou storie🌻

    Liked by 1 person

  3. Genade die storie loop lekker al word daar in die begraafplaas vergader. Ek hou daarvan dat die geweer so seepglad oppad is na die jagveld. Koedoes klink vir my nogal na ‘n goeie vleisie vir biltong. Hoop nie dis Daleen Matthee se eensame Olifant wat ‘n koeël gekry het nie. Jy’t ‘n lekker hoofstuk geskryf wat nog baie dinge kan oplewer.

    Liked by 1 person

    1. Hlo Scrapy dis vir my so lekker om van jou te hoor. Dis wat hierdie saamskrywery van ons so lekker en tog só uitdagend maak. The sky is the limit. Dankie vir jou positiewe terugvoer. ♡ LollaGroete

      Like

  4. Ja nee, die avontuur is nou flink aan die gang. Bloomers, pangewere, listigheid en baie planne!! Ek ruik n koedoe op n spit! Welgedaan Lolla!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s