Een Hele WP Jaar

WP stuur vroeer vandag vir my ‘n ‘Achievement’ boodskappie. Baie Geluk, dis vandag ‘n jaar terug wat LollaseGoete hier geskep is.

Wat ‘n jaar. Propvol. Op en af, goed en minder goed. Baie WOW-oomblikke.

Ek het ‘n klompie Volgers en ek volg ‘n hele klompie. Dis ‘n lekker spasie hierdie, ons blogland.

Skryf en dink en deel neem tyd. Al is dit hóé lekker is daar soms netnie genoeg tyd om voor te bly nie. Maar as dinge in ‘die regte lewe’ woesdol gaan, kan ek altyd vir ‘n rukkie hier by julle kom wegkruip.

Ek is ‘n Goue Vrou met ‘n sagte, dankbare hart wat soos almal anders elke dag skaaf en bou en pleister aan my plekkie onder die son.

Dankie vir ‘n gemaklike, veilige spasie waar ek my Lolla-kruiwatjie kan kom omtiep nou-en-dan.

Dit hoef nie perfek te wees nie, maar dit moet samblief tog eerlik en opreg wees.

Lolla-Groete 🌸🌸🌸

Wolke Betjoinks

Ek het letterlik derduisende fotos van wolke. Skuimeriges, wolleriges, aggresiewe wolke. Kleines, grotes, enkeles …. wolkkomberse en marshmallow wolke. Spatsels wolke en fabelagtige wolke.

Maandagmiddag-wolke Asem-wegslaan-wolke
Kwaai wolke met hael-boepense

Soms wonder ek hoeveel mense nie die wolke raaksien nie. Is almal soos ek, altyd gereed om met die volgende vertoning weggeblaas te word na ‘n wonderwolkewêreld. Is daar mense vir wie wolke net “ag dis net nog ‘n wolk” of “wolke, huh, watse wolke” is?

Al die fotos hierbo is vroeer die week met my Samsung foon geneem.

So wat reken julle? Is die daaglikse hemelse teater vir almal ewe asemrowend of minstens ‘n gewaardeerde verskynsel? Óf, is Lolla met die maan én met wolke begogeld?

Lolla liefdegroete ☁️☁️☁️💙🤍💙

Terugblik op Gisters

Die Boek-van-Gesigte wys vir my grepe uit my verlede. Altyd goeie én slegte tye. Dis mos die Lewe se wipplankgeite.

Image from online library

02 Nov 2009, skryf ek:

Bedrywige Maandag wat voorle, net 6 weke van werk oor … Dis ‘n vol lewe waarvoor ek elke dag dankbaar is. Sien met oordrewe opwinding uit na die Desember-vakansie wat voorle. Lekker week maters!! xx

Lank lank gelede, nog voor ek 40 behaal/gehaal het.

02 November 2013:

Vandag is die dag!! Soveel dinge om te doen, die lysie is lank. So let the games begin ……

  • Buite saam met die honde vroegoggend asem geskep – Tick 🙂
  • BBMs geantwoord en emails gelees – Tick
  • Avon reps status-check – Tick
  • Faceboek status ge-update – Tick
  • Ketel aangesit vir vroegoggend koffie – Tick
  • Jog uit die bed geskop om op te staan ….. hehehe, hier gaat ek …..

    Praat later maters xx xx
Hierdie het op ‘n stadium aanlyn die rondtes gedoen. Ek giggel, maar dis eintlik so waar.

02 November 2019 – ons vier die Springbokke se oorwinning oor Engeland. 32 – 12

02 November 2018:

Lalla sê mos gister dis ‘n woestelike dag. Lalla was reg – dit was eintlik ‘n woestelike dag, week, maand EN jaar.

Roadtrip pending ….
Muskiete vreet vir my op.
Nie almal kan my handle nie, en dis fine. (DIS FINE!!!)
Ek het heeltemal teveel suiker geeet hierdie week. (Who cares ne.)
Die duiwel loop rerig rond soos ‘n brullende leeu.
Daar is krag in gebed. Daar is krag in geloof.
Musiek kleur my wereld in. (Al sing ek vals, ne Mella.)
Ek slip op met kontak hou, veral juis waar dit saakmaak. Tyd sluk my pokkellyf heel in.
Ek is nie ‘n effentjies mens nie, maar ek het ervaring in “biki-biki maak baja”.
Die van julle vir wie ek lief is, weet dit!!!! Ne!?!
Ek weet baie van julle is rerig lief vir my. Dankie. xx
Ek is dankbaar.
Oooooohhhh hoor en luister mooi: NEVER SAY NEVER!!! (Eendag gaan ek kaalvoet op ‘n strand bly.)

Vandag is ek ooh soo dankbaar vir elke oomblik. En ek is geseend met tyd om nog oomblikke te geniet en benut. Oor die laaste dekade het ek vele male die direkte aanslag van verlies ervaar en is bewus hoe broos en kosbaar die lewe is.

My lewe is propvol en ‘it is well with my soul’. To many, many more happy memories.

Ja Lucas, kiekies vertel ‘n Storie

Klein swerm Rooikop vinkies maak nes in ‘n boom agter ons huis.
Vroegoggend-groete hier van Lolla se kant af. Ek speel te lekker met hierdie Bitmoji ‘stickers’
Dis Jakarandatyd en die Oosrand stel nie teleur nie. Dis ‘n pers skouspel. 💜
My ‘hydrangea’ begin pronk
Beginstadium van my eie klein besigheidtjie. kLeurvoLKriatief laat my nuut dink, myself uitdaag. Nog baie werk om te doen. Ek glo !!!
Vroegoggend sonsopkoms oor die lughawe, oppad kantoor toe.
Een van die vele hoede beskikbaar in my katalogus. Self het ek nou al ‘n paar oulike hoede bymekaar, elkeen met haar eie persoonlikheid. Hoekom hoede…. ek vertel later.
Geduld!!!! Als gebeur soos bestem.
Kleinsus se bêlle. Ek is reg vir Kersfees.
Spookboom ….. boee
Ek moet julle nog van hierdie vier vertel …. die poppe wat rondrits

Hoop julle geniet my kiekies net soos ek geniet om dit te neem en te deel.

Lollagroete, tot later xx

Nooit is ‘n lang tyd

Een van die groot lesse wat die lewe my deur my persoonlike ervaringe geleer het is dat mens rerig nooit nooit ooit moet nooit sê nie. So het die holrug never say never ‘n herhaalde tema in my lewenssiklus (nee, nie sirkus nie) geword. En ek sal aanhou met oortuiging afraai dat mens moet glo dat sekere goete nooit sal gebeur nie. Want Nooit en al sy voor- en nasate is langer as vir-ewig. Nooit is eintlik net ‘n gat vol niks en nêrens.

Nooit sal ek ooit weer
Sê nooit nie, want
Nooit het toe nooit gebeur nie
Nooit raak toe alte gereeld
'anything is possible' en kom haal 'n ingebore hooitie tooitiegeit uit my uit

Hierdie Afrikaanse meisiekind raak groot in ‘n redelike gewone Afrikaanse huisgesin. Waar daar boeretroos gedrink word, pap met botter en wors gebrekfis word, soggens en saans en voor etes gebid word en boks en rugby geluister en gekyk word. Sokker was nie regtig deel van my verwysingsraamwerk toe ek jonk en jonger was nie. Dié sport was vir my half volksvreemd, iets waarvan ek bewus was, maar amper soos mens bewus raak van praatjies oor Vreemde Vlieende Goeters (VVGs). En ek sou selfs so ver gaan om te sê “Nee wat, sokker is nie vir my nie. Ek ken in elk geval nie die reels nie. Uhuh, nee dankie dis nou een sport wat ek nooit sal volg nie.”

Ggghhh!!! So kom klop Nooit een dag so paar jaar terug aan my deur (ook nie die 1ste keer nie) en hy/sy het sommer net vir effek al die Nooit niggies en neefs saamgebring. Hulle lyk almal so half gekrok en mank, asof hulle die verloorders in ‘n hengse onderonsie was. Nooit kyk my van aangesig tot aangesig en fluister …. Deksels, niks hou ooit vir altyd nie ……

Toe ek die Ingelsman in 2019 ontmoet besef ek gou hierdie boorling van Newcastle Upon Tyne in die noorde van Ingelsmanland is nie ‘n rugbyman nie. Nee, hy is ‘n groot ondersteuner van football. Die Magpie’s. Aanvanklik sou ek nie saamkyk of kon saamgesels nie. Maar toe, op ‘n dag, kry ek myself saam gil vir die manne in swart en wit, en ek weet toe hoekom die Nooit-familie so defeated gelyk het.

Ek was heeltemal verkeerd om te glo, met oortuiging, dat sokker nooit as te nimmer ‘n plekkie in my lewe sou hê nie. Op my selfoon se tuisskerm is daar ‘n spasie waar nuus oor die Premier Liga (wat komende naweek afskop) deurgans opdateer. Ek kan redelik saamgesels, oor name soos Joelinton, Saint Maximin, Almiron en Bruno. Ek ken steeds nie die reels nie maar weet al wanneer om saam met my Ingelsman te juig (en wanneer om te swets).

Steeds verkyk ek myself aan sommige van die spelers wat dramaties teatraal neerval, rol en dan bly lê na die geringste kontak. Wanneer The Blaydon Races weergalm deur St James’ Park sing ek uit volle bors saam.

Sou ek dit ooit geglo het, toe ek nog geglo het dat nooit rerig nooit sou wees. Dat nooit soms die verpersoonliking is van onskuldige onkunde. Nooit, ek sou nie. Maar Nooit het vir Nooit, en vir my, verkeerd bewys, ne.

Aa went to Blaydon Races, 'twas on the ninth of Joon,
Eiteen hundred an' sixty-two, on a summer's afternoon;
Aa tyuk the 'bus frae Balmbra's,
an' she wis heavy laden,
Away we went 'lang Collingwood Street, that's on the road to Blaydon.

Oh! me lads, ye shud a' seen w'us gannin,
Passin' the folks along the road
just as they were stannin'.
Aal the lads and lasses there,
aal wi' smiling faces,
Gannin' along the Scotswood Road
to see the Blaydon Races.

... ...

Om op te som: nooit ooit weer sê ek ek sal nooit nie. Why-aye, man.

Ek het aanvanklik ‘n skakel hier ingesit na ‘n video van The Blaydon Races maar dit werk nie. Gaan loer gerus op YouTube en luister hierdie lekker folk-song.

Lolla Groete

Rebus, hier kom ons weer #6

Die Goue Vroue is ‘n paar besonderse vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer  van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur  in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!

Hierdie is Hoofstuk Ses van ons nuwe avontuur. As jy hierna verder wil lees, klik hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

Photo by Pixabay on Pexels.com


Die sirkuslorrie kom met skreeuwende bande om die laaste draai waar Seegogga en Scrapy vroeër die inhoud van beide waens (behalwe natuurlik vir Wolfhond) onder die Bergies uitgedeel het.  Lolla en Seegogga kyk in die rigting waar Seegogga nou beduie, maar hier is geen teken van die Bergies nie.   Hulle spring uit die lorrie uit net om te hoor hoe ‘n man verbaas uitroep:  “Não acredito!”  I don’t believe it!  You came back.

Huh?  Lolla staan met een geligte wenkbrou en staar na die groot figuur maar Seegogga is vinnig by hom.  “Hoekom klink jy so verbaas … have you seen the Bergies who took our stuff?”.  Die man lyk nou geamuseerd en grinnik half toe hy antwoord:  “Dey found da moneys and left.  You will not find dem, dey gone.”  Seegogga ril soos ‘n kouete teen haar ruggraat afgly.  Wat nou!!!

Die man voel hy moet verder vertel en is min geskeel met die twee vroue wat nou half verslae voor hom staan.  “Go look round da corner, dey dumped all the junk and animals dere and they left.  Dey are rich now with da funny money.”

Kom Lolla.  Seegogga gryp Lolla aan die arm en sonder ‘n verdere woord draf hulle tot by die hoek waar die man beduie het.  Hulle hoor die hommeltuig bo hulle sweef met die res van die Goue Vroue in.  Net om die draai kom hulle tot stilstand voor die inhoud van die waens wat vroeer onder die Bergies uitgedeel is.  Nadere ondersoek bevestig dat die Russiese roepels spoorloos weg is. 

Nou gaan ons soos blits moet werk.  Lolla loop haal daai trok ….. Seegogga beduie woes met albei arms in die rigting van die hommeltuig.  Die Goue Vroue se vele hande gaan vandag rats moet werk.  Vinnig staan die groepie vroue langs mekaar.  Lolla het die lorrie behendig ingereverse en almal fokus op Seegogga se instrukies.  Julle, ons het 40 sekondes….. Toorts gaan loer jy en Ekmyself of julle die opsporingstelsel kan deaktiveer terwyl die res van ons soveel as moontlik van hierdie goete teruglaai.  Scrapy, Wolfhond het so mooi geluister na jou vroeer – gaan haal hom en kyk of jy hom rustig kan kry in die hommeltuig. 

Seepglad word die plan van aksie uitgevoer.  Kort voor lank is die hommeltuig en sirkuslorrie weer oppad, in die rigting van die plaas.  Ons het mos nou heel onskuldig hier in die middel van ‘n lelike storie beland, of hoe Lolla, sê-vra SeegoggaLolla loer in Seegogga se rigting en weet sommer, hier kom ‘n ding.  Dis ook nie lank nie, of daar word afgedraai op ‘n verlate grondpadjie.  Seegogga mompel ….. as Elon Musk se vuurpyl kan brand, kan hierdie verdagte trokkie ook maar vlammeland toe gestuur word. 

Toortsie en Aalsie sit koppe bymekaar waar al die vroue nou langs die trok staan.  Una, kom help my gou, ons moet die gedoente se olie laat uitlek, terwyl Trommeltjie vir ons ‘n boks of twee van die klappers – wat vir ons Rebusfontein partytjie aangeskaf is – uit die muskiettuig gaan haal.  Vinnig julle, ons het min tyd.    Aalsie en Positief vang van die druppende olie op en gaan smeer dit op die gestopte dierekoppe in die agter-wa.  Tannie Frannie staan met ‘n frons die gedoente en dophou terwyl Scrapy en VirgoC vir Wolfhond kalm hou.

Die getchweee-tchweeeee-klap-brrrtttttt-tchweeee van die vuurwerke weergalm die vlaktes in en kort voor lank staan die sirkustrok in ligte laaie.  Vir oulaas kyk die vroue in die rigting van die groot oranje vlamme voor die hommeltuig in die rigting van Rebusfontein gestuur word.

Christa voer hul bestemming op die raakskerm beheerpaneel van die hommeltuig in.  Vir ‘n oomblik kan die groepie vroue rustig sit en asemskep.  Seegogga lê-sit half uitgeput op een van die swewende ergonomiese stoele.  Skielik snorklag VirgoC waar sy nou sit en ‘n rustiger Wolfhond streel.  Julle, ons is ook maar lekker dof.  Die woef is nie ‘n hy nie, dis ‘n sy.  Nou lag sy lekker en Scrapy gryp vir hondekind om die nek en gee haar ‘n stywe druk.  Van die vreesaanjaende gedierte is daar nou niks te bespeur nie.  Haar blou oë trek skrefies soos sy die aandag geniet.

Gaan ons haar saamvat Rebus toe?  Ag toe julle?  En ons moet vir haar ‘n naam gee.  Woordnoot babbel opgewonde en die ander sit nou ook aandagtig en luister.  ‘n Wolfhond vir Rebusfontein.  Wat gaan die ander diere dink?  En ‘n naam ….. wat gaan ons haar noem?  Idees word heen en weer geroep – sommiges word met ‘n “Ooh nee” begroet en ander laat die groepie skaterlag.

Die gesellige oomblik word egter onderbreek toe die waarskuwingsligte begin flikker en die geoutomatiseerde beheerstem uitbasyn:  “Gevaar voor!!!”  Met gerekte oë en ingehoude asems storm die Goues na die venster toe, net betyds om te sien hoe die hommeltuig binne-in ‘n onheilspellende, donkerpers rookwolk inbeweeg.  Die waarskuwingsligte flikker nou met meer dringendheid en daar kan niks, behalwe ‘n donker wolkkombers, buite die tuig gesien word nie. 

Julle!!! roep Sonell benoud uit.  Tannie Frannie en Toortsie deel ‘n bekommerde kyk en Appeltjie gryp Positief se arm styf vas.  Voor iemand iets kan sê vul ‘n aaklige reuk die tuig se binneruim.  Suurstofmaskers, gou julle, roep Christa maar almal staar nou na waar Ekmyself, Scrapy en Una een vir een in bondeltjies teen die vloer neersuig.  Binne sekondes lê die hele groepie vroue bewusteloos in die skreeuende hommeltuig wat al dieper in die pimpelpers rookwolk wegraak.

Lolla-se-Goete

ooOoo  Trommeltjie, kan jy oorvat asseblief.  ooOoo



(NS:  Liefste Kameel, ek het jou nie die keer hier ingeskryf nie.  Weet asb my hart gaan uit na jou en jou mense in hierdie moeilike tyd.  Ek vertrou dat die res van die groepie sal weet hoe en waar, maar vir nou stuur ek liefde en innige meegevoel.)

NNS:  Hierdie woorde – ek ken nie die oorsprong nie – het my al ‘n hele paar keer in my lewe deur swaar tye gehelp, ek hoop dit kan dieselfde doen vir iemand anders:

HIS strength is perfect when
my strength is gone
HE carries me when
I can’t carry one

-unknown-