Wolke Betjoinks

Ek het letterlik derduisende fotos van wolke. Skuimeriges, wolleriges, aggresiewe wolke. Kleines, grotes, enkeles …. wolkkomberse en marshmallow wolke. Spatsels wolke en fabelagtige wolke.

Maandagmiddag-wolke Asem-wegslaan-wolke
Kwaai wolke met hael-boepense

Soms wonder ek hoeveel mense nie die wolke raaksien nie. Is almal soos ek, altyd gereed om met die volgende vertoning weggeblaas te word na ‘n wonderwolkewêreld. Is daar mense vir wie wolke net “ag dis net nog ‘n wolk” of “wolke, huh, watse wolke” is?

Al die fotos hierbo is vroeer die week met my Samsung foon geneem.

So wat reken julle? Is die daaglikse hemelse teater vir almal ewe asemrowend of minstens ‘n gewaardeerde verskynsel? Óf, is Lolla met die maan én met wolke begogeld?

Lolla liefdegroete ☁️☁️☁️💙🤍💙

Reën Reën lieflike reen

Ons almal weet; drink baie water. Water gee lewe. Mens, dier en plant is afhanklik van water om te oorleef.

Ek is nog altyd ‘n propperse Waterdraer. Met ‘n diep liefde en groot respek vir water. Die skoon, vars smaak van water (let wel ek drink nou slegs die gefilterde soort), die gevoel van water op my vel hetsy stort-, waterval-, reenwater. Die klank van reën of die vars reuk na ‘n donderstorm.

Maar skielik hier in twintig-twee-en-twintig begin ek effe ongemaklik voel wanneer die wolke weereens begin woel. Die aarde is oorversadig en nou begin water herwaarts en derwaarts lewens eis, en nie net gee nie. Al meer beelde op sosiale media waar donderende modderbruin watermassas brûe oorstroom, voertuie en lewende hawe meesleur. Berigte oor vermiste mense. Oorweldigend.

Daar is iets magies en onverstaanbaar aan Moeder Natuur. So asof sy ons vir ‘n wyle tot stilstand wil ruk sodat ons kan onthou dat ons nie aldag so slim is soos ons reken ons is nie. ⛈️

Ek tog, selfs ten spyte van die skrikwekkende krag en impak van ons huidige hoë reënval, maak dit my hart steeds warm elke keer as die druppels buite begin val. Dis asof daar iets troostend en sag in elke reënval is. ‘n Seëning en ook ‘n vloek. Goed én sleg.

Buite skyn die son helder. Die lug het ‘n ysige koel byt en my weertoep wys son prentjies met wolke voor. Deur die week is daar grys reenwolkies, een met ‘n 80% gemerk. My kop dink: leef in die oomblik, bid en bly glo, God is in beheer. En ek kan nie help om uit te sien na die volgende bui reën wat my tuin gaan kom voed en waar ek weet kaalpoot in die plasse kan gaan speel nie.