Reën Reën lieflike reen

Ons almal weet; drink baie water. Water gee lewe. Mens, dier en plant is afhanklik van water om te oorleef.

Ek is nog altyd ‘n propperse Waterdraer. Met ‘n diep liefde en groot respek vir water. Die skoon, vars smaak van water (let wel ek drink nou slegs die gefilterde soort), die gevoel van water op my vel hetsy stort-, waterval-, reenwater. Die klank van reën of die vars reuk na ‘n donderstorm.

Maar skielik hier in twintig-twee-en-twintig begin ek effe ongemaklik voel wanneer die wolke weereens begin woel. Die aarde is oorversadig en nou begin water herwaarts en derwaarts lewens eis, en nie net gee nie. Al meer beelde op sosiale media waar donderende modderbruin watermassas brûe oorstroom, voertuie en lewende hawe meesleur. Berigte oor vermiste mense. Oorweldigend.

Daar is iets magies en onverstaanbaar aan Moeder Natuur. So asof sy ons vir ‘n wyle tot stilstand wil ruk sodat ons kan onthou dat ons nie aldag so slim is soos ons reken ons is nie. ⛈️

Ek tog, selfs ten spyte van die skrikwekkende krag en impak van ons huidige hoë reënval, maak dit my hart steeds warm elke keer as die druppels buite begin val. Dis asof daar iets troostend en sag in elke reënval is. ‘n Seëning en ook ‘n vloek. Goed én sleg.

Buite skyn die son helder. Die lug het ‘n ysige koel byt en my weertoep wys son prentjies met wolke voor. Deur die week is daar grys reenwolkies, een met ‘n 80% gemerk. My kop dink: leef in die oomblik, bid en bly glo, God is in beheer. En ek kan nie help om uit te sien na die volgende bui reën wat my tuin gaan kom voed en waar ek weet kaalpoot in die plasse kan gaan speel nie.

Moddertone

Gisteroggend skop ek die jaar se sosiale kalender af met ‘n ontbyt en spa-behandeling saam met ‘n spesiale meisiekind.

Ons stop eers by ‘n plaaslike plekkie waar jy ontbyt bestel langs ‘n meer. Dis veel besiger as die laaste paar weke – ek vermoed die Desember vakansiegangers is nou in hulle hordes tuis. Die stoeptafeltjies is almal vol. Ons mik sommer dadelik na ‘n alleentafel in die middel van die groot grasperk, terwyl ons, nog op die grondpad waar ons parkeer het, tussen modderpoele groottrap.

‘n Kelner kom met swaaiende arms aangehardloop. Ek wonder nog ewe wat gaan aan, toe ek so twee tree verder op die gras in die modder begin sink. Onmiddellik besef ons dis hoekom almal op die stoepie en plaveisel sit. Die hele grasperk is ‘n modderpoel. Nou weet ek hoekom die jong man in die donker uniform ons probeer stop het. Ons besluit egter ons bly net hier op die grasperk. Hy glimlag en knik ook “ja”, hy is reg met die natplasgras as ons is. Natuurlik is ons. Ek trek my nat skoene uit en loop kalvoet tot by die tafeltjie.

Alles om ons is helder en skoon. Die baie reën van die laaste tyd het ‘n vernuwende uitwerking op veral die natuur gehad. Ek sien toe eers hoe vol die meer is. Ons eet heerlik ontbyt op ons eie terwyl die modder tussen my tone deursuipel. Pure lekkerte.

Moddervoetegoete
Die baie water maak dammetjies en plassies oral

Terug in die kar moet ek eers die moddervoete met wet-wipes bykom voordat ons 5 minute later by die spa aanmeld. ‘n Heerlike nek en rugmasering en toe ‘n voetbehandeling waar die moddervoeties in warm water skoongeskrop is.

Dis was ‘n heerlike Saterdagoggend. Ek is reg vir die nuwe week.

Moddervoete-groete