Hierdie seer is ‘n verteer-seer wat mens platsmeer, sonder om minder of meer te vra of verstaan
Hierdie seer is ‘n seer wat misverstaan word, wanverstaan word, ontken word, misken word, skeefgekyk word
Hierdie is ‘n alleenseer, ‘n selfkasty-seer, ‘n gedwonge weer en weer probeer al weet jy daar is so ampertjie net mooi fôkol aanhou baklei meer
‘n Seer wat monsteragtig jou binnegoed oor warm, nat teer smeer. Ongenadiglik, moordadig. Nes jy dink jy is uit sy kloue gooi hy nog ‘n paar houe
In die voue van jou plooie, op en om en binne jou kneukels. Nuwe knoppe op die vreemde, ou, pynlike onflippenooglike knoppe.
Kloppend en brandend. Elektries-skokkend soms. Dof, soos ‘n stuk spoeggekoude borrelgom wat tussen die sinapse, dendriete, aksone en neurone snaarstyf toutrek
Vlymskerp vuurwarm krampe in jou bene, al met jou spiere langs tot in jou diepste vleis.
Dis ‘n bliksem die. Een waaroor ons mos nie eintlik praat nie want shoesh, ons is mos sterk en die lewe is mos ‘n lied en niemand wil eintlik van jou stront hoor nie.
Behalwe dalk soms, net sóms. Hier in blogland.
Lindie Koekemoer