Sonder begin of einde;  my liefde vir bome

Appelblaar

Passie (volgens die HAT 4de weergawe 2000, 3de druk, 2003):  “… hartstogtelike liefde…”

Vir so lank ek kan onthou het ek ‘n intense, innerlike passie vir bome.  Dis nie net bloot ‘n ‘ek hou van bome nie’.  Dis meer.  Net soos die wind my hart ‘n bietjie vinniger laat gallop, so ook vul bome my hart en my wese met ‘n onpeilbare, onbeskryflike warmte.

My eie boom, dalk nie heelemal dié droomboom nie, maar my boom.
Geverf deur kunstige vriendin Tasèla Gouws

Bome is vir my groots.  Sterk dog broos.  Ek glo daar is meer boomsoorte as wat daar menslike persoonlikhede op aarde is.  Hierdie subjektiewe teorie word gesubstansieer deur die wetenskaplike beraming dat daar ongeveer 3 triljoen bome op aarde is; by verre meer as die sterre in ons Melkweg sterrestelsel.  Ook meer as al die selle in die menslike brein.  (Verwys Internet:  usatoday.com – 30/12/2021).  Nog ‘n verwysing word gevind in ‘n National Geographic tweet (@NatGeo) gedateer 14 Maart 2016:  “There are more trees on earth than there are stars in the Milky Way – and what they do for the planet is amazing.”

Ek is nie seker watter boom hierdie is nie – hy is so ongeveer 5 kilometer van my huis af. Groot. Ongelooflik mooi. Die plant-toep wat ek tans gebruik het ‘n paar moontlikhede voorgestel maar ek sal elders bevestiging kry. Hierdie boom is vir my verruklik en besonders.

Bome het ‘n energie van hulle eie.  En hulle deel dit mildelik met enigeen wat belangstel.  Met my hand op ‘n boom se bas kan ek my half verbeel ek voel sy hartklop.  Dikwels hoor ek bome fluister.  Aan die sy van ‘n groot boom is daar ‘n saligheid wat nerens anders bekombaar is nie.  Bome is vir my ‘n veilige plek.  Mistieke, fabelagtige, statige reuse wat min praat maar baie luister.   En so, dus, sal daar gereeld in my skryfwerk of in gesprekke bome opduik – en hordes fotos van bome in all shapes & sizes.  Hierdie formidabelle natuurwonders is diep in my siel ingeweef en –wortel.

Mooier as ‘n mooi-nooi – November Jakaranda

Ek sal vorentoe vertel van die boomryke area waar ek tans woon.  My tone trek vuisies van pure lekkerkry as ek hier rondry en tot my verwondering keer op keer nuwe bome raaksien.  En ek gaan nie voorbarig wees en my onkunde oor bome, boomname en boomfeite probeer verdoesel nie – ek hoop om saam met jou en julle te kan leer.  Het jy al ‘n boom omhels?

Giggelgeel-natuurprag

As ek mag, sal ek wens dat my takke vele mede-dendrofiele raakgroei hier tussen my woorde.  Wat is jou gunsteling boom, laat weet bietjie?  Ek is lief vir ‘n Frangipanie maar Limpopo se Kremetart-bome verdien hul eie “Wowzers!”.  Volgens die boek Remarkable Trees of South Africa (2nd editions, 1st impression 2016) – Esterhuyse, Van Breitenbach, Söhnge, Van der Merwe – is Suid Afrika se Groot Vyf Bome:  die Kremetart;  Wonderboom Vy;  Outeniqua Geelhout;  Mingerhout (Matumi) en Apiesdoring.

‘n Reus van Reuse – die Kremetart (Boabab)

Vir nou is dit eers genoeg gebabbel oor bome – ek glo daar gaan nog vele kanse wees om te hervat.  Maar vir nou eers:

mag jy eendag onder 'n groom boom lê en sterre kyk,
mag die dag se hitte onder die koelte van ‘n blarereus wyk,
mag jy met jou wang teen ‘n koel boombas nuwe asem vind
wanneer die donker van die lewe jou wil-wil verblind.
mag die geritsel van die wind deur die blare en die gekwetter-skerts
van voëltjies tussen takke jou grootste vrese begrawe.

Lolla-liefde

NS:  het jy al na Judy Dench se 2017 film “My Passion for Trees” gekyk?  As jy lief is vir bome (en/of vir Shakespear) kan jy gerus ‘n uur hieraan afstaan.  

Hierdie ou grote het dalk nie ‘n hartklop of frekwensie nie maar hy het my steeds laat glimlag, laat stop om ‘n fototjie te neem. En vir nou is Kersfeestyd vir ‘n rukkie eers verby.

4 thoughts on “Sonder begin of einde;  my liefde vir bome”

  1. Net soos ek, mal oor bome, maar ken nie almal se name nie. Ek leer saam met jou terwyl ander name gee. Ek wil-wil my verbeel die ene met die geel blomme is ‘n indringerboom, maar ek mag verkeerd wees. Ek is mal oor die frangipani, ek vermoed vandat ek enmanlief in Seychelles was. Dit laat my dink aan dansende meisies met los hare wat ons nooi om saam te dans. Maar my liefling boom is ‘n Jakaranda. Ek het een vanaf ‘n saadjie gekweek.

    Liked by 1 person

Comments are closed.