Hand-aan-hand saam met Asma

Jy voel dit aankom ….. vroegmiddag verander die blou lug na donker vuilpers. Die humiditeit se kloue vat-vat aan jou keel. Soos die hittige, swaar kombers al warmer om jou toevou en die donderweer nader kruip glip die benoudheid van jou keel tot in jou bors. Jy weet: hier kom moeilikheid. Jy maak die glasdeur van jou kantoor oop (vroeer was dit net die 2 vensters wat onsuksesvol probeer lug sirkuleer het).

Photo by Andrew Beatson on Pexels.com

Deur die oop deur dwarrel die soetste blommegeure tot in jou neusgate. Vir ‘n oomblik wonder jy benoud, gaan my bors protesteer, en jy wag vir ‘n wyle om te voel of die benoudheid erger raak. Die pers accuhaler lê gereed hier langs jou. Die briese koel af en die donderweer brom swaarder. Jy gaan staan in die oop deur en kyk hoe die groot reendruppels begin neerplons. Salig! Heerlike reen.

Teen huistoegaan tyd is jy op high alert. Asma kan so maklik onderskat word. Jy weet, want jy doen dit soms self. Dis nou al 3 weke wat jy behoorlik siek is. Die ding in jou bors laat los nie. Maar jy gaan aan – jy leef – want platlê is nie in jou gene nie. Vandag is daar egter ‘n ekstra krieweling.

By die huis word die langer werksklere vir koeler, korter gemaklike huisklere geruil. Jou tuin roep en terwyl die donderweer saggies begin roer gryp jy jou snoeiskêr en krap-krap, knip-knip tussen die daisies. Dis bedompig en jy voel klein druppeltjies saggies op jou rug val. Dan kriewel iets weer in jou keer, die keer met mening. Jy kug oor die blomme en staan regop. Trek jou skouers terug en probeer lug verby die kriewel trek. Dan verander die kriewel in ‘n duisend lieweheersbesies wat hardloop en spring en vladder in jou keel, al langs jou lugweg af tot in jou longe. Jy besef dis ‘n asma-aanval – die hoes begin deur jou lyf ruk en jy mik vir die skuifdeur. Jy moet in die huis kom.

Deur die deur, twee meter tot by die trappe waar jy gryp en aan die hout reeling vasklou om te probeer regop bly. Die hoes laat nie los nie, jou lyf is nie meer in jou beheer nie. Die bekende naalde-en-spelde gevoel om jou kakebeen vat vas. Ingelsman staan nou langs jou en vra benoud Hey Luv what can I do? terwyl jy hyg en hyg en voel hoe jou waardigheid in die teels in wegsypel. Jou longe is leeg en jou krag is min. Maar jy beur verby jou Ingelsman want jy weet…. ek moet in die badkamer kom.

Maar tyd is nie jou maat nie en al probeer jy hoe hard, jy is nie betyds nie. Skielik, vir ‘n oomblik, werk niks in jou lyf nie. Jy lê net op die vloer, wanneer die hoes ophou is dit net jou brein wat nog werk. Wat jou herinner: net een oomblik, alles kan in net een oomblik verander. Jy weet dat hierdie ‘n noue ontkoming was. Ingelsman vra deur die deur: please can I help you. Tell me what can I do?

Dit vat elke greintjie krag uit jou lyf uit. Dis ‘n skêl herinnering van hoe vlietend en fragiel ons werklik is. Jy staan op, maak skoon, gaan staan in die Ingelsman se arms met jou kop op sy skouer. Julle gaan deur die stappe van wat om te doen as dit weer gebeur. Waar is die ekstra asma-pompie. Jy bid saggies: Asseblief liewe Heer, spaar my daarvan om ooit fisies van iemand anders afhanklik te wees. Asseblief Jesus. Amen.

Dit neem ure, dae, om te herstel van hierdie tipe trauma. Jy voel of jy in ‘n botsing was – jou hele lyf voel pimpelpers. Gedaan! Absoluut gedrein.

En dan staan jy op, jy rus bietjies-bietjies. Wanneer jy weer fisies instaat is haal jy diep asem. Jy maak jou longe propvol. Jy jubel oor nog ‘n asemteug, nog ‘n oomblik en maak die beste van elke liewe nuwe sekonde.

15 thoughts on “Hand-aan-hand saam met Asma”

  1. Ai Lindie. Jou privaathel is so goed beskryf. Dit laat n mens so magteloos-simpatiek voel. En al wat ek jan bied is empatie. Sterkte.

    Liked by 2 people

  2. Liewe Lolla, ek het as kind ook daardie aanvalle gekry. Het my standerd een jaar meeste van die tyd in die Verre Oos Rand hospitaal in ‘n suurstof tent deurgebring. Ek voel letterlik hoe jy my terugplaas na daardie tyd. Ek is so ongelooflik jammer vir jou. Ek kan ook net sterkte sê…..en ek is bly die Ingelsman is daar.

    Liked by 2 people

    1. Jammer om te hoor jy moes dit as kind deurmaak Woordnoot. Daar is geen maklike manier om te beskryf hoe dit voel om nie asem te kry nie. Maar soos met alles leer mens om daarmee te leef en dit die beste te hanteer.
      Dankie vir jou saamgesels. 💌

      Like

    1. Hlo Aletta. Jip dis maar ‘n aardigheid. En dit vat soveel uit jou uit. 4 Dae later en ek is steeds gedaan. Maar dit kon erger gewees het.

      Dankie dat jy ook saamgesels en jammer om te hoor jou ma het dit ook ervaar. 🤍

      Like

  3. Lolla, dit wat jy hier beskryf ken ek glad nie. Dis sleg om te lees dat daar tye kom wat hierdie op jou pad is. Ek stuur vir jou ñ stywe vashou-druk en ñ gebed dat die aanvalle minder sal raak. En eendag heeltemal stop.

    Liked by 3 people

    1. Baie dankie Una. Ek het as kind asma gehad maar dit mettertyd ontgroei. In my 30’s maak dit egter weer ‘n opwagting en sederdien is dit ‘n gestoei. Die laaste jaar of wat gebeur dit meer gereeld. Ek gebruik daagliks ‘n hoogs aangeskrewe asma accuhaler, maar op die oomblik is dit weer buite beheer. Mens voel magteloos. Hierdie week is dit streng dieet en uit die tuin wegbly. Probeer enigiets elimineer wat moontlik kan trigger. Na 4 nagte van regop sit en probeer slaap is ek behoorlik gedaan. En vanoggend het ek n Chiro-afspraak.

      Hehe hoor hoe lekker klae ek, nogals met n groot witbrood onder elke arm. Ek is okay, en dankbaar, en reg vir wat ookal voorlê.

      Vir nou …. over and out.

      🌻🌻🌻🌻🌻🌻🌻🌻

      Like

    1. Inderdaad Carien – magteloos is een v die eerste woorde wat by my opkom. Maar, ons doen wat ons moet. Snaaks hoe so iets mens herinner hoe vlietend ons tyd hier is en dan dankbaarheid en die behoefte en dryf om voluit te leef net aanvuur.

      Ek hoop dit gaan goed daar by jou.

      Like

Comments are closed.