Die wêreld is steeds ‘n bangmaakplek vol gekkigheid. Dis ‘n ysige, en ek bedoel ýsige koue oggend. Onthou julle hoe het ons in die somer bespiegel “hierdie winter gaan ons ekstra koud kry”, … wel so is dit toe ook.
Vroegoggend sterrekyk word sterre miskyk
Ek moes myself warm toedraai om net my neus by die deur uit te waag vroeer om paar fotos te neem. Daar is groot beterskap aan my lyf wat die naweek nog vrotsiek was. Neus loop nog en bors roggel so effens. Maar my bloed vloei weer warm en bruisend deur my are.
Vanoggend was dit ‘n gestoei om uit die bed te kom. Hierdie enorme, aaklige, knellende moegheid (ek moet die gedoente ‘n naam gee) het my weer aan die strot beet. Het met moeite my oë (wat altwee dik poffers geswel is) oopgekry en oopgehou. Dit was ‘n geveg tussen kop en lyf, en dan nog die hart wat ook ‘n sê-beurt wil hê en uiteindelik net na 08:00 het ek begin beweeg.
Ek sien nou-nou weer die chiropractor – besef ek nou met ‘n skok dat ek nie hierdie woord se Afrikaans kan onthou nie – die eerste keer na omtrent 3 weke. Verskoon die taal maar die laaste keer wou ek skuit van die pyn. Die girl weet wat sy doen en hoe om waar te vat. Maar dit was die eerste keer in ‘n redelike tydjie dat ek baie na aan trane was. Tog, moet ek bieg, het die uurlange sessie gehelp.
Daar is so baie wat ek kan skryf oor my lyf en my gesondheid. My gemoed. Aanhoudend (en ek bedoel aanhoudend) siek wees, vir jare. Eintlik, erens, het ek probeer ophou daaroor skryf. Nou nog is my Gesigboek herinneringe gevul met posts van waar ek siek was. Of in die kooi by die huis, of in die hospitaal, ‘n hele paar keer. Ek het baie respek vir al die verskeie medisynes en genees- en gesondheidspraktyke. En tog is my persoonlike ervarings ‘n redelike warboel.
Ek sal later meer vertel – waarskynlik hier op my blog meer deel mettertyd. Vir nou aanvaar ek dat vandag ‘n moeiliker dag is. Ek is so reg soos ek kan wees vir ‘n chiro-sessie wat bitterseer gaan wees. Die verkouerigheid van die laaste paar weke hang steeds rond. En vanoggend is die regterkant van my gesig weer lam. Erens het ‘n bul van ‘n allergie my beetgekry.
Net so ‘n sidenote – my geselsies en deel oor my gesondheid is bloot deel van wie ek is, van my storie, van my skryf. As ek soms dramaties klink is dit maar net omdat ek die Queen van Drama and all things wild, wonderful and weird is en dis maar hoe ek praat.
Ek sal later laat weet hoe my sessie in die lyf-vryf-en-skyf-fabriek was.
While I mostly write in Afrikaans I will from time-to-time also post in English. I share my own story, my life, my thoughts, fears, dreams through my writing. Often I share too easily, which is certainly not always wise – especially in a world where you are quickly judged and labelled.
My once very thin skin has grown thicker and stronger over time and through experience. So, as long as I do what I love, i.e. write, and I have people who find value or entertainment in what I have to say, I will continue to share ME. For this reason, my blog posts are more often than not written from a “Me or I” perspective. This does not mean I am always right, or know best. Not at all. There is no added agenda’s behind my writing. It is part of who I am.
As I learn more about blogging (although I currently find myself in a bit of a slump) I hope to reach more people. Sharing laughter, love and kindness but also talking about our realities are some of my objectives with my posts. And to write – keep on writing as if it is part of my every breath.
LollaseKiekies – my love for all things beautiful A recent photo taking of the Langebaan lagoon from within the Westcoast National Park
So …… do what you love first, and then do what you must
Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d
Sonell se gille weergalm deur die lug terwyl Ursula haar heen-en-weer swaai. Die Goue Vroue staan verstar die petalje en dophou. Una en Camilla klou aan mekaar vas terwyl hulle oë vasgenael bly waar Sonell woes rondgeswaai word. Appeltjie het weer flou geval en lê in ‘n bondeltjie langs Aalsie se voete.
“Woordnoot, gooi vir my nog ‘n paar broodjies” skree Aalsie na waar Woordnoot op die boonste dek met haar arms om die mandjie met Frannie se broodjies staan. En dan, in Sonell se rigting: “Hou net vas sussa, hou net vaaaaaas.”.
Nadat Aalsie ‘n klomp broodjies vol slaappille gepak het, gooi sy dit in die rigting van die groot seekat se oop mond. Ursula begin smul aan die mondvol broodjies en toe sy hulle sluk en die bitter van die pille proe, vertrek haar gesig in ‘n gruwelike uitdrukking. Sonell word sonder meer laat los en val met ‘n harde doef op die dek neer. Frannie en Seegogga begin in Sonell se rigting hardloop om te gaan help maar die volgende oomblik deins die seiljag skerp na links en die passasiers rol almal tot teenaan die kant van die boot. Ursula het woedend met een reuse tentakel op die water geslaan en amper die jag omgegooi. Die vaartuig dobber heen en weer in die golwe wat die seekat veroorsaak het. Almal aan boord probeer nog tot verhaal kom toe daar ‘n oorverdowende trompetter geskal oor die water weerklink. In ‘n oogwink verdwyn die seeheks in die donker water.
Die Goue Vroue beweeg vinnig na die kant van die seiljag en sien in die verte hoe Athena se dolfyne aangeswem kom. Dis ‘n aanskoulike prentjie wat voor die skare op die boot afspeel. Heel voor swem twee enorme Orkas, gevleuel aan beide kante deur ‘n skool van om-en-by twaalf spierwit Beluga walvisse. Laasgenoemde is beter bekend as die see-kanarie aangesien hulle ‘n wye reeks geluide vokaliseer, onder andere ‘n vrolike gekwetter wat soos ‘n kanarie klink. Agter die groter walvisreuse swem ‘n silwer skool bottelneus dolfyne.
Lorenzo uiter ‘n verbaasde “MAMMA MIA” en skielik is almal se aandag weer by wat sopas op die dek afgespeel het. Ursula is nou spoorloos. Lorenzo staan besorgd met sy arms om Camilla wat asvaal geskrik is. Toortsie fynkam die boot opsoek na Athena. Sy merk haar ‘n entjie verder weg op waar sy op ‘n bankie sit. Langs haar die jong, aantreklike skeepskaptein.
“Julle, kyk daar!” beduie Toortsie vir die res. “Die man lyk dan heeltemal verlief.” Lolla gee ‘n proes soos sy probeer om nie te giggel nie. “Skies, maar jinne julle die man lyk dan skoon simpel, sy oë gaan uitval as hy nie passop nie.” Maar voor enigeen hierop kan reageer, dawer die diep trompetklank weer en die Goue Vroue draai blitsig in die rigting waar die walvisse nou ‘n pad oopmaak vir Triton wat blitsig in die rigting van die seiljag swem. Om hom is die water helder verlig, asof hy sy aankoms in die kollig wil aankondig.
Christa besef wat besig is om te gebeur en gaan oor in aksie.
“Reg so dames – daar is nie nou tyd vir skanier of laat spaander nie. Ons plan kort ‘n kinkeltjie aangesien Lorenzo nou op sy geliefde Camilla fokus en Kaptein Jakob Spreeu net oë het vir Athena. Perfek, eintlik. Kom ons kyk hoe Triton gaan reageer.”
Frannie loer in Appeltjie se rigting wat darm nou weer bietjie kleur op haar wange het. “Appeltjie, waar’s jou kamera? Hier kom ‘n ding.”
Ekmyself stamp aan Lolla en met ogies wat glinster beduie sy: “Die manvis is darm mooi, of hoe Lolla? Kyk net sy goudbruin bolyf!” Lolla staar met groot oë na Triton wat nou halflyf bo die water tot stilstand gekom het terwyl hy na die klomp of die Golden Dream kyk met ‘n groot frons tussen sy sjokoladebruin kykers. Om sy gespierde brons borskas hang ‘n seewiertou waaraan die groot geraasskulp hang.
In ‘n diep, suiwer stem vra Triton: “Waar is Athena.” Trommeltjie wys eerste na die bankie waar die seekaptein nou sy hande om Athena se hande gevou het. Hy spring egter gou regop toe hy oogkontak maak met Triton. Athena kyk oor haar skouer en spring opgewonde regop – “Ooh, Triton, dankie tog jy is hier” roep sy uit terwyl sy in sy rigting hardloop. VirgoC en Kameel probeer nog keer maar met een groot sprong spring Athena rats oorboord, reg in Triton se arms in. Die twee kyk na mekaar en dis asof hulle mekaar vir die heel eerste keer sien. Triton se oë rus nou liefdevol in Athena se blou oë en hy trek haar nog ‘n bietjie stywer teen hom vas. Die groep walvisse sing in hul verskillende dialekte en sonder meer breek daar luide applous uit van die seiljag se kant af.
Lorenzo neurie in sy gebroke Engels –
Feela de beat from de tambourine, oh yeah You can dance You can jive Having de time of your life Ooh, see dat girl Watch dat scene Digging de dancing queen
Seegogga klink misterieus toe sy iets mompel van ‘n plot op ‘n plaas. Lolla, die nuutste Gouevrou en die enigste een sonder ‘n buffie om haar nek, stamp liggies met haar elmboog teen Toortsie, knik in haar rigting en vra: “Toortsie, hoe lyk dit, kan ek ook nou ‘n buffie kry, hhm?”
Weer word die passasiers tot stilstand gebring deur ‘n donderende geruis. Op die horison verskyn daar ‘n skrikwekkende, groot tsunami-golf. Die watermassa kom teen ‘n spoed in die rigting van die Golden Dream aangedruis. Poseidon se baritonstem stuig bo die vloedgolf se geraas uit – “Gevaar! Triton, jy moet help Seun!”
Ek het onderstaande op hierdie dag in 2017 op sosiale media geskryf en gepos. Dis nogsteeds van toepassing. Ek deel dit graag hier met julle.
Random vroegoggend-Vrydag gedagtes:
Die lewe is hard maar lekker.
Ek wens vir niemand (nie eers vir Hannah Hoekom!!! ;-)) vertigo toe nie. Dis een van die vreemdste gevoeltes wat my al ooit beetgehad het. En dit klou!!!!
Mens moet vriende he. Regte, opregte, goeie vriende, wat jou vat nes jy is. Wat saam met jou lag en huil en poep en plasiepieps ….
Bekommernis is deel van die lewe – maar die Here help ons daardeur solank ons aan Hom vashou. Eintlik hou Hy ons vas selfs wanneer ons laat los …. Sy Genade is onbeskryflik groot, onverdiend ofte nie.
Ek kort ‘n behoorlike sielsverkwikkende wegbreek.
Moenie ophou droom nie.
Moet nooit ophou hoop nie.
Daar is net een ware Werklikheid, net een ware Antwoord, net een Groter Hand – sonder die Here is ek niks.
Al is dit hoe moeilik en selfs menslik ontmoontlik, fokus altyd daarop om NIE TE OORDEEL NIE. Probeer, en probeer dan weer, en probeer harder, want die oordeel kom rerig nie een van ons toe nie.
Jislaaikit ons is almal menslik en vol foute – erken en herken jou foute en geite. En moenie ophou ‘beter’ word nie.
My hart loop oor …….
My gedagtes loop verseker oor ……..
Liefde is lekker – liefde is moeilik – liefde is ‘n bliksem!
My nuwe motto(s) is onder andere:
KAP AAN.
Hou vas, Klou Vas.
Ek het verseker die kuns van vasklou bemeester. Ek gly gereeld en val dikwels, val sommer my nerwe af, staan op en stof af, totdat ek volgende keer weer klou en gly en klou en gly en dan val ek weer. En staan maar weer op. Soms sleep die lewe jou dat jou tanne in die stof klap, dat die velle trek en dat daar so ‘n diep sloot langs die vorige letsel in jou hart inkloof. Jy le ‘n rukkie en bloei en partykeer huil jy ‘n paar trane. En dan kap jy weer aan.
Op en Af. Fases. Seisoene. Noem dit wat ookal jy wil. Dis hard maar lekker. Lekker kak, lekker lekker, vrek-lekker, lekker shitty, lekkerste lipleklekker, sielsverruklik-lekker, lekker verby, verby lekker, oe-la-la lekker, lekker verspot, ens ens ens ……..
As jy lekker gelees het, laat weet my. LollaGroete
My WP blog posts pulls through to my LollaseGoete Facebook page. I am currently on 86 followers and are aiming to reach 100 soon.
You will mostly find my blog posts from here on the fb page as well. If you would like to have a look at 2 posts not on my blog, but posted on my fb page, follow the link below.
denneballe&naalde … kleintyd-onthouSterk, met uitgestrekte armsSkrams Winter
Ons was die afgelope naweek na die Hasiepark toe hier naby ons. Iemand by die Saterdag mark gaan ondersteun en toe ‘n entjie gaan stap. Ek kan myself verloor so tussen bome. Dis kiekies en nog kiekies, ooeeee aaahhh en nog ‘n kiekie, bietjie vat-vat en boomdrukkies uitdeel. Pure lekkerte. Die Ingelsman het half iesiegrimmig maar ooh so geduldig saamgestap. Wat ‘n heerlike oggend!
Wat ‘n wonderlike blessingDalk ‘n koekeloergaatjie ?Mooiste kleurvertoning
In die koelte van 'n groot ou boom wil ek vir oulaas stilraak, wegraak tussen verstrengelde takke vol blaarbehangsels, vertakkings van gister se gisters. Lig, soos 'n veer. Stof. Net stof.
Onder 'n groot stokou boom.
LollaseGoete
Mooiste MooiJare en jare se letsels. Hier kan mens mos net sit en wees. Absolute respekOns leef ons eie storieslollaboomdrukkies
Destyds, ongeveer 1985, word ek en Annapat en haar een maatjie, plaastoe gestuur vir die winter vakansie. Dis die eerste vakansie na Pa Chaka se dood – daai Sondag toe Liewe Jesus hom kom haal het. Na sy eerste hartaanval (moes 1981 gewees het) was hy nooit weer dieselfde nie.
So begin ma na baie lank by die huis weer werk. En ons word Groot Marico toe gestuur. Vir twee weke. Om by Oupa Piet te gaan kuier. Ouma Anna is ‘n jaar voor Pa oorlede en so eindig drie tienerdogters saam met kwaai Oupa Piet op ‘n bosveldplaas.
Ma en Ousus het deurgery om ons drietjies af te laai. Ek was skuitbang vir Oupa, ‘n groot man met ‘n groot stem en nog groter hande. As ek nou terugdink weet ek nie hoekom ek so rerig-bang vir hom was nie. Hy was eintlik maar ‘n stil man wat hard gewerk het. Maar streng was hy beslis. Ek self het nooit ‘n naby band met Oupa gehad nie. Het maar meestal uit sy pad uit probeer bly. Maar die vakansies en kuiers daar op Modderfontein was goed. Lekker herinneringe wat my altyd sal bybly. Ek het nog altyd gedink Annapat (Kleinsus) was Oupa se oogappel.
So word ons afgelaai op die plaas, die boks kruideniersware uitgepak en gebere in die lang kas in die hoek van die eet-/leefvertrek. Daar was burgerpatties in ‘n blik (onthou julle daai?), ander geblikte kos, ‘n boks sjokoladestafies en dies meer. Ook ontbytpap. Oupa het gesnork en laat weet dis dorpskos – hier in sy huis eet ons plaaskos. En so, nadat Ma en Ous terug is dorp toe aan die Weste van Johannesburg, kry ons ons eerste plaas aandete. ‘n Sopbord vol lensiesop. Waterrige lensiesop ….. en ek bedoel: water, lensies en dalk ‘n bietjie sout. Ek sal daai sop in my lewe nie vergeet nie.
Dit was ons eerste aand op die plaas. En ook die eerste aand wat ons gewag het om Oupa in sy kamer te hoor rustig raak met die radio wat stories vertel …… want ons wou dorpskos gaan ‘steel’. As my onthou reg is, het ons beurte gemaak om die skrikwekkende kans te vat om in die pikgietdonkerte uit te sluip, deur die sitkamer, deur die eet-/leefkamer tot by daai lang kas. So het ons nagtelike kosekspidiesies begin. Ons drie sou dan agter die toe kamerdeur, wat reg oorkant Oupa se kamerdeur was, onder die komberse met ‘n flitslig sit en smul aan ons dorpskos.
Die volgende dag het ons weer lensiesop gekry (daai pot was enorm, en propvol). En so vir die volgende twee weke het Oupa elke aand iets anders by die lensiesop gegooi om ons te voer. Ek onthou groot stukke beesvleis met lensiesopsous op witbrood. En ek dink die Sondag was daar selfs aartappel en groente bygevoeg. Ek onthou ook dat daar, vir die hele twee weke, elke aand lensies in ons kos was.
Vir my was dit op ‘n manier ‘n bangmaak twee weke. Pa was weg. My hart was stukkend vir Ma wat ‘n hele nuwe lewe moes begin. Ous het ook al begin werk en kon nie meer vakansies saam met ons wees nie. En hier is ons drie meisiekinders alleen saam met Oupa. Tog was dit ook ‘n wonderlike vakansie propvol pret, ontdekking en lekkerte. Amper 37 jaar later onthou ek hoe ons in die groot boom langs die huis geklouter het, lang ente in die bos en grondpad af gestap het. Ons het op en langs die treinspoor gespeel en opgewonde vir die treinoom gewaai elke keer as daar ‘n trein verbygekom het.
Al het ons vir twee weke lank lensiekos geeet, was daar ander lekkertes ook. Ons is saam met Oupa se buurman, Oom Flip, dorptoe. Agterop sy bakkie met die wind wat ons hare omkrap. Oom Flip het langs die pad gestop by ‘n groentestalletjie en ons kon kies wat ons wou eet. Ek het ‘n groot sak groen ertjies (nog in die dop) gekies en ek onthou tot vandag toe nog hoe daardie vars groen lekkerte in my mond gekraak het.
Dit was ons lensiesop wintervakansie. Lensies was redelik taboe vir my vir die res van my lewe (tot ek onlangs geleer het van hul voordele en nou self sop maak met lensies). Ek dink dit was dalk ook ons heel laaste vakansie saam met Oupa op die plaas. Goeie tye. Harde tye. Tye propvol genade.