Moment in Time Snapshot …. Lolla’s Right Here Right Now

Crazy-ass workspace. Dream journal …. crochet flower turtle …the moon 🌙 🌚 🌔 …. wool ….. reading glasses 👓….. bunny ….. reindeer …. shoes that need a wash ….. diary …. laptop with open spreadsheet …. drinking water …..

Vrydag-Ode


Vrydag sit so lekker op my tong laat my voel soos boerepap met bruingebraaide velletjie en goudgeel stroop

Vrydag is vir my nog alletyd 'n blydag, my-dag, lag-en-skoffeldag.
Tiekiedraai, grootlawaai, skoppelmaai lagdag.

Vrydag sit so lekker op my heup, ek begin hom so met n swaai en 'n skud.
Vrydag is sy dag, haar dag, hulle en julle dag, my dag, jou dag.

V-v-v-rryyyyyddaaaaaag!!!!!

Mag genade, lekker-lag, geluk en blessings jou vandag pootjie en toevou.

Vrolike Vrydag Lolla Groete ♡♡♡

‘n Vinnige Oggend Enetjie

Hiehiehie ek wonder wie gaan hierdie opskrif reg interpreter.

Goeiemore al julle mooi bloggers. 😊

Splinternuwe dag met splinternuwe kanse. Mag ons elkeen vandag ‘n stukkie miracles & magic raakleef.

Júlle!!!!! Aletta!! Kyk net hier!!!
Beeldskoon

Daarsy …. dit was toe wel ‘n vinnige enetjie.

Een Hele WP Jaar

WP stuur vroeer vandag vir my ‘n ‘Achievement’ boodskappie. Baie Geluk, dis vandag ‘n jaar terug wat LollaseGoete hier geskep is.

Wat ‘n jaar. Propvol. Op en af, goed en minder goed. Baie WOW-oomblikke.

Ek het ‘n klompie Volgers en ek volg ‘n hele klompie. Dis ‘n lekker spasie hierdie, ons blogland.

Skryf en dink en deel neem tyd. Al is dit hóé lekker is daar soms netnie genoeg tyd om voor te bly nie. Maar as dinge in ‘die regte lewe’ woesdol gaan, kan ek altyd vir ‘n rukkie hier by julle kom wegkruip.

Ek is ‘n Goue Vrou met ‘n sagte, dankbare hart wat soos almal anders elke dag skaaf en bou en pleister aan my plekkie onder die son.

Dankie vir ‘n gemaklike, veilige spasie waar ek my Lolla-kruiwatjie kan kom omtiep nou-en-dan.

Dit hoef nie perfek te wees nie, maar dit moet samblief tog eerlik en opreg wees.

Lolla-Groete 🌸🌸🌸

Wolke Betjoinks

Ek het letterlik derduisende fotos van wolke. Skuimeriges, wolleriges, aggresiewe wolke. Kleines, grotes, enkeles …. wolkkomberse en marshmallow wolke. Spatsels wolke en fabelagtige wolke.

Maandagmiddag-wolke Asem-wegslaan-wolke
Kwaai wolke met hael-boepense

Soms wonder ek hoeveel mense nie die wolke raaksien nie. Is almal soos ek, altyd gereed om met die volgende vertoning weggeblaas te word na ‘n wonderwolkewêreld. Is daar mense vir wie wolke net “ag dis net nog ‘n wolk” of “wolke, huh, watse wolke” is?

Al die fotos hierbo is vroeer die week met my Samsung foon geneem.

So wat reken julle? Is die daaglikse hemelse teater vir almal ewe asemrowend of minstens ‘n gewaardeerde verskynsel? Óf, is Lolla met die maan én met wolke begogeld?

Lolla liefdegroete ☁️☁️☁️💙🤍💙

Terugblik op Gisters

Die Boek-van-Gesigte wys vir my grepe uit my verlede. Altyd goeie én slegte tye. Dis mos die Lewe se wipplankgeite.

Image from online library

02 Nov 2009, skryf ek:

Bedrywige Maandag wat voorle, net 6 weke van werk oor … Dis ‘n vol lewe waarvoor ek elke dag dankbaar is. Sien met oordrewe opwinding uit na die Desember-vakansie wat voorle. Lekker week maters!! xx

Lank lank gelede, nog voor ek 40 behaal/gehaal het.

02 November 2013:

Vandag is die dag!! Soveel dinge om te doen, die lysie is lank. So let the games begin ……

  • Buite saam met die honde vroegoggend asem geskep – Tick 🙂
  • BBMs geantwoord en emails gelees – Tick
  • Avon reps status-check – Tick
  • Faceboek status ge-update – Tick
  • Ketel aangesit vir vroegoggend koffie – Tick
  • Jog uit die bed geskop om op te staan ….. hehehe, hier gaat ek …..

    Praat later maters xx xx
Hierdie het op ‘n stadium aanlyn die rondtes gedoen. Ek giggel, maar dis eintlik so waar.

02 November 2019 – ons vier die Springbokke se oorwinning oor Engeland. 32 – 12

02 November 2018:

Lalla sê mos gister dis ‘n woestelike dag. Lalla was reg – dit was eintlik ‘n woestelike dag, week, maand EN jaar.

Roadtrip pending ….
Muskiete vreet vir my op.
Nie almal kan my handle nie, en dis fine. (DIS FINE!!!)
Ek het heeltemal teveel suiker geeet hierdie week. (Who cares ne.)
Die duiwel loop rerig rond soos ‘n brullende leeu.
Daar is krag in gebed. Daar is krag in geloof.
Musiek kleur my wereld in. (Al sing ek vals, ne Mella.)
Ek slip op met kontak hou, veral juis waar dit saakmaak. Tyd sluk my pokkellyf heel in.
Ek is nie ‘n effentjies mens nie, maar ek het ervaring in “biki-biki maak baja”.
Die van julle vir wie ek lief is, weet dit!!!! Ne!?!
Ek weet baie van julle is rerig lief vir my. Dankie. xx
Ek is dankbaar.
Oooooohhhh hoor en luister mooi: NEVER SAY NEVER!!! (Eendag gaan ek kaalvoet op ‘n strand bly.)

Vandag is ek ooh soo dankbaar vir elke oomblik. En ek is geseend met tyd om nog oomblikke te geniet en benut. Oor die laaste dekade het ek vele male die direkte aanslag van verlies ervaar en is bewus hoe broos en kosbaar die lewe is.

My lewe is propvol en ‘it is well with my soul’. To many, many more happy memories.

Ja Lucas, kiekies vertel ‘n Storie

Klein swerm Rooikop vinkies maak nes in ‘n boom agter ons huis.
Vroegoggend-groete hier van Lolla se kant af. Ek speel te lekker met hierdie Bitmoji ‘stickers’
Dis Jakarandatyd en die Oosrand stel nie teleur nie. Dis ‘n pers skouspel. 💜
My ‘hydrangea’ begin pronk
Beginstadium van my eie klein besigheidtjie. kLeurvoLKriatief laat my nuut dink, myself uitdaag. Nog baie werk om te doen. Ek glo !!!
Vroegoggend sonsopkoms oor die lughawe, oppad kantoor toe.
Een van die vele hoede beskikbaar in my katalogus. Self het ek nou al ‘n paar oulike hoede bymekaar, elkeen met haar eie persoonlikheid. Hoekom hoede…. ek vertel later.
Geduld!!!! Als gebeur soos bestem.
Kleinsus se bêlle. Ek is reg vir Kersfees.
Spookboom ….. boee
Ek moet julle nog van hierdie vier vertel …. die poppe wat rondrits

Hoop julle geniet my kiekies net soos ek geniet om dit te neem en te deel.

Lollagroete, tot later xx

Hand-aan-hand saam met Asma

Jy voel dit aankom ….. vroegmiddag verander die blou lug na donker vuilpers. Die humiditeit se kloue vat-vat aan jou keel. Soos die hittige, swaar kombers al warmer om jou toevou en die donderweer nader kruip glip die benoudheid van jou keel tot in jou bors. Jy weet: hier kom moeilikheid. Jy maak die glasdeur van jou kantoor oop (vroeer was dit net die 2 vensters wat onsuksesvol probeer lug sirkuleer het).

Photo by Andrew Beatson on Pexels.com

Deur die oop deur dwarrel die soetste blommegeure tot in jou neusgate. Vir ‘n oomblik wonder jy benoud, gaan my bors protesteer, en jy wag vir ‘n wyle om te voel of die benoudheid erger raak. Die pers accuhaler lê gereed hier langs jou. Die briese koel af en die donderweer brom swaarder. Jy gaan staan in die oop deur en kyk hoe die groot reendruppels begin neerplons. Salig! Heerlike reen.

Teen huistoegaan tyd is jy op high alert. Asma kan so maklik onderskat word. Jy weet, want jy doen dit soms self. Dis nou al 3 weke wat jy behoorlik siek is. Die ding in jou bors laat los nie. Maar jy gaan aan – jy leef – want platlê is nie in jou gene nie. Vandag is daar egter ‘n ekstra krieweling.

By die huis word die langer werksklere vir koeler, korter gemaklike huisklere geruil. Jou tuin roep en terwyl die donderweer saggies begin roer gryp jy jou snoeiskêr en krap-krap, knip-knip tussen die daisies. Dis bedompig en jy voel klein druppeltjies saggies op jou rug val. Dan kriewel iets weer in jou keer, die keer met mening. Jy kug oor die blomme en staan regop. Trek jou skouers terug en probeer lug verby die kriewel trek. Dan verander die kriewel in ‘n duisend lieweheersbesies wat hardloop en spring en vladder in jou keel, al langs jou lugweg af tot in jou longe. Jy besef dis ‘n asma-aanval – die hoes begin deur jou lyf ruk en jy mik vir die skuifdeur. Jy moet in die huis kom.

Deur die deur, twee meter tot by die trappe waar jy gryp en aan die hout reeling vasklou om te probeer regop bly. Die hoes laat nie los nie, jou lyf is nie meer in jou beheer nie. Die bekende naalde-en-spelde gevoel om jou kakebeen vat vas. Ingelsman staan nou langs jou en vra benoud Hey Luv what can I do? terwyl jy hyg en hyg en voel hoe jou waardigheid in die teels in wegsypel. Jou longe is leeg en jou krag is min. Maar jy beur verby jou Ingelsman want jy weet…. ek moet in die badkamer kom.

Maar tyd is nie jou maat nie en al probeer jy hoe hard, jy is nie betyds nie. Skielik, vir ‘n oomblik, werk niks in jou lyf nie. Jy lê net op die vloer, wanneer die hoes ophou is dit net jou brein wat nog werk. Wat jou herinner: net een oomblik, alles kan in net een oomblik verander. Jy weet dat hierdie ‘n noue ontkoming was. Ingelsman vra deur die deur: please can I help you. Tell me what can I do?

Dit vat elke greintjie krag uit jou lyf uit. Dis ‘n skêl herinnering van hoe vlietend en fragiel ons werklik is. Jy staan op, maak skoon, gaan staan in die Ingelsman se arms met jou kop op sy skouer. Julle gaan deur die stappe van wat om te doen as dit weer gebeur. Waar is die ekstra asma-pompie. Jy bid saggies: Asseblief liewe Heer, spaar my daarvan om ooit fisies van iemand anders afhanklik te wees. Asseblief Jesus. Amen.

Dit neem ure, dae, om te herstel van hierdie tipe trauma. Jy voel of jy in ‘n botsing was – jou hele lyf voel pimpelpers. Gedaan! Absoluut gedrein.

En dan staan jy op, jy rus bietjies-bietjies. Wanneer jy weer fisies instaat is haal jy diep asem. Jy maak jou longe propvol. Jy jubel oor nog ‘n asemteug, nog ‘n oomblik en maak die beste van elke liewe nuwe sekonde.

Sommer net Tjoklits

‘n Kartondosie propvol vreugde. Ai ou Forrest, as jou ‘momma’ my darm vandag kon sien….. Pure soete geluk.

So saam met die goue boksie vol tjoklits trek die Oosrand vroeer vandag ook ‘n grys-donker jassie aan. En daar val ons heel eerste behoorlike reenbui van lente 2022, saam met donderweer en blitse. Die sambrele word uitgehaal en vir ‘n rukkie is die wereld so reg soos ‘n roer.

Dit was ‘n goeie, produktiewe Dinsdag die. Bietjie geskryf, bietjie gespeel, baie gewerk en lekker geeet. Mag ons more weer so maak.

Die Goue Vroue hou partytjie op Rebus

Die Goue Vroue is ‘n groepie verbeeldingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Hulle het al met ‘n vlieënde tent om die wereld getoer, met ‘n luukse strykyster plesierboot die oseane verken, Jumanji in Afrika gespeel, deur die ruimte getoer, partytjie gehou saam met ABBA en nog baie ander avonture beleef. Hulle woon op hulle eie dorpie, Rebusfontein, waar dit altyd mooiweer is.

Nou gaan hulle partytjie hou op Rebus en wie weet wat gaan gebeur? Ons sal moet wag en sien!

Om nog te lees, klik gerus hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5330572ab12247dfafd5de0b9c14dd82



Lolla sit met stokstywe oë kruisbeen op die grond die geselligheid voor haar en dophou.  Haar kaalvoete wat onder haar dik bobene ingevou is tik-tik saam op die ritme van Jerry Lee Lewis se Chantilly Lace wat nou deur die luidsprekers hier uit Rebus se eie teater stroom.  Seegogga gooi ‘n lekker draai oor die dansvloer en Kameel, wat nou Camilla se paar rooi stilletos aanhet, volg saam terwyl sy haar kop agtertoe gooi en plesierig lag.  Appeltjie hou haar seer rug skelm vas sodat niemand sien hoe vanmiddag se rondhardlopery tussen haar huisie en die krater waar Una se garnale die ewigheid ingeblaas is, haar nou skoon ongemaklik het nie.  Sy neurie saam:

Chantilly lace and a pretty face
And a ponytail hangin’ down
A wiggle in her walk and a giggle in her talk
Make the world go ‘ro-o-ound

Appeltjie loer agterdogtig in Lolla se rigting.  Die girl lyk half vaal en haar oge is so groot soos pierings.  Kan dit dalk iets te doen hê met die laaste helfte van haar spinasietert (wat sy per abuis met die “spesiale groen olie” gemaak het) wat verdwyn het nadat sy vroeer die drakie gevoer het?

Una het intussen, na die petalje met die drakie en die krater, weer ‘n stewige porsie garnale met knoffel en botter gaargemaak, so onder Toortsie se wakende oog.  Lolla wat self nie ‘n bakster is nie het ‘n bak tuisgemaakte malvalekkers en kondensmelk gebring vir die met soet tande.

Daar is ‘n heerlike atmosfeer op die dorpsmeent.  Almal is ontspanne en ‘n ligte, selfs effens lawwe luim heers.  Christa, Kameel en Trommeltjie is besig om ‘n skinkbord met die allermooiste kristalglasies vol Frangelico te pak om met hulle Goue Vriendinne te deel.  Appeltjie en VirgoC vis by Lolla uit of sy die ander helfte van die gedokterde spinasietert geeet het.  Lolla knik stadig haar kop op-en-af terwyl haar oë glinster soos sy giggel. 

“Water, jy kort water”!  VirgoC gooi sommer ook net daar en dan ‘n yslike glas propvol vars bergrivierwater en gee dit vir Lolla aan.  Met haar ander hand beduie sy: “drink”.  Lolla sluk die water weg want sy voel juis se effe dorser as normaal.  “Kom” wys Appeltjie en trek vir Lolla van die vloer af op.  “Beweeg bietjie dan voel jy sommer gou beter.”

Die Goue Vroue staan nou in ‘n sirkel en wikkelrittel saam met Good Golly Miss Molly.  Christa gryp vir Trommeltjie en draai haar in die rondte.  Toortsie, Frannie en Seegogga maak wafferse ruk-en-rol passies en Ekmyself speel lugkitaar terwyl sy luid saamsing.

Skielik is daar ‘n yslike groot, helder kollig op die groepie.  Half verblind, met hande voor hulle oë kyk die groep in die rigting vanwaar die lig skyn.  Danie het so vinnig opgespring dat sy pruik nou oor sy oë hang – hy uiter net een lui maar klipharde “Woef”.

Die groen drakie wat na die spinasietert van vroeer nog heeltyd geslaap het is nou wakker.  Uit die gediertetjie se oë skyn twee helder kolligte.  Vir ‘n oomblik is die vroue sprakeloos en nie een beweeg nie, maar dan gee Kameel ‘n paar tree in daardie rigting en sit haar linkerhand gerusstellend op drakie se blad, daar waar die vlerkies bymekaarkom.  Dit het duidelik ‘n kalmerende uitwerking en die ligte verdof, en gaan dan af.

My maggies julle, ons het dan sowaar ons eie beligtingsingenieur hier op Rebus, skerts Woordnoot.  Die drakie vlap en vladder sy vlerke en gaan sit bo-op Kameel se kop.  Na ‘n paar oomblikke bars die hele klomp uit van die lag.  Die draak lyk vreeslik gemaklik hier tussen die Goues op Rebusfontein.  En so stem almal in, hierdie drakie moet ‘n naam kry.  Dis ook nie lank nie of die groepie vroue het ooreengestem dat Knersis voortaan so sal heet. 

Una stap na die groot tafel propvol feetjieliggies wat eenkant staan en pak ‘n klomp uitgeholde klapperdoppe al die pad van Mosambiek af op die tafel uit.  Sy kry so halwe rilling toe sy dink watter petalje die geplukkery van die klappers afgegee het, maar vir nou is dit gedane sake.  Sy skink die een na die ander vol met ‘n mengsel van Tipo Tinto, Klappermelk, fyngemaalde pynappel en ys.  Elke drankie kry ‘n reenbooggekleurde glasstrooitjie en kort voor lank staan die vroue elkeen met ‘n eilanddrankie in die hand.

Die volgende liedjie begin speel en selfs die Italianer staan nader terwyl Lolla kliphard saamsing Ooh-ooh-hoo as jy langs my staaaan ……… as die hippies begin dans, vat jy my terug na ……  Scrapy hak nou by Lolla in en knipoog in haar rigting.  Hulle altwee weet – dis lekkerder as toffieappellekker hier op Rebus.

Kom ons kyk wie skryf volgende…