Lolla’s Blog

Hand-aan-hand saam met Asma

Jy voel dit aankom ….. vroegmiddag verander die blou lug na donker vuilpers. Die humiditeit se kloue vat-vat aan jou keel. Soos die hittige, swaar kombers al warmer om jou toevou en die donderweer nader kruip glip die benoudheid van jou keel tot in jou bors. Jy weet: hier kom moeilikheid. Jy maak die glasdeur van jou kantoor oop (vroeer was dit net die 2 vensters wat onsuksesvol probeer lug sirkuleer het).

Photo by Andrew Beatson on Pexels.com

Deur die oop deur dwarrel die soetste blommegeure tot in jou neusgate. Vir ‘n oomblik wonder jy benoud, gaan my bors protesteer, en jy wag vir ‘n wyle om te voel of die benoudheid erger raak. Die pers accuhaler lê gereed hier langs jou. Die briese koel af en die donderweer brom swaarder. Jy gaan staan in die oop deur en kyk hoe die groot reendruppels begin neerplons. Salig! Heerlike reen.

Teen huistoegaan tyd is jy op high alert. Asma kan so maklik onderskat word. Jy weet, want jy doen dit soms self. Dis nou al 3 weke wat jy behoorlik siek is. Die ding in jou bors laat los nie. Maar jy gaan aan – jy leef – want platlê is nie in jou gene nie. Vandag is daar egter ‘n ekstra krieweling.

By die huis word die langer werksklere vir koeler, korter gemaklike huisklere geruil. Jou tuin roep en terwyl die donderweer saggies begin roer gryp jy jou snoeiskêr en krap-krap, knip-knip tussen die daisies. Dis bedompig en jy voel klein druppeltjies saggies op jou rug val. Dan kriewel iets weer in jou keer, die keer met mening. Jy kug oor die blomme en staan regop. Trek jou skouers terug en probeer lug verby die kriewel trek. Dan verander die kriewel in ‘n duisend lieweheersbesies wat hardloop en spring en vladder in jou keel, al langs jou lugweg af tot in jou longe. Jy besef dis ‘n asma-aanval – die hoes begin deur jou lyf ruk en jy mik vir die skuifdeur. Jy moet in die huis kom.

Deur die deur, twee meter tot by die trappe waar jy gryp en aan die hout reeling vasklou om te probeer regop bly. Die hoes laat nie los nie, jou lyf is nie meer in jou beheer nie. Die bekende naalde-en-spelde gevoel om jou kakebeen vat vas. Ingelsman staan nou langs jou en vra benoud Hey Luv what can I do? terwyl jy hyg en hyg en voel hoe jou waardigheid in die teels in wegsypel. Jou longe is leeg en jou krag is min. Maar jy beur verby jou Ingelsman want jy weet…. ek moet in die badkamer kom.

Maar tyd is nie jou maat nie en al probeer jy hoe hard, jy is nie betyds nie. Skielik, vir ‘n oomblik, werk niks in jou lyf nie. Jy lê net op die vloer, wanneer die hoes ophou is dit net jou brein wat nog werk. Wat jou herinner: net een oomblik, alles kan in net een oomblik verander. Jy weet dat hierdie ‘n noue ontkoming was. Ingelsman vra deur die deur: please can I help you. Tell me what can I do?

Dit vat elke greintjie krag uit jou lyf uit. Dis ‘n skêl herinnering van hoe vlietend en fragiel ons werklik is. Jy staan op, maak skoon, gaan staan in die Ingelsman se arms met jou kop op sy skouer. Julle gaan deur die stappe van wat om te doen as dit weer gebeur. Waar is die ekstra asma-pompie. Jy bid saggies: Asseblief liewe Heer, spaar my daarvan om ooit fisies van iemand anders afhanklik te wees. Asseblief Jesus. Amen.

Dit neem ure, dae, om te herstel van hierdie tipe trauma. Jy voel of jy in ‘n botsing was – jou hele lyf voel pimpelpers. Gedaan! Absoluut gedrein.

En dan staan jy op, jy rus bietjies-bietjies. Wanneer jy weer fisies instaat is haal jy diep asem. Jy maak jou longe propvol. Jy jubel oor nog ‘n asemteug, nog ‘n oomblik en maak die beste van elke liewe nuwe sekonde.

Sommer net Tjoklits

‘n Kartondosie propvol vreugde. Ai ou Forrest, as jou ‘momma’ my darm vandag kon sien….. Pure soete geluk.

So saam met die goue boksie vol tjoklits trek die Oosrand vroeer vandag ook ‘n grys-donker jassie aan. En daar val ons heel eerste behoorlike reenbui van lente 2022, saam met donderweer en blitse. Die sambrele word uitgehaal en vir ‘n rukkie is die wereld so reg soos ‘n roer.

Dit was ‘n goeie, produktiewe Dinsdag die. Bietjie geskryf, bietjie gespeel, baie gewerk en lekker geeet. Mag ons more weer so maak.

Die Goue Vroue hou partytjie op Rebus

Die Goue Vroue is ‘n groepie verbeeldingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Hulle het al met ‘n vlieënde tent om die wereld getoer, met ‘n luukse strykyster plesierboot die oseane verken, Jumanji in Afrika gespeel, deur die ruimte getoer, partytjie gehou saam met ABBA en nog baie ander avonture beleef. Hulle woon op hulle eie dorpie, Rebusfontein, waar dit altyd mooiweer is.

Nou gaan hulle partytjie hou op Rebus en wie weet wat gaan gebeur? Ons sal moet wag en sien!

Om nog te lees, klik gerus hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5330572ab12247dfafd5de0b9c14dd82



Lolla sit met stokstywe oë kruisbeen op die grond die geselligheid voor haar en dophou.  Haar kaalvoete wat onder haar dik bobene ingevou is tik-tik saam op die ritme van Jerry Lee Lewis se Chantilly Lace wat nou deur die luidsprekers hier uit Rebus se eie teater stroom.  Seegogga gooi ‘n lekker draai oor die dansvloer en Kameel, wat nou Camilla se paar rooi stilletos aanhet, volg saam terwyl sy haar kop agtertoe gooi en plesierig lag.  Appeltjie hou haar seer rug skelm vas sodat niemand sien hoe vanmiddag se rondhardlopery tussen haar huisie en die krater waar Una se garnale die ewigheid ingeblaas is, haar nou skoon ongemaklik het nie.  Sy neurie saam:

Chantilly lace and a pretty face
And a ponytail hangin’ down
A wiggle in her walk and a giggle in her talk
Make the world go ‘ro-o-ound

Appeltjie loer agterdogtig in Lolla se rigting.  Die girl lyk half vaal en haar oge is so groot soos pierings.  Kan dit dalk iets te doen hê met die laaste helfte van haar spinasietert (wat sy per abuis met die “spesiale groen olie” gemaak het) wat verdwyn het nadat sy vroeer die drakie gevoer het?

Una het intussen, na die petalje met die drakie en die krater, weer ‘n stewige porsie garnale met knoffel en botter gaargemaak, so onder Toortsie se wakende oog.  Lolla wat self nie ‘n bakster is nie het ‘n bak tuisgemaakte malvalekkers en kondensmelk gebring vir die met soet tande.

Daar is ‘n heerlike atmosfeer op die dorpsmeent.  Almal is ontspanne en ‘n ligte, selfs effens lawwe luim heers.  Christa, Kameel en Trommeltjie is besig om ‘n skinkbord met die allermooiste kristalglasies vol Frangelico te pak om met hulle Goue Vriendinne te deel.  Appeltjie en VirgoC vis by Lolla uit of sy die ander helfte van die gedokterde spinasietert geeet het.  Lolla knik stadig haar kop op-en-af terwyl haar oë glinster soos sy giggel. 

“Water, jy kort water”!  VirgoC gooi sommer ook net daar en dan ‘n yslike glas propvol vars bergrivierwater en gee dit vir Lolla aan.  Met haar ander hand beduie sy: “drink”.  Lolla sluk die water weg want sy voel juis se effe dorser as normaal.  “Kom” wys Appeltjie en trek vir Lolla van die vloer af op.  “Beweeg bietjie dan voel jy sommer gou beter.”

Die Goue Vroue staan nou in ‘n sirkel en wikkelrittel saam met Good Golly Miss Molly.  Christa gryp vir Trommeltjie en draai haar in die rondte.  Toortsie, Frannie en Seegogga maak wafferse ruk-en-rol passies en Ekmyself speel lugkitaar terwyl sy luid saamsing.

Skielik is daar ‘n yslike groot, helder kollig op die groepie.  Half verblind, met hande voor hulle oë kyk die groep in die rigting vanwaar die lig skyn.  Danie het so vinnig opgespring dat sy pruik nou oor sy oë hang – hy uiter net een lui maar klipharde “Woef”.

Die groen drakie wat na die spinasietert van vroeer nog heeltyd geslaap het is nou wakker.  Uit die gediertetjie se oë skyn twee helder kolligte.  Vir ‘n oomblik is die vroue sprakeloos en nie een beweeg nie, maar dan gee Kameel ‘n paar tree in daardie rigting en sit haar linkerhand gerusstellend op drakie se blad, daar waar die vlerkies bymekaarkom.  Dit het duidelik ‘n kalmerende uitwerking en die ligte verdof, en gaan dan af.

My maggies julle, ons het dan sowaar ons eie beligtingsingenieur hier op Rebus, skerts Woordnoot.  Die drakie vlap en vladder sy vlerke en gaan sit bo-op Kameel se kop.  Na ‘n paar oomblikke bars die hele klomp uit van die lag.  Die draak lyk vreeslik gemaklik hier tussen die Goues op Rebusfontein.  En so stem almal in, hierdie drakie moet ‘n naam kry.  Dis ook nie lank nie of die groepie vroue het ooreengestem dat Knersis voortaan so sal heet. 

Una stap na die groot tafel propvol feetjieliggies wat eenkant staan en pak ‘n klomp uitgeholde klapperdoppe al die pad van Mosambiek af op die tafel uit.  Sy kry so halwe rilling toe sy dink watter petalje die geplukkery van die klappers afgegee het, maar vir nou is dit gedane sake.  Sy skink die een na die ander vol met ‘n mengsel van Tipo Tinto, Klappermelk, fyngemaalde pynappel en ys.  Elke drankie kry ‘n reenbooggekleurde glasstrooitjie en kort voor lank staan die vroue elkeen met ‘n eilanddrankie in die hand.

Die volgende liedjie begin speel en selfs die Italianer staan nader terwyl Lolla kliphard saamsing Ooh-ooh-hoo as jy langs my staaaan ……… as die hippies begin dans, vat jy my terug na ……  Scrapy hak nou by Lolla in en knipoog in haar rigting.  Hulle altwee weet – dis lekkerder as toffieappellekker hier op Rebus.

Kom ons kyk wie skryf volgende…

Drie Plus Een maak Ons

Julle DRIE is die room in my koffie
Die ys in my coke (lees 'gin')
Die sout-en-asyn op my slapchips
Die sjerrie in my koekstruif

Julle DRIE is my duwweltjiepad maats
Julle is my Everedy bapperye
Julle is die strepie in my 't' en die www in my 'w'

Julle is die tierlantyntjies op n dor dag
Julle is die sprakel in my stoutste lag
Julle is klitsgras, boombas, fondasie en lug
.... om te rym of nie te rym nie ....

Dis lekker om deel van ons ons te wees. Tydmaak vir saamwees kom nie altyd seepglad nie maar elke keer weet ek, my lewe het vandag net so bietjie ryker geword.

Dankie Liewe Jesus vir my hartsmaats. 💝

Vandag, ‘n jaar terug…

Facebook diep weer hierdie woorde op. En die rou seer gryp my aan die gorrel. Mis jou altyd Mella. 🖤🤍💛

Jy was ons Sonneblom

Vandag sluk ek ‘n urbanol vir jou maat.
Blikskottel kan mens se hart so rou seer wees.
Daar was hordes magical moments.
Daar was ook kakkes. Harde oomblikke. Veral die laaste tyd.
Dalk het ek te hard gepraat? Het ek jou in die steek gelaat?
Jy was ‘n hartsmaat. ‘n Forever-friend.
Ek het jou uitgetrap, net nou die dag.
Fokkie tog het ek teveel verwag.
Ek wou net hê jy moes ook uit jou diep-binneste kon lag.

Jy was ‘n malkop. Lekker uit jou dop.
Ek wou lê van die lag met jou geite en sê-goed langs die rugby veld.
Elke keer wat ‘n rugbybal my langs die veld getref het was jy daar, reg langs my.
Was jy dalk die magneet, jy het tot in jou tone toe lekker gekry.

Rabbit-hole & Boomhuisie gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Sangria gaan nooit weer dieselle proe nie.
Ek gaan jou in elke kosmosblom en volmaan sien.
PikkeOns gaan jou mis en lang trane huil vir ons Mella-Sonneblom.

Jy kan nie weg wees nie. Maar jy is.
Ek kan net bid dat jy nou kan rus.
Dat jy by Jesus se voete sit.
Jy gaan die Engele besig hou …… ooooh gedorie ek kan alklaar
hoor hoe jy saam met hulle lag en kattekwaad aanvang.

Mella, ek wonder of daar rooiwyn is in die hemel?
Kan jy ons sien?

Byeboer se blom in die hare het vir ons 2 ‘by in die hare’ geword.
Daai dag langs die Tuks-rugbyveld toe daai by pure lekkerkry in ons
boskasies kom kry. Dan in jou kapsel, dan in myne. Ons het gegiggel en gekoes.

Ek is dankbaar vir baie sulke kosbare oomblikke saam met jou.
Selfs so met die lewe se grou
Het ons tot aan die einde aan mekaar vasgehou
Met oomblikke ver verwyder maar tog ook vasbeslote
Dat ons mekaar nooit sal los nie.

Ek wens ek kon jou nog een drukkie gee
Ek wens ek kon vir jou sê ek is lief vir jou
Ek wens vir nog een snapchat videotjie van jou
Ek wens dat ons mekaar weer sal ontmoet vorentoe

My kop en hart is deurmekaar.
Die seerkry sit soos ‘n klip hier tussen my gorrel en bors.
Maar soos ons voicenotes, sal ek later weer met jou praat.

Time to cool down

After four days of having temperatures up to 40°C in the Park we are back down to 21°C at the moment. The overcast, colder weather makes for different game viewing. Photography 📸 becomes more challenging (for me) but my body is thankful for the much cooler weather.

Warthog grazing
Giraffe next to the road between Mopani and Satara
View over the Olifants river

Another beautiful day under the African sky.

Out in the Wild

Sitting on the South bank of the Letaba River. We (Ingelsman, Dad and me) are having breakfast before we hit the road again, exploring the African bushveld. Signal is poor but I will write and share pictures when I can.

We had the most amazing lion sighting this morning. 3 Lionesses with 2 cubs with a kill. A pack of 5 hyena braved the opportunity to approach the buck/buffalo carcass to also feed on it. The mighty lions however decided that’s not on and the fight that followed eco’d roars and screams throughout the valley.

This is an amazing place. It is well with my soul.

Will tell more later …..

‘n Besige Week en ‘n bloglose title… of is dit n titellose blog ……

My hart is op Rebusfontein, maar my lyf en kop is solied net hier op die Ooste van Suid Afrika se kleinste en mees oorbevolkte provinsie (amper sê ek planeet).

En ek is besig, soos ‘n werker hommelby. Tussen TEFL leerdery (wat eerlikwaar swaar trek), my klein Avon en Justine besighede en nou ook ‘n Tupper verkoopsdame, maak ek planne en woeker ek om soos derduisende ander SA’ners ietsie wat kan werk aanlyn aan die gang te kry.

Intussen wag daai boek. Ek moet klaar skryf aan my eie verhaal. My groot lewensdroom, om ‘n eie boek te publiseer, is steeds heel agter in die lang tou van goedjies om te doen.

Dié Koningin sterf, klaarblyklik rustig met haar familie by haar en my eie hart ruk effens, asof ek ‘n naby iemand verloor het. Rus sag Koningin Elizabeth II. Wat ‘n vrou!

Wereldbekende OR Tambo internasionale lughawe hier op my voorstoep sorg vir nuus hoofopskrifte toe ‘n brand op aangrensende eiendom deur ‘n kwaai Augustuswind aangehits word. Van ons kantore in Kemptonpark sien ons die enorme rook wolke. Mense gaan staan stil en bespreek en bewonder die skrikwekkende skouspel. So rukkie later ry ons Boksburg toe om ‘n voertuig part op te laai en ons ry op die soom van die brand en die lughawe verby. Groot vlamme hardloop neffens ‘n aanloopbaan bult-af. Die groot, ou bome daar naby kreun en klap soos die vlamme kloue inslaan. Aan die anderkant van die aanloopbaan is n span brandbestryders hard besig om dinge onder beheer te probeer kry.

Ons gaan laai die part op. Oppad terug wonder ons hoe werk die vlugte, en elke nou en dan sien ons nog n vliegtuig opstyg. Weer terug langs die lughawe stop ons vir ‘n oomblik. My mond hang oop. Ek het al brande gesien, maar nog niks soos die nie. Droeë wintergras brand vinnig en rats. Die volgende oomblik hoor ons die bekende naby klank van n engin en kom een van die groot vliegtuie deur die rookwalms te voorskyn. Vlugte gaan voort. In die volgende paar minute sien ons minutes nog 5 vliegtuie opstyg.

Die brand is wel later onder beheer gebring. Die rook het nog vir ure daarna die Oosrand se alreeds-besoedelde lug donker ingekleur. Maar, ten spyte van heelwat skade, het harde werk en sweet die dag, en die lughawe gered.

Baie mense sal wasrskynlik vies wees omdat ek en Carmen die voëltjies by die werk voer. En ja ek weet, daar kan baie hieroor gesê word. Beide kante toe. Ons doen dit met die beste bedoellings en ons sowel as die groot verskeidenheid voëls wat kom saam eet geniet dit baie.

Die Wisteria staan in volblom. Wert iemand hier dalk hoe maak ek steggies? Toortsie? VirgoC? Oral flirt daisies met die oog. My verjaarsdag suurlemoen boom blom en daar is sparsely kleur oral waar mens kyk.

Hier is ‘n paar kiekies van my laaste week of twee.

Gisteraand se maan
Never say never !

Vrydag Mydag – Vrydag jou lekke ding ♥️

Gister kry ek ‘n lekker Watsop boodskappie uit Parys nogal, van ‘n hartsmaat. Ons gesels deesdae min maar ons sielskonneksie is altyd daar. Dit was so lekker om van haar te hoor. Dis al hierdie klein oomblikkies van vreugde wat die ou drollerige Lewe die moeite werd maak.

Later dieselfde dag plaas ‘n oudkollege ‘n paar lawwe videos op Bakkiesblad van groepies wat een-of-ander dansuitdaging doen. Dis oulik en catchy en weer glimlag ek lekker. Laat my aan die ‘ou dae’ dink toe ons destydse HRIS groepie dikwels pret dinge opgedink en uitgevoer het. Pannekoek bak in die kantoor, selfs ‘n potjiekos gemaak. Resies buite gehardloop. In die sneeu gespeel. So nou en dan n skelm shooterki uit ons geheime stash agter in die onderste kombuiskasrak gedrink. Vreemd aangetrek ….. ag daar is teveel om op te noem. Dit was lekker tye.

My aanlynkopie yogamat is afgelewer. Ek weet nog nie lekker hoe ek met die opgefoeterde regterknie gaan oefen nie, maar ek sal moet planmaak. So saam met die mat is daar nog pakkies; hekel steekmerkers, voorraad vir oorbelle maak (hierdie pakkie is vir my kreatiewe kleinsus) en laastens, ‘n groter boks met my nuwe sonhoed. Sedert laasjaar reageer my liggaam vreemd op sonlig. Veral my gesig – 5 minute in die son en die regterkant begin trek en hang en ek kry die aardigste seer uitslag. Hoed-dra is dus my voorland. Ek deel later ‘n foto van my hoed.

Dit was ‘n goeie, lekker Vrydag. Ek en Ingelsman is na werk Hooters toe vir ‘n paar drankies. Verfrissend heerlik.

Lekker Saterdag vir almal. Lolla se Naweekgroete. ♡♡♡