Jy voel dit aankom ….. vroegmiddag verander die blou lug na donker vuilpers. Die humiditeit se kloue vat-vat aan jou keel. Soos die hittige, swaar kombers al warmer om jou toevou en die donderweer nader kruip glip die benoudheid van jou keel tot in jou bors. Jy weet: hier kom moeilikheid. Jy maak die glasdeur van jou kantoor oop (vroeer was dit net die 2 vensters wat onsuksesvol probeer lug sirkuleer het).

Deur die oop deur dwarrel die soetste blommegeure tot in jou neusgate. Vir ‘n oomblik wonder jy benoud, gaan my bors protesteer, en jy wag vir ‘n wyle om te voel of die benoudheid erger raak. Die pers accuhaler lê gereed hier langs jou. Die briese koel af en die donderweer brom swaarder. Jy gaan staan in die oop deur en kyk hoe die groot reendruppels begin neerplons. Salig! Heerlike reen.
Teen huistoegaan tyd is jy op high alert. Asma kan so maklik onderskat word. Jy weet, want jy doen dit soms self. Dis nou al 3 weke wat jy behoorlik siek is. Die ding in jou bors laat los nie. Maar jy gaan aan – jy leef – want platlê is nie in jou gene nie. Vandag is daar egter ‘n ekstra krieweling.
By die huis word die langer werksklere vir koeler, korter gemaklike huisklere geruil. Jou tuin roep en terwyl die donderweer saggies begin roer gryp jy jou snoeiskêr en krap-krap, knip-knip tussen die daisies. Dis bedompig en jy voel klein druppeltjies saggies op jou rug val. Dan kriewel iets weer in jou keer, die keer met mening. Jy kug oor die blomme en staan regop. Trek jou skouers terug en probeer lug verby die kriewel trek. Dan verander die kriewel in ‘n duisend lieweheersbesies wat hardloop en spring en vladder in jou keel, al langs jou lugweg af tot in jou longe. Jy besef dis ‘n asma-aanval – die hoes begin deur jou lyf ruk en jy mik vir die skuifdeur. Jy moet in die huis kom.
Deur die deur, twee meter tot by die trappe waar jy gryp en aan die hout reeling vasklou om te probeer regop bly. Die hoes laat nie los nie, jou lyf is nie meer in jou beheer nie. Die bekende naalde-en-spelde gevoel om jou kakebeen vat vas. Ingelsman staan nou langs jou en vra benoud Hey Luv what can I do? terwyl jy hyg en hyg en voel hoe jou waardigheid in die teels in wegsypel. Jou longe is leeg en jou krag is min. Maar jy beur verby jou Ingelsman want jy weet…. ek moet in die badkamer kom.
Maar tyd is nie jou maat nie en al probeer jy hoe hard, jy is nie betyds nie. Skielik, vir ‘n oomblik, werk niks in jou lyf nie. Jy lê net op die vloer, wanneer die hoes ophou is dit net jou brein wat nog werk. Wat jou herinner: net een oomblik, alles kan in net een oomblik verander. Jy weet dat hierdie ‘n noue ontkoming was. Ingelsman vra deur die deur: please can I help you. Tell me what can I do?
Dit vat elke greintjie krag uit jou lyf uit. Dis ‘n skêl herinnering van hoe vlietend en fragiel ons werklik is. Jy staan op, maak skoon, gaan staan in die Ingelsman se arms met jou kop op sy skouer. Julle gaan deur die stappe van wat om te doen as dit weer gebeur. Waar is die ekstra asma-pompie. Jy bid saggies: Asseblief liewe Heer, spaar my daarvan om ooit fisies van iemand anders afhanklik te wees. Asseblief Jesus. Amen.
Dit neem ure, dae, om te herstel van hierdie tipe trauma. Jy voel of jy in ‘n botsing was – jou hele lyf voel pimpelpers. Gedaan! Absoluut gedrein.
En dan staan jy op, jy rus bietjies-bietjies. Wanneer jy weer fisies instaat is haal jy diep asem. Jy maak jou longe propvol. Jy jubel oor nog ‘n asemteug, nog ‘n oomblik en maak die beste van elke liewe nuwe sekonde.










































































