











#wordlesswednesday












#wordlesswednesday

Ek het onderstaande op hierdie dag in 2017 op sosiale media geskryf en gepos. Dis nogsteeds van toepassing. Ek deel dit graag hier met julle.
Random vroegoggend-Vrydag gedagtes:
My nuwe motto(s) is onder andere:
Ek het verseker die kuns van vasklou bemeester. Ek gly gereeld en val dikwels, val sommer my nerwe af, staan op en stof af, totdat ek volgende keer weer klou en gly en klou en gly en dan val ek weer. En staan maar weer op. Soms sleep die lewe jou dat jou tanne in die stof klap, dat die velle trek en dat daar so ‘n diep sloot langs die vorige letsel in jou hart inkloof. Jy le ‘n rukkie en bloei en partykeer huil jy ‘n paar trane. En dan kap jy weer aan.
Op en Af. Fases. Seisoene. Noem dit wat ookal jy wil. Dis hard maar lekker. Lekker kak, lekker lekker, vrek-lekker, lekker shitty, lekkerste lipleklekker, sielsverruklik-lekker, lekker verby, verby lekker, oe-la-la lekker, lekker verspot, ens ens ens ……..
As jy lekker gelees het, laat weet my. LollaGroete
Kopiereg: Lindie Koekemoer
My WP blog posts pulls through to my LollaseGoete Facebook page. I am currently on 86 followers and are aiming to reach 100 soon.
You will mostly find my blog posts from here on the fb page as well. If you would like to have a look at 2 posts not on my blog, but posted on my fb page, follow the link below.
Every like, share and interactions will mean the world to me.
Working on making my dreams reality.
LollaLove&Light♡☆


Trees are sanctuaries. Whoever knows how to speak to them, whoever knows how to listen to them, can learn the truth.
Herman Hesse
Ek het so rukkie terug geskryf oor my liefde vir bome, sien skakel hier onder:
Sonder begin of einde; my liefde vir bome



Ons was die afgelope naweek na die Hasiepark toe hier naby ons. Iemand by die Saterdag mark gaan ondersteun en toe ‘n entjie gaan stap. Ek kan myself verloor so tussen bome. Dis kiekies en nog kiekies, ooeeee aaahhh en nog ‘n kiekie, bietjie vat-vat en boomdrukkies uitdeel. Pure lekkerte. Die Ingelsman het half iesiegrimmig maar ooh so geduldig saamgestap. Wat ‘n heerlike oggend!




In die koelte van 'n groot ou boom
wil ek vir oulaas stilraak, wegraak
tussen verstrengelde takke vol blaarbehangsels,
vertakkings van gister se gisters.
Lig, soos 'n veer.
Stof.
Net stof.
Onder 'n groot stokou boom.
LollaseGoete









#lollasekiekies #lollaseboomstories #lollasegoete
















#wordlesswednesday #photosonly #photography #photographs #nature #kleurvolkreatief #KLeurvoLKriatief #spider #clouds #flowers

Destyds, ongeveer 1985, word ek en Annapat en haar een maatjie, plaastoe gestuur vir die winter vakansie. Dis die eerste vakansie na Pa Chaka se dood – daai Sondag toe Liewe Jesus hom kom haal het. Na sy eerste hartaanval (moes 1981 gewees het) was hy nooit weer dieselfde nie.
So begin ma na baie lank by die huis weer werk. En ons word Groot Marico toe gestuur. Vir twee weke. Om by Oupa Piet te gaan kuier. Ouma Anna is ‘n jaar voor Pa oorlede en so eindig drie tienerdogters saam met kwaai Oupa Piet op ‘n bosveldplaas.
Ma en Ousus het deurgery om ons drietjies af te laai. Ek was skuitbang vir Oupa, ‘n groot man met ‘n groot stem en nog groter hande. As ek nou terugdink weet ek nie hoekom ek so rerig-bang vir hom was nie. Hy was eintlik maar ‘n stil man wat hard gewerk het. Maar streng was hy beslis. Ek self het nooit ‘n naby band met Oupa gehad nie. Het maar meestal uit sy pad uit probeer bly. Maar die vakansies en kuiers daar op Modderfontein was goed. Lekker herinneringe wat my altyd sal bybly. Ek het nog altyd gedink Annapat (Kleinsus) was Oupa se oogappel.
So word ons afgelaai op die plaas, die boks kruideniersware uitgepak en gebere in die lang kas in die hoek van die eet-/leefvertrek. Daar was burgerpatties in ‘n blik (onthou julle daai?), ander geblikte kos, ‘n boks sjokoladestafies en dies meer. Ook ontbytpap. Oupa het gesnork en laat weet dis dorpskos – hier in sy huis eet ons plaaskos. En so, nadat Ma en Ous terug is dorp toe aan die Weste van Johannesburg, kry ons ons eerste plaas aandete. ‘n Sopbord vol lensiesop. Waterrige lensiesop ….. en ek bedoel: water, lensies en dalk ‘n bietjie sout. Ek sal daai sop in my lewe nie vergeet nie.
Dit was ons eerste aand op die plaas. En ook die eerste aand wat ons gewag het om Oupa in sy kamer te hoor rustig raak met die radio wat stories vertel …… want ons wou dorpskos gaan ‘steel’. As my onthou reg is, het ons beurte gemaak om die skrikwekkende kans te vat om in die pikgietdonkerte uit te sluip, deur die sitkamer, deur die eet-/leefkamer tot by daai lang kas. So het ons nagtelike kosekspidiesies begin. Ons drie sou dan agter die toe kamerdeur, wat reg oorkant Oupa se kamerdeur was, onder die komberse met ‘n flitslig sit en smul aan ons dorpskos.
Die volgende dag het ons weer lensiesop gekry (daai pot was enorm, en propvol). En so vir die volgende twee weke het Oupa elke aand iets anders by die lensiesop gegooi om ons te voer. Ek onthou groot stukke beesvleis met lensiesopsous op witbrood. En ek dink die Sondag was daar selfs aartappel en groente bygevoeg. Ek onthou ook dat daar, vir die hele twee weke, elke aand lensies in ons kos was.
Vir my was dit op ‘n manier ‘n bangmaak twee weke. Pa was weg. My hart was stukkend vir Ma wat ‘n hele nuwe lewe moes begin. Ous het ook al begin werk en kon nie meer vakansies saam met ons wees nie. En hier is ons drie meisiekinders alleen saam met Oupa. Tog was dit ook ‘n wonderlike vakansie propvol pret, ontdekking en lekkerte. Amper 37 jaar later onthou ek hoe ons in die groot boom langs die huis geklouter het, lang ente in die bos en grondpad af gestap het. Ons het op en langs die treinspoor gespeel en opgewonde vir die treinoom gewaai elke keer as daar ‘n trein verbygekom het.
Al het ons vir twee weke lank lensiekos geeet, was daar ander lekkertes ook. Ons is saam met Oupa se buurman, Oom Flip, dorptoe. Agterop sy bakkie met die wind wat ons hare omkrap. Oom Flip het langs die pad gestop by ‘n groentestalletjie en ons kon kies wat ons wou eet. Ek het ‘n groot sak groen ertjies (nog in die dop) gekies en ek onthou tot vandag toe nog hoe daardie vars groen lekkerte in my mond gekraak het.
Dit was ons lensiesop wintervakansie. Lensies was redelik taboe vir my vir die res van my lewe (tot ek onlangs geleer het van hul voordele en nou self sop maak met lensies). Ek dink dit was dalk ook ons heel laaste vakansie saam met Oupa op die plaas. Goeie tye. Harde tye. Tye propvol genade.

#wordlesswednesday #challenge #photochallenge #nowords #wordlessstories










Reluctant, unwanted, needed
#pull-up-a-seat #challenge #photochallenge #pullupaseat


Dis Maandag. Dis koud. Ek is pens en pote in die kooi. Nog vrot van die verkoue, so saam met ‘n klomp familiemense. Voel goor, die dik goete in my keel en neus vermenigvuldig sonder ophou en die lee toiletpapierrolletjies langs die bed word al meer. Dit voel of daar ‘n boksgeveg in my binnegoete was en my stem klink krakerig en koddig. Dis goor om so te voel.
MAAR, dis Maandag. Dis ‘n nuwe week. Nuwe dinge. Dis nou al amper halfpad deur die dag en ek sit nog net en bolle rol van vroegoggend af. Die plan was al van gisteraand af dat ek vandag absoluut net gaan rus en beter word. So hou ek myself besig met dinge wat in die besigheidswereld as absolute snert aangesien sal word, maar wat my siel goed doen. Ek speel, teken, surf soos ‘n gouemedalje-mededinger op die web. Klik op skakels, lees en leer. Droom. Ek is dankbaar vir hierdie oomblik, vir hierdie Maandag.

Wanneer jy hoes terwyl jy die glas skuifdeur oopmaak en die hele buurt se honne begin vir jou blaf.
LollaPenaries
Ek probeer nog aanleer hoe om net te “wees”. Hoe om te ontspan, om net asem te haal. Dis ‘n gesukkel. Vandat ek einde-Maart by my ou werkgewer klaargemaak het is ek oral aan die krap om my “behoort-plekkie” te kry. En dit terwyl ek myself (en dies naaste aan my) belowe het dat ek vir ‘n rukkie net gaan wees. Ek besluit nog self hoe suksesvol ek is, met hierdie net wees besigheid. Dis asof ek myself jaag, asof daar altyd iets is om aan myself en die wereld te bewys.
Vandag is ek dankbaar vir my humorsin. Veral omdat ek so ‘n ekstra super-sensitiewe dramavraat is (ek sê dit tong-in-die-kies) is. Dankbaar ek kan vir myself lag. En vir die lewe. Veral vir die lewe. En vir mense. Wie wil dan nou (en ek gebruik hier ‘n hartsvriendin en blogmaat se gesegde) met ‘n permanente drol in jou hart rondloop? Huh?

Ek lyk oes. Kan deurgaan vir ‘n vêrlangse verwantskap van die Uniondale spook. My groot, kenmerkende neus is rooier as gewoonlik. Vandag het ek ‘n NEUS, nie net ‘n neus nie. Rou geblaas. Pure ek. ‘n Kussing-piramide agter my rug gepak (ek slaap snags penregop sodat ek kan asem kry en nie in al die gogga-gevulde-voggies versuie nie). Het ek al genoem hoe erg dankbaar ek vandag is vir my huis, my kamer, my bed, warm komberse, kussings en al die ontelbare blessings wat ek uit Die Groot Hand ontvang.
Dis dalk juis omdat ek ekstra vaal en verwaarloos lyk en voel, dat ek vanoggend met my siek lyf en al ‘n guur in my gaai het. Ek is lus (heelemal buite karakter) om op te dress. Die wat my ken ken my tipe opdress. Ek is nie rerig die opdress-tipe nie. Vanoggend lus ek grimering, mooi aantrek met ‘n paar parmantige bootse. Dalk ‘n paar los krulle in my (dan, hopelik, skoongewaste, koorslose hare). So dis deel van my gesondwordplan – sodra ek behoorlik op die been is gaan die tweezer nader gehark word, my grimering bietjie gesorteer en ingespan word en ek gaan myself optooi. Lolla-styl natuurlik. Aangesien dit nie gereeld gebeur nie (ek is maar ‘n gemaklike hippie-tipe, effens slonserige nes-ek-is low maintenance meisie) sal ek vir julle ‘n fototjie of twee hier plaas. Maar vir nou (danksy Snapchat) ….. …..

En saam met die ander (klomp) dankbaarhede, is ek ook dankbaar vir hierdie blog. En vir elkeen wat hier saam met my gesels. Veral vir die wat my omarm en welkom laat voel. Dis so al asof hierdie blogspasie ‘n stukkie “ek hoort hier” plekkie is.

Vragie: Julle, wat maak mens vir aandete vir twee wanneer mens “af” is?
Laat ek groet. My hande vries en ek dink dis tyd vir ‘n koppie tee. En dan slaap. Helende, genesende slaap. Liefde en Lolla-groete vir eers…….
