
Vandag was ‘n goeie dag. Al het ek ekstra koud gekry en heel middag met ‘n verwarmer in my ‘kantoor’ gesit.
Ek het uiteindelik my grys en swart serp klaar gebrei. My breiwerk is voetstoots. Ten spyte van ‘n ma wat baie handig en vlytig was en twee sussies wat beide die gawe ge-erf het, kom brei en hekel met redelike moeite na my toe. Ek het seker maar net anders geleer. Bennie ons buurseun toe ek seker so 11 jaar oud was, was die enigste een wat my kon leer brei. Breinaalde sowel as hekelpenne word op my eie manier vasgehou. Die tempo waarteen ek dus enigiets klaarmaak verskil aansienlik van enige ander breisters of hakkers wat ek ken. So het ek destyds sewe (ja, 7!!) jaar lank aan ‘n kniekombersie gehekel.
Die chiropraktisyn-besoek eergister het goed afgeloop. Dis ‘n annerste affêre. Ek is nie juis klein en tingerig nie. Die behandeling waar my nek, skouers, rug tot in my boude bewerk word, laat my vuisies bal en oge toeknyp om die trane te keer. Maar ek het alle vertroue dat dit my gaan help. Vir nou mik ons om my stokstyf lyf vol knoppe net weer los genoeg en so pynloos as moontlik te kry. En dan vandaar – maintenance. Gister het ek seer en gekneus gevoel. Vandag is ek, ten spyte van my ligte strekoefeninge en spiere warm hou, stok-stok-styf. Soveel so dat ek hoe later die dag loop, met al meer moeite beweeg. (Ek klae nie, ek vertel net….) Soos sy sê, die skade is van so ‘n aard dat dit waarskynlik al meer my mobiliteit kan beinvloed. Die tekens is duidelik daar. Strekoefeninge so saam met ‘n paar ander volgehoue, daaglikse aanpassings gaan vir my soos asemhaal moet word. Use it, or loose it. Maar moet netnie teveel use nie, want dit maak weer ander dinge wakker en die bose kringloop spiraal net aan en aan en aan. Dit klink nou soos ‘n veralgemening en ek bedoel dit nie so nie, maar ek reken dikwels is diagnoses bloot gebaseer op dit wat in die oomblik voor die hand liggend is. So wonder ek nou al vir jare, maar nou ook die Chiro-dame saam met my, hoeveel van wat nou met my gebeur gewortel is in daardie raakry ongeluk waarin ek destyds op skool aan my regterkant deur die jagende kar getref is, deur die lig getrek het en hard met die aarde kennis gemaak het. Maar, die skade is gedoen, en die lyf werk tog nog verbasend goed (#dankbaar). As ek ‘n paar glasies Jagermeister drink so dan en wan kan ek selfs jippe skud en die flenterslyf hula hoop nog te lekker. Vanaand is ‘n warm bad met Engelse-sout en vroeg inkruip my voorland – heerlik. En vroeg Maandagoggend gaan ek terug vir my volgende behandeling.
Verder het ek vanoggend lekker wolle aanlyn aangekoop. Susanna se kopband moet, soos belowe, gehekel word. En ek het Eenheid 2 van my TEFL studies suksesvol afgehandel, gaan moet spoed optel. Aanlyn brosjures vir die twee immergewilde reekse wat ek onlangs weer begin verkoop het, is uitgestuur. Ek het vir ‘n ruk lekker in die son gesit vroeer. Van my voorneme om vandag slegs vrugte te eet het daar toe ongelukkig nie veel gekom nie …. die 3 bloubessies wat ek vanoggend gepeusel het was toe ook al vrugte vir die dag.
En vir nou is dit al. Groete hier van my kant af, tot volgende keer.



















































































