#wordlesswednesday #challenge #photochallenge #nowords #wordlessstories










#wordlesswednesday #challenge #photochallenge #nowords #wordlessstories










Reluctant, unwanted, needed
#pull-up-a-seat #challenge #photochallenge #pullupaseat


Dis Maandag. Dis koud. Ek is pens en pote in die kooi. Nog vrot van die verkoue, so saam met ‘n klomp familiemense. Voel goor, die dik goete in my keel en neus vermenigvuldig sonder ophou en die lee toiletpapierrolletjies langs die bed word al meer. Dit voel of daar ‘n boksgeveg in my binnegoete was en my stem klink krakerig en koddig. Dis goor om so te voel.
MAAR, dis Maandag. Dis ‘n nuwe week. Nuwe dinge. Dis nou al amper halfpad deur die dag en ek sit nog net en bolle rol van vroegoggend af. Die plan was al van gisteraand af dat ek vandag absoluut net gaan rus en beter word. So hou ek myself besig met dinge wat in die besigheidswereld as absolute snert aangesien sal word, maar wat my siel goed doen. Ek speel, teken, surf soos ‘n gouemedalje-mededinger op die web. Klik op skakels, lees en leer. Droom. Ek is dankbaar vir hierdie oomblik, vir hierdie Maandag.

Wanneer jy hoes terwyl jy die glas skuifdeur oopmaak en die hele buurt se honne begin vir jou blaf.
LollaPenaries
Ek probeer nog aanleer hoe om net te “wees”. Hoe om te ontspan, om net asem te haal. Dis ‘n gesukkel. Vandat ek einde-Maart by my ou werkgewer klaargemaak het is ek oral aan die krap om my “behoort-plekkie” te kry. En dit terwyl ek myself (en dies naaste aan my) belowe het dat ek vir ‘n rukkie net gaan wees. Ek besluit nog self hoe suksesvol ek is, met hierdie net wees besigheid. Dis asof ek myself jaag, asof daar altyd iets is om aan myself en die wereld te bewys.
Vandag is ek dankbaar vir my humorsin. Veral omdat ek so ‘n ekstra super-sensitiewe dramavraat is (ek sê dit tong-in-die-kies) is. Dankbaar ek kan vir myself lag. En vir die lewe. Veral vir die lewe. En vir mense. Wie wil dan nou (en ek gebruik hier ‘n hartsvriendin en blogmaat se gesegde) met ‘n permanente drol in jou hart rondloop? Huh?

Ek lyk oes. Kan deurgaan vir ‘n vêrlangse verwantskap van die Uniondale spook. My groot, kenmerkende neus is rooier as gewoonlik. Vandag het ek ‘n NEUS, nie net ‘n neus nie. Rou geblaas. Pure ek. ‘n Kussing-piramide agter my rug gepak (ek slaap snags penregop sodat ek kan asem kry en nie in al die gogga-gevulde-voggies versuie nie). Het ek al genoem hoe erg dankbaar ek vandag is vir my huis, my kamer, my bed, warm komberse, kussings en al die ontelbare blessings wat ek uit Die Groot Hand ontvang.
Dis dalk juis omdat ek ekstra vaal en verwaarloos lyk en voel, dat ek vanoggend met my siek lyf en al ‘n guur in my gaai het. Ek is lus (heelemal buite karakter) om op te dress. Die wat my ken ken my tipe opdress. Ek is nie rerig die opdress-tipe nie. Vanoggend lus ek grimering, mooi aantrek met ‘n paar parmantige bootse. Dalk ‘n paar los krulle in my (dan, hopelik, skoongewaste, koorslose hare). So dis deel van my gesondwordplan – sodra ek behoorlik op die been is gaan die tweezer nader gehark word, my grimering bietjie gesorteer en ingespan word en ek gaan myself optooi. Lolla-styl natuurlik. Aangesien dit nie gereeld gebeur nie (ek is maar ‘n gemaklike hippie-tipe, effens slonserige nes-ek-is low maintenance meisie) sal ek vir julle ‘n fototjie of twee hier plaas. Maar vir nou (danksy Snapchat) ….. …..

En saam met die ander (klomp) dankbaarhede, is ek ook dankbaar vir hierdie blog. En vir elkeen wat hier saam met my gesels. Veral vir die wat my omarm en welkom laat voel. Dis so al asof hierdie blogspasie ‘n stukkie “ek hoort hier” plekkie is.

Vragie: Julle, wat maak mens vir aandete vir twee wanneer mens “af” is?
Laat ek groet. My hande vries en ek dink dis tyd vir ‘n koppie tee. En dan slaap. Helende, genesende slaap. Liefde en Lolla-groete vir eers…….

















So rukkie terug skryf ek oor my twee sussies. Een so agt haar ouer as ek (middelsus) en die ander so bietjie meer as twee jaar jonger. En dis vandag juis hierdie einste jonger sus aka Kleinsus, Giz, Anapat, wat verjaar. Kort op my hakke nader sy ook nou die groot VYFTIG! So hier, skryf ek dan vandag ‘n storie oor Kleinsus.

Gizmo is ‘n ystervrou. Ek sê nie sommer net so nie. Nie net is sy staalsterk van inbors nie, maar sy kan kil wees, soos ‘n stuk yster wat jy onder ‘n hoop sneeu uitgetrek het. Ferm. As jy die dag aan haar “verkeerde kant” te staan kom sal jy dit wéét. Sy kan met woorde ‘n sweepslag oor jou afvuur wat jou vir minute, ure of selfs dae kan laat stuier. Toe Gizzie jonger was was ek met tye half bang vir haar. Ek, die sussie wat eerder vlug as veg – die propperse Waterdraer. En as jy in ‘n vertrek is waar iemand anders die ontvanger van haar ysige mening is en jy is die toeskouer, sal die kleinste haartjies in jou nek, ore en neus sommer vanself op aandag staan. Dis dán wanneer jy die atmosfeer met die spreekwoordelike mes kan sny, en dit sonder ‘n mes …….. (Let wel: die kleinbrilletjie foto hier bo hou geen verband of verwysing na, kom ons sê, enigiemand spesifieks nie, soos dalk ‘n mmmmhhhhh dikt…… – julle weet wat ek bedoel.)

In ons jonger dae was Anapat – so oulik soos sy was – soms genadeloos en ekke dalk soms effe slapruggraat. Kleinsus sou nooit weghardloop vir ‘n nodige baklei nie. Sy sou selfs op ‘n stadium die bakleie loop haal. En nog nooit was sy juis een vir verloor nie. Sy is die ene in ons familielyn wat na hartelus mag sing: Anything you can do I can do better, I can do anything better than you….. tralalalieeee. Uitblinker atleet. ‘n Natuurlike leier. Akademiese en sportprestasies, almal welverdiend. Maar ja, kort van draad beslis. Ons twee was soos olie en vuur toe ons jonger was. Al wil ek graag onthou dat ons maats was en mekaar soms roekeloos opgepas het en trots was op mekaar, onthou ek vele stywe, “jou ou koei” oomblikke. Maande en eenmaal selfs ‘n jaar (as ek dit nie mis het nie) waar ons nie met mekaar gepraat het nie. Daar was selfs ‘n keer of wat bolle gerol ……

Maar soos met alle goeie dinge het die jare ook ons verhouding sterker gemaak. Ek reken nogal ons mag selfs aanspraak maak op so ‘n titseltjie wysheid tussen die twee van ons. Want op ‘n dag, besef ek, hierdie is nie net bloed van my bloed nie, hierdie is een van my heel beste vriendinne. Nou kan ons dinge uitgesels. Ek het nie ‘n groot liefde vir telefoonpraat nie, maar ek en Kleinsus vang onsself al meer gereeld dat ons amper ‘n uur of meer babbel. En wat ‘n pure lekkerte en blessing is video-chats nie. Al sien ons mekaar in persoon net dan en wan, is ons daagliks deel van mekaar se lewens. Met die ouderdom saam eindig meeste van ons baie lang aanlyn gesprekke met iets soos… “ons het wraggies weer amper ‘n uur gepraat – dit was nou lekker – ek wou jou nog van ‘xxxxxxxxxxx’ vertel maar as ek nie nou hol nie pieps ek in my broek”.



Kleinsus Giz is ‘n baie trotse ma van twee prag jong manne (wat ook al half lank in die tand raak). Sy sal alles gee vir haar seuns en net soos wat sy nie een is om kompromieë aan te gaan as dit by haar geliefdes kom nie, is sy net so ‘n toegewyde skoonma vir twee pragtige skoondogters. Oor ‘n paar maande word Ouma Giz haar eerste kleinkind ryker, saam met Oupa Herms. My sus glinster van geluk en uitsien, en ek weet sonder enige twyfel sy sal ‘n beste-este Ouma wees vir hierdie bondeltjie liefde en ook ander kleinkinders.
Nou een ding wat ek van myself weet, is dat ek nie ‘n kleinbietjies mens is nie. Ek is oordadig. ‘n “Te” mens. En al doen ons twee sussies dinge baie verskillend, is die sussie van my ook nie een om net effentjies te doen as sy doen nie. Sy kan brei en mooi goete maak – beslis kreatief, soos Ma was. En sonder om op enige tone trap, net ‘n eerlike opinie (dalk effens subjektief maar waarder as waar) – jy gaan min mense kry wat haar tipe gehalte werk doen, oor en oor en oor.













Toe Gizzie my nou-die-dag antwoord oor hoe dit by die dok gegaan het, met ‘n “ons praat nie nou nie” en ek videocall en aan die ander kant is my kleinsus se gesig vol skrik en bang en seer en sy ugly-cry en ek unglier-cry en ons praat so tussen die snot en die trane deur totdat ons altwee half uitgehuil maar rustig groet, het ek net weer besef hoe ‘n absolute sterk konneksie daar tussen ons twee is. Sy was daar in van my donkerste, swaarste tye. En ek in hare. Dikwels plan gemaak om by mekaar uit te kom. Sien mekaar vir lang rukke nie. Baie lang rukke soms. Maar hoor gereeld van mekaar. Ons is oud genoeg om te weet, ek kan nie haar pakkie vir haar dra nie, maar ek kan tog help waar ek kan. Terwyl ons mekaar die spasie gee om ons eie lewens so goed ons kan te leef, besef ons ook dat al maak dis soms hoe seer, ons kan dit nie vir mekaar leef nie.

Vandag skryf ek hierdie spesiaal vir jou – die wereld moet hoor hoe lief ek jou het. Hoe trots ek op jou is. Hoe baie jy my inspireer. Ek hou jou dop en sien jou klein oorwinnings en suksesse en dit laat my tone omkrul van lekkerkry. En, in daai oomblikke wanneer dinge donker en swaar raak, sal ek saam met jou sit en jy saam met my – in stilte, of nie. Nes dit nodig is. Ons dna is nie al wat ons vir ewig aanmekaar bind nie. Die feit dat ons twee eintlik tweelingsiele is, dat ons beste vriendinne is, en dat ons vir mekaar lief is ten spyte van en juis oor ons verskille en foute en flaters, beteken ons is ‘n span, vir altyd.
Ek vier JOU vandag Gizmo.
Ek wens jou baie suksesse en avonture vir die dae wat voorle.
Dont stop dreaming.
Lief vir jou van nou tot in ewigheid.
Sien jou by die boom.

Life is tuff, BUT we are tufferer.
Lollasegoete






Lolla-groete
#Wordless-Wednesday #wordlesswednesday #photochallenge #photos #lollasekiekies #sunflower #nature








Natuurlik gaan my blog (lees MY blog) dikwels staaltjies en stories en feite van my lewe vertel. Dis immers wat ek doen, as ‘n skrywer en storieverteller. En watter onderwerp verstaan ekself enigsins beter as “Ek”? Dis vir my die grootste lekkerte en ook eer om te skryf en vertel vir die wat graag my storie lees en luister. Ek is inderdaad dankbaar vir elkeen wat ‘n bietjie kosbare tyd hier by my spandeer.
Al is ons as mense so dieselfde as wat ons verskillend is, maak vele veranderlikes soos omstandighede, eie ervarings, oomblikke, persepsies, sosialisering, opvoeding, kanse en keuses en nog vele meer ons elkeen se verhaal uniek.
In ‘n wêreld waar soek-engins en biljoene aanlyn verwysings vir ons amper enige ding kan leer, met ons slimfone wat van elkeen ‘n rekenmeester, ‘n skrywer, ‘n fotograaf, ‘n funksiebeplanner, tuisteskepper, uitvoerende beampte ensovoorts maak raak mens maklik weg in ‘n wereld waar inligting oorvloediger is as menslike waardes (reken ek). Om te oorleef moet jy jou filtreervaardigheid opskerp en ferm grense stel van wat jy inneem en wat nie.
So om en by ag-en-dertig dae terug vier ek my 50ste verjaarsdag. Soos van julle weet, was daar ‘n lekker kuier gereel propvol kleur en karakters. Dit was ‘n geseende dag. Maar hier ampertjies ‘n maand-en-‘n-half later het ek nog nie eers almal bedank wat ek graag sou wou nie. Daar is soveel wat ek wou vertel. Fotos wat nie gedeel is nie. Die “partytjie” boks staan nog net so in die kuier-kamer. Die vrolike silwer bunting hang nog net daar waar ons dit opgehang het en die helium ballonne staan nog net daar waar hulle gestaan het (eintlik hang hulle). Pap en nie meer so vrolik nie.
Vir ‘n oorsensitiewe siel, ‘n empaat wat absoluut ten volle bewus is van elke vibrasie om my, is die lewe soms so effentjies meer intens. En intens het ‘n prys van sy eie. Maar, ek betaal met graagte want vir voorgee en sielstierlantyntjies het ek nie lus nie. Ek deel graag net so paar dingetjies hier. Erens gaan ek die chaos en harwar om en in my in ‘n feetjienet gevang kry maar vir nou is daar ‘n bataljon rooimiere in my kop.
* Ek is kranklik. Vir lank-jare al raak ek gereeld siek met brongitus. Dit blyk ‘n familieding te wees. Asma. Verlede week was ek plat. Seer en goor. En doodmoeg. Ek begin beter voel. Daar is altyd hoop. Mense is wreed. Eng. Slim. Feit is: daar is niks soos ‘n recurring uitdaging wat ander se ware kleure wys nie, en veral ook, hoe eensaam eensaamheid werklik voel nie.
* Stres is ‘n bliksem. Dis ‘n cliche ne: stres maak dood!? Wanneer is te laat dan te laat?
* Ek het bedank. Alweer. Lewenslange werkgewer waar ek al 3 keer vantevore oor die laaste drie dekades bedank het en uiteindelik weer teruggekeer het. Maart 2022 is my kennismaand. Die toekoms is onseker maar vol hoop. Ek hou julle hier op hoogte.
Daar is so baie dinge wat ek nie weet nie.
As ons ooit maatemmertjies gekry het om te help met gesonde balans, het ek myne verseker al laaaaankal verloor.
Soms oortuig ek myself dat ek eintlik ‘n pyn-in-die-gat is met al my ooranalisering en die rooimierbrigade wat nooit slaap nie. Maar dan onthou ek dat ek ook oulik is en nie heelemal onnooslik nie en dat daar vir my ook, erens, ‘n plekkie onder die son is.

Lolla-groete

Wanneer ‘n mens versuie
Nie in water of sand nie, maar in
die lewe
Dan wonder jy soms watse lifejacket
jy vandag moet aantrek
of erger nog, jy het alweer vergeet waar jy jou
ekstralarge voosgebruikte opgepatchde lifejacket laaste neergesit het
Nie eers jou ingeboude tubey gaan jou kop bo water hou nie
Dis net jou twee neusgaaie wat so skrams bo die wille golwe uitsteek
en nou en dan oorstroom die lewe in daai gaaie in en jy hoes en proes
en verstik-stik snak totdat jou oë traan en jy voel hoe jou meer private
liggaamsfunksies begin lek en oorloop
dan gryp die walms van failure en selfbejammering jou en jy raak
woes ge-irri met jouself want eintlik moet jy van beter weet
En die groot moeg kom sit langs die groot donker in jou kop, in jou lyf,
in jou pleister-gelapte hart en vir ‘n rukkie is dit al
net sit
en sit
en peins en sit
en as jy weer wakker skrik voel jy die lewe het nou heelemal deur die gaaie gestroom
tot waar dit in jou gorrel afvloei en by jou ore uitspoel en jy besef maar
dis eintlik maar wat dit is nê
Ons lewe nie vir mahala nie ons moet swem
Want die lewe is nie vir versuip nie maar vir swem
Met sterk hale en wanneer jy moeg raak dan doggie-paddle jy of jy draai jou
lyf rugkant na onder sodat jy vir ‘n rukkie (of sommer ‘n lang ruk) net float
en jy dobber die kant toe en daai kant toe, terwyl jy opkyk boontoe met die stilte
in jou ore en gemoed en jy voel die genadeson op jou dryflyf totdat jy saam met die
hooggety op ‘n stukkie grasgroen eiland propvol soet vrugte en vars lug
uitspoel en terwyl jy dankbaar is vir Newton se gravitasiekonstante fokus jy
net op hierdie oomblik en suig diep teue vars lig en hoop in jou kop en jou longe in
en jy lag en jubel oor jou sukses en oorlewing en vir ‘n wyle is jy dié
koningin op jou eie stukkie eiland en jy
dans en sing en giggel en gil en droom
totdat die volgende gety aan jou tone kom lek…lek en jy weet:
swem gaan ek swem!