
So rukkie terug skryf ek oor my twee sussies. Een so agt haar ouer as ek (middelsus) en die ander so bietjie meer as twee jaar jonger. En dis vandag juis hierdie einste jonger sus aka Kleinsus, Giz, Anapat, wat verjaar. Kort op my hakke nader sy ook nou die groot VYFTIG! So hier, skryf ek dan vandag ‘n storie oor Kleinsus.

Gizmo is ‘n ystervrou. Ek sê nie sommer net so nie. Nie net is sy staalsterk van inbors nie, maar sy kan kil wees, soos ‘n stuk yster wat jy onder ‘n hoop sneeu uitgetrek het. Ferm. As jy die dag aan haar “verkeerde kant” te staan kom sal jy dit wéét. Sy kan met woorde ‘n sweepslag oor jou afvuur wat jou vir minute, ure of selfs dae kan laat stuier. Toe Gizzie jonger was was ek met tye half bang vir haar. Ek, die sussie wat eerder vlug as veg – die propperse Waterdraer. En as jy in ‘n vertrek is waar iemand anders die ontvanger van haar ysige mening is en jy is die toeskouer, sal die kleinste haartjies in jou nek, ore en neus sommer vanself op aandag staan. Dis dán wanneer jy die atmosfeer met die spreekwoordelike mes kan sny, en dit sonder ‘n mes …….. (Let wel: die kleinbrilletjie foto hier bo hou geen verband of verwysing na, kom ons sê, enigiemand spesifieks nie, soos dalk ‘n mmmmhhhhh dikt…… – julle weet wat ek bedoel.)

In ons jonger dae was Anapat – so oulik soos sy was – soms genadeloos en ekke dalk soms effe slapruggraat. Kleinsus sou nooit weghardloop vir ‘n nodige baklei nie. Sy sou selfs op ‘n stadium die bakleie loop haal. En nog nooit was sy juis een vir verloor nie. Sy is die ene in ons familielyn wat na hartelus mag sing: Anything you can do I can do better, I can do anything better than you….. tralalalieeee. Uitblinker atleet. ‘n Natuurlike leier. Akademiese en sportprestasies, almal welverdiend. Maar ja, kort van draad beslis. Ons twee was soos olie en vuur toe ons jonger was. Al wil ek graag onthou dat ons maats was en mekaar soms roekeloos opgepas het en trots was op mekaar, onthou ek vele stywe, “jou ou koei” oomblikke. Maande en eenmaal selfs ‘n jaar (as ek dit nie mis het nie) waar ons nie met mekaar gepraat het nie. Daar was selfs ‘n keer of wat bolle gerol ……

Maar soos met alle goeie dinge het die jare ook ons verhouding sterker gemaak. Ek reken nogal ons mag selfs aanspraak maak op so ‘n titseltjie wysheid tussen die twee van ons. Want op ‘n dag, besef ek, hierdie is nie net bloed van my bloed nie, hierdie is een van my heel beste vriendinne. Nou kan ons dinge uitgesels. Ek het nie ‘n groot liefde vir telefoonpraat nie, maar ek en Kleinsus vang onsself al meer gereeld dat ons amper ‘n uur of meer babbel. En wat ‘n pure lekkerte en blessing is video-chats nie. Al sien ons mekaar in persoon net dan en wan, is ons daagliks deel van mekaar se lewens. Met die ouderdom saam eindig meeste van ons baie lang aanlyn gesprekke met iets soos… “ons het wraggies weer amper ‘n uur gepraat – dit was nou lekker – ek wou jou nog van ‘xxxxxxxxxxx’ vertel maar as ek nie nou hol nie pieps ek in my broek”.



Kleinsus Giz is ‘n baie trotse ma van twee prag jong manne (wat ook al half lank in die tand raak). Sy sal alles gee vir haar seuns en net soos wat sy nie een is om kompromieë aan te gaan as dit by haar geliefdes kom nie, is sy net so ‘n toegewyde skoonma vir twee pragtige skoondogters. Oor ‘n paar maande word Ouma Giz haar eerste kleinkind ryker, saam met Oupa Herms. My sus glinster van geluk en uitsien, en ek weet sonder enige twyfel sy sal ‘n beste-este Ouma wees vir hierdie bondeltjie liefde en ook ander kleinkinders.
Nou een ding wat ek van myself weet, is dat ek nie ‘n kleinbietjies mens is nie. Ek is oordadig. ‘n “Te” mens. En al doen ons twee sussies dinge baie verskillend, is die sussie van my ook nie een om net effentjies te doen as sy doen nie. Sy kan brei en mooi goete maak – beslis kreatief, soos Ma was. En sonder om op enige tone trap, net ‘n eerlike opinie (dalk effens subjektief maar waarder as waar) – jy gaan min mense kry wat haar tipe gehalte werk doen, oor en oor en oor.










– Pinks, Giz, Lolla –

Lin middelkind – Ous, die Ousus – Anapat Kleinsus


Toe Gizzie my nou-die-dag antwoord oor hoe dit by die dok gegaan het, met ‘n “ons praat nie nou nie” en ek videocall en aan die ander kant is my kleinsus se gesig vol skrik en bang en seer en sy ugly-cry en ek unglier-cry en ons praat so tussen die snot en die trane deur totdat ons altwee half uitgehuil maar rustig groet, het ek net weer besef hoe ‘n absolute sterk konneksie daar tussen ons twee is. Sy was daar in van my donkerste, swaarste tye. En ek in hare. Dikwels plan gemaak om by mekaar uit te kom. Sien mekaar vir lang rukke nie. Baie lang rukke soms. Maar hoor gereeld van mekaar. Ons is oud genoeg om te weet, ek kan nie haar pakkie vir haar dra nie, maar ek kan tog help waar ek kan. Terwyl ons mekaar die spasie gee om ons eie lewens so goed ons kan te leef, besef ons ook dat al maak dis soms hoe seer, ons kan dit nie vir mekaar leef nie.

Vandag skryf ek hierdie spesiaal vir jou – die wereld moet hoor hoe lief ek jou het. Hoe trots ek op jou is. Hoe baie jy my inspireer. Ek hou jou dop en sien jou klein oorwinnings en suksesse en dit laat my tone omkrul van lekkerkry. En, in daai oomblikke wanneer dinge donker en swaar raak, sal ek saam met jou sit en jy saam met my – in stilte, of nie. Nes dit nodig is. Ons dna is nie al wat ons vir ewig aanmekaar bind nie. Die feit dat ons twee eintlik tweelingsiele is, dat ons beste vriendinne is, en dat ons vir mekaar lief is ten spyte van en juis oor ons verskille en foute en flaters, beteken ons is ‘n span, vir altyd.
Ek vier JOU vandag Gizmo.
Ek wens jou baie suksesse en avonture vir die dae wat voorle.
Dont stop dreaming.
Lief vir jou van nou tot in ewigheid.
Sien jou by die boom.

Dis mooi Lolla 🌸 … ek wens ek het ‘n suster gehad (my ouer broer is bestes), maar ‘n sussie sou ‘n lekker klankbord in my jonger jare gewees het!
Jy skryf so mooi oor haar – eerlik en sonder pretensie – soos jy vir haar lief is, is ek seker sy is net so trots op jou ook. Geluk Kleinsus, alias Anapat … mag jy uit jou skoene geseen word!
LikeLiked by 2 people
Baie dankie vir die mooi saamgesels. Emmers vol Lolla liefde.
LikeLiked by 1 person
Raak, eg en opreg geskryf! So gebless om julle twee my hartsmaats te kan noem.
LikeLiked by 1 person
Dankie maat. Ja inderdaad. Langpadmaats.
LikeLiked by 1 person
Dis nou n aangename kennis en lekker lees stuk hierdie. Geluk met kleinsus se verjaarsdag en nul baie geseend om mekaar te he.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie. Bly jy het lekker gelees. Ek sê vir sus. Mooi aand.
LikeLiked by 1 person
Eks middelste van drie dogters en vrederegter tussen oudste en jongste.
LikeLiked by 2 people
Ek, as enigste kind, kan net vir julle 3 sê: julle is so geseënd om mekaar te kan hê. Dis eonderlik om te weet: julle is daar bir mekaa, deur dik en dun
LikeLiked by 1 person
Verseker Seegogga. Ek is baie dankbaar.
LikeLike