Natuurlik gaan my blog (lees MY blog) dikwels staaltjies en stories en feite van my lewe vertel. Dis immers wat ek doen, as ‘n skrywer en storieverteller. En watter onderwerp verstaan ekself enigsins beter as “Ek”? Dis vir my die grootste lekkerte en ook eer om te skryf en vertel vir die wat graag my storie lees en luister. Ek is inderdaad dankbaar vir elkeen wat ‘n bietjie kosbare tyd hier by my spandeer.
Al is ons as mense so dieselfde as wat ons verskillend is, maak vele veranderlikes soos omstandighede, eie ervarings, oomblikke, persepsies, sosialisering, opvoeding, kanse en keuses en nog vele meer ons elkeen se verhaal uniek.
In ‘n wêreld waar soek-engins en biljoene aanlyn verwysings vir ons amper enige ding kan leer, met ons slimfone wat van elkeen ‘n rekenmeester, ‘n skrywer, ‘n fotograaf, ‘n funksiebeplanner, tuisteskepper, uitvoerende beampte ensovoorts maak raak mens maklik weg in ‘n wereld waar inligting oorvloediger is as menslike waardes (reken ek). Om te oorleef moet jy jou filtreervaardigheid opskerp en ferm grense stel van wat jy inneem en wat nie.
So om en by ag-en-dertig dae terug vier ek my 50ste verjaarsdag. Soos van julle weet, was daar ‘n lekker kuier gereel propvol kleur en karakters. Dit was ‘n geseende dag. Maar hier ampertjies ‘n maand-en-‘n-half later het ek nog nie eers almal bedank wat ek graag sou wou nie. Daar is soveel wat ek wou vertel. Fotos wat nie gedeel is nie. Die “partytjie” boks staan nog net so in die kuier-kamer. Die vrolike silwer bunting hang nog net daar waar ons dit opgehang het en die helium ballonne staan nog net daar waar hulle gestaan het (eintlik hang hulle). Pap en nie meer so vrolik nie.
Vir ‘n oorsensitiewe siel, ‘n empaat wat absoluut ten volle bewus is van elke vibrasie om my, is die lewe soms so effentjies meer intens. En intens het ‘n prys van sy eie. Maar, ek betaal met graagte want vir voorgee en sielstierlantyntjies het ek nie lus nie. Ek deel graag net so paar dingetjies hier. Erens gaan ek die chaos en harwar om en in my in ‘n feetjienet gevang kry maar vir nou is daar ‘n bataljon rooimiere in my kop.
* Ek is kranklik. Vir lank-jare al raak ek gereeld siek met brongitus. Dit blyk ‘n familieding te wees. Asma. Verlede week was ek plat. Seer en goor. En doodmoeg. Ek begin beter voel. Daar is altyd hoop. Mense is wreed. Eng. Slim. Feit is: daar is niks soos ‘n recurring uitdaging wat ander se ware kleure wys nie, en veral ook, hoe eensaam eensaamheid werklik voel nie.
* Stres is ‘n bliksem. Dis ‘n cliche ne: stres maak dood!? Wanneer is te laat dan te laat?
* Ek het bedank. Alweer. Lewenslange werkgewer waar ek al 3 keer vantevore oor die laaste drie dekades bedank het en uiteindelik weer teruggekeer het. Maart 2022 is my kennismaand. Die toekoms is onseker maar vol hoop. Ek hou julle hier op hoogte.
Daar is so baie dinge wat ek nie weet nie.
As ons ooit maatemmertjies gekry het om te help met gesonde balans, het ek myne verseker al laaaaankal verloor.
Soms oortuig ek myself dat ek eintlik ‘n pyn-in-die-gat is met al my ooranalisering en die rooimierbrigade wat nooit slaap nie. Maar dan onthou ek dat ek ook oulik is en nie heelemal onnooslik nie en dat daar vir my ook, erens, ‘n plekkie onder die son is.

Lolla-groete
Daar is tog maar vir n ieder en n elk n plekkie iewers in die son. Iedereen is uniek op sy eie, geite en al. Jy is kosbaar en die lewe is die moeite werd. Ek voel vir jou en met jou.
LikeLiked by 2 people
Baie dankie vir jou mooi boodskap xx
LikeLiked by 1 person
Geniet jou plekkie in die son. 😁 Sterkte met die asma.
LikeLiked by 2 people
Mwah xx
LikeLiked by 1 person