Getye

Photo by Deepu B Iyer on Pexels.com


Wanneer ‘n mens versuie

Nie in water of sand nie, maar in

 die lewe

Dan wonder jy soms watse lifejacket

jy vandag moet aantrek

of erger nog, jy het alweer vergeet waar jy jou

ekstralarge voosgebruikte opgepatchde lifejacket laaste neergesit het


Nie eers jou ingeboude tubey gaan jou kop bo water hou nie

Dis net jou twee neusgaaie wat so skrams bo die wille golwe uitsteek

en nou en dan oorstroom die lewe in daai gaaie in en jy hoes en proes

en verstik-stik snak totdat jou oë traan en jy voel hoe jou meer private

liggaamsfunksies begin lek en oorloop

dan gryp die walms van failure en selfbejammering jou en jy raak

woes ge-irri met jouself want eintlik moet jy van beter weet


En die groot moeg kom sit langs die groot donker in jou kop, in jou lyf,

in jou pleister-gelapte hart en vir ‘n rukkie is dit al

net sit

en sit

en peins en sit

en as jy weer wakker skrik voel jy die lewe het nou heelemal deur die gaaie gestroom

tot waar dit in jou gorrel afvloei en by jou ore uitspoel en jy besef maar

dis eintlik maar wat dit is nê

Ons lewe nie vir mahala nie ons moet swem

Want die lewe is nie vir versuip nie maar vir swem


Met sterk hale en wanneer jy moeg raak dan doggie-paddle jy of jy draai jou

lyf rugkant na onder sodat jy vir ‘n rukkie (of sommer ‘n lang ruk) net float

en jy dobber die kant toe en daai kant toe, terwyl jy opkyk boontoe met die stilte

in jou ore en gemoed en jy voel die genadeson op jou dryflyf totdat jy saam met die

hooggety op ‘n stukkie grasgroen eiland propvol soet vrugte en vars lug

uitspoel en terwyl jy dankbaar is vir Newton se gravitasiekonstante fokus jy

net op hierdie oomblik en suig diep teue vars lig en hoop in jou kop en jou longe in

en jy lag en jubel oor jou sukses en oorlewing en vir ‘n wyle is jy dié

koningin op jou eie stukkie eiland en jy

dans en sing en giggel en gil en droom


totdat die volgende gety aan jou tone kom lek…lek en jy weet:

swem gaan ek swem!

4 thoughts on “Getye”

  1. Dit is pragtig gestel Lolla! Ja, soms dobber ons maar net (eintlik haal mens net asem, dis al) … maar dan, heelwat later, kyk jy terug en dink “Genade, ek het wragtag deur daardie sterk stroom gekom”. En dan weet jy, ons is gemaak om te oorleef!

    Liked by 2 people

Comments are closed.