‘n Besige Week en ‘n bloglose title… of is dit n titellose blog ……

My hart is op Rebusfontein, maar my lyf en kop is solied net hier op die Ooste van Suid Afrika se kleinste en mees oorbevolkte provinsie (amper sê ek planeet).

En ek is besig, soos ‘n werker hommelby. Tussen TEFL leerdery (wat eerlikwaar swaar trek), my klein Avon en Justine besighede en nou ook ‘n Tupper verkoopsdame, maak ek planne en woeker ek om soos derduisende ander SA’ners ietsie wat kan werk aanlyn aan die gang te kry.

Intussen wag daai boek. Ek moet klaar skryf aan my eie verhaal. My groot lewensdroom, om ‘n eie boek te publiseer, is steeds heel agter in die lang tou van goedjies om te doen.

Dié Koningin sterf, klaarblyklik rustig met haar familie by haar en my eie hart ruk effens, asof ek ‘n naby iemand verloor het. Rus sag Koningin Elizabeth II. Wat ‘n vrou!

Wereldbekende OR Tambo internasionale lughawe hier op my voorstoep sorg vir nuus hoofopskrifte toe ‘n brand op aangrensende eiendom deur ‘n kwaai Augustuswind aangehits word. Van ons kantore in Kemptonpark sien ons die enorme rook wolke. Mense gaan staan stil en bespreek en bewonder die skrikwekkende skouspel. So rukkie later ry ons Boksburg toe om ‘n voertuig part op te laai en ons ry op die soom van die brand en die lughawe verby. Groot vlamme hardloop neffens ‘n aanloopbaan bult-af. Die groot, ou bome daar naby kreun en klap soos die vlamme kloue inslaan. Aan die anderkant van die aanloopbaan is n span brandbestryders hard besig om dinge onder beheer te probeer kry.

Ons gaan laai die part op. Oppad terug wonder ons hoe werk die vlugte, en elke nou en dan sien ons nog n vliegtuig opstyg. Weer terug langs die lughawe stop ons vir ‘n oomblik. My mond hang oop. Ek het al brande gesien, maar nog niks soos die nie. Droeë wintergras brand vinnig en rats. Die volgende oomblik hoor ons die bekende naby klank van n engin en kom een van die groot vliegtuie deur die rookwalms te voorskyn. Vlugte gaan voort. In die volgende paar minute sien ons minutes nog 5 vliegtuie opstyg.

Die brand is wel later onder beheer gebring. Die rook het nog vir ure daarna die Oosrand se alreeds-besoedelde lug donker ingekleur. Maar, ten spyte van heelwat skade, het harde werk en sweet die dag, en die lughawe gered.

Baie mense sal wasrskynlik vies wees omdat ek en Carmen die voëltjies by die werk voer. En ja ek weet, daar kan baie hieroor gesê word. Beide kante toe. Ons doen dit met die beste bedoellings en ons sowel as die groot verskeidenheid voëls wat kom saam eet geniet dit baie.

Die Wisteria staan in volblom. Wert iemand hier dalk hoe maak ek steggies? Toortsie? VirgoC? Oral flirt daisies met die oog. My verjaarsdag suurlemoen boom blom en daar is sparsely kleur oral waar mens kyk.

Hier is ‘n paar kiekies van my laaste week of twee.

Gisteraand se maan
Never say never !

Vrydag Mydag – Vrydag jou lekke ding ♥️

Gister kry ek ‘n lekker Watsop boodskappie uit Parys nogal, van ‘n hartsmaat. Ons gesels deesdae min maar ons sielskonneksie is altyd daar. Dit was so lekker om van haar te hoor. Dis al hierdie klein oomblikkies van vreugde wat die ou drollerige Lewe die moeite werd maak.

Later dieselfde dag plaas ‘n oudkollege ‘n paar lawwe videos op Bakkiesblad van groepies wat een-of-ander dansuitdaging doen. Dis oulik en catchy en weer glimlag ek lekker. Laat my aan die ‘ou dae’ dink toe ons destydse HRIS groepie dikwels pret dinge opgedink en uitgevoer het. Pannekoek bak in die kantoor, selfs ‘n potjiekos gemaak. Resies buite gehardloop. In die sneeu gespeel. So nou en dan n skelm shooterki uit ons geheime stash agter in die onderste kombuiskasrak gedrink. Vreemd aangetrek ….. ag daar is teveel om op te noem. Dit was lekker tye.

My aanlynkopie yogamat is afgelewer. Ek weet nog nie lekker hoe ek met die opgefoeterde regterknie gaan oefen nie, maar ek sal moet planmaak. So saam met die mat is daar nog pakkies; hekel steekmerkers, voorraad vir oorbelle maak (hierdie pakkie is vir my kreatiewe kleinsus) en laastens, ‘n groter boks met my nuwe sonhoed. Sedert laasjaar reageer my liggaam vreemd op sonlig. Veral my gesig – 5 minute in die son en die regterkant begin trek en hang en ek kry die aardigste seer uitslag. Hoed-dra is dus my voorland. Ek deel later ‘n foto van my hoed.

Dit was ‘n goeie, lekker Vrydag. Ek en Ingelsman is na werk Hooters toe vir ‘n paar drankies. Verfrissend heerlik.

Lekker Saterdag vir almal. Lolla se Naweekgroete. ♡♡♡

Elke klein stukkie SKRYF is ‘n oorwinning

So paar dae terug skryf Positief oor o.a. haar Tikkel Tokkol pilletjies. Oor hoe sy vir ‘n maand lank niks geblog het nie en oor die verdrink-gevoelte. En ek kan relate.

My blogmaat verwys ook na my (Lolla) se Bubble. Eintlik het ek na ek haar inskrywing gelees het, ‘n hele paar idees om oor te skryf, met verwysing na Positief se skrywe. Maar my skryf sit steeds vas.

My voortdurende konsternasie is skryf-konstipasie.

So skep ek dus vanoggend, met squish-muis se hulp, hierdie prentjie met bemoedigende woorde
  • Mag ons skryf totdat ons skryfuurglas leegloop.
  • Mag daar wonderlike, bonsende impetus agter ons idees wees en mag Tyd nie ons planne insluk nie.
  • Mag jy woeker met jou gawes totdat jou tone vuisies trek van pure lekkerte.

Lolla-groete ♡

Lolla se Bubble


Wanneer mens op ‘n self-opgelegte tipe Sabbatical is, dis nou die soort sonder verwagtinge en vereistes, ‘n breek, ‘n asemskep. Dan maak mens tyd vir asemskep. Want asem skep nie homself nie. Asem is eintlik ‘n slinkse knaap. Jy dink jy gaap nog dan trek Asem al doer om die volgende hoek. Nes sit-en-staan niks gedoen kry nie, verg gesondword en heelword ook doelbewuste werk. En soms is niksdoen en rus harder werk as harde werk.

Photo by Pixabay on Pexels.com

Ek het hierdie jaar die vaardigheid ontdek om te “Bubble”. Verseker sal daar baie sinonieme vir my ge-Bubble-lary wees, maar so het ek die gedoente nou gedoop. Eers het ek gesukkel om te Bubble, maar ek raak al meer vernuftig hiermee. Dryf met my hart en my kop maar sonder my lyf (meestal) na plekke waar net ek kan uitkom. Waar die water helderder is en die lug skoner. Maar belangrikste van als, waar die geraas van hierdie wereld stilraak.

Natuurlik vereis Bubble ook ‘n goeie begrip en toepassing van balans. Want teveel Bubble kan beslis ook nie goed wees nie. Tog is ek tans heel gelukkig om te Bubble wanneer ek so goeddink. En dit, reken ek, is deel van my menswees-hier-op-aarde oorlewingsstrategie.




Bubble-groete

Nooit is ‘n lang tyd

Een van die groot lesse wat die lewe my deur my persoonlike ervaringe geleer het is dat mens rerig nooit nooit ooit moet nooit sê nie. So het die holrug never say never ‘n herhaalde tema in my lewenssiklus (nee, nie sirkus nie) geword. En ek sal aanhou met oortuiging afraai dat mens moet glo dat sekere goete nooit sal gebeur nie. Want Nooit en al sy voor- en nasate is langer as vir-ewig. Nooit is eintlik net ‘n gat vol niks en nêrens.

Nooit sal ek ooit weer
Sê nooit nie, want
Nooit het toe nooit gebeur nie
Nooit raak toe alte gereeld
'anything is possible' en kom haal 'n ingebore hooitie tooitiegeit uit my uit

Hierdie Afrikaanse meisiekind raak groot in ‘n redelike gewone Afrikaanse huisgesin. Waar daar boeretroos gedrink word, pap met botter en wors gebrekfis word, soggens en saans en voor etes gebid word en boks en rugby geluister en gekyk word. Sokker was nie regtig deel van my verwysingsraamwerk toe ek jonk en jonger was nie. Dié sport was vir my half volksvreemd, iets waarvan ek bewus was, maar amper soos mens bewus raak van praatjies oor Vreemde Vlieende Goeters (VVGs). En ek sou selfs so ver gaan om te sê “Nee wat, sokker is nie vir my nie. Ek ken in elk geval nie die reels nie. Uhuh, nee dankie dis nou een sport wat ek nooit sal volg nie.”

Ggghhh!!! So kom klop Nooit een dag so paar jaar terug aan my deur (ook nie die 1ste keer nie) en hy/sy het sommer net vir effek al die Nooit niggies en neefs saamgebring. Hulle lyk almal so half gekrok en mank, asof hulle die verloorders in ‘n hengse onderonsie was. Nooit kyk my van aangesig tot aangesig en fluister …. Deksels, niks hou ooit vir altyd nie ……

Toe ek die Ingelsman in 2019 ontmoet besef ek gou hierdie boorling van Newcastle Upon Tyne in die noorde van Ingelsmanland is nie ‘n rugbyman nie. Nee, hy is ‘n groot ondersteuner van football. Die Magpie’s. Aanvanklik sou ek nie saamkyk of kon saamgesels nie. Maar toe, op ‘n dag, kry ek myself saam gil vir die manne in swart en wit, en ek weet toe hoekom die Nooit-familie so defeated gelyk het.

Ek was heeltemal verkeerd om te glo, met oortuiging, dat sokker nooit as te nimmer ‘n plekkie in my lewe sou hê nie. Op my selfoon se tuisskerm is daar ‘n spasie waar nuus oor die Premier Liga (wat komende naweek afskop) deurgans opdateer. Ek kan redelik saamgesels, oor name soos Joelinton, Saint Maximin, Almiron en Bruno. Ek ken steeds nie die reels nie maar weet al wanneer om saam met my Ingelsman te juig (en wanneer om te swets).

Steeds verkyk ek myself aan sommige van die spelers wat dramaties teatraal neerval, rol en dan bly lê na die geringste kontak. Wanneer The Blaydon Races weergalm deur St James’ Park sing ek uit volle bors saam.

Sou ek dit ooit geglo het, toe ek nog geglo het dat nooit rerig nooit sou wees. Dat nooit soms die verpersoonliking is van onskuldige onkunde. Nooit, ek sou nie. Maar Nooit het vir Nooit, en vir my, verkeerd bewys, ne.

Aa went to Blaydon Races, 'twas on the ninth of Joon,
Eiteen hundred an' sixty-two, on a summer's afternoon;
Aa tyuk the 'bus frae Balmbra's,
an' she wis heavy laden,
Away we went 'lang Collingwood Street, that's on the road to Blaydon.

Oh! me lads, ye shud a' seen w'us gannin,
Passin' the folks along the road
just as they were stannin'.
Aal the lads and lasses there,
aal wi' smiling faces,
Gannin' along the Scotswood Road
to see the Blaydon Races.

... ...

Om op te som: nooit ooit weer sê ek ek sal nooit nie. Why-aye, man.

Ek het aanvanklik ‘n skakel hier ingesit na ‘n video van The Blaydon Races maar dit werk nie. Gaan loer gerus op YouTube en luister hierdie lekker folk-song.

Lolla Groete

Lolla se Huisie op Rebusfontein


Iewers in Suid-Afrika is daar ‘n denkbeeldige (‘wink-wink’) dorpie met die naam Rebusfontein. Die fabelagtigste plekkie vol kleur en all things weird and wonderful.

Hier woon die Goue Vroue. Nie permanent nie – Rebus is meer ‘n ontvlugtings- en avontuur dorpie, waar die diere in universele dieretaal kommunikeer. Hier kuier die Goue Vroue dat die biesies bewe, trane en lag word in oorvloed gedeel en soms is dit net stil. Hier is enigiemand welkom – enige tyd.

Die mooiste, fynste blommetjies in Lolla se Rebustuin
‘n Nagportret van die nuwe huisie op Rebus

Lolla voel geëerd om deel te wees van hierdie ongelooflike groepie vroue. Hulle het die nuweling warm omarm en welkom laat voel. Maar tog, al staan Lolla se huisie gereed vir die nuwe intrekker sal dit nog ‘n tydjie neem voor sy oor die drumpel huppel. Sien, die Goue Vroue is alweer midde-in ‘n avontuur. Almal besig om seker te maak Scrapy kan weer saam met die res hier op Rebus kom rustig raak.

As jy meer wil lees oor hierdie avontuur, gaan loer by:
https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

Photo by Somben Chea on Pexels.com


Lolla se huisie staan teen die berg se voet. Dis ‘n klein huisie met min goete in. Wel kleurvolle flaggies en baie helder liggies oral opgehang. Daar is ‘n houtdek langs die huis vanwaar jy in die helder rotspoelwater kan inspring en tot by ‘n groot waterval swem. Oral om die huisie pronk reusesonneblomme heel jaar, en daar is ‘n groot verskeidenheid bome. Lolla se gunsteling boom is die ene vol helder gekleurde bloeisels waaraan daar heel jaar spookasem en stokkielekkers groei. En die beste van alles (@Toortsie) is dat hierdie soet njummievrugte geen suiker bevat nie.

Photo by Taryn Elliott on Pexels.com

Wel, vir nou is dit eers genoeg van my Rebushuisie. Lolla is erens besig om voet-in-die-hoek te sit, oppad Kaap toe saam met die ander Goues.

Tot volgende keer
Lolla-se-Groete

More About Yesterday’s Wordless Wednesday Pictures

https://lollasegoete.com/2022/07/20/wordless-wednesday-20-july-2022/

Let me tell you a little bit more about yesterday’s Wordless Wednesday (a blog photo challenge I often take part in) photos.

The first photo of the four different colour handbags (Naamloos Platteland) on the tiny chairs in front of a lavender hedge was taken by myself at a local coffee shop this past Saturday. Me and three of my dearest friends met up for a long overdue coffee-&-cake morning and had some fun taking marketing pics of the bags as Marlene sells them. True and behold, the bags cought a few eyes. Time spent with friends is always a blessing.

Photos number 2 and 3 showed some very dark and heavy clouds rolling in to Kempton Park on Tuesday afternoon, bringing with it a significant drop in temperatures. Clouds – as many other natural phenomena – is a huge passion of mine. I am convinced that I must have hundreds of thousands of cloud pictures in my archives.

Photo 4 has been edited and filtered somewhat. It is a picture of a very large tree in the yard behind us, with only the slightest hint of the very bright pastel rainbow which decorated the icy cold morning skies behind it. The two pictures (5 & 6) which followed shows the same winter-clad tree with a meeting of birds (doves). I wonder if they were discussing ….. krrrr krrrr …. the ongoing electricity crisis.

The 7th photo showcases some of the tiny but beautiful flowers in my garden, planted from seed in summer. This is followed by a silhoutte photo of an ostrich captured at a local nature reserve this past Sunday. I personally love this picture. Followed by more tiny white flowers (picture filtered) and then sunlight through two trees and a gravel road.

Photo 11 as well as the last two photos in this specific collection were all taken in the same nature reserve mentioned earlier. This is one of my favourite places.

Kestrel power station on the East Rand of Johannesburg is shown against the backdrop of bright blue winter skies. Variety is the spice of life, and something different is welcome – don’t you think? These are followed by some seashells and another birdie in the same big tree.

Thank you so much for each and every one of you who loves, likes and comments on my photos. Till next time.

Vandag se Dinge …. so op ‘n Donderdag

Sommer net ‘n random voeltjie prentjie uit my argiewe


Vandag was ‘n goeie dag. Al het ek ekstra koud gekry en heel middag met ‘n verwarmer in my ‘kantoor’ gesit.

Ek het uiteindelik my grys en swart serp klaar gebrei. My breiwerk is voetstoots. Ten spyte van ‘n ma wat baie handig en vlytig was en twee sussies wat beide die gawe ge-erf het, kom brei en hekel met redelike moeite na my toe. Ek het seker maar net anders geleer. Bennie ons buurseun toe ek seker so 11 jaar oud was, was die enigste een wat my kon leer brei. Breinaalde sowel as hekelpenne word op my eie manier vasgehou. Die tempo waarteen ek dus enigiets klaarmaak verskil aansienlik van enige ander breisters of hakkers wat ek ken. So het ek destyds sewe (ja, 7!!) jaar lank aan ‘n kniekombersie gehekel.

Die chiropraktisyn-besoek eergister het goed afgeloop. Dis ‘n annerste affêre. Ek is nie juis klein en tingerig nie. Die behandeling waar my nek, skouers, rug tot in my boude bewerk word, laat my vuisies bal en oge toeknyp om die trane te keer. Maar ek het alle vertroue dat dit my gaan help. Vir nou mik ons om my stokstyf lyf vol knoppe net weer los genoeg en so pynloos as moontlik te kry. En dan vandaar – maintenance. Gister het ek seer en gekneus gevoel. Vandag is ek, ten spyte van my ligte strekoefeninge en spiere warm hou, stok-stok-styf. Soveel so dat ek hoe later die dag loop, met al meer moeite beweeg. (Ek klae nie, ek vertel net….) Soos sy sê, die skade is van so ‘n aard dat dit waarskynlik al meer my mobiliteit kan beinvloed. Die tekens is duidelik daar. Strekoefeninge so saam met ‘n paar ander volgehoue, daaglikse aanpassings gaan vir my soos asemhaal moet word. Use it, or loose it. Maar moet netnie teveel use nie, want dit maak weer ander dinge wakker en die bose kringloop spiraal net aan en aan en aan. Dit klink nou soos ‘n veralgemening en ek bedoel dit nie so nie, maar ek reken dikwels is diagnoses bloot gebaseer op dit wat in die oomblik voor die hand liggend is. So wonder ek nou al vir jare, maar nou ook die Chiro-dame saam met my, hoeveel van wat nou met my gebeur gewortel is in daardie raakry ongeluk waarin ek destyds op skool aan my regterkant deur die jagende kar getref is, deur die lig getrek het en hard met die aarde kennis gemaak het. Maar, die skade is gedoen, en die lyf werk tog nog verbasend goed (#dankbaar). As ek ‘n paar glasies Jagermeister drink so dan en wan kan ek selfs jippe skud en die flenterslyf hula hoop nog te lekker. Vanaand is ‘n warm bad met Engelse-sout en vroeg inkruip my voorland – heerlik. En vroeg Maandagoggend gaan ek terug vir my volgende behandeling.

Verder het ek vanoggend lekker wolle aanlyn aangekoop. Susanna se kopband moet, soos belowe, gehekel word. En ek het Eenheid 2 van my TEFL studies suksesvol afgehandel, gaan moet spoed optel. Aanlyn brosjures vir die twee immergewilde reekse wat ek onlangs weer begin verkoop het, is uitgestuur. Ek het vir ‘n ruk lekker in die son gesit vroeer. Van my voorneme om vandag slegs vrugte te eet het daar toe ongelukkig nie veel gekom nie …. die 3 bloubessies wat ek vanoggend gepeusel het was toe ook al vrugte vir die dag.

En vir nou is dit al. Groete hier van my kant af, tot volgende keer.