As dit blou blommetjies reen

Wanneer die Wisteria hier buite begin blom- gewoonlik so einde-Augustus – neurie my hart nuwe deuntjies.  Binne weke is die prieel vol in blom en die skouspel voel vir my feestelik. 

Bloureen 🪻

Die triomfanklike uitbarsting van pers-blou duur nie lank nie.  Dit kondig net pronkerig die einde van die winter aan, hang so bietjie rond en maak dan plek vir die mooiste groen blarewolk.

Wanneer ek so tussendeur die elkedag se roetine-goete loop asemskep, gaan staan ek graag met my voet en rug teen die muur onder die Wisteria.  So neem ek al vir weke lank fotos, van die eerste botsels aan die vaal takke af. En ek voel ‘n rym in my kop en are vorm.  Ek begin beplan hoe ek met fotos en woorde hierdie stukkie prag met jou kan deel.

Min-wetend dat juis daar reg langs die blouselblou drapering, boewe ‘n paar weke terug die heining oopforseer, net om ons een oggend vroeg in te wag, te oorrompel en met wapens teen ons koppe al ons goete te steel.  Sterker nog as die toksiese chemiese giftigheid van hierdie lieflingplant, is die vieslike verwaante astrantheid van mense.  So verloor ek toe al my eerste-bloeisel fotos. 

Ek was intussen weer daar onder die bloureen. En weer en weer.  Want die Lig oorwin altyd.  En omdat ons, in ‘n wêreld waar wetteloosheid seevier, moet vashou aan die goeie, dit wat mooi en eg is.

Ek was nou-nou weer daar onder die lowergroen blaarsambreel. Die keer saam met Izi.  Ons het die laaste blou giftige blommetjies besnuffel, gegiffel en met ligte harte die res van die middag aangepak.

En dis met pure lekkerte en baie hoop dat ek hierdie kiekies met jou deel.

LollaseBloureenGroete ♡

TOE WORD DAAR VIR ONS GESING

Oppad Suid, in Bloemfontein se rigting, doen ons aan by ‘n vulstasie om te ontvog en hervog.

🐦‍⬛🐦🐦‍⬛🐦🐦‍⬛🐦

Dis skemeroggend. En die mooiste geveerde koor 🎵🎶🎵 groet ons. #onkantgevang

Ek is hêppy 😊 😃 😀

Ja Lucas, kiekies vertel ‘n Storie

Klein swerm Rooikop vinkies maak nes in ‘n boom agter ons huis.
Vroegoggend-groete hier van Lolla se kant af. Ek speel te lekker met hierdie Bitmoji ‘stickers’
Dis Jakarandatyd en die Oosrand stel nie teleur nie. Dis ‘n pers skouspel. 💜
My ‘hydrangea’ begin pronk
Beginstadium van my eie klein besigheidtjie. kLeurvoLKriatief laat my nuut dink, myself uitdaag. Nog baie werk om te doen. Ek glo !!!
Vroegoggend sonsopkoms oor die lughawe, oppad kantoor toe.
Een van die vele hoede beskikbaar in my katalogus. Self het ek nou al ‘n paar oulike hoede bymekaar, elkeen met haar eie persoonlikheid. Hoekom hoede…. ek vertel later.
Geduld!!!! Als gebeur soos bestem.
Kleinsus se bêlle. Ek is reg vir Kersfees.
Spookboom ….. boee
Ek moet julle nog van hierdie vier vertel …. die poppe wat rondrits

Hoop julle geniet my kiekies net soos ek geniet om dit te neem en te deel.

Lollagroete, tot later xx

‘n Helder Maan, Onder Andere

Isn’t she lovely


So is nog ‘n Donderdag amper verby – daar is soveel wat ek nog wou doen vandag en nie by uitgekom het nie. Heeltyd besig en tog voel dit of ek niks vermag het vandag nie. Julle sien, dis omdat ek ‘n LollaRusSoBietjie NoWorkAllPlay MoreIsNog-i-Dag fase beleef. Oooh en ek kla nie, ek het ‘n groot dankbaarheid vir my hier-en-nou.

Daar is so baie stories in my kop. Ampetjies soveel as die derduisende kiekies in my argiewe. En ek wil vir julle vertel. Sommer van alles. Van my maats wat ek Saterdag gaan sien (opwinding!!!). Van hoe mooi gisteraand se super-maan was (maar baie van julle sou self gesien het, en ja ek gaan ‘n foto hier oplaai). Van hoe die koue meeste dae hier in my bobene loop sit en dan daar klou soos ‘n blerrie brandneutel (het ek dit reg gespel?)

Ek wil julle vertel van die mooiste, sagte pienk hekel-koei wat my liefdogter nou-nou in my arms kom druk het. Om nie eers te praat van my uitsien na nog ‘n hartsvriendin se boodskappie wat eersdaags óf via watsop óf epos al die pad van Engeland af hier na my toe gaan padmaak.

‘Supermoon’ geneem op die oggend van 14 Julie 2022


Daar is so baie om nog te leer. Om te weet. En om oor opgewonde te raak. Ek wil julle nog vertel hoe ek geregistreer het vir ‘n kursus wat my sal voorberei om klas te gee – Engels as ‘n Buitelandse taal. Hoe ek vermoed dat dit tans ‘n baie gewilde opsie is vir mense wat meer flexible wil leef, maar dat dit ook meer uitdagend is as wat ek gereken het dit sou wees.

En om nie eers te praat oor die aaklige slaggate op ons paaie nie – gisteroggend so mik-mik en swenk-swenk werk toe en later weer huistoe gery. Ons Suid-Afrikaners is verseker op-boos oor ons nou so gereeld moet sit en krag-wag. Ooh ja, en dan nog die aaklige lugbesoedeling. Veral die laaste week of drie sien ‘n mens sommer weer die lae en lae vuil lug. Dit maak my benoud, ek ril as ek dink ons asem hierdie lug elke dag in.

Sommige dae dink ek ons mensdom maak darm maar ‘n groot gemors – ons is so slim en tog so dom.

Lolla en Ma se Mussie

Ma is in 2006 oorlede. Daar is steeds dinge in my huis wat my aan haar herinner. Toe ek vanoggend nie my boskasie getem kry met ‘n borsel nie het ek maar een van ma se hekel-mussies (eintlik die enigste ene wat ek nog het) op my kop gesit. Julle sien, ek bly maar ‘n mussie-girl. Dit was so lekker om ‘n ietsie van Ma so naby my te hê.

Kleinste, Fynste blommetjies met my foon se zoom raakgevat


Ek weet dis nie ‘n Woordlose Woensdag nie maar hier is nog ‘n maankiekie.

Nog ‘n maangepla lollakiekie


Die naweek lê voor en al voel ek of ek ‘n hele dag lank kan slaap gaan hierdie ene ‘n besige een wees. Places to go, friends to see, pretty coffee to drink and so on and so on tralalaleeeee. Gesels later weer. En, soos die Pouvanger altyd gesê het, “Laat dit Juig”.