Stilte op Stilte

Hier waar die stilte jou kern aanraak
Waar die ligte wind jou siel streel
En die dinge anderkant die plaashek jou min traak

Hier waar die hitte jou moegmaak
Waar die aarde hard met jou praat
En die voëlsang en goggaroep jou laat hunker na minder teer- en meer stofstraat

Dis hier, in die ruig ooptes, in jou diepste binneste,
Waar net jou siel se sagte asem saakmaak.
Die Boshut op Stilte
Vroegoggend op Stilte

#lollasegoete #lollasekiekies #natuur #rus #stilte

As dit blou blommetjies reen

Wanneer die Wisteria hier buite begin blom- gewoonlik so einde-Augustus – neurie my hart nuwe deuntjies.  Binne weke is die prieel vol in blom en die skouspel voel vir my feestelik. 

Bloureen 🪻

Die triomfanklike uitbarsting van pers-blou duur nie lank nie.  Dit kondig net pronkerig die einde van die winter aan, hang so bietjie rond en maak dan plek vir die mooiste groen blarewolk.

Wanneer ek so tussendeur die elkedag se roetine-goete loop asemskep, gaan staan ek graag met my voet en rug teen die muur onder die Wisteria.  So neem ek al vir weke lank fotos, van die eerste botsels aan die vaal takke af. En ek voel ‘n rym in my kop en are vorm.  Ek begin beplan hoe ek met fotos en woorde hierdie stukkie prag met jou kan deel.

Min-wetend dat juis daar reg langs die blouselblou drapering, boewe ‘n paar weke terug die heining oopforseer, net om ons een oggend vroeg in te wag, te oorrompel en met wapens teen ons koppe al ons goete te steel.  Sterker nog as die toksiese chemiese giftigheid van hierdie lieflingplant, is die vieslike verwaante astrantheid van mense.  So verloor ek toe al my eerste-bloeisel fotos. 

Ek was intussen weer daar onder die bloureen. En weer en weer.  Want die Lig oorwin altyd.  En omdat ons, in ‘n wêreld waar wetteloosheid seevier, moet vashou aan die goeie, dit wat mooi en eg is.

Ek was nou-nou weer daar onder die lowergroen blaarsambreel. Die keer saam met Izi.  Ons het die laaste blou giftige blommetjies besnuffel, gegiffel en met ligte harte die res van die middag aangepak.

En dis met pure lekkerte en baie hoop dat ek hierdie kiekies met jou deel.

LollaseBloureenGroete ♡

My Heel Eerste Haikoe (Haiku)

Sover ek verstaan is Haiku ‘n vorm van Japanese digkuns, wat wêreldwyd in vele tale beoefen word.

Anders as van ons meer bekende digvorms is een van Haiku se reels dat dit nie rym nie.  Dis een gedagte wat ‘n Wat, Waar en Wanneer bevat en in 3 lyne ondermekaar geskryf word. Die volgende reels geld ook, alhoewel sommige tale meer moderne, unieke vorme van Haiku bekendstel.

‘n Haikoe bestaan uit 17 lettergrepe…

  • Lyn 1: bevat 5 lettergrepe
  • Lyn 2: bestaan uit 7 lettergrepe
  • Lyn 3:  5 lettergrepe

Aanvanklik het Haiku temas die natuur beskryf, emotief.  Maar – en hierdie maak my kreatiewe hart vrolik – daar is spasie vir groei, ontwikkeling en innovasie.

Dit het my ‘n redelike tydjie gevat om my eie eerste Haikoe in Afrikaans te skryf.  Hoe ‘reg’ dit is weet ek nie.  Maar dit voel reg, en lekker.  Ek deel dit graag hier met jou.

Lyk dit dalk makliker as wat dit is?

Wie van julle het al ge-Haiku?  Deel gerus julle gedagtes en ervaring hier.

LollaseGroete

Eina!

Hierdie seer is ‘n verteer-seer wat mens platsmeer, sonder om minder of meer te vra of verstaan

Hierdie seer is ‘n seer wat misverstaan word, wanverstaan word, ontken word, misken word, skeefgekyk word

Hierdie is ‘n alleenseer, ‘n selfkasty-seer, ‘n gedwonge weer en weer probeer al weet jy daar is so ampertjie net mooi fôkol aanhou baklei meer

‘n Seer wat monsteragtig jou binnegoed oor warm, nat teer smeer. Ongenadiglik, moordadig. Nes jy dink jy is uit sy kloue gooi hy nog ‘n paar houe

In die voue van jou plooie, op en om en binne jou kneukels. Nuwe knoppe op die vreemde, ou, pynlike onflippenooglike knoppe.

Kloppend en brandend. Elektries-skokkend soms. Dof, soos ‘n stuk spoeggekoude borrelgom wat tussen die sinapse, dendriete, aksone en neurone snaarstyf toutrek

Vlymskerp vuurwarm krampe in jou bene, al met jou spiere langs tot in jou diepste vleis.

Dis ‘n bliksem die. Een waaroor ons mos nie eintlik praat nie want shoesh, ons is mos sterk en die lewe is mos ‘n lied en niemand wil eintlik van jou stront hoor nie.

Behalwe dalk soms, net sóms. Hier in blogland.




Lindie Koekemoer

Een Hele WP Jaar

WP stuur vroeer vandag vir my ‘n ‘Achievement’ boodskappie. Baie Geluk, dis vandag ‘n jaar terug wat LollaseGoete hier geskep is.

Wat ‘n jaar. Propvol. Op en af, goed en minder goed. Baie WOW-oomblikke.

Ek het ‘n klompie Volgers en ek volg ‘n hele klompie. Dis ‘n lekker spasie hierdie, ons blogland.

Skryf en dink en deel neem tyd. Al is dit hóé lekker is daar soms netnie genoeg tyd om voor te bly nie. Maar as dinge in ‘die regte lewe’ woesdol gaan, kan ek altyd vir ‘n rukkie hier by julle kom wegkruip.

Ek is ‘n Goue Vrou met ‘n sagte, dankbare hart wat soos almal anders elke dag skaaf en bou en pleister aan my plekkie onder die son.

Dankie vir ‘n gemaklike, veilige spasie waar ek my Lolla-kruiwatjie kan kom omtiep nou-en-dan.

Dit hoef nie perfek te wees nie, maar dit moet samblief tog eerlik en opreg wees.

Lolla-Groete 🌸🌸🌸

Terugblik op Gisters

Die Boek-van-Gesigte wys vir my grepe uit my verlede. Altyd goeie én slegte tye. Dis mos die Lewe se wipplankgeite.

Image from online library

02 Nov 2009, skryf ek:

Bedrywige Maandag wat voorle, net 6 weke van werk oor … Dis ‘n vol lewe waarvoor ek elke dag dankbaar is. Sien met oordrewe opwinding uit na die Desember-vakansie wat voorle. Lekker week maters!! xx

Lank lank gelede, nog voor ek 40 behaal/gehaal het.

02 November 2013:

Vandag is die dag!! Soveel dinge om te doen, die lysie is lank. So let the games begin ……

  • Buite saam met die honde vroegoggend asem geskep – Tick 🙂
  • BBMs geantwoord en emails gelees – Tick
  • Avon reps status-check – Tick
  • Faceboek status ge-update – Tick
  • Ketel aangesit vir vroegoggend koffie – Tick
  • Jog uit die bed geskop om op te staan ….. hehehe, hier gaat ek …..

    Praat later maters xx xx
Hierdie het op ‘n stadium aanlyn die rondtes gedoen. Ek giggel, maar dis eintlik so waar.

02 November 2019 – ons vier die Springbokke se oorwinning oor Engeland. 32 – 12

02 November 2018:

Lalla sê mos gister dis ‘n woestelike dag. Lalla was reg – dit was eintlik ‘n woestelike dag, week, maand EN jaar.

Roadtrip pending ….
Muskiete vreet vir my op.
Nie almal kan my handle nie, en dis fine. (DIS FINE!!!)
Ek het heeltemal teveel suiker geeet hierdie week. (Who cares ne.)
Die duiwel loop rerig rond soos ‘n brullende leeu.
Daar is krag in gebed. Daar is krag in geloof.
Musiek kleur my wereld in. (Al sing ek vals, ne Mella.)
Ek slip op met kontak hou, veral juis waar dit saakmaak. Tyd sluk my pokkellyf heel in.
Ek is nie ‘n effentjies mens nie, maar ek het ervaring in “biki-biki maak baja”.
Die van julle vir wie ek lief is, weet dit!!!! Ne!?!
Ek weet baie van julle is rerig lief vir my. Dankie. xx
Ek is dankbaar.
Oooooohhhh hoor en luister mooi: NEVER SAY NEVER!!! (Eendag gaan ek kaalvoet op ‘n strand bly.)

Vandag is ek ooh soo dankbaar vir elke oomblik. En ek is geseend met tyd om nog oomblikke te geniet en benut. Oor die laaste dekade het ek vele male die direkte aanslag van verlies ervaar en is bewus hoe broos en kosbaar die lewe is.

My lewe is propvol en ‘it is well with my soul’. To many, many more happy memories.

Oujaar & Nuwejaar

Tyd om nuwe drome op te gaar
Om in waterstrome en onder bome te baljaar
Tyd vir ballonne, musiek en drome
Tyd vir liefhe, gesond wees en nuwe patrone

Twintig-Een-en-Twintig was ‘n vol jaar. ‘n Vinnige 12 maande. Daar is geen manier om die suksesse en die seer van ‘n spesifieke periode te meet nie. Maar ek dink dis veilig om te konkludeer dat 2021 ‘n emosionele, grootliks gagga en mega-moeilike tyd vir baie mense was. Natuurlik is daar altyd sonskynoomblikke, maar ek lei af van vele gedeelde gevoellens op sosiale media en gesprekke dat ons 2021 in die vullisdrom kan wegbere.

Die jaar wat was, was vir my gevul met gevoellens en belewenisse wat sekerlik die hele spektrum van emosies kan dek. Tuinwerk, my eie kompos maak, meer blomme in my huis en tuin as ooit tevore. Pure lekkerte. Te midde van versigtigheid oor hoe om die “groot gogga” te navigeer en te onduik was daar steeds ‘n paar spesiale girls oomblikke. Kuiers saam met vriendinne op ‘n Vrystaatplaas waar van ons in ‘n watervalpoel geswem het. Hier het ‘n maat se mooi sonhoed wat met 2 botteltjies gin ewe gaaf van bo-af vir ons gegooi is soos mis voor die son onder die water verdwyn, vir ewig en altyd. Vroeg in die jaar het my gesondheid begin skewe draaie draai toe ek ‘n moontlike kwaadaardige groeisel moes laat uitsny. Als het tog mooi uitgewerk.

20-1-en-20 was gepak met kosmosse (velde en velde vol), tuisgemaakte bierbrousels, wolke (‘n persoonlike passie waaroor ek nog gereeld sal blog), reenboeë, ‘n bibberkoue winter, vals naels en vals hare (ek sit nooit weer tape extensions in my hare nie!) Ek en Ingelsman was twee maal Kaap toe, wat ‘n blessing. Besoeke aan natuurreservate met wonderlike sightings van diere and plante – Moeder Natuur op haar heel beste. Daar was ook baie trane en hart-seer oomblikke. Verliese. Maats wat nie meer saam ons hier op aarde is nie. Afskeid van ‘n hartsvriendin. Te min tyd saam my twee hartskinners. ‘n Sus se seer. Vriende en vriendinne wat swaar trek. Teveel aanlyn vaarwels. 2-0-2-1 was ‘n eina jaar!

‘n Reenboog van ons stoep af geneem in Oktober 2021 na ‘n propperse hoëveld donderstorm.
Rus sag my Sonneblom-maat

En so is dit 2022 – ‘n wonderlike nuwe vooruitsig. Eintlik maar net nog ‘n dag. En tog ook nie. Want elke nuwe dag is ‘n nuwe kans. Verseker nie altyd maklik nie, maar sekerlik tog ‘n seening. Nuwe Hoop. Nuwe Kanse.

Ek is propvol planne en drome vir die volgende 12 maande (en dan nog so bietjie !knipoog!) Een daarvan is om aan te hou skryf, meer te skryf – om hierdie passie van my te laat werk, te laat groei. Om dit te geniet en hopelik dalk selfs te floreer. Dalk kan ek tog daai boek klaarmaak. Daar is soveel om te doen. Soveel om te leef. Tans werk ek aan ‘n blog inskrywing oor ‘n ander passie, een wat my nou besig het met navorsing, oplees, leer. Bome. Hou die spasie dop!

Mooiste Wilgerboom langs ‘n Rietvlei waterstoom.
Ek het ‘n intense passie vir die natuur – bome hou soveel geheime.
My hart kry doepa in die natuur.


Mag ons elkeen ons eie plekkie in die son vind
Mag ons bly drome droom soos ‘n kind
Mag ons dae lig wees en ons paaie sonder teveel slaggate
Mag ons liefde vind al is liefde soms blind
Mag ons elke dag vier, op jou eie manier
Mag ons nie die belangrike kanse miskyk
en teveel verkeerde keuses maak nie
Mag ons opstaan wanneer ons val en
ander optel in die oomblikke wanneer hulle nie self kan nie
Mag ons minder van ons wees en meer van Jesus
Mag ons nie ons uniekheid en andersgeit prysgee ter wille
van ander se giere en geite nie
En mag ons aan die einde van die volgende 365 dae vir mekaar
knipoog en saam die volgende nuwe-hoop-siklus aanpak.

Voorspoedige Nuwe Jaar
Met Lollabolla-liefde