
Ek nooi jou graag uit om ook my Facebook-blad te volg – word deel van my reis.
https://www.facebook.com/106643175175252/posts/131931362646433/
You are invited to also follow my journey on my Facebook page.
Ek nooi jou graag uit om ook my Facebook-blad te volg – word deel van my reis.
https://www.facebook.com/106643175175252/posts/131931362646433/
You are invited to also follow my journey on my Facebook page.
‘n Waternat Woensdag. Van vroegoggend al lekker bewolk en donker.
Die liggies het ‘n bekoring, nes die klank van die reën wat buite val. Dis amper asof mens die heelal se vibrasies duideliker aanvoel.
My week is stadig, sleepvoet. Kop en lyf is futloos en vuisvoos. Behalwe vir die pyn regdeur my lyf, soos duisende rooimiere wat werskaf voor ‘n ekstra lang hibernasie, is ek van kakebak tot hier diep onder in my onnerste boudspier geknop. ‘n Spasma van olimpiese proporsies. Die dofmoegkop bly mooi en gelukkige gedagtes opgrawe. En tog is hierdie diep-in-my-diepmoeg ‘n taai teenstander.
So, ten spyte van die moeg en die seer is my hart dankbaar en warm. Groot liefde vir die reën en wind. Verbeel ek my dan nou dat ‘n lekker beker tee my hartsnare gaan kielie. Laat ek loop planmaak.
It’s weekend. Happiness! Here’s a few phone pics I took this week.
Till later.
Dis Dinsdagoggend. Die mislagie om my brein is dig en duk vanoggend. Maar my bewolkte brein is mos nie van opgee aanmekaar gesit nie. Selfs hierdie vaagvaak gevoelte gaan my nie briek om vandag die beste ek te wees wat ek in elke oomblik kan wees nie.
Dankie-tog vir naby maats. Die wat luister selfs as jy onsamehangend jou gedagtes van ‘n lysie aflees oor ‘n whatsapp stemboodskap. Dis die “ons-is-is-ons-is” groepie. Dieselle groepie as die pop-groepie (dis nog ‘n storie vir ‘n ander dag, hou hier dop). Die een mater stuur masjiengeweer-boodskappies. Kort en kragtig. Treffend. Die ander mater dalk eerder haelgeweer-boodskappies – diep en intens. En dan die mater met die klappers-en-vuurwerke boodskappies – mooi bedoellings maar woes deurmekaar en laaaaaank. Hierdie whatsapp groepie vat ek enige tyd saam oorlog toe.
Balans en prioriteite – dis ‘n daaglikse gejuggle. Daar is derduisende, ‘n enorme verskeidenheid, selfhelp, motiverings, kom-ek-wys-jou, positiewe-denke boodskappies om ons. Daagliks. Oral. Dis juis deel van die inligting-versuiping wat ons ervaar. Eintlik lê die antwoorde seker maar hier binne-in elkeen van onsself. Sif deur dit wat die wereld vir jou gee, hou wat vir jou sinmaak en laat los die res. Reken ek.
Huppelend gekrok ons isse se is wat jubelend voortbeur en aanhou probeer, weer probeer van vooraf begin ver ry en te lank bly oortyd is verloortyd opstaan vir dit wat reg is, voor dit wat saakmaak weg is ... te min tyd, teveel dinge weegskaal van wat bly en wat gly lewe gallop en skop tot jy - kop eerste - omdop Harte vol trane en rowe en tog ook hoop, lag, blydskap en drome Vasstaan, sterkstaan, singende aangaan. Omgee en meeleef, ons lewens verweef op verskeie maniere en verskillende vlakke Dag en dinge by die horings vasvat Die lewe se dinge by die knolle raakvat My Is is my Is! Jou Is is jou Is! Opstaan! En aangaan!
Nou gaan ek koffie maak en hierdie varsnuwe dag raakvat. Mikpunte vir vandag: tuin water gee, produktief soveel werk as moontlik afhandel, musiek en hoola, gesonde aandete maak, vroeg slaap.
Mooi dag en baie asemskep oomblikke vir jou.
Gisteroggend skop ek die jaar se sosiale kalender af met ‘n ontbyt en spa-behandeling saam met ‘n spesiale meisiekind.
Ons stop eers by ‘n plaaslike plekkie waar jy ontbyt bestel langs ‘n meer. Dis veel besiger as die laaste paar weke – ek vermoed die Desember vakansiegangers is nou in hulle hordes tuis. Die stoeptafeltjies is almal vol. Ons mik sommer dadelik na ‘n alleentafel in die middel van die groot grasperk, terwyl ons, nog op die grondpad waar ons parkeer het, tussen modderpoele groottrap.
‘n Kelner kom met swaaiende arms aangehardloop. Ek wonder nog ewe wat gaan aan, toe ek so twee tree verder op die gras in die modder begin sink. Onmiddellik besef ons dis hoekom almal op die stoepie en plaveisel sit. Die hele grasperk is ‘n modderpoel. Nou weet ek hoekom die jong man in die donker uniform ons probeer stop het. Ons besluit egter ons bly net hier op die grasperk. Hy glimlag en knik ook “ja”, hy is reg met die natplasgras as ons is. Natuurlik is ons. Ek trek my nat skoene uit en loop kalvoet tot by die tafeltjie.
Alles om ons is helder en skoon. Die baie reën van die laaste tyd het ‘n vernuwende uitwerking op veral die natuur gehad. Ek sien toe eers hoe vol die meer is. Ons eet heerlik ontbyt op ons eie terwyl die modder tussen my tone deursuipel. Pure lekkerte.
Terug in die kar moet ek eers die moddervoete met wet-wipes bykom voordat ons 5 minute later by die spa aanmeld. ‘n Heerlike nek en rugmasering en toe ‘n voetbehandeling waar die moddervoeties in warm water skoongeskrop is.
Dis was ‘n heerlike Saterdagoggend. Ek is reg vir die nuwe week.
Moddervoete-groete
The last bits of Christmas has been boxed away (or eaten 😁). New Years greetings are fizzleling out. New resolutions are being set and some already forgotten.
I’m currently in a full fibro flare-up and if I allow it, can easily be swallowed alive in a pool of absolute soul exhaustion. But, by now I have built up quite an arsenal of tools to get my go going.
So I’m thinking, 2022 will be my (our) year of #miracles&magic.
Are we making today our best day yet??? Who’s with me?
Passie (volgens die HAT 4de weergawe 2000, 3de druk, 2003): “… hartstogtelike liefde…”
Vir so lank ek kan onthou het ek ‘n intense, innerlike passie vir bome. Dis nie net bloot ‘n ‘ek hou van bome nie’. Dis meer. Net soos die wind my hart ‘n bietjie vinniger laat gallop, so ook vul bome my hart en my wese met ‘n onpeilbare, onbeskryflike warmte.
Bome is vir my groots. Sterk dog broos. Ek glo daar is meer boomsoorte as wat daar menslike persoonlikhede op aarde is. Hierdie subjektiewe teorie word gesubstansieer deur die wetenskaplike beraming dat daar ongeveer 3 triljoen bome op aarde is; by verre meer as die sterre in ons Melkweg sterrestelsel. Ook meer as al die selle in die menslike brein. (Verwys Internet: usatoday.com – 30/12/2021). Nog ‘n verwysing word gevind in ‘n National Geographic tweet (@NatGeo) gedateer 14 Maart 2016: “There are more trees on earth than there are stars in the Milky Way – and what they do for the planet is amazing.”
Bome het ‘n energie van hulle eie. En hulle deel dit mildelik met enigeen wat belangstel. Met my hand op ‘n boom se bas kan ek my half verbeel ek voel sy hartklop. Dikwels hoor ek bome fluister. Aan die sy van ‘n groot boom is daar ‘n saligheid wat nerens anders bekombaar is nie. Bome is vir my ‘n veilige plek. Mistieke, fabelagtige, statige reuse wat min praat maar baie luister. En so, dus, sal daar gereeld in my skryfwerk of in gesprekke bome opduik – en hordes fotos van bome in all shapes & sizes. Hierdie formidabelle natuurwonders is diep in my siel ingeweef en –wortel.
Ek sal vorentoe vertel van die boomryke area waar ek tans woon. My tone trek vuisies van pure lekkerkry as ek hier rondry en tot my verwondering keer op keer nuwe bome raaksien. En ek gaan nie voorbarig wees en my onkunde oor bome, boomname en boomfeite probeer verdoesel nie – ek hoop om saam met jou en julle te kan leer. Het jy al ‘n boom omhels?
As ek mag, sal ek wens dat my takke vele mede-dendrofiele raakgroei hier tussen my woorde. Wat is jou gunsteling boom, laat weet bietjie? Ek is lief vir ‘n Frangipanie maar Limpopo se Kremetart-bome verdien hul eie “Wowzers!”. Volgens die boek Remarkable Trees of South Africa (2nd editions, 1st impression 2016) – Esterhuyse, Van Breitenbach, Söhnge, Van der Merwe – is Suid Afrika se Groot Vyf Bome: die Kremetart; Wonderboom Vy; Outeniqua Geelhout; Mingerhout (Matumi) en Apiesdoring.
Vir nou is dit eers genoeg gebabbel oor bome – ek glo daar gaan nog vele kanse wees om te hervat. Maar vir nou eers:
mag jy eendag onder 'n groom boom lê en sterre kyk, mag die dag se hitte onder die koelte van ‘n blarereus wyk, mag jy met jou wang teen ‘n koel boombas nuwe asem vind wanneer die donker van die lewe jou wil-wil verblind. mag die geritsel van die wind deur die blare en die gekwetter-skerts van voëltjies tussen takke jou grootste vrese begrawe.
Lolla-liefde
NS: het jy al na Judy Dench se 2017 film “My Passion for Trees” gekyk? As jy lief is vir bome (en/of vir Shakespear) kan jy gerus ‘n uur hieraan afstaan.
Tyd om nuwe drome op te gaar Om in waterstrome en onder bome te baljaar Tyd vir ballonne, musiek en drome Tyd vir liefhe, gesond wees en nuwe patrone
Twintig-Een-en-Twintig was ‘n vol jaar. ‘n Vinnige 12 maande. Daar is geen manier om die suksesse en die seer van ‘n spesifieke periode te meet nie. Maar ek dink dis veilig om te konkludeer dat 2021 ‘n emosionele, grootliks gagga en mega-moeilike tyd vir baie mense was. Natuurlik is daar altyd sonskynoomblikke, maar ek lei af van vele gedeelde gevoellens op sosiale media en gesprekke dat ons 2021 in die vullisdrom kan wegbere.
Die jaar wat was, was vir my gevul met gevoellens en belewenisse wat sekerlik die hele spektrum van emosies kan dek. Tuinwerk, my eie kompos maak, meer blomme in my huis en tuin as ooit tevore. Pure lekkerte. Te midde van versigtigheid oor hoe om die “groot gogga” te navigeer en te onduik was daar steeds ‘n paar spesiale girls oomblikke. Kuiers saam met vriendinne op ‘n Vrystaatplaas waar van ons in ‘n watervalpoel geswem het. Hier het ‘n maat se mooi sonhoed wat met 2 botteltjies gin ewe gaaf van bo-af vir ons gegooi is soos mis voor die son onder die water verdwyn, vir ewig en altyd. Vroeg in die jaar het my gesondheid begin skewe draaie draai toe ek ‘n moontlike kwaadaardige groeisel moes laat uitsny. Als het tog mooi uitgewerk.
20-1-en-20 was gepak met kosmosse (velde en velde vol), tuisgemaakte bierbrousels, wolke (‘n persoonlike passie waaroor ek nog gereeld sal blog), reenboeë, ‘n bibberkoue winter, vals naels en vals hare (ek sit nooit weer tape extensions in my hare nie!) Ek en Ingelsman was twee maal Kaap toe, wat ‘n blessing. Besoeke aan natuurreservate met wonderlike sightings van diere and plante – Moeder Natuur op haar heel beste. Daar was ook baie trane en hart-seer oomblikke. Verliese. Maats wat nie meer saam ons hier op aarde is nie. Afskeid van ‘n hartsvriendin. Te min tyd saam my twee hartskinners. ‘n Sus se seer. Vriende en vriendinne wat swaar trek. Teveel aanlyn vaarwels. 2-0-2-1 was ‘n eina jaar!
En so is dit 2022 – ‘n wonderlike nuwe vooruitsig. Eintlik maar net nog ‘n dag. En tog ook nie. Want elke nuwe dag is ‘n nuwe kans. Verseker nie altyd maklik nie, maar sekerlik tog ‘n seening. Nuwe Hoop. Nuwe Kanse.
Ek is propvol planne en drome vir die volgende 12 maande (en dan nog so bietjie !knipoog!) Een daarvan is om aan te hou skryf, meer te skryf – om hierdie passie van my te laat werk, te laat groei. Om dit te geniet en hopelik dalk selfs te floreer. Dalk kan ek tog daai boek klaarmaak. Daar is soveel om te doen. Soveel om te leef. Tans werk ek aan ‘n blog inskrywing oor ‘n ander passie, een wat my nou besig het met navorsing, oplees, leer. Bome. Hou die spasie dop!
Mag ons elkeen ons eie plekkie in die son vind
Mag ons bly drome droom soos ‘n kind
Mag ons dae lig wees en ons paaie sonder teveel slaggate
Mag ons liefde vind al is liefde soms blind
Mag ons elke dag vier, op jou eie manier
Mag ons nie die belangrike kanse miskyk
en teveel verkeerde keuses maak nie
Mag ons opstaan wanneer ons val en
ander optel in die oomblikke wanneer hulle nie self kan nie
Mag ons minder van ons wees en meer van Jesus
Mag ons nie ons uniekheid en andersgeit prysgee ter wille
van ander se giere en geite nie
En mag ons aan die einde van die volgende 365 dae vir mekaar
knipoog en saam die volgende nuwe-hoop-siklus aanpak.
Voorspoedige Nuwe Jaar
Met Lollabolla-liefde
Hoop
Reendruppels
Wolke, Wind
Blomme
Kaalvoet loop
Boozy jams 🙂
Sonsopkomste & -ondergange
Lekker lag
Deernis
Opregtheid
Egtheid
Honnekinners
Omgeemense
Somer & Son
Plante wat groei
‘n Tuin vol kleur
‘n Huis vol liefde & warmte
Drome
‘n Gees wat nie opgee nie
Vriende(inne)
Boodskappies
Gawes
Kleurvolle liggies
Waatlemoen
Lees
Lag
Nuwe oggende
Belewenisse
Kleur
Geure
Strelende klanke (golwe, musiek, voëltjies wat sing …)
Tuisgemaakte mengeldrankies
Lappoppe
Kunstige mense
Kiekies
Wiele wat rol na nuwe, opwindende bestemmings (roadtrips)
Spagetti & maalvleis
Swem
Sing (al is dit vals)
Om hartsmense gelukkig en tevrede te sien
Goeie nuus
Liefde
Vrede & Vreugde
Vasbyt & Deursettingsvermoë
Geduld
Genade
My hart glo dat hierdie lysie is nimmereindigend. Wat maak jou bly/gelukkig?