Lolla’s Blog

Versuipingspan

Versuipingspan het vinnig oorbevolk geraak. Die populasie wat daagliks dramaties vermeerder is ‘n mengelmoes van tale en nasionaliteite. Daars grotes en kleiner, maeres en dukkes, doodgewones. Vir die inwoners, oud en jonk, nuut of ingeburger, maak mooi of lelik, slim, dom, dapper of stom nie eintlik saak nie.

Al wat hier saakmaak is oorlewing. Hier is ‘n berg van finale strooi. ‘n See van verspilde trane. In plaas van voëls is die predominante klank ‘n koor van diep sûe en nou-en-dan die gebiep van ‘n longmasjien wat asem terug in moeglywe inblaas.

Dis nie net Jan Rap en al sy maats wat hier woon nie. Hier is dokters, onderwysers, polisiehelde, kundiges uit alle oorde. Trots mense. Waar integriteit eens sterk deur hul are gestroom het is nou sleg verslae verstommendheid.

Dis onbekend wanneer presies Versuipingspan ontstaan het en wie die heel eerste bewoners was. Dit het ongesiens gebeur. Die recruiters vir hierdie pan werk dag en nag, onverpoos. Onstopbaar. Doelgerig. Sonder veel genade. Saam met die duiwel en die dief in die nag maak hulle seker dat die bevolking voortdurend en vinnig groei. Hul skuilname het intussen welbekend geraak: Stres, Angs, Trauma, Haat.

Genadiglik tog dat hierdie nie ‘n finale bestemming hoef te wees nie. As jy eers hier gevestig is kan “ontsnapping” moeilik wees. Maar, vir die wat oplet en hard werk (hiervoor moet jy diep in jouself gaan rondgrou) is daar tog uitkomkans. Op die grense van hierdie (hopelik tydelike) bestemming is daar plekke soos Genadefontein, Ligville, Hooppoort, Uitkomsstad en meer.

Dus, vir al my vriende, bure en kennisse hier op Versuipingspan, byt vas. Beter dae lê voor.

Lolla Liefde-&-Lig

Bloggery bogtery & Groot besluite


Einde verlede jaar skep ek vir my ‘n (baie draft) webblad (dink ek…) en ek begin ‘n blog. My skrywes is so gestel om sommer direk deur te trek na ‘n sosiale media blogblad met dieselfde naam. Ek probeer effens onhandig en deels onkundig my voellers uitsteek op albei platforms. Eers erg sukkel-sukkel, maar toe, vroeer hierdie jaar begin dit voel of ek bietjie spoed (en Volgers) optel.


Wel, dit was tot nou. Meer onlangs neem ek ‘n 21-dae skryfuitdaging elders op – dit is immers my skryfjaar die. Onthou julle – so het ek vir myself belowe. Die uitdaging op Gesigboekie was aanloklik en nodig. Ek kon aan myself bewys dat ek wel, as ek wil, vir 21 dae pligsgetrou ‘n spesifieke taak oor en oor kan doen. Die uitdaging was redelik eenvoudig: skryf vir 21 dae aaneen daagliks iets op die blad. Enigiets. Geen vasgestelde lengte, tema, of skryfstyl nie. Skryf net. Maar doen dit elke dag vir 21 dae. Dit was toe nie heelemal maklik nie, maar ek is trots om te noem ek het my 21-dae voltooi. Het midde-in al die ander dinge wat aangaan dit reggekry om veelsydig te skryf. Vroeer vandag het ek ‘n lekker verrassing gekry toe ek, saam met ‘n handjievol ander suksesvolle een-en-twintig-daggers, ‘n oulike sertifikaat van verdienste en deelname ontvang het.


Terug by my blog wat nie lekker ritme kry nie. Ek is nou reeds in kontak met ‘n hele paar mede-bloggers. Ek loer in op ander se blaaie en dis soos ‘n hele nuwe wereld wat vir my oopgaan. Ek raak ge-irri met myself want skielik skryf ek nie gereeld genoeg nie. My droom is om die blog goed gevestig te kry, maar dit gaan stadig en ek reken ek sit nie genoeg in nie. Bygesê, die blog is rerig tans ‘n stokperdjie wat ek tussen ‘n voltydse, veeleisende werk en ‘n besige, vol lewe moet inpas. Want ek wil. Nou wonder ek oor dinge soos:
Hoe kry ek meer followers?
Hoe maak ek seker my blog het ‘n hartklop en bly ani lewe?
Waaroor moet ek blog?
Het ek die regte platform gekies?
Ek is ‘n loskop en nie goed met roetine nie – hoe, waar en wanneer pas ek my bloggery in?
Kan mens geld maak uit ‘n blog?
Hoe en waar adverteer ek my blog?
Ensovoorts Ensovoorts …….


Soos ek hier tik oorweeg ek tans groot veranderinge vir my lewe. GROOT! Bangmaak maar opwindend. Droom ek te groot?? Sal ek kan?? Moet ek?? Ek vertel julle later meer. (O ja, het ek al genoem dat ek besig is om aan ‘n boek te skryf – dit sal fantasties wees as ek hierdie jaar kan publiseer.) …… ……
….. terug by die groot veranderinge (of nie). Die rompslomp wat dinge wat ek al vir jare met outoriteit uitvoer nou by die dag moeiliker en pynliker maak kniehalter my. My siel staan hanne-viervoet, vuisvoos en uitasem gespook. Ek is moeg om te soek vir gemeensame trots (wat wel nog – dankie Here – hier en daar te vinde is). Erens tussen uithelp en kliphard werk en daai dekselse ekstra myl(e) stap, terwyl mens altyd “die regte ding” as jou maatstaf voorhou, ander konsidereer, by die reels probeer hou en eenvoudig net kwaliteit nastreef, het ek my siel kaplaks!!! erens langs die pad verloor.


Die bleekgesig, stywelyf, sielsmoeg flentersmens wat in die oggende in die badkamerspieel vir my terugloer is nie rerig ek nie. Daai lyf en daai kop wat nooit meer heelemal reg funksioneer nie en wie-weet-wanneer-laas ‘n pynvrye dag gehad het, is nie rerig ek nie. Daai refleksie in die spieel is ‘n drogbeeld wat die regte ek aan die hare rondsleep, rukkende en plukkende met ‘n vieslike grynslag. Soms wil ek daai ene in die spieel aan die gorrel gryp en verwurg. Daai lam regterkantwang ‘n warm klap gee. Ek wil in haar blou oog spoeg en haar skel tot sy die regte Ek laat los, omdraai en wegloop. En dan wil ék opstaan, myself afskud en treetjie vir treetjie begin eksploreer en eksperimenteer.

Lees tong in die kies:

Vir Wie Dit Mag Aangaan (of Heil die Leser),

Hiermee verwittig ek jou galant dog ferm dat ek geen jota geduld meer in my geduldreserwetassie oor het nie.
Ek is klaar met kakkerige beplanning, onmenslike verwagtinge, en sommer enige ding wat my binnegoete naar maak.
Vir nou dus, is ek klaar.  Oppelallies.  Pêlielê.  Fieniesh.
Ek lê hierdie juk neer en ek gaan voort.  Die onbekende in.
Met 'n lied in my hart en geloof dat dit wat wag vir my geluk en voorspoed sal bring.
Pens en pote in die fleur van 'n nuwe begin.

Tarra Parra  (Pinks-maat se sê-ding)
Die regte Ekke


Ek weet, sommiges sal my kapittel. En al die waarskuwings val nie geheel en al op dowe ore nie. Maar hierdie geit gaan nie uit my uitkom voor ek my hart se pad vat en ten minste vir myself hierdie nuwe kans gegee het nie.


Dis nou tyd vir ekstra hoop, geloof, vertrou en genade. Ek is dankbaar, want ek het ‘n kans. Ek het ondersteuning. Hou dus hierdie spasie dop.

Blommetjies vir Jou, my ding



Daar is more in my hart. Ek het deesdae hierdie gatgier waar ek net wil skep. Ek kan nie verf of spectacular teken nie. Skryf dalk , ja. Maar ek spandeer ure met fotos edit, prentjies teken. Tot my eie pure plesier. So sluit ek hier vir jou en julle een van baie plain-Jane kleurvolle skeppings in. Die idee en hoop is dat daar vir elkeen wat hier lees ‘n woordjie of twee sal wees – iets spesifieks wat JY nou nodig het. Vat gerus ‘n woordjie (of ‘n paar). Mag dit ‘n paar harte verlig en ligter maak.

Vat vir jou ‘n Woord of twee


Terwyl die donderweer buite stem dikmaak en ek wag vir my Ingelsman om my te kom oplaai vir aandete saam met ons meisiekind, is ek dankbaar dat ek wel op ‘n manier chaos-grense het. En al hol ek dikwels op volle vaart in daai grense vas, hop ek terug en vind altyd weer my ware Noord. My eie ek. En dis al wat saakmaak.

Lolla-groete

Moegkop Inloer

Dis Maandag. ‘n Magtige dag, ene wat met vele mense se koppe en harte mors. En tog so vol geleentheid en kanse.
Vandag is Internasionale Moedertaaldag. En ek is diep lief vir Afrikaans. Ek wens ook heimlik ek was meer tale magtig.
Dis donker in die huis, so asof die reenwolke weer buite saampak.
Dis lank vandat ek laas ‘n sinvolle, behoorlike stuk geskryf het – ‘n skryfstuk met lyf.
My 50ste verjaarsdagviering was heerlik. Ek sal nog graag ‘n paar fotos hier deel. Ek kort net energie. My woema is wraggies weer weg.
Februarie snel ten einde en ek is steeds verwonderd oor hoe flietend die lewe is.
Skoonouers kom kuier vir ‘n paar weke, land ongeveer nou met die grootvlerkstaalvoëltuig.
Hoeveel van julle het al rerige groot, lewensveranderende besluite gemaak – bangmaak skrikbesluite vol belofte van beter more’s? En hoe het dit vir jou uitgewerk? (Una, ek moet juis bietjie opvang met hoe dinge daar by jou gaan.)
My kop is besig maar my lyf is moeg en my asem is min. Die honde se geblaf is vanmiddag so half ‘n foltering. Dat twee klein worslyfies sulke moerse groot stemme kan hê. Ntsssh.
Genoeg vir nou.
Ek loer gou weer in met stories en kiekies.

Lolla-groete

Reën Reën lieflike reen

Ons almal weet; drink baie water. Water gee lewe. Mens, dier en plant is afhanklik van water om te oorleef.

Ek is nog altyd ‘n propperse Waterdraer. Met ‘n diep liefde en groot respek vir water. Die skoon, vars smaak van water (let wel ek drink nou slegs die gefilterde soort), die gevoel van water op my vel hetsy stort-, waterval-, reenwater. Die klank van reën of die vars reuk na ‘n donderstorm.

Maar skielik hier in twintig-twee-en-twintig begin ek effe ongemaklik voel wanneer die wolke weereens begin woel. Die aarde is oorversadig en nou begin water herwaarts en derwaarts lewens eis, en nie net gee nie. Al meer beelde op sosiale media waar donderende modderbruin watermassas brûe oorstroom, voertuie en lewende hawe meesleur. Berigte oor vermiste mense. Oorweldigend.

Daar is iets magies en onverstaanbaar aan Moeder Natuur. So asof sy ons vir ‘n wyle tot stilstand wil ruk sodat ons kan onthou dat ons nie aldag so slim is soos ons reken ons is nie. ⛈️

Ek tog, selfs ten spyte van die skrikwekkende krag en impak van ons huidige hoë reënval, maak dit my hart steeds warm elke keer as die druppels buite begin val. Dis asof daar iets troostend en sag in elke reënval is. ‘n Seëning en ook ‘n vloek. Goed én sleg.

Buite skyn die son helder. Die lug het ‘n ysige koel byt en my weertoep wys son prentjies met wolke voor. Deur die week is daar grys reenwolkies, een met ‘n 80% gemerk. My kop dink: leef in die oomblik, bid en bly glo, God is in beheer. En ek kan nie help om uit te sien na die volgende bui reën wat my tuin gaan kom voed en waar ek weet kaalpoot in die plasse kan gaan speel nie.

Wanneer Jy wil Blog maar tyd is min …

Julle!!!!

My hooivurk is oorvol.
Dis Februarie – my verjaarsdagmaand. 50 in ‘n klompie dae.
Gister was Internasionale Zebradag. Viva die strepiesperde, viva!
‘n Week sonder my magnesium aanvulling en my hart voel of hy uit my gorrel gaan hop.

Ek het so baie om te vertel. Gaan moet tyd maak, optower, bewerk.
Vir nou is hierdie inloer genoeg.
Gaan sekerlik die maand heelwat oor my groot mylpaal verjaarsdag post.
Later meer …..

Tyd is ‘n skaarste. Ek deel dus graag ‘n klompie fotos wat ek glo genoeg sal wees in die plek van woorde. Geniet. Ek vertel julle later meer oor my hutsmerke. Enigiemand kan saam skep en speel.

Verjaarsdagdinge …

#kleurvolkreatief50