Daar is vir my min dinge so mooi soos ‘n kosmosblom. Wat baie mense (selfs boere) as ‘n indringer of onkruid sien, ervaar ek as een van Moeder Natuur se mooiste musieknote.
Kosmostyd in Suid-Afrika is mos maar die herfs-en-winterklok. Dit vertel vir ons sonskynkinners dat die koue dae oppad is. Is dit net ek, of voel jy ook dat die kosmosse die laaste paar jaar gedy het? Ek self het nie ervaring van kosmos oor die Kaap provinsies en/of Natal nie. Maar die Vrystaat en selfs Gauteng verander in die mooiste sprokieswereld wanneer die kosmosse hulle opwagting maak. (Is daar dalk van julle wat meer kan vertel oor kosmos in ander dele van SA?)
Hierdie kleurryke, delikate blomme is oorspronklik afkomstig van Sentrale- en Suid Amerika, Mexiko, en die Wes Indiese Eilande. Daar word gereken dat die plant sy weg na Suid-Afrika gevind het in perdevoer tydens die Anglo-Boereoorlog. Ek is dankbaar. Die blommetjies is jaarliks ‘n natuurlike anti-depressant. Watwou, hulle maak my so opgewonde dat ek selfs in die ry begin hol – gewapen met my selfoon of kamera – nog voor die tjor behoorlik stilgehou het. Saam met vriendinne het ons al op ons ruê en pense tussen die kosmosse gelê. Elkeen het haar gunsteling. Daai diep persrooi skaarser ene sal my vir ewig aan Rach laat dink. En die spierwittes is soos blaartjieprinsesse.
Ek het hier bo net ‘n handjievol van my fotos gedeel. Hierdie tyd van die jaar is mense seker al kosmosvoos want danksy sosiale media en ywerige reisigers is daar nie ‘n tekort aan die mooiste kosmosfotos nie. Maar hierdie is myne. Geneem met my snapper, my hande en my oë. Al lankal tred verloor met die moontlike hoeveelheid kosmoskiekies, ek reken net mens kan nooit ooit teveel kosmos fotos hê nie.
‘n Paar jaar terug stuur ‘n hartsvriendin vir my ‘n kosmosfoto uit Engeland – die gesig seker so groot soos my handpalm. En hier dog ek dat net ons hier in SA hierdie blomme huisves. Terwyl ek bietjie op die web rondkrap vir prente en inligting oor die besonderse gunstelingblom, leer ek ook dat daar verskeie variante van kosmos is. En veel meer kleure, nie net die pienk en wit skakerings wat aan ons bekend is nie. Volgens https://gardenia.net is daar sjokolade kosmos (cosmos astrosanguineus), die cosmos bipinnatus of Mexikaanse Aster en ook die geel en oranje cosmos sulphureus.
Een nadeel van speel (of vry) in die kosmosplate is daai geniepsige vasklouers – die knapsekêrel. In Engels bekend as black-jacks of hitch hickers, klou hulle verbete aan jou klere (of jou vel), in jou ore en jou hare, aan jou skoenveters. En net wanneer jy dink jy het die laaste ene raakgevat kry jy nog ‘n laaste, onverwagste steek om jou te herinner aan al die kosmos pret en plesier.
Vir nou eers oor-en-uit Lolla-groete
NS: ek noem weer dat ek glo soos wat my blog groei daar nog vele meer kiekies van kosmosse sal wees, nes sonneblomme, wolke en bome (onder andere). Dankie dat jy hier saam op my blad kuier.
So rukkie terug skryf ek oor my twee sussies. Een so agt haar ouer as ek (middelsus) en die ander so bietjie meer as twee jaar jonger. En dis vandag juis hierdie einste jonger sus aka Kleinsus, Giz, Anapat, wat verjaar. Kort op my hakke nader sy ook nou die groot VYFTIG! So hier, skryf ek dan vandag ‘n storie oor Kleinsus.
Gizmo is ‘n ystervrou. Ek sê nie sommer net so nie. Nie net is sy staalsterk van inbors nie, maar sy kan kil wees, soos ‘n stuk yster wat jy onder ‘n hoop sneeu uitgetrek het. Ferm. As jy die dag aan haar “verkeerde kant” te staan kom sal jy dit wéét. Sy kan met woorde ‘n sweepslag oor jou afvuur wat jou vir minute, ure of selfs dae kan laat stuier. Toe Gizzie jonger was was ek met tye half bang vir haar. Ek, die sussie wat eerder vlug as veg – die propperse Waterdraer. En as jy in ‘n vertrek is waar iemand anders die ontvanger van haar ysige mening is en jy is die toeskouer, sal die kleinste haartjies in jou nek, ore en neus sommer vanself op aandag staan. Dis dán wanneer jy die atmosfeer met die spreekwoordelike mes kan sny, en dit sonder ‘n mes …….. (Let wel: die kleinbrilletjie foto hier bo hou geen verband of verwysing na, kom ons sê, enigiemand spesifieks nie, soos dalk ‘n mmmmhhhhh dikt…… – julle weet wat ek bedoel.)
Die Giz – Kaptein van ons span
In ons jonger dae was Anapat – so oulik soos sy was – soms genadeloos en ekke dalk soms effe slapruggraat. Kleinsus sou nooit weghardloop vir ‘n nodige baklei nie. Sy sou selfs op ‘n stadium die bakleie loop haal. En nog nooit was sy juis een vir verloor nie. Sy is die ene in ons familielyn wat na hartelus mag sing: Anything you can do I can do better, I can do anything better than you….. tralalalieeee. Uitblinker atleet. ‘n Natuurlike leier. Akademiese en sportprestasies, almal welverdiend. Maar ja, kort van draad beslis. Ons twee was soos olie en vuur toe ons jonger was. Al wil ek graag onthou dat ons maats was en mekaar soms roekeloos opgepas het en trots was op mekaar, onthou ek vele stywe, “jou ou koei” oomblikke. Maande en eenmaal selfs ‘n jaar (as ek dit nie mis het nie) waar ons nie met mekaar gepraat het nie. Daar was selfs ‘n keer of wat bolle gerol ……
Maar soos met alle goeie dinge het die jare ook ons verhouding sterker gemaak. Ek reken nogal ons mag selfs aanspraak maak op so ‘n titseltjie wysheid tussen die twee van ons. Want op ‘n dag, besef ek, hierdie is nie net bloed van my bloed nie, hierdie is een van my heel beste vriendinne. Nou kan ons dinge uitgesels. Ek het nie ‘n groot liefde vir telefoonpraat nie, maar ek en Kleinsus vang onsself al meer gereeld dat ons amper ‘n uur of meer babbel. En wat ‘n pure lekkerte en blessing is video-chats nie. Al sien ons mekaar in persoon net dan en wan, is ons daagliks deel van mekaar se lewens. Met die ouderdom saam eindig meeste van ons baie lang aanlyn gesprekke met iets soos… “ons het wraggies weer amper ‘n uur gepraat – dit was nou lekker – ek wou jou nog van ‘xxxxxxxxxxx’ vertel maar as ek nie nou hol nie pieps ek in my broek”.
Verken Londen – dit was ‘n koue Desember in 2006Oorkant Buckinghampaleis – 2006Saam op die Rialto Brug – Venesie, Italie – 2006
Kleinsus Giz is ‘n baie trotse ma van twee prag jong manne (wat ook al half lank in die tand raak). Sy sal alles gee vir haar seuns en net soos wat sy nie een is om kompromieë aan te gaan as dit by haar geliefdes kom nie, is sy net so ‘n toegewyde skoonma vir twee pragtige skoondogters. Oor ‘n paar maande word Ouma Giz haar eerste kleinkind ryker, saam met Oupa Herms. My sus glinster van geluk en uitsien, en ek weet sonder enige twyfel sy sal ‘n beste-este Ouma wees vir hierdie bondeltjie liefde en ook ander kleinkinders.
Nou een ding wat ek van myself weet, is dat ek nie ‘n kleinbietjies mens is nie. Ek is oordadig. ‘n “Te” mens. En al doen ons twee sussies dinge baie verskillend, is die sussie van my ook nie een om net effentjies te doen as sy doen nie. Sy kan brei en mooi goete maak – beslis kreatief, soos Ma was. En sonder om op enige tone trap, net ‘n eerlike opinie (dalk effens subjektief maar waarder as waar) – jy gaan min mense kry wat haar tipe gehalte werk doen, oor en oor en oor.
Vir lank saamgewerk – Kleinsus was selfs my baas op ‘n slagMooi vrou, die sussie van my (die anner ene ook)Gedeelde oomblikke, vieringe, afsluitings en nuwe-beginneHegte maats, langpad, saamstapOp ‘n duin erens in Namibie – die kniee het gesukkelOns twee sussies saam met toervriende – ‘n Kanadees en Australianer, by die Trevi-fontein in Rome
Maats
My Kleinsus
Ons twee doen verseker van die lelikste ugly-laughs en ugly-cries
Diep, Kosbare Vriendskappe – Pinks, Giz, Lolla –
Drie Susters (Ama-swessies) Lin middelkind – Ous, die Ousus – Anapat KleinsusJa ……. ek moes ……. ons het ons oomblikkeEen van my ‘vir-ewig-en-altyd’ gunstelingfotos van Kleinsus
Toe Gizzie my nou-die-dag antwoord oor hoe dit by die dok gegaan het, met ‘n “ons praat nie nou nie” en ek videocall en aan die ander kant is my kleinsus se gesig vol skrik en bang en seer en sy ugly-cry en ek unglier-cry en ons praat so tussen die snot en die trane deur totdat ons altwee half uitgehuil maar rustig groet, het ek net weer besef hoe ‘n absolute sterk konneksie daar tussen ons twee is. Sy was daar in van my donkerste, swaarste tye. En ek in hare. Dikwels plan gemaak om by mekaar uit te kom. Sien mekaar vir lang rukke nie. Baie lang rukke soms. Maar hoor gereeld van mekaar. Ons is oud genoeg om te weet, ek kan nie haar pakkie vir haar dra nie, maar ek kan tog help waar ek kan. Terwyl ons mekaar die spasie gee om ons eie lewens so goed ons kan te leef, besef ons ook dat al maak dis soms hoe seer, ons kan dit nie vir mekaar leef nie.
Ons is okay, ek en jy!
Vandag skryf ek hierdie spesiaal vir jou – die wereld moet hoor hoe lief ek jou het. Hoe trots ek op jou is. Hoe baie jy my inspireer. Ek hou jou dop en sien jou klein oorwinnings en suksesse en dit laat my tone omkrul van lekkerkry. En, in daai oomblikke wanneer dinge donker en swaar raak, sal ek saam met jou sit en jy saam met my – in stilte, of nie. Nes dit nodig is. Ons dna is nie al wat ons vir ewig aanmekaar bind nie. Die feit dat ons twee eintlik tweelingsiele is, dat ons beste vriendinne is, en dat ons vir mekaar lief is ten spyte van en juis oor ons verskille en foute en flaters, beteken ons is ‘n span, vir altyd.
Ek vier JOU vandag Gizmo. Ek wens jou baie suksesse en avonture vir die dae wat voorle. Dont stop dreaming. Lief vir jou van nou tot in ewigheid. Sien jou by die boom.
Amptelik ‘werkloos’, ‘n selfgekose status natuurlik.
Die wind is besig vandag – herfskoud en rats.
Ek word later die week ook een van die IV-vitamienedrip proewers, iets wat mens al hoe meer sien en van hoor. Vertel ‘n storie op sy eie. Ek vertel later meer.
Skryf is lekker. Skryf is ook harde werk.
Ek het die week my eerste slouchy beany gehekel. Hak was nog nooit werklik een van my sterker vaardighede nie, al het ek in ‘n huis vol talentvolle haksters grootgeword. Ek is in my noppies.
‘n Skryfkompetisie…. Ek is deur na rondte 3. Hou julle hier op hoogte.
My slimfoon waarsku alweer dat daar nie meer plek vir ‘n muis of ‘n punt of ‘n foto is nie. Tyd vir opruim.
Ek reken rock-bottom lyk anders vir elke mens. Ek glo ook daar is altyd tog nog bietjie spasie onnerkant daai bottom. Die ding is, niemand van ons kan ooit ‘n kenner wees oor iemand anders se laagtepunte nie, kom ons wees versigtig en spaarsamig met ons wyshede.
Elke dag het ‘n spesiale ligstraaltjie – en dikwels is hy êrens in jou eie binneste. Onthou om daai straaltjie te deel.
My dag het stadig begin en selfs nie eens ‘n katastrofiese kinkelkoek in my fyn haartjies kon my van koers afgooi nie.
Groot verjaarsdag vandag – my oudste hartskind is 21. Vandag wens ek sy pa was hier om dit saam met hom te vier. Ek is trots op jou Seuna en ek mis jou en jou kleinboet.
Wie van julle hou ook van ‘n warm mussie in die winter? Vroeër vandag my nuwe vryheid geniet – ‘n lekker beker warm klapperkoffie langs ‘n meerKnersis – ‘n knoop van ‘n koekDit was tydIetsie anders raakgespeel
Natuurlik gaan my blog (lees MY blog) dikwels staaltjies en stories en feite van my lewe vertel. Dis immers wat ek doen, as ‘n skrywer en storieverteller. En watter onderwerp verstaan ekself enigsins beter as “Ek”? Dis vir my die grootste lekkerte en ook eer om te skryf en vertel vir die wat graag my storie lees en luister. Ek is inderdaad dankbaar vir elkeen wat ‘n bietjie kosbare tyd hier by my spandeer.
Al is ons as mense so dieselfde as wat ons verskillend is, maak vele veranderlikes soos omstandighede, eie ervarings, oomblikke, persepsies, sosialisering, opvoeding, kanse en keuses en nog vele meer ons elkeen se verhaal uniek.
In ‘n wêreld waar soek-engins en biljoene aanlyn verwysings vir ons amper enige ding kan leer, met ons slimfone wat van elkeen ‘n rekenmeester, ‘n skrywer, ‘n fotograaf, ‘n funksiebeplanner, tuisteskepper, uitvoerende beampte ensovoorts maak raak mens maklik weg in ‘n wereld waar inligting oorvloediger is as menslike waardes (reken ek). Om te oorleef moet jy jou filtreervaardigheid opskerp en ferm grense stel van wat jy inneem en wat nie.
So om en by ag-en-dertig dae terug vier ek my 50ste verjaarsdag. Soos van julle weet, was daar ‘n lekker kuier gereel propvol kleur en karakters. Dit was ‘n geseende dag. Maar hier ampertjies ‘n maand-en-‘n-half later het ek nog nie eers almal bedank wat ek graag sou wou nie. Daar is soveel wat ek wou vertel. Fotos wat nie gedeel is nie. Die “partytjie” boks staan nog net so in die kuier-kamer. Die vrolike silwer bunting hang nog net daar waar ons dit opgehang het en die helium ballonne staan nog net daar waar hulle gestaan het (eintlik hang hulle). Pap en nie meer so vrolik nie.
Vir ‘n oorsensitiewe siel, ‘n empaat wat absoluut ten volle bewus is van elke vibrasie om my, is die lewe soms so effentjies meer intens. En intens het ‘n prys van sy eie. Maar, ek betaal met graagte want vir voorgee en sielstierlantyntjies het ek nie lus nie. Ek deel graag net so paar dingetjies hier. Erens gaan ek die chaos en harwar om en in my in ‘n feetjienet gevang kry maar vir nou is daar ‘n bataljon rooimiere in my kop. * Ek is kranklik. Vir lank-jare al raak ek gereeld siek met brongitus. Dit blyk ‘n familieding te wees. Asma. Verlede week was ek plat. Seer en goor. En doodmoeg. Ek begin beter voel. Daar is altyd hoop. Mense is wreed. Eng. Slim. Feit is: daar is niks soos ‘n recurring uitdaging wat ander se ware kleure wys nie, en veral ook, hoe eensaam eensaamheid werklik voel nie. * Stres is ‘n bliksem. Dis ‘n cliche ne: stres maak dood!? Wanneer is te laat dan te laat? * Ek het bedank. Alweer. Lewenslange werkgewer waar ek al 3 keer vantevore oor die laaste drie dekades bedank het en uiteindelik weer teruggekeer het. Maart 2022 is my kennismaand. Die toekoms is onseker maar vol hoop. Ek hou julle hier op hoogte.
Daar is so baie dinge wat ek nie weet nie. As ons ooit maatemmertjies gekry het om te help met gesonde balans, het ek myne verseker al laaaaankal verloor. Soms oortuig ek myself dat ek eintlik ‘n pyn-in-die-gat is met al my ooranalisering en die rooimierbrigade wat nooit slaap nie. Maar dan onthou ek dat ek ook oulik is en nie heelemal onnooslik nie en dat daar vir my ook, erens, ‘n plekkie onder die son is.