Lolla’s Blog

Deur Koue Bekruie

So loop lê ek vroeer in ‘n stomende bad met soute en borrels en ‘n net-so-stomende beker koffie.

Dit is ysiglik, ontsettend koud vandag. Die wind waai al heeloggend tussen 24 – 36 kph in ‘n Noordelike rigting. Of altans, so beweer my twee weer-toeps.

Ek lê en kyk deur al die nuus en boodskappies op my foon. Praat met paar vriendinne, plaas ‘n klient se bestelling, sorteer fotos.

Die koffie is al laaankal klaar gedrink. Ek tap so met my groottoon 2 maal nog warm water by. Ek week, was en prokrastineer soos ‘n kenner.

Dis toe dat ek voel hoe my ore pyn. Dis omtrent net my ore, boobs, stukkie pens en paar tone wat bo die watervlak uitsteek. O, en my gebuigde knieë. Ek loer vlugtig na die tyd op my foonskerm. Goeie Liefe Donnor tog ek lê al ampertjies 2 ure in die bad. 🙄🫨😳🥶

Die uitklim was moeiliker as die inklim. Daar loop darm nou weer bloed deur al die gevriesde are. Die rinkelvel is amper weer glad. Maar my ore pyn steeds.

More stort ek!!!

Lolla-wintergroete

Groete-goete

‘n Hartlike, warm HELLO DAAR vir al my blogvriende(-inne) hier. Ek hoop dit gaan goed by elkeen. Ek dink aan so baie van julle. Wonder hoe dit oral op die plase gaan. En oor die groot water. En in Mos. En veral Rebusfontein…. ek mis die plek en sy mense. Vriendelike hartsgroete hier van my kant af, vir jóú.

Soet wees xx

Genade & Hoop

Nuwe dag
Dinsdag
Koud en bewolk
Ek is dankbaar, oorweldig
Waar vat, waar los
Teveel seerkry, swaarkry, hartseer
Koud
Dankbaar
Warm honnelyfies
Gaan ouma word
Voel soos 'n stuk breiwerk met baie los steke
Boek staan oop, vir verder skryf, maar pen en hand skop vas
Teveel seer
Magteloos, broos
Ons is letsels in 'n stukkende opgef●《{€ wêreld
Skryf is werk
Werk is goed
Roetine is waardevol
Opgee is nie 'n opsie nie
Land met sy Rand in sy donner in
Oorlog, bloed, lief, veraad, steel, skelmstreke
Een moerse groot donker gat
Stapelgekke-stukkendgeit

OOK ...

Sonskyn deur die wolke
Ligdraers
Omgee-mense
Vasbyt-mense
Eerlike en eerbare mense
Opregte mense
Warm bed, warm koffie
Geleenthede in oorvloed
'n Genadige Hemelse Vader
Warm harte
Mooi harte
Groei
Leer
Ontdek
Hoop
Genade
Lag
Vriende
Die NATUUR
En Hoop!
Dankbare harte
Musiek
Blykskap
Nuwe lewe
Gas en kragopwekkers
Kontak
Gebede
Genade op genade
HOOP!
Asem
Kanse
Mense sonder skanse
Liefde
Engele om ons
Die Wind
Vars nuwe oggende

Genade & Hoop

Koffie & Sonskyn

Winterson

Ek sit nou hier by een van ons plaaslike koffie-plekkies. Dis een van ons gunsteling ontbyt en koffie kuierplekkies.

Op koue dae maak hulle ‘n heerlike vuur met dik houte binne. En wanneer die son skyn is daar tafeltjies onder sambrele en bome buite.

Maar vandag sit ek op my eie hier in die hoekie van die koffiewinkel. Dis te koel vir buite sit. Ek bekyk nou al vir ‘n ruk die hoekie met ‘n bank en twee gemaklike vlerkstoele. Die son skyn warm en koesterend deur die groot vensters. En my siel en lyf bak te lekker in die gul strale. Man, pure frikken genotlike tevredenheid.

LollaGroete 🌞

Dimension Mishaps

Honestly, this is quite a regular occurrence. I very seldom use patterns, recipes and such. I am (or rather, I have become) more of a ‘let’s wing it’ girl.

Made this crochet beany for someone yesterday but got the size a tiny bit wrong. But, all is not lost. Another one was delivered this morning – perfect fit. And I have a plan to fix up the giant one to help keep me warm during our upcoming autumn bushveld trip. 😉💚🌼

Ooowps!

Eina!

Hierdie seer is ‘n verteer-seer wat mens platsmeer, sonder om minder of meer te vra of verstaan

Hierdie seer is ‘n seer wat misverstaan word, wanverstaan word, ontken word, misken word, skeefgekyk word

Hierdie is ‘n alleenseer, ‘n selfkasty-seer, ‘n gedwonge weer en weer probeer al weet jy daar is so ampertjie net mooi fôkol aanhou baklei meer

‘n Seer wat monsteragtig jou binnegoed oor warm, nat teer smeer. Ongenadiglik, moordadig. Nes jy dink jy is uit sy kloue gooi hy nog ‘n paar houe

In die voue van jou plooie, op en om en binne jou kneukels. Nuwe knoppe op die vreemde, ou, pynlike onflippenooglike knoppe.

Kloppend en brandend. Elektries-skokkend soms. Dof, soos ‘n stuk spoeggekoude borrelgom wat tussen die sinapse, dendriete, aksone en neurone snaarstyf toutrek

Vlymskerp vuurwarm krampe in jou bene, al met jou spiere langs tot in jou diepste vleis.

Dis ‘n bliksem die. Een waaroor ons mos nie eintlik praat nie want shoesh, ons is mos sterk en die lewe is mos ‘n lied en niemand wil eintlik van jou stront hoor nie.

Behalwe dalk soms, net sóms. Hier in blogland.




Lindie Koekemoer