Wanneer die Wisteria hier buite begin blom- gewoonlik so einde-Augustus – neurie my hart nuwe deuntjies. Binne weke is die prieel vol in blom en die skouspel voel vir my feestelik.
Bloureen 🪻
Die triomfanklike uitbarsting van pers-blou duur nie lank nie. Dit kondig net pronkerig die einde van die winter aan, hang so bietjie rond en maak dan plek vir die mooiste groen blarewolk.
Wanneer ek so tussendeur die elkedag se roetine-goete loop asemskep, gaan staan ek graag met my voet en rug teen die muur onder die Wisteria. So neem ek al vir weke lank fotos, van die eerste botsels aan die vaal takke af. En ek voel ‘n rym in my kop en are vorm. Ek begin beplan hoe ek met fotos en woorde hierdie stukkie prag met jou kan deel.
Min-wetend dat juis daar reg langs die blouselblou drapering, boewe ‘n paar weke terug die heining oopforseer, net om ons een oggend vroeg in te wag, te oorrompel en met wapens teen ons koppe al ons goete te steel. Sterker nog as die toksiese chemiese giftigheid van hierdie lieflingplant, is die vieslike verwaante astrantheid van mense. So verloor ek toe al my eerste-bloeisel fotos.
Ek was intussen weer daar onder die bloureen. En weer en weer. Want die Lig oorwin altyd. En omdat ons, in ‘n wêreld waar wetteloosheid seevier, moet vashou aan die goeie, dit wat mooi en eg is.
Ek was nou-nou weer daar onder die lowergroen blaarsambreel. Die keer saam met Izi. Ons het die laaste blou giftige blommetjies besnuffel, gegiffel en met ligte harte die res van die middag aangepak.
En dis met pure lekkerte en baie hoop dat ek hierdie kiekies met jou deel.
Passie (volgens die HAT 4de weergawe 2000, 3de druk, 2003): “… hartstogtelike liefde…”
Vir so lank ek kan onthou het ek ‘n intense, innerlike passie vir bome. Dis nie net bloot ‘n ‘ek hou van bome nie’. Dis meer. Net soos die wind my hart ‘n bietjie vinniger laat gallop, so ook vul bome my hart en my wese met ‘n onpeilbare, onbeskryflike warmte.
My eie boom, dalk nie heelemal dié droomboom nie, maar my boom. Geverf deur kunstige vriendin Tasèla Gouws
Bome is vir my groots. Sterk dog broos. Ek glo daar is meer boomsoorte as wat daar menslike persoonlikhede op aarde is. Hierdie subjektiewe teorie word gesubstansieer deur die wetenskaplike beraming dat daar ongeveer 3 triljoen bome op aarde is; by verre meer as die sterre in ons Melkweg sterrestelsel. Ook meer as al die selle in die menslike brein. (Verwys Internet: usatoday.com – 30/12/2021). Nog ‘n verwysing word gevind in ‘n National Geographic tweet (@NatGeo) gedateer 14 Maart 2016: “There are more trees on earth than there are stars in the Milky Way – and what they do for the planet is amazing.”
Ek is nie seker watter boom hierdie is nie – hy is so ongeveer 5 kilometer van my huis af. Groot. Ongelooflik mooi. Die plant-toep wat ek tans gebruik het ‘n paar moontlikhede voorgestel maar ek sal elders bevestiging kry. Hierdie boom is vir my verruklik en besonders.
Bome het ‘n energie van hulle eie. En hulle deel dit mildelik met enigeen wat belangstel. Met my hand op ‘n boom se bas kan ek my half verbeel ek voel sy hartklop. Dikwels hoor ek bome fluister. Aan die sy van ‘n groot boom is daar ‘n saligheid wat nerens anders bekombaar is nie. Bome is vir my ‘n veilige plek. Mistieke, fabelagtige, statige reuse wat min praat maar baie luister. En so, dus, sal daar gereeld in my skryfwerk of in gesprekke bome opduik – en hordes fotos van bome in all shapes & sizes. Hierdie formidabelle natuurwonders is diep in my siel ingeweef en –wortel.
Mooier as ‘n mooi-nooi – November Jakaranda
Ek sal vorentoe vertel van die boomryke area waar ek tans woon. My tone trek vuisies van pure lekkerkry as ek hier rondry en tot my verwondering keer op keer nuwe bome raaksien. En ek gaan nie voorbarig wees en my onkunde oor bome, boomname en boomfeite probeer verdoesel nie – ek hoop om saam met jou en julle te kan leer. Het jy al ‘n boom omhels?
Giggelgeel-natuurprag
As ek mag, sal ek wens dat my takke vele mede-dendrofiele raakgroei hier tussen my woorde. Wat is jou gunsteling boom, laat weet bietjie? Ek is lief vir ‘n Frangipanie maar Limpopo se Kremetart-bome verdien hul eie “Wowzers!”. Volgens die boek Remarkable Trees of South Africa (2nd editions, 1st impression 2016) – Esterhuyse, Van Breitenbach, Söhnge, Van der Merwe – is Suid Afrika se Groot Vyf Bome: die Kremetart; Wonderboom Vy; Outeniqua Geelhout; Mingerhout (Matumi) en Apiesdoring.
‘n Reus van Reuse – die Kremetart (Boabab)
Vir nou is dit eers genoeg gebabbel oor bome – ek glo daar gaan nog vele kanse wees om te hervat. Maar vir nou eers:
mag jy eendag onder 'n groom boom lê en sterre kyk,
mag die dag se hitte onder die koelte van ‘n blarereus wyk,
mag jy met jou wang teen ‘n koel boombas nuwe asem vind
wanneer die donker van die lewe jou wil-wil verblind.
mag die geritsel van die wind deur die blare en die gekwetter-skerts
van voëltjies tussen takke jou grootste vrese begrawe.
Lolla-liefde
NS: het jy al na Judy Dench se 2017 film “My Passion for Trees” gekyk? As jy lief is vir bome (en/of vir Shakespear) kan jy gerus ‘n uur hieraan afstaan.
Hierdie ou grote het dalk nie ‘n hartklop of frekwensie nie maar hy het my steeds laat glimlag, laat stop om ‘n fototjie te neem. En vir nou is Kersfeestyd vir ‘n rukkie eers verby.