So paar dae terug skryf Positief oor o.a. haar Tikkel Tokkol pilletjies. Oor hoe sy vir ‘n maand lank niks geblog het nie en oor die verdrink-gevoelte. En ek kan relate.
My blogmaat verwys ook na my (Lolla) se Bubble. Eintlik het ek na ek haar inskrywing gelees het, ‘n hele paar idees om oor te skryf, met verwysing na Positief se skrywe. Maar my skryf sit steeds vas.
My voortdurende konsternasie is skryf-konstipasie.
So skep ek dus vanoggend, met squish-muis se hulp, hierdie prentjie met bemoedigende woorde
Mag ons skryf totdat ons skryfuurglas leegloop.
Mag daar wonderlike, bonsende impetus agter ons idees wees en mag Tyd nie ons planne insluk nie.
Mag jy woeker met jou gawes totdat jou tone vuisies trek van pure lekkerte.
Een van die groot lesse wat die lewe my deur my persoonlike ervaringe geleer het is dat mens rerig nooit nooit ooit moet nooit sê nie. So het die holrug never say never ‘n herhaalde tema in my lewenssiklus (nee, nie sirkus nie) geword. En ek sal aanhou met oortuiging afraai dat mens moet glo dat sekere goete nooit sal gebeur nie. Want Nooit en al sy voor- en nasate is langer as vir-ewig. Nooit is eintlik net ‘n gat vol niks en nêrens.
Nooit sal ek ooit weer Sê nooit nie, want Nooit het toe nooit gebeur nie Nooit raak toe alte gereeld 'anything is possible' en kom haal 'n ingebore hooitie tooitiegeit uit my uit
Hierdie Afrikaanse meisiekind raak groot in ‘n redelike gewone Afrikaanse huisgesin. Waar daar boeretroos gedrink word, pap met botter en wors gebrekfis word, soggens en saans en voor etes gebid word en boks en rugby geluister en gekyk word. Sokker was nie regtig deel van my verwysingsraamwerk toe ek jonk en jonger was nie. Dié sport was vir my half volksvreemd, iets waarvan ek bewus was, maar amper soos mens bewus raak van praatjies oor Vreemde Vlieende Goeters (VVGs). En ek sou selfs so ver gaan om te sê “Nee wat, sokker is nie vir my nie. Ek ken in elk geval nie die reels nie. Uhuh, nee dankie dis nou een sport wat ek nooit sal volg nie.”
Ggghhh!!! So kom klop Nooit een dag so paar jaar terug aan my deur (ook nie die 1ste keer nie) en hy/sy het sommer net vir effek al die Nooit niggies en neefs saamgebring. Hulle lyk almal so half gekrok en mank, asof hulle die verloorders in ‘n hengse onderonsie was. Nooit kyk my van aangesig tot aangesig en fluister …. Deksels, niks hou ooit vir altyd nie ……
Toe ek die Ingelsman in 2019 ontmoet besef ek gou hierdie boorling van Newcastle Upon Tyne in die noorde van Ingelsmanland is nie ‘n rugbyman nie. Nee, hy is ‘n groot ondersteuner van football. Die Magpie’s. Aanvanklik sou ek nie saamkyk of kon saamgesels nie. Maar toe, op ‘n dag, kry ek myself saam gil vir die manne in swart en wit, en ek weet toe hoekom die Nooit-familie so defeated gelyk het.
Ek was heeltemal verkeerd om te glo, met oortuiging, dat sokker nooit as te nimmer ‘n plekkie in my lewe sou hê nie. Op my selfoon se tuisskerm is daar ‘n spasie waar nuus oor die Premier Liga (wat komende naweek afskop) deurgans opdateer. Ek kan redelik saamgesels, oor name soos Joelinton, Saint Maximin, Almiron en Bruno. Ek ken steeds nie die reels nie maar weet al wanneer om saam met my Ingelsman te juig (en wanneer om te swets).
Steeds verkyk ek myself aan sommige van die spelers wat dramaties teatraal neerval, rol en dan bly lê na die geringste kontak. Wanneer The Blaydon Races weergalm deur St James’ Park sing ek uit volle bors saam.
Sou ek dit ooit geglo het, toe ek nog geglo het dat nooit rerig nooit sou wees. Dat nooit soms die verpersoonliking is van onskuldige onkunde. Nooit, ek sou nie. Maar Nooit het vir Nooit, en vir my, verkeerd bewys, ne.
Aa went to Blaydon Races, 'twas on the ninth of Joon, Eiteen hundred an' sixty-two, on a summer's afternoon; Aa tyuk the 'bus frae Balmbra's, an' she wis heavy laden, Away we went 'lang Collingwood Street, that's on the road to Blaydon.
Oh! me lads, ye shud a' seen w'us gannin, Passin' the folks along the road just as they were stannin'. Aal the lads and lasses there, aal wi' smiling faces, Gannin' along the Scotswood Road to see the Blaydon Races.
... ...
Om op te som: nooit ooit weer sê ek ek sal nooit nie. Why-aye, man.
Ek het aanvanklik ‘n skakel hier ingesit na ‘n video van The Blaydon Races maar dit werk nie. Gaan loer gerus op YouTube en luister hierdie lekker folk-song.