Lolla’s Blog

My Heel Eerste Haikoe (Haiku)

Sover ek verstaan is Haiku ‘n vorm van Japanese digkuns, wat wêreldwyd in vele tale beoefen word.

Anders as van ons meer bekende digvorms is een van Haiku se reels dat dit nie rym nie.  Dis een gedagte wat ‘n Wat, Waar en Wanneer bevat en in 3 lyne ondermekaar geskryf word. Die volgende reels geld ook, alhoewel sommige tale meer moderne, unieke vorme van Haiku bekendstel.

‘n Haikoe bestaan uit 17 lettergrepe…

  • Lyn 1: bevat 5 lettergrepe
  • Lyn 2: bestaan uit 7 lettergrepe
  • Lyn 3:  5 lettergrepe

Aanvanklik het Haiku temas die natuur beskryf, emotief.  Maar – en hierdie maak my kreatiewe hart vrolik – daar is spasie vir groei, ontwikkeling en innovasie.

Dit het my ‘n redelike tydjie gevat om my eie eerste Haikoe in Afrikaans te skryf.  Hoe ‘reg’ dit is weet ek nie.  Maar dit voel reg, en lekker.  Ek deel dit graag hier met jou.

Lyk dit dalk makliker as wat dit is?

Wie van julle het al ge-Haiku?  Deel gerus julle gedagtes en ervaring hier.

LollaseGroete

Oor hutse met lang bene ….

Vragie vir die wat weet: is die hutsmerk nog “a thing”? Is dit nog “in”, of is daar enige nuwe neigings? Do you still use the hashtag?

Ek-self sukkel om by te hou met wat die nuutste gebruike is, veral op die platforms wat ek gebruik. Enige raad of inligting oor die gebruik van hierdie “#” outjie sal waardeer word. Let me know how and when you tag?

O ja … en as ek dalk alreeds die vraag gevra het, help maar weer of andersins ignoreer. 😉

LollaseGroete

Voor dit te laat is

Hoe dikwels skeep ons nie juis daardie dinge wat ons siele voed, so blatant af nie.

Doen jy dit ook?

Dinge wat jou hart bietjie warmer laat klop.  Meestal is hierdie eenvoudige, ongekompliseerde dinge. Soos om vir ‘n rukkie kaalvoet buite op die gras te gaan stap. Of om gou ‘n geliefde te bel en net vinnig op te vang. Dalk, om saans onder die oop sterrehemel te gaan staan, op te kyk, stil te raak en vir ‘n rukkie net diep asem te haal.

Dit maak soms die verskil tussen net hier wees en werklik lééf.

As daai kersvlam jou hart warm maak, ggrrrts daai vuurhoutjie en laat die kersie brand. Want, as jy die stof te lank laat opgaar is dit dalk nou-nou te laat.

#ekisskuldig

Uitdagings, Partytjies & Kersfees

Die kleurvolle Goue Vroue feetjies babbel oor Wats-op. Una pluk ‘n enorme wortel uit haar Mosambiekse gooiingsak en die ander Goues gryp na hulle slim-toestelle. Seegogga het mos immers vanoggend ‘n uitdaging in ons midde gegooi. Skryf ‘n blog. Ek dink nogal dit was goeie tydsberekening, want sommiges van ons kort ‘n effense skop onner die alie.

So is dit weer Desember. Vreemd hoe hierdie tyd van die jaar my dikwels aan die gorrelgat beetkry. Soveel hartseer in hierdie wêreld, en hierdie sensitiewe siel is nou maar eenmaal nie opgewasse teen al die rou seer en kak en drama nie.

Maar dis ook ‘n wonderlike tyd waar ons herinner word aan ‘n Genade wat groter is as wat enige-een van ons ooit sal weet.

Vir ons Rebus partytjie pak ek baie kaasworsies, ‘n yskoue bottel Zoerdoef en Gaviscon. Ooh ja, en spookasem.

Hierdie jaar was tot barstens toe vol – goed en minder goed. Ek is dankbaar vir God se Genade. My hart bloei oor die chaos in ons wêreld. Maar ek hou vas aan Die Lig.

My wense vir jóú hierdie Kersfees is dat jy die Here se Hande voel wat om jou vou. Dat seeninge, geluk en liefde jou laat snak na jou asem en dat jy altyd sal weet hoe wonderlik spesiaal jy is.

Lolla se Kersfeesgroete – met Liefde ✨️🙏🎄

Verandering

(Soos op FB ook gepos)

🎵 Hier’s ek weer hier’s ek weer
Om nog een keer te probeer…..

Ek wil dit sê
En ek gaan dit sê 🎶
Al slaan jou ma my
(Julle beurt, vul die lyntjie in)
Ek sal dit sê, al gaan ons stry … ☆☺️🎵

○●○●○●○●○●○●○●○●

So saam met die Lewe wat oor die laaste dekade drasties en dramaties verander het, het dít wat ons doen en hóé ons dit doen merkwaardiglik en soms ongemaklikrig verander.

Van julle sal onthou hoe ek genotlik en simpel-blatant eerlik op hierdie einste platform my hart en kop met julle en die wêreld kom deel het. Sonder voorgee en gevaarlik eerlik.  Maar, een van die waarste konstantes van ons bestaan is die feit genaamd VERANDERING.  Dis absoluut onontbeerlik dat ons ons ‘aanpasbaarheid’  voortdurend moet oefen (oorlewingssoepelheid) en toepas.

Wel, truth be told, …. ek met my vet-flenters lyf en gekrokte senuweestelsel het in 51+ jare my “weer-probeer” tot op die been deurgewerk.  En hier besef ek skielik (alweer) dat daar ‘n tyd is om sekere dinge te laat gaan. Sommige handdoeke moet ingegooi word, wit vlae moet hoog gehys word, boeke moet toegemaak word en true moet opgegee word.

Ek het myself aan die begin van 2023 oortuig dat my woord vir hierdie jaar sou wees “LESS”. Maar tot nou toe kon ek dit nog nie toepas soos die intensie was nie.

So besef ek;  dis tyd!!! Sekere dinge moet gaan, sekeres moet verander en geskaaf word.  Ekself het nou al ‘n paar keer my hoeveelste ‘coat of many colours’ deurgeleef.

Wel dit was ‘n bekvol. Eintlik sê ek net ek is nog hier maar soos die res van die wêreld is ek intens-anders. 

Ek skryf nog, maar anders.
Ek probeer nog, maar anders.
Ek leef nog, maar anders.