Meer Mens as Mense Self

Hulle name is Vlooi en Pixie.  Die twee geliefde queen ladies in my lewe. Vir vyftien jaar al is hulle aan my sy, soos twee skaduwees.

Swart Vlootjie links & Bruin Pixiewix regs

Die liefde en lojaliteit van ‘n hondekind is verseker die suiwerste, mees onvoorwaardelike liefde wat hierdie lewe ons offer.

Hoe kosbaar om hierdie asempies in my lewe te hê. Liefde onbeskryflik groot.

LollaseWoefWoefGroete ♡

As dit blou blommetjies reen

Wanneer die Wisteria hier buite begin blom- gewoonlik so einde-Augustus – neurie my hart nuwe deuntjies.  Binne weke is die prieel vol in blom en die skouspel voel vir my feestelik. 

Bloureen 🪻

Die triomfanklike uitbarsting van pers-blou duur nie lank nie.  Dit kondig net pronkerig die einde van die winter aan, hang so bietjie rond en maak dan plek vir die mooiste groen blarewolk.

Wanneer ek so tussendeur die elkedag se roetine-goete loop asemskep, gaan staan ek graag met my voet en rug teen die muur onder die Wisteria.  So neem ek al vir weke lank fotos, van die eerste botsels aan die vaal takke af. En ek voel ‘n rym in my kop en are vorm.  Ek begin beplan hoe ek met fotos en woorde hierdie stukkie prag met jou kan deel.

Min-wetend dat juis daar reg langs die blouselblou drapering, boewe ‘n paar weke terug die heining oopforseer, net om ons een oggend vroeg in te wag, te oorrompel en met wapens teen ons koppe al ons goete te steel.  Sterker nog as die toksiese chemiese giftigheid van hierdie lieflingplant, is die vieslike verwaante astrantheid van mense.  So verloor ek toe al my eerste-bloeisel fotos. 

Ek was intussen weer daar onder die bloureen. En weer en weer.  Want die Lig oorwin altyd.  En omdat ons, in ‘n wêreld waar wetteloosheid seevier, moet vashou aan die goeie, dit wat mooi en eg is.

Ek was nou-nou weer daar onder die lowergroen blaarsambreel. Die keer saam met Izi.  Ons het die laaste blou giftige blommetjies besnuffel, gegiffel en met ligte harte die res van die middag aangepak.

En dis met pure lekkerte en baie hoop dat ek hierdie kiekies met jou deel.

LollaseBloureenGroete ♡

My Heel Eerste Haikoe (Haiku)

Sover ek verstaan is Haiku ‘n vorm van Japanese digkuns, wat wêreldwyd in vele tale beoefen word.

Anders as van ons meer bekende digvorms is een van Haiku se reels dat dit nie rym nie.  Dis een gedagte wat ‘n Wat, Waar en Wanneer bevat en in 3 lyne ondermekaar geskryf word. Die volgende reels geld ook, alhoewel sommige tale meer moderne, unieke vorme van Haiku bekendstel.

‘n Haikoe bestaan uit 17 lettergrepe…

  • Lyn 1: bevat 5 lettergrepe
  • Lyn 2: bestaan uit 7 lettergrepe
  • Lyn 3:  5 lettergrepe

Aanvanklik het Haiku temas die natuur beskryf, emotief.  Maar – en hierdie maak my kreatiewe hart vrolik – daar is spasie vir groei, ontwikkeling en innovasie.

Dit het my ‘n redelike tydjie gevat om my eie eerste Haikoe in Afrikaans te skryf.  Hoe ‘reg’ dit is weet ek nie.  Maar dit voel reg, en lekker.  Ek deel dit graag hier met jou.

Lyk dit dalk makliker as wat dit is?

Wie van julle het al ge-Haiku?  Deel gerus julle gedagtes en ervaring hier.

LollaseGroete