Oujaar & Nuwejaar

Tyd om nuwe drome op te gaar
Om in waterstrome en onder bome te baljaar
Tyd vir ballonne, musiek en drome
Tyd vir liefhe, gesond wees en nuwe patrone

Twintig-Een-en-Twintig was ‘n vol jaar. ‘n Vinnige 12 maande. Daar is geen manier om die suksesse en die seer van ‘n spesifieke periode te meet nie. Maar ek dink dis veilig om te konkludeer dat 2021 ‘n emosionele, grootliks gagga en mega-moeilike tyd vir baie mense was. Natuurlik is daar altyd sonskynoomblikke, maar ek lei af van vele gedeelde gevoellens op sosiale media en gesprekke dat ons 2021 in die vullisdrom kan wegbere.

Die jaar wat was, was vir my gevul met gevoellens en belewenisse wat sekerlik die hele spektrum van emosies kan dek. Tuinwerk, my eie kompos maak, meer blomme in my huis en tuin as ooit tevore. Pure lekkerte. Te midde van versigtigheid oor hoe om die “groot gogga” te navigeer en te onduik was daar steeds ‘n paar spesiale girls oomblikke. Kuiers saam met vriendinne op ‘n Vrystaatplaas waar van ons in ‘n watervalpoel geswem het. Hier het ‘n maat se mooi sonhoed wat met 2 botteltjies gin ewe gaaf van bo-af vir ons gegooi is soos mis voor die son onder die water verdwyn, vir ewig en altyd. Vroeg in die jaar het my gesondheid begin skewe draaie draai toe ek ‘n moontlike kwaadaardige groeisel moes laat uitsny. Als het tog mooi uitgewerk.

20-1-en-20 was gepak met kosmosse (velde en velde vol), tuisgemaakte bierbrousels, wolke (‘n persoonlike passie waaroor ek nog gereeld sal blog), reenboeë, ‘n bibberkoue winter, vals naels en vals hare (ek sit nooit weer tape extensions in my hare nie!) Ek en Ingelsman was twee maal Kaap toe, wat ‘n blessing. Besoeke aan natuurreservate met wonderlike sightings van diere and plante – Moeder Natuur op haar heel beste. Daar was ook baie trane en hart-seer oomblikke. Verliese. Maats wat nie meer saam ons hier op aarde is nie. Afskeid van ‘n hartsvriendin. Te min tyd saam my twee hartskinners. ‘n Sus se seer. Vriende en vriendinne wat swaar trek. Teveel aanlyn vaarwels. 2-0-2-1 was ‘n eina jaar!

‘n Reenboog van ons stoep af geneem in Oktober 2021 na ‘n propperse hoëveld donderstorm.
Rus sag my Sonneblom-maat

En so is dit 2022 – ‘n wonderlike nuwe vooruitsig. Eintlik maar net nog ‘n dag. En tog ook nie. Want elke nuwe dag is ‘n nuwe kans. Verseker nie altyd maklik nie, maar sekerlik tog ‘n seening. Nuwe Hoop. Nuwe Kanse.

Ek is propvol planne en drome vir die volgende 12 maande (en dan nog so bietjie !knipoog!) Een daarvan is om aan te hou skryf, meer te skryf – om hierdie passie van my te laat werk, te laat groei. Om dit te geniet en hopelik dalk selfs te floreer. Dalk kan ek tog daai boek klaarmaak. Daar is soveel om te doen. Soveel om te leef. Tans werk ek aan ‘n blog inskrywing oor ‘n ander passie, een wat my nou besig het met navorsing, oplees, leer. Bome. Hou die spasie dop!

Mooiste Wilgerboom langs ‘n Rietvlei waterstoom.
Ek het ‘n intense passie vir die natuur – bome hou soveel geheime.
My hart kry doepa in die natuur.


Mag ons elkeen ons eie plekkie in die son vind
Mag ons bly drome droom soos ‘n kind
Mag ons dae lig wees en ons paaie sonder teveel slaggate
Mag ons liefde vind al is liefde soms blind
Mag ons elke dag vier, op jou eie manier
Mag ons nie die belangrike kanse miskyk
en teveel verkeerde keuses maak nie
Mag ons opstaan wanneer ons val en
ander optel in die oomblikke wanneer hulle nie self kan nie
Mag ons minder van ons wees en meer van Jesus
Mag ons nie ons uniekheid en andersgeit prysgee ter wille
van ander se giere en geite nie
En mag ons aan die einde van die volgende 365 dae vir mekaar
knipoog en saam die volgende nuwe-hoop-siklus aanpak.

Voorspoedige Nuwe Jaar
Met Lollabolla-liefde

Blydskap is … (“Happiness Is”)

Hoop
Reendruppels
Wolke, Wind
Blomme
Kaalvoet loop
Boozy jams 🙂
Sonsopkomste & -ondergange
Lekker lag
Deernis
Opregtheid
Egtheid
Honnekinners
Omgeemense
Somer & Son
Plante wat groei
‘n Tuin vol kleur
‘n Huis vol liefde & warmte
Drome
‘n Gees wat nie opgee nie

Frangipani (‘n persoonlike gunsteling)

Vriende(inne)
Boodskappies
Gawes
Kleurvolle liggies
Waatlemoen
Lees
Lag
Nuwe oggende
Belewenisse

Wille Darling Sonneblommetjies

Kleur
Geure
Strelende klanke (golwe, musiek, voëltjies wat sing …)
Tuisgemaakte mengeldrankies

Nuwe dag, Nuwe dinge

Lappoppe
Kunstige mense
Kiekies
Wiele wat rol na nuwe, opwindende bestemmings (roadtrips)
Spagetti & maalvleis
Swem
Sing (al is dit vals)
Om hartsmense gelukkig en tevrede te sien
Goeie nuus
Liefde

Wat kyk jy, huh?

Vrede & Vreugde
Vasbyt & Deursettingsvermoë
Geduld
Genade

My hart glo dat hierdie lysie is nimmereindigend. Wat maak jou bly/gelukkig?

Mixed Feelings

Disappointed
Slightly anxious
Maybe a bit frustrated...
And by the end of writing this, disgusted.
Rain in the Karoo

Some decent rain falling here in the Central Karoo (grateful). Been stuck in backed-up traffic twice. Sad to see accidents along the way. Also sad to see the chaos on and the mess next to our roads. Not to even mention the filthy public restrooms. 😒😕😟☹️

Misty Mountains

Traveling nationaly in December – not a good idea!

Lolla’s life-tip : Travel Light!

So writing this post and a nice toasted chicken mayo sarmie has lifted the sombre mood slightly. Still a long way to go, but looking forward to sleeping in my own bed tonight.

It’s maybe not the best of days. With the rest of our December holiday plans being uprooted and an unplanned 15+ hour drive back home. But, it’s not all doom and gloom. There’s lots to be thankful for. And that is exactly what I shall be focussing on.

Hugs, love and light. Take care, travel safe. Be considerate and remember, #dontbeamoegoe.

Long Drives

Good Morning

Last stretch of our trip to the coast. We have a wide variety of music (went from Usher to The Singing Nun, Journey & Status Quo) and the brisk morning air is quite invigorating.

Karoo Sunrise

Today is going to be a good day.

Interesting facts & history: According to Wikipedia, Leeu Gamka was established towards the 1870s, initially called Bitterwater. Some of the buildings in town was used as a hospital for British soldiers during the Anglo Boer War (1899-1902).

#Blessed

Okay, that’s it for now. Later.

‘n Kakkerige Begin ….

Vir maande nou al sien ek (ons) uit na ‘n baie spesiale Desember vakansie. Vir my wink dit soos ‘n soete lafenis na ‘n uiterse uitdagende jaar vir my fisiese gesondheid. So nodeloos om te sê ek kon behoorlik skaars wag om te sê “Ek is op Verlof”! En so, na ‘n laaste naweek se volstoom werk, breek die dag toe aan. My eerste dag van inlê, sonsit, koekies bak en laaste pakkery voor die lang reis kus toe. Of toe nie.

So saam met die laaste naweek van werk en ‘n reeds-langer-as-‘n-week se griep kom die groot spuitpoep ook. Man, sommer in golwe. Het jy al geknyp dat jou boudspiere jou bobeenspiere in ‘n skrum bymekaartrek totdat jou kuite se kiewe lyk soos iemand wat ‘n outydse suurklontjie raakgebyt het. Saterdag – nag nommer 1. Ek word Sondagoggend wakker in ‘n plas sweet, my lyf so seer dat ek met moeite beweeg. Teen vroegmiddag is ek gedaan van niks binne-hou nie en die naargeit keer dat enige reserwes opgebou word. Nog ‘n nag van koorssweet terwyl ek bibberbewe en Maandag, oggend nommer 2 – weer ‘n plas sweet op die laken waar my lyf gelê het. Stort. Droog aantrek. Swart tee drink. Dis ‘n aaklige aardigheid.

Photo by Anna Tarazevich on Pexels.com

Sonder om hierdie storie nou onnodig lank uit te rek ….. dis ampertjies tyd om ons tasse in die kattebak te gooi vir ‘n broodnodige rustyd. Dit kan seepglad verloop of skuit-skuit die bult uit. ‘n Droog stukkie roosterbrood en paar slukkies ‘siekwees-koeldrank’ bly nou al ‘n rukkie binne en daar is hoop. Met ‘n bietjie geluk sal ek more genoeg oemf terug hê om klaar te pak. En met nog bietjie meer geluk sal daar geen onvoorsiene onaangename gebeurtenisse langs die pad plaasvind nie. (As julle tussen Gauteng en die Wes-Kaap ‘n klein wit tjorrie na ‘n redelike kort paar briekstrepe skuins langs die pad sien staan, kyk maar doer in die verte en hou verby….. ons sal volgende keer twee maal groet.)

Om te Blog, of nie te Blog nie …..

Dis eintlik glad nie eers ‘n vraag nie. Want sien, ek skryf al van kleintyd af. Met passie. Dikwels ernstig en soms tong-in-die-kies. Verseker heelemal te reguit vir sommige mense se smaak. Maar ek skryf. Dis ‘n lewenslange liefde.

So hier dus, op my amperse oudag kan ek myself Skrywer noem. Want dit is immers wat ek is. Nou moet ek skouer aan die wiel en ink op papier sit om iets onder my naam te publiseer. Waarskynlik 2022 se grootste doelwit. Hoe het Pa Piet altyd gesê: “As dit die Here se wil is”. Vreemd, nader aan sy dood het Pa dit al hoe meer gesê, so al asof hy ‘n voorgevoelte gehad het.

Mooigoete

Dus sal ek aanhou skryf. Op my manier, vir die wat my skryfwerk geniet. Met ‘n diep dankbaarheid dat ek kan doen waarvoor ek lief is. Dankie vir elke een wat saam lees, saam beleef en selfs soms raadgee. Mag ons individuele, unieke kreatiwiteit manna vir ons data-&-inligtingdeurdrenkte siele wees.

Lolla Groete

‘n Brief vir my Ma

Ma,

Vanoggend sou Ma trots gewees het op my.  Ek, die sussie met die minste naaldwerkvaardigheid het self ‘n oorgroot t-hemp korter gemaak.  Die tweede ene lê gereed om gewerk te word – klaar gesny en gespeld.  En, ek het myself omtrent net 4 keer raakgesteek.

Spelle

Ma, hoe vinnig kan ‘n blou tolletjie gare van jou skoot afrol en net wegraak.  Ek moes soek en soek en soek …. hoe ver kan jy dan rol?  Uiteindelik opgespoor.  Die een kant van my baie oulike, koel, blou goedkoopkoop toppie is met rek ingewerk.  Lanklaas so lekker dra-toppie gehad wat my ekstra soetrolletjies mooi wegsteek.  Net jammer die rekwerk om die heupe is effens losserig.  So as deel van my doen-dit-jouself projekkie maak ek sommer dié toppie nog meer dra-baar deur ‘n ekstra stukkie rek aan beide kante in te werk.  Ek het kleintyd gewonder hoekom Ma so half tonguitsteek gemik en gefokus het om die gare deur die naald se ogie te kry.  Ha!  Nou weet ek Ma.  Ek moet selfs my Ingelsman se leesbrille gebruik en mooi korrel, wat ‘n gesukkel.  Fluister:  “ek raak oud Ma!”

Die Ingelsman (en nou myne) brille

Ja!  Glo dit maar.  Ek, wat Lolla is, doen naalwerk.  Dis ‘n rare gebeurtenis, net soos sommetjies maak.  My kop slaat mos heelemal toe as ek nie geinterresserd is nie.  Maar Ma!  Ek kry dit mooi reg.  Dink ek gaan die 2 t-hempde en koelblou toppie kan saamvat see toe.

Deurmekaar Tipiese Lolla Naaldwerkkardoesie

Dis nou te sê, Ma, as die groot Oom nie besluit ons kannie see toe nie.  Maar ek glo nie dit sal nou al so vêr gaan nie.  Ons is skaars in die vierdie vlaag van hierdie slinkse seepgladde gogga en nou sien ek die syfertjiemense reken ons provinsie sal volgende week die piek bereik.  Ek probeer verstaan, maar ek kan nie.  Dat een gogga ‘n hele mensdom in malligheid kan dompel.  Ma???  Ek gee op (teatrale handgebaar na bo) ….. with immediate effect.

Moeka dit reen buite.  Dit reen baie.  Ons het skielik weer laatmiddag donderstorms soos jarre terug.  Ek weet die weer kan baie skade doen, maar ek lief die reen, wind en donderweer.  Dis ‘n koue Desember-oggend.  Vandag voel ek soos in die bed bly en net nog ‘n bietjie slaap.

Liefste Lalie

Poppie het gehelp met die hele blouhemp naaldwerk episode.  Gewillig – eintlik is sy so effens verlore sonder die ander twee poppe Mams.  Hulle is mos elkeen hulle eie rigting in hierdie Desember.  Die eerste keer in ‘n hele paar jaar, so op hulle eie.  Wonder nogal wat elkeen gaan aanvang.  Darm het Poppie vir Lalie, die mooi blouoog dolla-pop.  Hulle is groot maats Ma, nes ek en Kleinsus.

Ons stik ….. freehand-style

Poppie se hare …. uuhm, dit was ‘n ongelukkie.  Sy wil mos altyd orals in.  Dinge doen en probeer.  Lewe mos uit die jippe uit.  So amper nes Ma ook gedoen het. 

Ma, nes Ma en Oom Frank, doen ek dinge ook op my manier.  Baie kyk skeef vir my Ma, maar weet Ma wat, dit is wat dit is.  Ek lewe so voluit as wat ek kan.  Verseker kan ek nog meer, en nog beter.  En ek maak baaaie (*grootoog*) foute!  Maar verseker gee ek my alles.  En dit – my alles – is mos genoeg, of hoe Ma?

Ek mis Ma!
Dit reen Ma.

“I've loved, I've laughed, and cried
I've had my fill, my share of losing
And now, as tears subside
I find it all so amusing
To think I did all that
And may I say, not in a shy way
"Oh no, oh no, not me
I did it my way"”
Frank Sinatra - My Way

Wishes

May my words always be sincere, honest and as kind as possible.
May my thoughts be pure yet receptive and flexible.
May I never consciously hurt through my writing or my actions, but
may I be true to what I believe is right.
May I judge with compassion when I do judge.
May I be the only real version of Me – not in competition or at war with anyone.

Photo by julie aagaard on Pexels.com
May I find peace in my me-ness
May I love others for their uniqueness
May I reject toxicity with dignity and authority
May I live authentically and unapologetically
May I be a light in the darkness
While I carry the darkness within, with careful awareness

Horrelpoot Hinke-Pink

Deel van my baie lang lys skete is goor voete.  Voor ek begin vertel – ek klae nie.  Inteendeel ek is ewig dankbaar vir hierdie twee poffertjie voete van my.  Saam het ons darm al plekke gesien, dinge gedoen en lang ente gestap.  As hiri voete kon praat ….. oi.

Van piekanienietyd af het ek gesukkel met die twee trappers.  Op laerskool was ek ‘n belowende atleet met my eie, uitkenbare styl.  Ma was nooit seker of dit my senuwees of my voete was wat my so vreemd laat hol het nie.  So half hinkepinke maar steeds soos blits.  Tot op ‘n dag toe ek sommer so in die stap my voete – maar veral die linkervoet – begin swik.  Erg.  Potblou.  Voetswik is mos maar iets wat ons soms oorkom.  Maar toe ek dit al hoe meer begin oorkom was die dokter my voorland.  En die uiteinde was die einde van my naeloop-toekoms en die begin van lang maande van fisioterapie.  Elektrodes, warm masjiene, oefeninge, spesiale skoene.  En toe ook ‘n leeftyd van pinkhink skeeftrap en ekstra-groot voetspore los.

Al die rate het gehelp, maar tot vandag toe (dekades later) swik my voete steeds soms.  Ek het ‘n paar weke terug juis myself uit my nuwe blink, pienk kokosse uitgeswik.  Skoen skoon flenters.

Ek kan vir maande loop sonder ‘n skewe trap of ‘n druppel pyn, maar dan-en-wan kom die bekende beentjies-maal gevoel weer terug.  As ek trap is dit seer.  Dit kom, ek smeer of spuit spier-en voetgoete, draai toe, hou in die lug, loop minder.  Dan gaan dit weer weg.  Ongeveer 10 jaar terug tydens ‘n saggies-trap-eina episode word ek na ‘n spesialis verwys wat allerhande toetse en skanderings laat doen.  Vertel toe dat ek ‘n stresfraktuur het en wys op ‘n voet-model die spesifieke beentjie waar die probleem is.  “Jy gaan moet gewig verloor” (was nie die eerste en enigste keer dat ek dit sou hoor nie) – … “want dit sal help om die druk op jou voet te verminder.”  Blykbaar was al uitweg ‘n operasie waar ‘n klein beentjie uit my voet verwyder word, maar as gevolg van my ouderdom toe, besluit die Spesialis dis te vroeg om hierdie roete te volg.  Met pynpille is ek fort en so hinkepink ek steeds voort.

Dis nou al ‘n hele paar weke wat my linkervoet kwel.  Die ou-bekende geskuur en geskaaf binne-in my poot is terug, party dae staat hy sommer lekker geswel en pers.  Na ‘n paar dae se ekstra-moeilik loop gaan soek ons vir my ‘n voetstut.  Die rekstof stut het ‘n silikoonpres presies op die stukkie van my voet waar al die moeilikheid vandaan kom.  Ek stap effens makliker.  Vir ‘n paar dae gaan dit goed, tot ek sien my voet het so ekstra pers strepie, asof iets te hard daar gedruk het.  Loop vir ‘n dag of wat sonder die stut voor ons laas Saterdag familie-ete gaan hou op ‘n reenerige, koue naweekmiddag.  Ek is gepantser in my stywe rek-jeans, wintersokke en winter stewels.  Dit word ‘n besige dag en ek is vir langer in ‘n skoen as in enige ander onlangse kirona dae. 

Skrik ek myself kediks toe ek my skoene en kouse daai aand uittrek en horrel-linkervoet tot amper-in-my-shin pimpel-perserigrooi, geswel en nou met ‘n hartklop van sy eie vir my terugloer.  Eerste gedagte was “Bloedklont!”.  Maar na oorweging besef ek daar was net teveel druk op ‘n area wat duidelik gekrok* is. Ek gaan nie weer daai voetstut dra nie.  En vir ‘n paar weke gaan ek versigtig stap, so min as moontlik.  Die gekleurde voet is nou al minder geswel en ‘n veel ligter skakering van persblou.  Maar ek voel nog die binne-skade.  En ek trap my trappe mooi.

Vreemd, of dalk net omdat ek juis nou nog meer op voete fokus, maar oral om my gebeur daar veral nou voetgoete.  Pinks-maat val haar slankvoet die naweek met reennat skoene in ‘n pers einavoet in, dieselle kleur as die laatmiddag donderstormwolke wat ons deesdae gereeld beleef.  Vanoggend is een van die heel eerste links op my Gesigboekie newsfeed Michael Bolton se ‘When I’m back on my feet again’.

Tipies ek stop my kop nie hier nie – ek wonder oor al die voete goete wat orals opkom.  Wonder oor die simboliek van voete en of daar ‘n dieper betekenis agter al die voetboodskappies is.  Of dalk nie. 

Wat ek wel weet is dat ek diep dankbaar vir my voete is.  Tone bly seker maar (vir my altans) van die vreemdste, lelikste liggaamsdeeltjies (saam met 2 ander “T’s” wat ek vir sensitiwiteitsredes nie hier gaan deel nie).  En tog help hulle ons regop hou.  Kan jy glo, 5 kleinerige, dikwels vetterige worsies (die lang maeres is ook lelik, skies julle) kan jou postuur beinvloed, jou vinniger help hardloop, en daai lyf van jou balanseer.  Wraggies absoluut astonishing sou ek reken.

Vir nou is dit eers genoeg oor Voete (maar ek vermoed dis nog nie die einde van hierdie tema nie). 

Julle moet versigtig trap en mooi loop.  Of jy nou vandag voetsleep of huppel of dans of drafstap ….. gee ‘n shoutout vir jou 2 voete.  Loop vir ‘n rukkie kaalvoet.  Voel die teels of die gras onder jou voetsole.  Tap ‘n skottel vol lekker warm of koue bederfwater en week jou voete.  Vertroetel hulle bietjie – hulle stap langpad saam met jou. 

*Gekrok is ‘n woord wat waarskynlik dikwels in my blog sal voorkom.  Wag maar en sien self.   

Lankpad-saamstap-trappers

Te min tyd vir twak

Is dit net ek wat voel asof tyd onder my uithardloop? Hoe meer daar is om te doen, hoe minder kom ek by dit uit, voel dit vir my.

Om goete te organiseer en beplan en fasiliteer was nog altyd een van my super-powers. Ek vermoed oudword het ietsie uit te waai met die spoed van tyd. En natuurlik ook die mal, volgelaaide, verwagting-gepakte lewenswyse wat ons konstant besig hou met dinge wat dalk nie noodwendig soveel tyd regverdig nie.

Beplan, filter en wees realisties

Feit is, tyd wag vir niemand nie. En die lewe is ongelooflik broos en kortstondig. Al voel ek meestal of ek in iets versuip is daar tog n paar dinge wat kan help wanneer die kort armpie te vinnig draai.

  • Haal diép asem. Gefokusde asemhaling wérk.
  • Don’t sweat the small stuff (rerig!).
  • Besluit wat is in jou beheer en fokus op dit. Moenie teveel van jou kosbare tyd op ander se geite uitgee nie.
  • Word so baie gesê deesdae, maar wraggies tog: leef in die oomblik. Maak seker jy vóél tyd.
  • Sit soms jou foon en rekenaar neer en kyk ekstra mooi na die dinge om jou.

Jou tyd, jou keuses. Mag jy vandag die heel beste uit elke sekonde kry en mag daar genoeg magic in jou dag wees om jou tyd-reserwe emmertjie bietjie op te top vir more en more se mores.

Tik-tok

Ek wens vir jou genoeg woema om verlore tyd in te hol, hande vol te skep en miracles daarmee te maak.