Ma,
Vanoggend sou Ma trots gewees het op my. Ek, die sussie met die minste naaldwerkvaardigheid het self ‘n oorgroot t-hemp korter gemaak. Die tweede ene lê gereed om gewerk te word – klaar gesny en gespeld. En, ek het myself omtrent net 4 keer raakgesteek.

Ma, hoe vinnig kan ‘n blou tolletjie gare van jou skoot afrol en net wegraak. Ek moes soek en soek en soek …. hoe ver kan jy dan rol? Uiteindelik opgespoor. Die een kant van my baie oulike, koel, blou goedkoopkoop toppie is met rek ingewerk. Lanklaas so lekker dra-toppie gehad wat my ekstra soetrolletjies mooi wegsteek. Net jammer die rekwerk om die heupe is effens losserig. So as deel van my doen-dit-jouself projekkie maak ek sommer dié toppie nog meer dra-baar deur ‘n ekstra stukkie rek aan beide kante in te werk. Ek het kleintyd gewonder hoekom Ma so half tonguitsteek gemik en gefokus het om die gare deur die naald se ogie te kry. Ha! Nou weet ek Ma. Ek moet selfs my Ingelsman se leesbrille gebruik en mooi korrel, wat ‘n gesukkel. Fluister: “ek raak oud Ma!”

Ja! Glo dit maar. Ek, wat Lolla is, doen naalwerk. Dis ‘n rare gebeurtenis, net soos sommetjies maak. My kop slaat mos heelemal toe as ek nie geinterresserd is nie. Maar Ma! Ek kry dit mooi reg. Dink ek gaan die 2 t-hempde en koelblou toppie kan saamvat see toe.

Dis nou te sê, Ma, as die groot Oom nie besluit ons kannie see toe nie. Maar ek glo nie dit sal nou al so vêr gaan nie. Ons is skaars in die vierdie vlaag van hierdie slinkse seepgladde gogga en nou sien ek die syfertjiemense reken ons provinsie sal volgende week die piek bereik. Ek probeer verstaan, maar ek kan nie. Dat een gogga ‘n hele mensdom in malligheid kan dompel. Ma??? Ek gee op (teatrale handgebaar na bo) ….. with immediate effect.
Moeka dit reen buite. Dit reen baie. Ons het skielik weer laatmiddag donderstorms soos jarre terug. Ek weet die weer kan baie skade doen, maar ek lief die reen, wind en donderweer. Dis ‘n koue Desember-oggend. Vandag voel ek soos in die bed bly en net nog ‘n bietjie slaap.

Poppie het gehelp met die hele blouhemp naaldwerk episode. Gewillig – eintlik is sy so effens verlore sonder die ander twee poppe Mams. Hulle is mos elkeen hulle eie rigting in hierdie Desember. Die eerste keer in ‘n hele paar jaar, so op hulle eie. Wonder nogal wat elkeen gaan aanvang. Darm het Poppie vir Lalie, die mooi blouoog dolla-pop. Hulle is groot maats Ma, nes ek en Kleinsus.

Poppie se hare …. uuhm, dit was ‘n ongelukkie. Sy wil mos altyd orals in. Dinge doen en probeer. Lewe mos uit die jippe uit. So amper nes Ma ook gedoen het.

Ma, nes Ma en Oom Frank, doen ek dinge ook op my manier. Baie kyk skeef vir my Ma, maar weet Ma wat, dit is wat dit is. Ek lewe so voluit as wat ek kan. Verseker kan ek nog meer, en nog beter. En ek maak baaaie (*grootoog*) foute! Maar verseker gee ek my alles. En dit – my alles – is mos genoeg, of hoe Ma?
Ek mis Ma!
Dit reen Ma.
“I've loved, I've laughed, and cried I've had my fill, my share of losing And now, as tears subside I find it all so amusing To think I did all that And may I say, not in a shy way "Oh no, oh no, not me I did it my way"” Frank Sinatra - My Way