‘n Kakkerige Begin ….

Vir maande nou al sien ek (ons) uit na ‘n baie spesiale Desember vakansie. Vir my wink dit soos ‘n soete lafenis na ‘n uiterse uitdagende jaar vir my fisiese gesondheid. So nodeloos om te sê ek kon behoorlik skaars wag om te sê “Ek is op Verlof”! En so, na ‘n laaste naweek se volstoom werk, breek die dag toe aan. My eerste dag van inlê, sonsit, koekies bak en laaste pakkery voor die lang reis kus toe. Of toe nie.

So saam met die laaste naweek van werk en ‘n reeds-langer-as-‘n-week se griep kom die groot spuitpoep ook. Man, sommer in golwe. Het jy al geknyp dat jou boudspiere jou bobeenspiere in ‘n skrum bymekaartrek totdat jou kuite se kiewe lyk soos iemand wat ‘n outydse suurklontjie raakgebyt het. Saterdag – nag nommer 1. Ek word Sondagoggend wakker in ‘n plas sweet, my lyf so seer dat ek met moeite beweeg. Teen vroegmiddag is ek gedaan van niks binne-hou nie en die naargeit keer dat enige reserwes opgebou word. Nog ‘n nag van koorssweet terwyl ek bibberbewe en Maandag, oggend nommer 2 – weer ‘n plas sweet op die laken waar my lyf gelê het. Stort. Droog aantrek. Swart tee drink. Dis ‘n aaklige aardigheid.

Photo by Anna Tarazevich on Pexels.com

Sonder om hierdie storie nou onnodig lank uit te rek ….. dis ampertjies tyd om ons tasse in die kattebak te gooi vir ‘n broodnodige rustyd. Dit kan seepglad verloop of skuit-skuit die bult uit. ‘n Droog stukkie roosterbrood en paar slukkies ‘siekwees-koeldrank’ bly nou al ‘n rukkie binne en daar is hoop. Met ‘n bietjie geluk sal ek more genoeg oemf terug hê om klaar te pak. En met nog bietjie meer geluk sal daar geen onvoorsiene onaangename gebeurtenisse langs die pad plaasvind nie. (As julle tussen Gauteng en die Wes-Kaap ‘n klein wit tjorrie na ‘n redelike kort paar briekstrepe skuins langs die pad sien staan, kyk maar doer in die verte en hou verby….. ons sal volgende keer twee maal groet.)

3 thoughts on “‘n Kakkerige Begin ….”

Comments are closed.