Deel van my baie lang lys skete is goor voete. Voor ek begin vertel – ek klae nie. Inteendeel ek is ewig dankbaar vir hierdie twee poffertjie voete van my. Saam het ons darm al plekke gesien, dinge gedoen en lang ente gestap. As hiri voete kon praat ….. oi.
Van piekanienietyd af het ek gesukkel met die twee trappers. Op laerskool was ek ‘n belowende atleet met my eie, uitkenbare styl. Ma was nooit seker of dit my senuwees of my voete was wat my so vreemd laat hol het nie. So half hinkepinke maar steeds soos blits. Tot op ‘n dag toe ek sommer so in die stap my voete – maar veral die linkervoet – begin swik. Erg. Potblou. Voetswik is mos maar iets wat ons soms oorkom. Maar toe ek dit al hoe meer begin oorkom was die dokter my voorland. En die uiteinde was die einde van my naeloop-toekoms en die begin van lang maande van fisioterapie. Elektrodes, warm masjiene, oefeninge, spesiale skoene. En toe ook ‘n leeftyd van pinkhink skeeftrap en ekstra-groot voetspore los.
Al die rate het gehelp, maar tot vandag toe (dekades later) swik my voete steeds soms. Ek het ‘n paar weke terug juis myself uit my nuwe blink, pienk kokosse uitgeswik. Skoen skoon flenters.
Ek kan vir maande loop sonder ‘n skewe trap of ‘n druppel pyn, maar dan-en-wan kom die bekende beentjies-maal gevoel weer terug. As ek trap is dit seer. Dit kom, ek smeer of spuit spier-en voetgoete, draai toe, hou in die lug, loop minder. Dan gaan dit weer weg. Ongeveer 10 jaar terug tydens ‘n saggies-trap-eina episode word ek na ‘n spesialis verwys wat allerhande toetse en skanderings laat doen. Vertel toe dat ek ‘n stresfraktuur het en wys op ‘n voet-model die spesifieke beentjie waar die probleem is. “Jy gaan moet gewig verloor” (was nie die eerste en enigste keer dat ek dit sou hoor nie) – … “want dit sal help om die druk op jou voet te verminder.” Blykbaar was al uitweg ‘n operasie waar ‘n klein beentjie uit my voet verwyder word, maar as gevolg van my ouderdom toe, besluit die Spesialis dis te vroeg om hierdie roete te volg. Met pynpille is ek fort en so hinkepink ek steeds voort.
Dis nou al ‘n hele paar weke wat my linkervoet kwel. Die ou-bekende geskuur en geskaaf binne-in my poot is terug, party dae staat hy sommer lekker geswel en pers. Na ‘n paar dae se ekstra-moeilik loop gaan soek ons vir my ‘n voetstut. Die rekstof stut het ‘n silikoonpres presies op die stukkie van my voet waar al die moeilikheid vandaan kom. Ek stap effens makliker. Vir ‘n paar dae gaan dit goed, tot ek sien my voet het so ekstra pers strepie, asof iets te hard daar gedruk het. Loop vir ‘n dag of wat sonder die stut voor ons laas Saterdag familie-ete gaan hou op ‘n reenerige, koue naweekmiddag. Ek is gepantser in my stywe rek-jeans, wintersokke en winter stewels. Dit word ‘n besige dag en ek is vir langer in ‘n skoen as in enige ander onlangse kirona dae.
Skrik ek myself kediks toe ek my skoene en kouse daai aand uittrek en horrel-linkervoet tot amper-in-my-shin pimpel-perserigrooi, geswel en nou met ‘n hartklop van sy eie vir my terugloer. Eerste gedagte was “Bloedklont!”. Maar na oorweging besef ek daar was net teveel druk op ‘n area wat duidelik gekrok* is. Ek gaan nie weer daai voetstut dra nie. En vir ‘n paar weke gaan ek versigtig stap, so min as moontlik. Die gekleurde voet is nou al minder geswel en ‘n veel ligter skakering van persblou. Maar ek voel nog die binne-skade. En ek trap my trappe mooi.
Vreemd, of dalk net omdat ek juis nou nog meer op voete fokus, maar oral om my gebeur daar veral nou voetgoete. Pinks-maat val haar slankvoet die naweek met reennat skoene in ‘n pers einavoet in, dieselle kleur as die laatmiddag donderstormwolke wat ons deesdae gereeld beleef. Vanoggend is een van die heel eerste links op my Gesigboekie newsfeed Michael Bolton se ‘When I’m back on my feet again’.
Tipies ek stop my kop nie hier nie – ek wonder oor al die voete goete wat orals opkom. Wonder oor die simboliek van voete en of daar ‘n dieper betekenis agter al die voetboodskappies is. Of dalk nie.
Wat ek wel weet is dat ek diep dankbaar vir my voete is. Tone bly seker maar (vir my altans) van die vreemdste, lelikste liggaamsdeeltjies (saam met 2 ander “T’s” wat ek vir sensitiwiteitsredes nie hier gaan deel nie). En tog help hulle ons regop hou. Kan jy glo, 5 kleinerige, dikwels vetterige worsies (die lang maeres is ook lelik, skies julle) kan jou postuur beinvloed, jou vinniger help hardloop, en daai lyf van jou balanseer. Wraggies absoluut astonishing sou ek reken.
Vir nou is dit eers genoeg oor Voete (maar ek vermoed dis nog nie die einde van hierdie tema nie).
Julle moet versigtig trap en mooi loop. Of jy nou vandag voetsleep of huppel of dans of drafstap ….. gee ‘n shoutout vir jou 2 voete. Loop vir ‘n rukkie kaalvoet. Voel die teels of die gras onder jou voetsole. Tap ‘n skottel vol lekker warm of koue bederfwater en week jou voete. Vertroetel hulle bietjie – hulle stap langpad saam met jou.
*Gekrok is ‘n woord wat waarskynlik dikwels in my blog sal voorkom. Wag maar en sien self.
