As dit blou blommetjies reen

Wanneer die Wisteria hier buite begin blom- gewoonlik so einde-Augustus – neurie my hart nuwe deuntjies.  Binne weke is die prieel vol in blom en die skouspel voel vir my feestelik. 

Bloureen 🪻

Die triomfanklike uitbarsting van pers-blou duur nie lank nie.  Dit kondig net pronkerig die einde van die winter aan, hang so bietjie rond en maak dan plek vir die mooiste groen blarewolk.

Wanneer ek so tussendeur die elkedag se roetine-goete loop asemskep, gaan staan ek graag met my voet en rug teen die muur onder die Wisteria.  So neem ek al vir weke lank fotos, van die eerste botsels aan die vaal takke af. En ek voel ‘n rym in my kop en are vorm.  Ek begin beplan hoe ek met fotos en woorde hierdie stukkie prag met jou kan deel.

Min-wetend dat juis daar reg langs die blouselblou drapering, boewe ‘n paar weke terug die heining oopforseer, net om ons een oggend vroeg in te wag, te oorrompel en met wapens teen ons koppe al ons goete te steel.  Sterker nog as die toksiese chemiese giftigheid van hierdie lieflingplant, is die vieslike verwaante astrantheid van mense.  So verloor ek toe al my eerste-bloeisel fotos. 

Ek was intussen weer daar onder die bloureen. En weer en weer.  Want die Lig oorwin altyd.  En omdat ons, in ‘n wêreld waar wetteloosheid seevier, moet vashou aan die goeie, dit wat mooi en eg is.

Ek was nou-nou weer daar onder die lowergroen blaarsambreel. Die keer saam met Izi.  Ons het die laaste blou giftige blommetjies besnuffel, gegiffel en met ligte harte die res van die middag aangepak.

En dis met pure lekkerte en baie hoop dat ek hierdie kiekies met jou deel.

LollaseBloureenGroete ♡

10 thoughts on “As dit blou blommetjies reen”

  1. Dankie vir die baie mooi alles. So jammer vir die boosheid wat lank nog na blommekleur en geure in donker banghoekies van jou mensheid skuil.

    Liked by 2 people

Comments are closed.