Reën Reën lieflike reen

Ons almal weet; drink baie water. Water gee lewe. Mens, dier en plant is afhanklik van water om te oorleef.

Ek is nog altyd ‘n propperse Waterdraer. Met ‘n diep liefde en groot respek vir water. Die skoon, vars smaak van water (let wel ek drink nou slegs die gefilterde soort), die gevoel van water op my vel hetsy stort-, waterval-, reenwater. Die klank van reën of die vars reuk na ‘n donderstorm.

Maar skielik hier in twintig-twee-en-twintig begin ek effe ongemaklik voel wanneer die wolke weereens begin woel. Die aarde is oorversadig en nou begin water herwaarts en derwaarts lewens eis, en nie net gee nie. Al meer beelde op sosiale media waar donderende modderbruin watermassas brûe oorstroom, voertuie en lewende hawe meesleur. Berigte oor vermiste mense. Oorweldigend.

Daar is iets magies en onverstaanbaar aan Moeder Natuur. So asof sy ons vir ‘n wyle tot stilstand wil ruk sodat ons kan onthou dat ons nie aldag so slim is soos ons reken ons is nie. ⛈️

Ek tog, selfs ten spyte van die skrikwekkende krag en impak van ons huidige hoë reënval, maak dit my hart steeds warm elke keer as die druppels buite begin val. Dis asof daar iets troostend en sag in elke reënval is. ‘n Seëning en ook ‘n vloek. Goed én sleg.

Buite skyn die son helder. Die lug het ‘n ysige koel byt en my weertoep wys son prentjies met wolke voor. Deur die week is daar grys reenwolkies, een met ‘n 80% gemerk. My kop dink: leef in die oomblik, bid en bly glo, God is in beheer. En ek kan nie help om uit te sien na die volgende bui reën wat my tuin gaan kom voed en waar ek weet kaalpoot in die plasse kan gaan speel nie.

6 thoughts on “Reën Reën lieflike reen”

  1. Dankie vir jou storie, Ek geniet ook die reën en veral die reuk van die veld na die reën. Maar, sjoe, dit lyk darem nou rof soos waar daar orals verspoelings ens is. Dan is daar dele waar die mense juig oor al die water. Mag mense wat skade kry, se versekering hulle help deur die eise uit te betaal. Ek dink aan die wat lewens verloor se familie ens. Ons moet net op ons knie bly en dankie sê vir die Here en vir hulp vra waar nodig. Sonder reën kan ons nie bestaan nie.

    Liked by 2 people

  2. Ek dink die boere in die Karoo juig waarskynlik oor die reen – ons het daar deur gery in die begin van Desember op ons “road trip” na die ooste van die land en dit was droog en dor … en toe ons 3 weke later weer terugkom op dieselfde pad, was die veld alreeds mooi groen op plekke van die baie reen wat daar geval het. Die natuur gee en die natuur neem … tog moet ons onthou dat God altyd in beheer is.

    Liked by 2 people

Comments are closed.