‘n Helder Maan, Onder Andere

Isn’t she lovely


So is nog ‘n Donderdag amper verby – daar is soveel wat ek nog wou doen vandag en nie by uitgekom het nie. Heeltyd besig en tog voel dit of ek niks vermag het vandag nie. Julle sien, dis omdat ek ‘n LollaRusSoBietjie NoWorkAllPlay MoreIsNog-i-Dag fase beleef. Oooh en ek kla nie, ek het ‘n groot dankbaarheid vir my hier-en-nou.

Daar is so baie stories in my kop. Ampetjies soveel as die derduisende kiekies in my argiewe. En ek wil vir julle vertel. Sommer van alles. Van my maats wat ek Saterdag gaan sien (opwinding!!!). Van hoe mooi gisteraand se super-maan was (maar baie van julle sou self gesien het, en ja ek gaan ‘n foto hier oplaai). Van hoe die koue meeste dae hier in my bobene loop sit en dan daar klou soos ‘n blerrie brandneutel (het ek dit reg gespel?)

Ek wil julle vertel van die mooiste, sagte pienk hekel-koei wat my liefdogter nou-nou in my arms kom druk het. Om nie eers te praat van my uitsien na nog ‘n hartsvriendin se boodskappie wat eersdaags óf via watsop óf epos al die pad van Engeland af hier na my toe gaan padmaak.

‘Supermoon’ geneem op die oggend van 14 Julie 2022


Daar is so baie om nog te leer. Om te weet. En om oor opgewonde te raak. Ek wil julle nog vertel hoe ek geregistreer het vir ‘n kursus wat my sal voorberei om klas te gee – Engels as ‘n Buitelandse taal. Hoe ek vermoed dat dit tans ‘n baie gewilde opsie is vir mense wat meer flexible wil leef, maar dat dit ook meer uitdagend is as wat ek gereken het dit sou wees.

En om nie eers te praat oor die aaklige slaggate op ons paaie nie – gisteroggend so mik-mik en swenk-swenk werk toe en later weer huistoe gery. Ons Suid-Afrikaners is verseker op-boos oor ons nou so gereeld moet sit en krag-wag. Ooh ja, en dan nog die aaklige lugbesoedeling. Veral die laaste week of drie sien ‘n mens sommer weer die lae en lae vuil lug. Dit maak my benoud, ek ril as ek dink ons asem hierdie lug elke dag in.

Sommige dae dink ek ons mensdom maak darm maar ‘n groot gemors – ons is so slim en tog so dom.

Lolla en Ma se Mussie

Ma is in 2006 oorlede. Daar is steeds dinge in my huis wat my aan haar herinner. Toe ek vanoggend nie my boskasie getem kry met ‘n borsel nie het ek maar een van ma se hekel-mussies (eintlik die enigste ene wat ek nog het) op my kop gesit. Julle sien, ek bly maar ‘n mussie-girl. Dit was so lekker om ‘n ietsie van Ma so naby my te hê.

Kleinste, Fynste blommetjies met my foon se zoom raakgevat


Ek weet dis nie ‘n Woordlose Woensdag nie maar hier is nog ‘n maankiekie.

Nog ‘n maangepla lollakiekie


Die naweek lê voor en al voel ek of ek ‘n hele dag lank kan slaap gaan hierdie ene ‘n besige een wees. Places to go, friends to see, pretty coffee to drink and so on and so on tralalaleeeee. Gesels later weer. En, soos die Pouvanger altyd gesê het, “Laat dit Juig”.

16 thoughts on “‘n Helder Maan, Onder Andere”

    1. Baie dankie Frannie – ek is eintlik heel in my skik. Het so rukkie terug my selfoon opgegradeer en daar vind ek toe gisteroggend uit dat ek so kan inzoem, dis ongelooflik. Ek moet net ophou bewe …..

      Liked by 2 people

  1. Hoe pragtig is jou maan foto’s! Ek is bly jy kan nog jou ma so naby aan jou dra (dis ‘n mooi mussie daai). En sterkte met die kursus waarvoor jy ingeskryf het – daar bewys jy nou net weer, mens is nooit te oud om te leer nie 😉. ‘n Heerlike naweek vir jou Lolla – lyk my jy gaan ‘n paar ekstra ure nodig he vir al die lekker dinge wat jy beplan!

    Liked by 2 people

  2. Die mus is awesome. Deel jou pyn met koue in die bobene…wraggies! Het nooit geweet ek sal so koud kry as my bene dun is nie! Jou maankiekies is pragtig. Geniet elke ding wat jou pad kruis….

    Liked by 1 person

Comments are closed.