Lolla se Tuingoete

Daisies fraaie daisies laat my kop duise-LIG van al die mooi

Lolla is ‘n kaalvoet ek-wil-tussen-die-blommetjies speel en woeker en werk meisie.

In my tuin, saam met goggas en honnedrolle en blomblaartjies en vele nuwe vetplantbabas en my al-groterwordende- olyfboom, met my baie-breerandhoed, is ek giggelgelukkig.

Kyk net, hulle is beeldskoon 🌸🌼🌸

Winter, liewe winter. Tatatata 👋

Winter het ‘n manier om verkeerd aan mense se lywe te loop sit. Nie almal is voorstanders van die kouer seisoen nie. En tog het ek (en Kleinsus) nog altyd ‘n liefde gehad vir die grouer wintermaande.

Dis nou, tot Winter 2024. Ek dink ek het nou my leeftyd se winterliefde gedeurleef. Platgetrek met die allervieslikste griepgogga, klaarblyklik die ot-ene. Sewe weke lank siek-siek, sieker as siek. Seer en hoeserig. Dinge lek wat nie moet lek nie. My stem rasper meer as rasper-rasper. Siek-en-sat vertel ek vir julle.

Verlede maand sien ‘n ou skoolvriend van my, erens in New Zeeland, my dubbel. Heng, sou ek nou nie graag ook vir my doer ver wou raakloop nie. Wonder nogal hoe ek met ‘n All-Black Kiwi aksent sal klink.

Ingelsman word ook hard geklap met die einste gogga.  Ons maak beurte om te neb en tussen-in word pype en maskers gesteriliseer. My ouvrou Vlooi honnemeisiekind eindig by die Veearts op met ‘n gebarste sist op haar vel. Ek tjank sommer toe ek haar daar moet los oornag, maar ‘n dag later kom sy huistoe met die voorheen-gapende wond suksesvol toegewerk.

Tannie Santa brei die mooiste hoop-beertjies en kleinsus kap dit flou met haar nuut-aangeskafte loom-masjientjie. Ek wonder hoeveel mussies sy al gemaak het vir haar kerk se Hoop-projek.

Ek probeer ook vasklou aan Jesus, maar ek voel nie van veel nut op die oomblik nie. Seker ook maar omdat ek ‘n ou dramakwien van formaat is. En steeds bederf die Here my met genade in oorvloed. Hoe amazing is dit nie.

‘n Hartsvriendin wat ek lanklaas gesien het kom laasweek vir ‘n dag of 3 by ons oorslaap, om my te help beter word. Daar word butternut sop gekook en bloekomolie aangesmeer. En ons praat land en sand, so tussen die hoesery deur.

Al voel ek nou half klaar met hierdie winter, het ek tot my eie lekkerkry hierdie jaar ‘n lanktyd projekkie 🧶klaar gehekel. Ek sit een van die dae fotos op van die voltooide kombers (wag, kyk hier onder ⬇️). Daar moet nog ‘n paar blomme gehak en aangewerk word. Maar die feit dat ek die unieke bers so ampertjies kant-en-klaar het, laat my hart sing.

Hulle sê mos All good things come to those who wait en This too shall pass, so ek wag geduldig vir Lente.  En intussen is ek dankbaar vir elke dag se bietjie beter raak.  Heng ons mis ons Piekanienie, die min sien vat aan mens se hart. Ons sien uit na ‘n naweek in die bos oor ‘n paar weke saam met hartskinners.  Ousus-hulle het intussen Kapenaars geword.  My kerngroepie hartsmaats hou my steeds oor lang afstande heen gegrond.  En, nes hierdie pienk bloeisels 👇, is daar altyd die belofte van hoop en nuwe lewe.

Tata Winter-2024! Respek, maar ek like jou min.

Lollase-khuggekhugge-groete

Just Becauze

Yeah, I post a lot of the same-old-same-old on my blog.  And I can probably do some brainstorming and planning around what I post, how often and when.

My reality, you see, at the moment is that I post because I do love to share. Somewhere, somedays, some of my posts could struck a cord with someone. And that makes it all worthwhile.

For now that is all I got, but I will be back. 😁

Oor hutse met lang bene ….

Vragie vir die wat weet: is die hutsmerk nog “a thing”? Is dit nog “in”, of is daar enige nuwe neigings? Do you still use the hashtag?

Ek-self sukkel om by te hou met wat die nuutste gebruike is, veral op die platforms wat ek gebruik. Enige raad of inligting oor die gebruik van hierdie “#” outjie sal waardeer word. Let me know how and when you tag?

O ja … en as ek dalk alreeds die vraag gevra het, help maar weer of andersins ignoreer. 😉

LollaseGroete

Voor dit te laat is

Hoe dikwels skeep ons nie juis daardie dinge wat ons siele voed, so blatant af nie.

Doen jy dit ook?

Dinge wat jou hart bietjie warmer laat klop.  Meestal is hierdie eenvoudige, ongekompliseerde dinge. Soos om vir ‘n rukkie kaalvoet buite op die gras te gaan stap. Of om gou ‘n geliefde te bel en net vinnig op te vang. Dalk, om saans onder die oop sterrehemel te gaan staan, op te kyk, stil te raak en vir ‘n rukkie net diep asem te haal.

Dit maak soms die verskil tussen net hier wees en werklik lééf.

As daai kersvlam jou hart warm maak, ggrrrts daai vuurhoutjie en laat die kersie brand. Want, as jy die stof te lank laat opgaar is dit dalk nou-nou te laat.

#ekisskuldig

Uitdagings, Partytjies & Kersfees

Die kleurvolle Goue Vroue feetjies babbel oor Wats-op. Una pluk ‘n enorme wortel uit haar Mosambiekse gooiingsak en die ander Goues gryp na hulle slim-toestelle. Seegogga het mos immers vanoggend ‘n uitdaging in ons midde gegooi. Skryf ‘n blog. Ek dink nogal dit was goeie tydsberekening, want sommiges van ons kort ‘n effense skop onner die alie.

So is dit weer Desember. Vreemd hoe hierdie tyd van die jaar my dikwels aan die gorrelgat beetkry. Soveel hartseer in hierdie wêreld, en hierdie sensitiewe siel is nou maar eenmaal nie opgewasse teen al die rou seer en kak en drama nie.

Maar dis ook ‘n wonderlike tyd waar ons herinner word aan ‘n Genade wat groter is as wat enige-een van ons ooit sal weet.

Vir ons Rebus partytjie pak ek baie kaasworsies, ‘n yskoue bottel Zoerdoef en Gaviscon. Ooh ja, en spookasem.

Hierdie jaar was tot barstens toe vol – goed en minder goed. Ek is dankbaar vir God se Genade. My hart bloei oor die chaos in ons wêreld. Maar ek hou vas aan Die Lig.

My wense vir jóú hierdie Kersfees is dat jy die Here se Hande voel wat om jou vou. Dat seeninge, geluk en liefde jou laat snak na jou asem en dat jy altyd sal weet hoe wonderlik spesiaal jy is.

Lolla se Kersfeesgroete – met Liefde ✨️🙏🎄