Woud-stories

Vir Sus

Dit was ‘n bedompige, reenerige Desember. Die klein groepie vakansiegangers het twee middeljarige susters ingesluit. Die paar dae in ‘n tropiese woud het broodnodige rus beloof, maar ook groot opwinding vir die amateur- voëlkykers en fotograwe.

Die paar dae vêr-weg van die huis af het ook nie teleurgestel nie. Inteendeel, met mis wat uit die woudvloer teen die wand van die kloof opkruip en die geklopklop-klank van die Knysna Loerie in die bessieboom voor die vakansiehuis, het die kortvakansie oorgeloop van vreugdes en vindings.

Tyd wag vir niemand nie, en juis so wanneer ‘n mens met vakansie is. Een waarna jy uitgesien het. Dan maak jy mos die heel beste van die wegbreektydjie, jy eet die spek-en-vye pizza, jy gaan stap met jou stywe lyf, en jy spring vroegoggend uit die kooi as die Kleinsus buite jou kamervenster gil van plesier oor die kuifkoparend wat so entjie weg op ‘n paal sit en pronk. Dan gryp jy jou kamera en hang lostêtte in jou pienkste pajamas by die sy-venster uit om ‘n beter foto te probeer kry.

Hier in die digtebos-woud kan jy jouself bekruip en dan vir jouself skrik, as die oorverdowende stilte jou vel van binne laat kriewel. Meer nog as die uil wat laatnag buite hooohooo wanneer dit slaaptyd raak.

Dis ook hier in die bos, waar die humiditeit jou vel taai laat kriewel, waar sussies ‘n waterval loop soek, gly-gly met die modderige blarevloer langs. Waar die stapstokke oortyd werk en die lyf se skroewe, moere en skaniere behoorlik getoets word met die styl op-en-af teen gladde klippe. Dis hiér, waar daar goeters oor jou lewenspad kom – what happens in the Kloof stays in the Kloof – wat jou vir ‘n paar minute laat vergeet van al die wêreldse kak-&-drama en jy lag asof jy ‘n Hollywood salaris daarvoor betaal word. En jy wéét: dis hierdie klein oomblikkies wat saakmaak.

Kort-voor-lank is almal weer terug in die tuig, die Kersboom weggepak en die blink liggies vir eers gebêre. Die laaste verdwaalde bosgoggas is uit die reissakke geskud en die stapskoene en sonhoed netjies in die kas teruggesit. Vir maande, en sekerlik jare daarna, word herinneringe aan die woudvakansie geherkou en soos ‘n ou fliek oor en oor uit die geheue opgediep en weer beleef.

Ontspan & Herstel

So bespreek ek vir my en skoondogter vroeer die week ‘n bederf spa behandeling, wat onder andere ‘n uur-lange aromaterapie vollyf massering asook 30 minute peppermint hand-en-voet behandelings insluit.

Dis weereens ‘n koel oggend na nog ‘n reenerige aand.  Ek is mal oor die weer, maar my lyf waardeer nie die kouer, klammigheid nie. 

My knopperige artritus-vingers raak meer knopperig by die dag.  Die aanvanklike ongemak en styfgeit het nou plekgemaak vir skerp ‘elektriese’ steekpyn, wat ondraaglik raak wanneer ek my vingers inspan om byvoorbeeld deure of bottels oop te maak – die geringste klein-motoriese bewegings veroorsaak tandekners pyn.

Ons sal die volgende paar ure versigtig navigeer, maar ek is oortuig dat ek die paar ure se lyfbederf baie gaan geniet.  O ja, en later beplan ek om ‘n heerlike melkskommel te loop soek.

Ek hoop jy doen ook vandag  iets gaafs en lekker vir jouself.

LollaseGroete 🌼 🌸 🌻 🌹

Nuwe Gewoontes 🤓

So is dit weer Nuwejaar
en al beplan jy geen “nuwejaars voornemens” nie,
belowe jy tog jouself dat
jy NOU gaan begin werk aan ‘n paar gewoonte-verstellings, wat hopelik volhoubaar sal wees.

Jy vertel vir jou kop dat jy hierdie jaar elke liewe dag iets gaan probeer skryf ….. want tydens 2024 het jou skryf verhuis …. dis asof dit deel geword het van ‘n ‘witnessprotectionprogramme’.
So, jy vertel vir jou kop dat al skryf jy net 3 woorde per dag, skryf moet jy skryf. En juis te beter as jy woorde met waarde skryf. Of ietsie wat ‘n lag of ‘n traan lostorring. Hoe, wat en waar die skryf gaan gebeur, en met wie ek dit gaan deel, is nog in die bedinkingsfase. Maar ja, ek sal graag hierdie plan (of is dit ‘n belofte aan myself) wil nakom.

Soos soveel ander ‘nuwejare’ vantevore, sou ek graag wil gewig verloor, en fikser raak. Maar kyk, ek gaan nie jok nie, met my diepe passie vir lekker eetgoed en my redelike stilsittende leefstyl, gaan hierdie ‘n groot kopswaai (en heupswaai, en biscuit skud, ensovoorts) vereis.

Slowly does it …. use it or loose it …. probeer is die beste geweer ….. aanhouer wen … positive vibes …. just do it ……

Okay, ek hou julle dus iewers tydens 2025 op hoogte van hoe dit in my kop (en met my lyf) gaan.

LollaseGroete

#lollasegoete #lollasthingz #2025 #skryf #afrikaans #lolladroomgroot