Versuipingspan

Versuipingspan het vinnig oorbevolk geraak. Die populasie wat daagliks dramaties vermeerder is ‘n mengelmoes van tale en nasionaliteite. Daars grotes en kleiner, maeres en dukkes, doodgewones. Vir die inwoners, oud en jonk, nuut of ingeburger, maak mooi of lelik, slim, dom, dapper of stom nie eintlik saak nie.

Al wat hier saakmaak is oorlewing. Hier is ‘n berg van finale strooi. ‘n See van verspilde trane. In plaas van voëls is die predominante klank ‘n koor van diep sûe en nou-en-dan die gebiep van ‘n longmasjien wat asem terug in moeglywe inblaas.

Dis nie net Jan Rap en al sy maats wat hier woon nie. Hier is dokters, onderwysers, polisiehelde, kundiges uit alle oorde. Trots mense. Waar integriteit eens sterk deur hul are gestroom het is nou sleg verslae verstommendheid.

Dis onbekend wanneer presies Versuipingspan ontstaan het en wie die heel eerste bewoners was. Dit het ongesiens gebeur. Die recruiters vir hierdie pan werk dag en nag, onverpoos. Onstopbaar. Doelgerig. Sonder veel genade. Saam met die duiwel en die dief in die nag maak hulle seker dat die bevolking voortdurend en vinnig groei. Hul skuilname het intussen welbekend geraak: Stres, Angs, Trauma, Haat.

Genadiglik tog dat hierdie nie ‘n finale bestemming hoef te wees nie. As jy eers hier gevestig is kan “ontsnapping” moeilik wees. Maar, vir die wat oplet en hard werk (hiervoor moet jy diep in jouself gaan rondgrou) is daar tog uitkomkans. Op die grense van hierdie (hopelik tydelike) bestemming is daar plekke soos Genadefontein, Ligville, Hooppoort, Uitkomsstad en meer.

Dus, vir al my vriende, bure en kennisse hier op Versuipingspan, byt vas. Beter dae lê voor.

Lolla Liefde-&-Lig

4 thoughts on “Versuipingspan”

    1. Dit kan nogal hoor. Die feit dat ek dié dramaqueenmother is help seker nie veel nie. Hiehie. Maar ernstig nou, die lewe het vir my erg mal en woes gek geraak. En ek het mos ‘n mond wat gereeld oorloop, so ek praat dit soos ek dit voel. Hoop dinge is rustiger daar in jou wereld. 🙂

      Like

Comments are closed.