Bloggery bogtery & Groot besluite


Einde verlede jaar skep ek vir my ‘n (baie draft) webblad (dink ek…) en ek begin ‘n blog. My skrywes is so gestel om sommer direk deur te trek na ‘n sosiale media blogblad met dieselfde naam. Ek probeer effens onhandig en deels onkundig my voellers uitsteek op albei platforms. Eers erg sukkel-sukkel, maar toe, vroeer hierdie jaar begin dit voel of ek bietjie spoed (en Volgers) optel.


Wel, dit was tot nou. Meer onlangs neem ek ‘n 21-dae skryfuitdaging elders op – dit is immers my skryfjaar die. Onthou julle – so het ek vir myself belowe. Die uitdaging op Gesigboekie was aanloklik en nodig. Ek kon aan myself bewys dat ek wel, as ek wil, vir 21 dae pligsgetrou ‘n spesifieke taak oor en oor kan doen. Die uitdaging was redelik eenvoudig: skryf vir 21 dae aaneen daagliks iets op die blad. Enigiets. Geen vasgestelde lengte, tema, of skryfstyl nie. Skryf net. Maar doen dit elke dag vir 21 dae. Dit was toe nie heelemal maklik nie, maar ek is trots om te noem ek het my 21-dae voltooi. Het midde-in al die ander dinge wat aangaan dit reggekry om veelsydig te skryf. Vroeer vandag het ek ‘n lekker verrassing gekry toe ek, saam met ‘n handjievol ander suksesvolle een-en-twintig-daggers, ‘n oulike sertifikaat van verdienste en deelname ontvang het.


Terug by my blog wat nie lekker ritme kry nie. Ek is nou reeds in kontak met ‘n hele paar mede-bloggers. Ek loer in op ander se blaaie en dis soos ‘n hele nuwe wereld wat vir my oopgaan. Ek raak ge-irri met myself want skielik skryf ek nie gereeld genoeg nie. My droom is om die blog goed gevestig te kry, maar dit gaan stadig en ek reken ek sit nie genoeg in nie. Bygesê, die blog is rerig tans ‘n stokperdjie wat ek tussen ‘n voltydse, veeleisende werk en ‘n besige, vol lewe moet inpas. Want ek wil. Nou wonder ek oor dinge soos:
Hoe kry ek meer followers?
Hoe maak ek seker my blog het ‘n hartklop en bly ani lewe?
Waaroor moet ek blog?
Het ek die regte platform gekies?
Ek is ‘n loskop en nie goed met roetine nie – hoe, waar en wanneer pas ek my bloggery in?
Kan mens geld maak uit ‘n blog?
Hoe en waar adverteer ek my blog?
Ensovoorts Ensovoorts …….


Soos ek hier tik oorweeg ek tans groot veranderinge vir my lewe. GROOT! Bangmaak maar opwindend. Droom ek te groot?? Sal ek kan?? Moet ek?? Ek vertel julle later meer. (O ja, het ek al genoem dat ek besig is om aan ‘n boek te skryf – dit sal fantasties wees as ek hierdie jaar kan publiseer.) …… ……
….. terug by die groot veranderinge (of nie). Die rompslomp wat dinge wat ek al vir jare met outoriteit uitvoer nou by die dag moeiliker en pynliker maak kniehalter my. My siel staan hanne-viervoet, vuisvoos en uitasem gespook. Ek is moeg om te soek vir gemeensame trots (wat wel nog – dankie Here – hier en daar te vinde is). Erens tussen uithelp en kliphard werk en daai dekselse ekstra myl(e) stap, terwyl mens altyd “die regte ding” as jou maatstaf voorhou, ander konsidereer, by die reels probeer hou en eenvoudig net kwaliteit nastreef, het ek my siel kaplaks!!! erens langs die pad verloor.


Die bleekgesig, stywelyf, sielsmoeg flentersmens wat in die oggende in die badkamerspieel vir my terugloer is nie rerig ek nie. Daai lyf en daai kop wat nooit meer heelemal reg funksioneer nie en wie-weet-wanneer-laas ‘n pynvrye dag gehad het, is nie rerig ek nie. Daai refleksie in die spieel is ‘n drogbeeld wat die regte ek aan die hare rondsleep, rukkende en plukkende met ‘n vieslike grynslag. Soms wil ek daai ene in die spieel aan die gorrel gryp en verwurg. Daai lam regterkantwang ‘n warm klap gee. Ek wil in haar blou oog spoeg en haar skel tot sy die regte Ek laat los, omdraai en wegloop. En dan wil ék opstaan, myself afskud en treetjie vir treetjie begin eksploreer en eksperimenteer.

Lees tong in die kies:

Vir Wie Dit Mag Aangaan (of Heil die Leser),

Hiermee verwittig ek jou galant dog ferm dat ek geen jota geduld meer in my geduldreserwetassie oor het nie.
Ek is klaar met kakkerige beplanning, onmenslike verwagtinge, en sommer enige ding wat my binnegoete naar maak.
Vir nou dus, is ek klaar.  Oppelallies.  Pêlielê.  Fieniesh.
Ek lê hierdie juk neer en ek gaan voort.  Die onbekende in.
Met 'n lied in my hart en geloof dat dit wat wag vir my geluk en voorspoed sal bring.
Pens en pote in die fleur van 'n nuwe begin.

Tarra Parra  (Pinks-maat se sê-ding)
Die regte Ekke


Ek weet, sommiges sal my kapittel. En al die waarskuwings val nie geheel en al op dowe ore nie. Maar hierdie geit gaan nie uit my uitkom voor ek my hart se pad vat en ten minste vir myself hierdie nuwe kans gegee het nie.


Dis nou tyd vir ekstra hoop, geloof, vertrou en genade. Ek is dankbaar, want ek het ‘n kans. Ek het ondersteuning. Hou dus hierdie spasie dop.

Blommetjies vir Jou, my ding



Daar is more in my hart. Ek het deesdae hierdie gatgier waar ek net wil skep. Ek kan nie verf of spectacular teken nie. Skryf dalk , ja. Maar ek spandeer ure met fotos edit, prentjies teken. Tot my eie pure plesier. So sluit ek hier vir jou en julle een van baie plain-Jane kleurvolle skeppings in. Die idee en hoop is dat daar vir elkeen wat hier lees ‘n woordjie of twee sal wees – iets spesifieks wat JY nou nodig het. Vat gerus ‘n woordjie (of ‘n paar). Mag dit ‘n paar harte verlig en ligter maak.

Vat vir jou ‘n Woord of twee


Terwyl die donderweer buite stem dikmaak en ek wag vir my Ingelsman om my te kom oplaai vir aandete saam met ons meisiekind, is ek dankbaar dat ek wel op ‘n manier chaos-grense het. En al hol ek dikwels op volle vaart in daai grense vas, hop ek terug en vind altyd weer my ware Noord. My eie ek. En dis al wat saakmaak.

Lolla-groete

6 thoughts on “Bloggery bogtery & Groot besluite”

Comments are closed.