Aanhou & Vasklou

Photo by Adam Fejes on Pexels.com

Dis Dinsdagoggend. Die mislagie om my brein is dig en duk vanoggend. Maar my bewolkte brein is mos nie van opgee aanmekaar gesit nie. Selfs hierdie vaagvaak gevoelte gaan my nie briek om vandag die beste ek te wees wat ek in elke oomblik kan wees nie.

Dankie-tog vir naby maats. Die wat luister selfs as jy onsamehangend jou gedagtes van ‘n lysie aflees oor ‘n whatsapp stemboodskap. Dis die “ons-is-is-ons-is” groepie. Dieselle groepie as die pop-groepie (dis nog ‘n storie vir ‘n ander dag, hou hier dop). Die een mater stuur masjiengeweer-boodskappies. Kort en kragtig. Treffend. Die ander mater dalk eerder haelgeweer-boodskappies – diep en intens. En dan die mater met die klappers-en-vuurwerke boodskappies – mooi bedoellings maar woes deurmekaar en laaaaaank. Hierdie whatsapp groepie vat ek enige tyd saam oorlog toe.

Photo by Sebastian Palomino on Pexels.com
(Langpadmaats)

Balans en prioriteite – dis ‘n daaglikse gejuggle. Daar is derduisende, ‘n enorme verskeidenheid, selfhelp, motiverings, kom-ek-wys-jou, positiewe-denke boodskappies om ons. Daagliks. Oral. Dis juis deel van die inligting-versuiping wat ons ervaar. Eintlik lê die antwoorde seker maar hier binne-in elkeen van onsself. Sif deur dit wat die wereld vir jou gee, hou wat vir jou sinmaak en laat los die res. Reken ek.

Huppelend gekrok
ons isse se is wat jubelend voortbeur
en aanhou probeer, weer probeer
van vooraf begin
ver ry en te lank bly
oortyd is verloortyd
opstaan vir dit wat reg is,
voor dit wat saakmaak weg is ...
te min tyd, teveel dinge
weegskaal van wat bly en wat gly
lewe gallop en skop tot jy - kop eerste - omdop
Harte vol trane en rowe en tog 
ook hoop, lag, blydskap en drome
Vasstaan, sterkstaan, 
singende aangaan.
Omgee en meeleef, ons lewens verweef
op verskeie maniere en verskillende vlakke
Dag en dinge by die horings vasvat
Die lewe se dinge by die knolle raakvat

My Is is my Is!
Jou Is is jou Is!

Opstaan!  En aangaan!

Nou gaan ek koffie maak en hierdie varsnuwe dag raakvat. Mikpunte vir vandag: tuin water gee, produktief soveel werk as moontlik afhandel, musiek en hoola, gesonde aandete maak, vroeg slaap.

Mooi dag en baie asemskep oomblikke vir jou.