Ons Lensiesopvakansie

Photo by Alex Bayev on Pexels.com

Destyds, ongeveer 1985, word ek en Annapat en haar een maatjie, plaastoe gestuur vir die winter vakansie. Dis die eerste vakansie na Pa Chaka se dood – daai Sondag toe Liewe Jesus hom kom haal het. Na sy eerste hartaanval (moes 1981 gewees het) was hy nooit weer dieselfde nie.

So begin ma na baie lank by die huis weer werk. En ons word Groot Marico toe gestuur. Vir twee weke. Om by Oupa Piet te gaan kuier. Ouma Anna is ‘n jaar voor Pa oorlede en so eindig drie tienerdogters saam met kwaai Oupa Piet op ‘n bosveldplaas.

Ma en Ousus het deurgery om ons drietjies af te laai. Ek was skuitbang vir Oupa, ‘n groot man met ‘n groot stem en nog groter hande. As ek nou terugdink weet ek nie hoekom ek so rerig-bang vir hom was nie. Hy was eintlik maar ‘n stil man wat hard gewerk het. Maar streng was hy beslis. Ek self het nooit ‘n naby band met Oupa gehad nie. Het maar meestal uit sy pad uit probeer bly. Maar die vakansies en kuiers daar op Modderfontein was goed. Lekker herinneringe wat my altyd sal bybly. Ek het nog altyd gedink Annapat (Kleinsus) was Oupa se oogappel.

So word ons afgelaai op die plaas, die boks kruideniersware uitgepak en gebere in die lang kas in die hoek van die eet-/leefvertrek. Daar was burgerpatties in ‘n blik (onthou julle daai?), ander geblikte kos, ‘n boks sjokoladestafies en dies meer. Ook ontbytpap. Oupa het gesnork en laat weet dis dorpskos – hier in sy huis eet ons plaaskos. En so, nadat Ma en Ous terug is dorp toe aan die Weste van Johannesburg, kry ons ons eerste plaas aandete. ‘n Sopbord vol lensiesop. Waterrige lensiesop ….. en ek bedoel: water, lensies en dalk ‘n bietjie sout. Ek sal daai sop in my lewe nie vergeet nie.

Dit was ons eerste aand op die plaas. En ook die eerste aand wat ons gewag het om Oupa in sy kamer te hoor rustig raak met die radio wat stories vertel …… want ons wou dorpskos gaan ‘steel’. As my onthou reg is, het ons beurte gemaak om die skrikwekkende kans te vat om in die pikgietdonkerte uit te sluip, deur die sitkamer, deur die eet-/leefkamer tot by daai lang kas. So het ons nagtelike kosekspidiesies begin. Ons drie sou dan agter die toe kamerdeur, wat reg oorkant Oupa se kamerdeur was, onder die komberse met ‘n flitslig sit en smul aan ons dorpskos.

Die volgende dag het ons weer lensiesop gekry (daai pot was enorm, en propvol). En so vir die volgende twee weke het Oupa elke aand iets anders by die lensiesop gegooi om ons te voer. Ek onthou groot stukke beesvleis met lensiesopsous op witbrood. En ek dink die Sondag was daar selfs aartappel en groente bygevoeg. Ek onthou ook dat daar, vir die hele twee weke, elke aand lensies in ons kos was.

Vir my was dit op ‘n manier ‘n bangmaak twee weke. Pa was weg. My hart was stukkend vir Ma wat ‘n hele nuwe lewe moes begin. Ous het ook al begin werk en kon nie meer vakansies saam met ons wees nie. En hier is ons drie meisiekinders alleen saam met Oupa. Tog was dit ook ‘n wonderlike vakansie propvol pret, ontdekking en lekkerte. Amper 37 jaar later onthou ek hoe ons in die groot boom langs die huis geklouter het, lang ente in die bos en grondpad af gestap het. Ons het op en langs die treinspoor gespeel en opgewonde vir die treinoom gewaai elke keer as daar ‘n trein verbygekom het.

Al het ons vir twee weke lank lensiekos geeet, was daar ander lekkertes ook. Ons is saam met Oupa se buurman, Oom Flip, dorptoe. Agterop sy bakkie met die wind wat ons hare omkrap. Oom Flip het langs die pad gestop by ‘n groentestalletjie en ons kon kies wat ons wou eet. Ek het ‘n groot sak groen ertjies (nog in die dop) gekies en ek onthou tot vandag toe nog hoe daardie vars groen lekkerte in my mond gekraak het.

Dit was ons lensiesop wintervakansie. Lensies was redelik taboe vir my vir die res van my lewe (tot ek onlangs geleer het van hul voordele en nou self sop maak met lensies). Ek dink dit was dalk ook ons heel laaste vakansie saam met Oupa op die plaas. Goeie tye. Harde tye. Tye propvol genade.

14 thoughts on “Ons Lensiesopvakansie”

    1. Dit het voorwaar. Nou, jarre later onthou ek daai sop so half met ‘n rilling, maar tog was dit so ‘n heerlike vakansie. Kosbare herinneringe en ook tyd saam met Oupa. Daar was nie baie vakansies oor op die plaas na daai Junie vakansie nie.

      Liked by 1 person

Comments are closed.